Alles begin met Anna. Annemari Coetser
daarteen te wees. Ek is nou so honger ek kan ’n perd opeet.”
“Dan tref jy dit gelukkig. Hoekom dink jy het my ma die frikkadelle gekerrie? Dis om die soet smaak van perdevleis te verdoesel.”
Sy lag en gooi hom met ’n vadoek.
Hulle eet verder in stilte. Toe al die bakke leeg is, pak sy die tafeldoek, bordegoed en eetgerei terug in die mandjie. “Sê asseblief vir jou ma dankie vir die lekker kos en veral vir die perdefrikkadelle.”
“Ek sal so maak.”
Hy skuif op tot hy langbeen met sy rug teen die boom sit, klop sy pyp teen die stam uit en stop dit tydsaam. Toe die rook om sy kop begin warrel, druk hy liggies met sy voet aan haar. “Ek brand om verder te hoor.”
“Ek sien so.”
Sy waai die rook weg en gaan sit langs hom teen die boom. “Ek onthou feitlik niks, verstaan jy? Dis mos net die traumatiese goed of die baie lekker dinge wat in ’n kind se geheue bly vassteek, soos …”
“Ja? Soos wat?”
Sy trek haar oë op skrefies. “Probeer jy net poliets wees of wat?”
“Allermins. Ek het ’n pragtige swartkopvriendin wat rondloop met goed wat haar pla. En toe dink ek: Miskien sal dit help as sy dit met iemand deel.” Hy tik op sy bors. “Iemand soos ek.”
Sy sug effens. “Jong, my verhaal is nie uniek nie. Baie mense het destyds swaargekry. My ma was ’n hartlyer en sy was dikwels siek. Sy het mense se wasgoed gedoen. Een dag gewas, een dag gestryk, een dag klere reggemaak. Flenters heelmaak, so het sy dit genoem. Dít, en die bietjie huurgeld uit die smidswinkel, was ons enigste inkomste. Wanneer sy te siek was om te werk, het Sussie Anna, wat reeds heeldag as huisbediende gewerk het, saans oorgevat.”
“Dis nou op … ?”
“Steynsrust, sommer hier naby.”
Haar sterkste herinnering aan haar ma is hoe sy by ’n kombuisstoel kniel en hardop bid en huil. Sussie Anna het gesê dis oor hulle pa dood is en oor hulle so arm is. Partykeer het Sussie Anna die predikant gevra om besoek af te lê by Mammie. Die pastoriedogters was maats met haar en Poppie en hulle twee het dikwels daar gaan kuier. Die pastorie was in Burnett Adamsstraat, dieselfde straat waar haar pa se ander erf was, en so twee blokke weg van hulle huis.
Uit die bloute kom ’n herinnering, en sy vertel dit vir Faan.
Agter die pastorie, in die koelte, het ’n paar streepsakke mielies vir die hoenders gelê. Sy en haar maat maak ’n speletjie daarvan om op die sakke te spring. Trek dit weg van mekaar en kyk wie die verste kan spring. Maar Poppie misgis haar, val die sak mielies skoon mis en land met haar neus op ’n klip. Dit bloei vir die vale hel. Sy skreeu so hard dat Mevrou Dominee en Sussie Anna by die agterdeur uitgestorm kom.
Mevrou druk ’n spierwit sakdoek oor haar neus en sê sy moet haar kop agteroor hou. Toe loop die bloed in haar keel af en sy raak naar en begin braak. Sussie Anna kom staan agter haar en hou haar vas totdat haar skouers ophou ruk. Sy gaan sit en tel Poppie op haar skoot, rol twee punte van die sakdoek in stywe rolletjies en druk dit in haar neusgate. “Nou lyk jy soos ’n bul,” sê sy en wieg Poppie heen en weer op haar skoot. “ ’n Bul met rooi horings.”
Poppie se beste maatjie in Steynsrust is Lenie. ’n Ander dogtertjie het eendag vir hulle elkeen ’n potlood gekoop omdat hulle die skool se armste kinders was. By die herinnering vlam haar wange van skaamte, maar sy kan onthou hoe trots sy destyds daarop was dat sy en Lenie die heel armstes in die skool was.
Hoe sou Sussie Anna dit verdra het dat sy altyd oral agter haar aanstert? Mammie was so moedeloos met haar rondlopery dat sy haar eendag aan die tafelpoot vasgemaak het. Sy het aanhou huil, totdat Mammie later langs haar op die vloer kom sit het. Mammie het oor haar rug gevryf en saggies geneurie tot sy aan die slaap geraak het.
Sy vertel dit vir Faan, en lag. “Die eienaardigste goed darem wat ’n mens onthou.”
