Alles begin met Anna. Annemari Coetser
te stink is ’n skande, want die Liewe Jirre het vir ons almal water gegee om ons klere mee te was en ons basse te reinig.
Sy trek die laken oor haar kop en huil saggies, maar dit maak haar neus bottoe. As sy doodgaan van gebrek aan asem, sal dit almal se verdiende loon wees. Hulle sal jammer wees oor hulle so lelik met haar was, maar dit sal vir ewig en altyd te laat wees. Miskien sal oom Louis en tant Grieta so ’n bietjie huil. Sussie Anna ook. Miskien sal haar ma nog sieker word van lyding en smart en sommer daarvan doodgaan. Dan is hulle regte weeskinders. Hulle gesin is die ongelukkigste familie in die hele Unie van Suid-Afrika, sy weet dit.
Kon haar pa nie maar bietjie minder spesiaal gewees het nie? Maar wat help dit sy dink aan haar pa? Sy onthou hom nie eens nie. ’n Mens onthou sweet blou all van goed wat gebeur het toe jy skaars twee was. Sy moet liewer aan haar siek ma dink.
Sy druk haar gesig in die kussing om die snikke te smoor en hoor nie dadelik die fluisterstem langs haar bed nie. Eers toe iemand aan haar deken pluk, lig sy haar kop op.
Daar staan ’n dogtertjie met lang, wit vlegsels, ’n vinger teen haar lippe. “Sjuut,” fluister sy. “Skuif op, dan kom lê ek by jou en vertel vir jou ’n storie.”
Sy trap Poppie se been raak toe sy inklim en giggel. “Askies, man! Is dit seer?”
“Nie te erg nie.” Poppie vryf haar maermerrie met haar ander voet.
“Wat’s jou naam?” vra sy en vee haar snotneus met die laken se punt af. Die materiaal is so grof dat dit haar vel seermaak.
“My naam is Julia. Ek’s al lankal hier, van net ná die Groot Griep af. Dis nie so sleg hier nie, jy sal gewend raak.”
Poppie skuif nog verder op en ril toe Julia haar koue voete teen haar bene druk. Maar sy gee nie om nie, dis darem iemand naby haar. Dit help vir die verlang.
“Is jou ouers dood van die griep?” vra sy. “Ons kinders was nie siek nie. Net my ma het baie siek geword, maar sy’s nie dood nie.”
“Dit het ons uitgeroei!” sê Julia. “My hele familie is dood.”
“Roeriewaar? Almal? Het jy nie meer broers of susters nie?”
“Nee, dis net ek.”
“Dêssitse blerrie.”
Poppie vergeet van die koue voete soos blokke ys teen hare. Sy is beter af as Julia, want Sussie Anna is nog daar. Niemand sal hulle van mekaar af wegvat nie. Dit het haar ousus belowe: Cross my heart and hope to die.
Sy sit haar arm om Julia se lyf. “Vertel nou die storie. Asseblief.”
“Goed, ek begin.”
Julia se stem is asemrig, asof sy ’n groot geheim deel. Die hele slaapsaal het stil geword. Die ander meisies luister ook, want Julia fluister hard genoeg. Sy dink seker self die storie uit, want Poppie het nog nooit gehoor van ’n plaas met ’n goue dam, ’n wonderfontein en laggende feetjies nie. Getroos en half deur die slaap voel sy later hoe Julia uit haar bed klim.
Dikwels daarna wens-droom sy in die klas dat sy net één vakansie na so ’n wonderlike plaas gestuur kan word. Dan hou die mense so baie van haar dat hulle vir haar, Sussie Anna, Nic én Jannie nooi om vir altyd en altyd daar te kom bly. Tot die perde horings kry op die Knersvlakte van Mesopotamië.
Poppie hou op praat, staar na ’n kolletjie op die reisdeken en vee vinnig oor haar oë.
Faan sit doodstil, nie ’n kwiek of ’n kwak uit sy mond nie. Nou ja, wat weet ’n asjas soos hy nou ook van die lewe af? Sy het baie lus en slaat hom met die vuis teen sy boarm, maar sy keer haarself.
Ná ’n rukkie maak hy keel skoon. “Poppie, weet jy … Ek glo daar kan enige tyd in ’n mens se lewe iets opwindends met jou gebeur. Iets wat jou lewe kan verander, soos julle wat onverwags in Bethlehem beland het. Iets goeds gaan daaruit kom, jy sal sien.”
“Ja, wel, is dit wat jy jouself ná my lang relaas wysmaak?”
Sy staan op en trek die kombers onder hom uit, totdat hy omval en onwillig opstaan. Skud die kombers só hard dat die blare rondom hulle opwip, en hulle vou dit saam op.
