Omdat jy jy is. Elsa Winckler
het sy en haar susters gereeld kom kuier. Soms een-een, soms was hulle al drie saam hier. Maar vandat hulle begin werk het, het die lewe sy loop geneem en het hulle al minder tyd gehad om te kom kuier. En nou is ta’ Peet dood.
Hartseer kom sit in ’n knop in haar keel, maar sy gryp haar handsak en klim sluk-sluk uit. Daar was nog nie tyd om regtig oor ta’ Peet te treur nie, maar sy wil eers die man in die kothuis kry voordat sy haar aan haar trane kan oorgee.
Hy het reeds uitgeklim, sien sy en stap oor na waar hy parkeer het.
“Die woonstel behoort hier aan die agterkant van die garage te wees,” beduie sy.
Of die lig nou snaaks val of wat weet sy nie, maar hy lyk besonder bleek. Hy lig ’n sak stadig uit die motor met sy gesonde arm.
“Kan ek help?” vra sy.
Hy skud sy kop. “Ek kom reg.”
As die trek om sy mond enige aanduiding is, het hy baie pyn, maar hy begin stap in die rigting wat sy beduie het en sy volg hom. Hardekwas, wil nie gehelp wees nie – sy is vir net ’n paar minute bewus van die man se bestaan, maar sy weet reeds watter karaktereienskappe hy besit.
“Toe ek laas hier was, was dit net ’n vervalle kamer …”
Sy kyk op en gaan staan stil. In die plek van die vervalle gebou wat sy onthou, is ’n netjiese kothuisie, kompleet met ’n vriendelike stoep en staandak. Sy lag. “En nou is dit ’n pragtige plek.”
Steyn stap by haar verby en laat val sy sak op die stoep. “Ek … ek sal regkom, dankie.”
Voor sy ’n woord uitkry, is hy in die huis en trek die voordeur agter hom toe. Die sak bly staan op die stoep.
Kathleen staar na die deur. Het hy iets om te drink vir die pyn? Moet sy die tas inneem? Moet sy ’n dokter vir hom kry? Sê nou …?
Sy draai effens besluiteloos om en stap na haar motor toe. Dit het niks met haar te doen nie, sou haar susters vir haar preek. Moenie jou almal se ellende so aantrek nie, sou haar pa sê. Maar het die man ooit iets om te eet?
Kos. O, aarde. Haar horlosie wys sy het nog net ’n paar minute oor om die nodige te koop. Miskien moet sy net vir die man melk en brood kry of …?
Niks met jou te doen nie, niks met jou te doen nie. Al prewelend ry sy vinnig terug na die hoofstraat.
2
Die volgende oggend staan die sak nog steeds op die stoep van die kothuis. Die deure en vensters is styf toe.
Besluiteloos staar Kathleen na die kothuis. Sy het gehoop teen dié tyd is die man al weg. Maar die sak vertel ’n ander storie. Vinnig draai sy weg van die venster en sit die koffiemasjien aan.
Die huis het ’n skoonmaak nodig, maar dis nie iets wat sy op ’n nugter maag kan doen nie. Onwillekeurig draai sy weer terug en kyk na die kothuis. Die koffiemasjien begin vrolik gesels, haar gedagtes flits rond.
Oukei, sy het ’n plan – sy sal vir hom koffie neem, dis tog net ordentlik. Sy is die onwillige landlady, maar sy ís die landlady. Op dié manier kan sy dalk vasstel wat sy planne is.
Minute later is sy op die kothuis se stoep en druk haar oor teen die voordeur. Dis doodstil binne. Sy kyk op haar horlosie. Dis nie asof sy die man douvoordag opklop nie, dis darem al halfnege. Sy klop. En luister weer by die deur. Nog steeds doodse stilte. Dood?
Sy klop weer. Dié keer harder. Maar daar is geen geluid van binne wat ’n aanduiding gee iemand is daar nie. Versigtig draai sy die deurknop. Dis nie gesluit nie.
“Meneer Erasmus!” roep sy. Doodstil. “Steyn!” roep sy weer ná ’n paar minute.
Dié keer hoor sy wel iets. ’n Kreun. Sonder om te dink, druk sy die deur oop, sit die skinkbord op die eerste tafeltjie wat sy sien neer, en pluk ’n gordyn oop. Dis ’n groterige vertrek met ’n klein kombuisie aan die een kant en ’n sitkamergedeelte aan die ander kant.