“Ek sou jou ook aan ’n tafelpoot vasgemaak het as jy my kind was,” spot hy. “Jy was seker onmoontlik.” Hy tel ’n stokkie op en gooi dit in haar rigting. “Jy’s nou nog so half wild.”
“Hoe weet jy daai episode het my nie vir ewig geknou nie?”
“Ek kan sien dit het nie.”
“Eenkeer het ek …”
“Ja?”
“Jy probeer my net … Jy wil tog nie regtig weet nie, of hoe?”
“Jy onderskat my,” sê hy rustig. “Vertel.”
Sy maak haar oë toe en haal diep asem. “Ek was maar klein toe my pa dood is. Ek het ’n maand ná sy dood twee geword. Die ander drie was al in die skool.”
Nou kom dit bietjie vir bietjie terug hoe dit in daardie tyd ná haar pa se dood met hulle gegaan het. Dit was altyd die een ding of die ander met Mammie. As sy nie siek was van haar hart nie, was dit die asma wat haar opkeil.
Wanneer Mammie by mense se huise moes gaan strykwerk doen, het Poppie saamgegaan, want daar was niemand tuis om na haar om te sien nie. Een so ’n oggend onthou sy goed, want dit was gesellig en warm in die kombuis waar Mammie staan en stryk het. Sy het met haar lappop by Mammie se voete gespeel. Die pop was van ’n ou laken gemaak en haar gesig, arms en bene was spierwit. Die pop se gesiggie, wat Mammie met ’n inkpotlood geteken het, was nog net ’n pers vlek, maar sy het nie omgegee nie. Die lappop met haar vet bene en arms was al speelding wat sy gehad het.
Vettieboemstieks, noem Poppie haar kind. Sy druk haar baba teen haar bors en sing ’n liedjie wat sy self uitgedink het. Die vrou van die huis kom in, gaan sit langs die tafel en begin gesels met Mammie. Die skroeireuk van die stryklaken op die strykkombers is in Poppie se neusgate en sy voel veilig en gelukkig. Sy kyk hoe Mammie die yster wat koud geword het op die stoof neersit en ’n ander een optel. Tjits! maak dit wanneer sy met ’n nat vinger toets of die yster warm genoeg is.
Maar opeens is daar ’n groot kommosie. Die tante gly van haar stoel af tot op die vloer. Sy lê reg langs Poppie terwyl haar hele lyf ruk en skuim by haar mond uitloop. Haar oë dop om en haar lyf buig agteroor. Mammie stoot Poppie eenkant toe. Sy het ’n lepel in haar hand wat sy steelkant eerste tussen die tante se tande indruk terwyl sy haar tong vorentoe trek.
Poppie gaan staan in die verste hoekie van die kombuis met Vettieboemstieks in haar arms vasgeklem, so ver weg as moontlik van die rukkende lyf en aaklige roggelgeluide. So sag is die skrik in haar keel dat sy eers agterkom sy huil toe sy haar trane op haar pop se kop sien val.
“Poppie, gaan roep gou vir tant Sarie!” skree Mammie.
Sy hardloop by die deur uit na tant Sarie se huis langsaan. Tant Sarie sit op die stoep en brei en staan verskrik op toe sy Poppie se gesig sien.
“Kom gou!” hyg sy. “Die tante …”
Tant Sarie sit haar breiwerk op die rottangtafeltjie neer. “Toemaar, my kind, jou ma sal weet wat om te doen, die aanval is altyd gou verby,” troos sy. “Kyk hoe lyk jy, skoon asvaal van die skrik. Kom sit in die kamer op die koos, dan bring ek vir jou suikerwater.”
Poppie het nie geweet hoe lank sy daar op die kamerpot moes bly sit vir die asvaal om weg te gaan en om weer pienk te word nie. Toe bly sit sy maar tot hulle haar roep. In die buurtante se kombuis het Mammie, tant Sarie en die tante wat so vreeslik geruk het rustig sit en tee drink.
“Nie lank daarna nie het die vallende siekte tog die tante se dood gekos,” vertel sy vir Faan. “Sy het by die tafel gestaan en stryk toe sy weer ’n aanval kry en neerslaan – ongelukkig met haar kop teen die tafel, toe breek sy haar nek.”
“Siestog,” sê hy. “Sy moes die strykwerk liewer vir jou ma gelos het.”
Poppie staan op en rek haar uit. “Kom ons gaan stap eers ’n entjie, toe. Ek is nou skoon styf gesit.”
Terwyl hulle langs die rivier af stap, vryf sy oor haar boarms.
“Kry