“Ek verwag dit sal oor ’n paar uur nag wees,” sê sy. “En een van die dae is dit winter, en dan weer lente. Daarvan is ek seker. Ek glo nie aan verrassings nie.”
Hy hou sy hand onder haar elmboog toe hulle terugstap na ant Nelie se losieshuis. Op die stoep soen hy haar liggies op die wang.
“Dankie vir die lekker middag, Poppie. En dankie dat jy my jou storie vertel het. Moenie ophou hoop nie.”
“Ja, ou filosoof.”
Sy lig haar hand om hom ’n vuishou teen die boarm te gee, maar verander dit in ’n ligte veeg. Daar is tog geen salf te smeer aan ’n ewige optimis nie.
Anna: ’n Slagskaap vir twaalf hoenders
1870–1889
Hoe bou ’n mens ’n Anna-ouma uit ’n paar droë feite? Was sy byvoorbeeld een van daardie deftige, skerpstem-oumas wat ’n kleindogter heeltyd sou kapittel met: “Sit regop, kjênd! Jy sit aljimmers so krom soos ’n hoepel. Kyk hoe lyk jou rugstring. Gaan haal dadelik drie boeke.”
“Hoekom, Ouma?”
“Moenie jy vir my kom staan en ‘Hoekom, Ouma?’ nie. Omdat ek so sê!”
En dan forseer sy jou om met die boeke op jou kop vyftig keer van die stoof af tot by die agterdeur te loop om jou postuur te verbeter.
Of dalk was sy ’n helleveeg wat ’n groot spinnekop soos niks met die kaal hand teen die muur sou platslaan. Miskien sou sy een van daardie liewe oumas kon wees. Een in wie se oë jy niks verkeerd kan doen nie en op wie se wye skoot jy saam met jou boetie sit, haar arms om jou lyf en haar skaterlag in jou ore.
Maar wag, Anna was nooit ’n ouma nie! Onverbeel haar dadelik. Begin by die begin. Anna se begin. En om Anna se begin uit te rafel, oorweeg die enkele besonderhede wat oor haar ouers bekend is. Anna se pa, Nicolaas, se voorgeslagte kom van die plaas Grootfontein in die Middelburg-distrik, Kaapkolonie. Hy is daar gebore op 30 Augustus 1854, maar wie weet of hy in daardie mooi maar harde skaapwêreld grootgeword het?
Valerige feite moet ingekleur word. Verbeel vir Nicolaas as ’n taamlik droë maar hardwerkende jong man wat op ’n dag besluit om ’n bruid te gaan soek. Want so alleen kan ’n man mos nie voortploeter nie. Nogal ver van Middelburg af – 128 myl – op Springfontein in die Vrystaat woon Anna Susanna Coetzee, genoem Annatjie. Dis hopeloos te kripties gestel, maar die resep is oorbekend: ontmoeting, liefde, die huwelik. Hoe en waar dit gebeur het, is nie bekend nie, en die romantiese deel (as dit inderdaad daar was) word ter syde gelaat. Hulle rol in hierdie storie is net om te sorg dat Anna gebore word. Nicolaas en sy bruid is albei net sestien.
’n Mens kan jou voorstel waaroor Springfontein se mense in daardie dae gepraat het. Want 54 myl verder, anderkant Trompsburg, lê Jagersfontein, waar diamante ontdek is! ’n Boer van die omgewing het ’n knewel van 50 karaat op sy plaas opgetel.
Kleur die herfsgras goudgeel op die dag toe die jong egpaar met hul spaaider op pad is tussen Springfontein en Jagersfontein. Annatjie is heelpad naar, want sy is in die ander tyd. Drie keer moet hulle stilhou sodat sy in die gras langs die grondpad kan braak. Daarna leun sy doodsbleek teen Nicolaas aan. Hoe verlang sy nie reeds na haar moeder nie! Maar teen dié tyd weet sy as Nicolaas sy kop op ’n ding gesit het, is daar geen keer aan hom nie. Hy wil opsluit ook ’n delwer word wat dag en nag klippe kap om een van die blinkes te vind.
Woon die egpaar in ’n bloedige warm delwershuis van sink? Daar is so ’n toestroming van geluksoekers na die dorp dat water skaars is. Gelukkig het iemand ’n unieke pompstelsel ontwerp: op elke straathoek staan ’n waterpomp wat geaktiveer word as jy ’n pennie daarin druk. Waterpennies, noem die inwoners dit.
Waarskynlik is dit ’n plakkershuis waarin hulle eersteling, Hendrik Stephanus, sê maar in 1871 die eerste lewenslig