Steyn lê op een van die banke. Sy gesonde arm is oor sy gesig gegooi. Dit lyk asof hy probeer het om sy hemp uit te trek, maar dit nie oor die arm in die hangverband kon kry nie.
Sy doen haar bes om nie na sy bykans ontblote bolyf te kyk nie, maar die prentjie van ’n baie sexy six-pack gaan sy nog lank onthou.
“Steyn?” vra sy en raak versigtig aan sy arm. Hy voel warm. “Steyn!” roep sy en dié keer skud sy sy arm.
“Wat de hel?” kreun hy en laat sak sy arm. Sy oë is bloedbelope en die donker kringe onder sy oë meer prominent as gisteraand.
Sy druk ’n hand teen sy voorkop. Hy is vuurwarm. Leen is nie ’n dokter nie, maar sy het nie ’n mediese graad nodig om te weet die man het koors nie.
“Het jy pyn?” vra sy. “Het jy iets in jou sak wat jy kan drink?”
Hy staar verdwaas na haar.
“Ek is Kathleen. Jy is in die kothuis van my … agter die huis waar ek bly. Op Greyton?”
“Die mooi girl,” prewel hy, steek sy hand uit en vat aan haar poniestert wat oor haar skouer hang. Hy glimlag skeef. “Gedink dis sag.” Sy hand val terug en sy oë gaan weer toe.
Sy trek haar asem vinnig in en staan regop. Lawwe skoenlappers fladder op haar maag. Die man yl, hy dink seker sy is iemand anders. Die mooi girl? Sy is nie onaardig nie, maar beslis nie die tipe oor wie digters odes sal skryf nie. Ja-nee, hy verwar haar beslis met iemand anders.
“Steyn, het jy pille in jou sak?” vra sy weer, maar sy arm het weer oor sy oë geval.
Sy draai weg en gaan haal die sak op die stoep. Terug langs hom, rits sy die sak oop.
“Steyn, ek gaan in jou sak krap, oukei?” gesels sy terwyl sy soek na pille of iets wat soos medikasie lyk.
’n Selfoon lui. Dis nie hare nie. Kathleen staak haar soekery na die pille en kyk rond waar die foon is wat lui. Onder die bank waarop Steyn lê, kry sy die selfoon. Dit moes uit sy sak geval het toe hy op die bank gaan lê het.
Dis “Ma” wat bel. Sy huiwer net ’n oomblik voordat sy antwoord. Sy ma sal hopelik weet of hy pille het wat hy kan drink.
“Hallo,” groet sy.
Dis stil aan die ander kant van die foon.
“My naam is Kathleen Mulder. Is u mevrou Erasmus?”
“Ja,” sê ’n vrouestem onseker. “Ek het my seun probeer bel? Is hy oukei? Het iets met hom gebeur? Waar is hy?” Die stem klink al meer bekommerd met elke vraag.
“Hy huur die kothuis agter my tante … agter die huis waarin ek bly. Op Greyton?”
“Greyton? Hoekom sou hy soontoe gaan? Waar lê Greyton nou weer? Is hy oukei?”
Kathleen kyk af na waar Steyn nog doodstil lê.
“Greyton is in die Overberg, so ’n uur of wat uit Kaapstad. Ek … dink u seun is oukei, maar hy het dalk koors …”
“As ek my sonde nie ontsien nie!” roep die vrouestem aan die ander kant gefrustreer uit. “Tipies! Hy is deur twee operasies. Daai ellendige fiets van hom! Ek het voorgestel hy kom bly by my totdat hy weer op die been is, maar nee. Hy is so hardekwas. Gerard, sy goeie vriend en huisdokter, het gesê hy is ook heeltemal oorwerk en moet homself ’n maand kans gee om heeltemal te herstel. Maar wat doen hy? Klim met sy seer arm in ’n motor en ry na Timboektoe. Hy het nou wel ’n outomatiese motor, maar hoe stom-onnoselik kan ’n mens wees? Oe, mansmense maak my so kwaad, hulle …”
En die stem klim weer ’n paar oktawe terwyl sy mans se baie tekortkominge lys. Kathleen is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sy wel weet, is dat die man voor haar so gou moontlik iets moet inkry vir sy koors.
“Mevrou Erasmus,” onderbreek sy die tirade. “Uhm, dis Greyton, nie Timboektoe nie. Ek wil in sy sak kyk of hy iets het vir koors. Ek … ek sal hom sê u het gebel.”