Omdat jy jy is. Elsa Winckler
nice meisies na vreemde mans se onderbroeke?” roep hy agter haar aan, maar sy gooi die voordeur agter haar toe en hardloop terug na ta’ Peet se huis.
Wat ’n ongeskikte, ondankbare vent. Sy hoop hy val en breek sy ander skouer ook. Sy voel dadelik ellendig oor haar gedagtes en stuur ’n skietgebedjie op.
Sy ruk die stofsuier uit die kas, prop dit in en begin skoonmaak. Sy ma en ’n hele entourage is op pad. Daar is mense wat na hom kan kyk, hy het haar nie nodig nie.
’n Warm gloed spoel weer oor haar. Sy kan nie glo sy het sy onderbroek opgetel én bekyk nie. Wie doen so iets? En toe is sy oë juis op daardie oomblik oop en hy sien wat sy doen.
Haar kreun word deur die geluid van die stofsuier opgeslurp.
3
Twee uur later is die huis van hoek tot kant skoon. Kathleen blaas haar hare droog. Sy het pas gestort en is reg om voor haar rekenaar in te skuif. Terwyl sy blaas, kyk sy kort-kort by die venster uit na die kothuis.
Soos elke keer wat sy die afgelope uur gekyk het, en dit was baie, is daar nog steeds geen beweging nie.
Sy skakel die haardroër af en dis toe dat sy die geluid hoor. Versigtig stap sy by die kamer uit en luister. Daar is dit weer. Dit klink asof iets teen die voordeur krap. Sy stap in die gang af. Wat op aarde?
Deur die loergaatjie kan sy niks sien nie en sy maak die deur versigtig oop. Daar is niks voor die deur sover sy kan agterkom nie.
“Woef!” blaf ’n hond en sy kyk af. Reg voor haar sit ’n hond, of eerder ’n brak, want sy kan nie uitmaak watse soort hond dit is nie. Daar is beslis iewers ’n bietjie terrier-bloed, maar hy is vuil en verwaarloos en dis selfs moeilik om sy of haar kleur te bepaal.
“Ja?” gesels sy en buk af. “Wat maak jy hier?”
“Woef!” sê hy, draai om en hardloop weg.
Sy glimlag en begin die deur toemaak. Dis seker ’n rondloper. Net voor die deur toegaan, blaf hy weer. Hy staan op die punt van die stoep en kyk vir haar. Hy blaf weer.
“Wat is dit?”
“Woef!” sê hy en draf die trappies omkyk-omkyk af.
“Wil jy vir my iets gaan wys?” Sy stap agter hom aan en hy verdwyn om die hoek. Ai. Sy het regtig nie nou tyd om met ’n hond te speel nie. Sy begin terugdraai, maar hy begin vreeslik blaf en sy stap om die hoek. En daar sit hy. Op die kothuis se stoep. Sy stert swaai en hy blaf twee keer.
Haar hart begin klop. Is dit Steyn se hond? Maar sy het nie gister ’n hond gesien nie. So, hoekom is die hond hier en hoekom staan hy en blaf voor die voordeur van die kothuis?
Sy stap nader en die hond krap teen die voordeur van die kothuis en blaf weer twee keer.
“Is dit jou oubaas wat hier binne is? Jy moet vir hom sê hy moet jou ’n slag bad, hoor? Wil jy ingaan?”
Die hond blaf en sy klop aan die deur. Niemand reageer nie. Die hond kyk afwagtend op na haar.
“Hy slaap seker,” sê sy.
Maar die hond begin weer blaf. Geïrriteer kyk sy af na die dierasie. “Sy motor is nog hier, so hy is ook nog hier. Maar hy slaap seker, ek wil hom nie nou pla nie.”
Die hond blaf en sy hele lyfie bewe.
“Oukei, oukei. Ek sal kyk of hy regop is. Hou asseblief net op met raas.”
Die hond gaan lê met sy kop op sy voorpote en kyk haar verwytend aan.
Versigtig klop sy weer aan die voordeur. Om weer hier te kom klop, was beslis nie deel van haar plan nie. Niemand reageer nie. Sy maak die deur oop en loer in.
“Steyn?” roep sy, maar voor sy kan keer, is die hond tussendeur haar bene en hy storm blaffend die huis binne.
“Sjuut!” raas sy, maar die hond steur hom nie aan haar nie, hy verdwyn in een van die kamers wat uit die sitkamer loop.
“Kom hier, wat …?”
Die hond blaf weer twee keer.
“Steyn?” roep sy en stap tot by die deur. “Is jy oukei?”
Die hond begin histeries blaf. Leen huiwer by die deur. Hoekom is die vent se ma en die meisiekinders na wie sy verwys het nog nie hier nie? Die hond se geblaf raak net erger. Sy skep ’n asemteug en stap vinnig by die kamer in.
Die hond staan by ’n deur wat seker na ’n badkamer lei. Hy krap-krap aan die deur en blaf onophoudelik.
“Ek kan nie daar ingaan nie,” beduie sy vir die hond. “Sê nou hy … sê nou hy is …?” Sy kan nie eens die woord uitkry nie. “Dalk het hy nie klere aan nie. Ek sal die prokureur gaan bel. Hou net op raas.”
Maar die hond krap-krap weer aan die deur, sy geblaf raak al dringender.
“Oukei, sjuut net,” raas sy en sit haar hand op die handvatsel.
Die hond staan afwagtend nader. Die oomblik toe sy die deur oopmaak, is hy binne-in die badkamer.
“Steyn?” vra sy voordat sy haar kop om die deur steek.
Hy sit-lê teen die een muur, ’n handdoek lê skuins oor sy lyf, sy een arm nog in die hangverband. So asof hy besig was om hom af te droog en toe net nie meer regop kon staan nie. Hy is wasbleek en beweeg nie.
Skrik laat haar vorentoe storm en sy hurk langs hom. Sy hou haar hand voor sy neus. Oukei, dit voel asof hy nog asemhaal.
“Jou ma het gesê jy’s hardekwas, maar regtig?” raas sy. “Jy hoort nog in ’n hospitaal, jou absolute idioot.” Haar stem is harder as wat sy bedoel het, maar wat is sy veronderstel om nou te doen?
Haar oë gly oor sy lyf. Die handdoek bedek die nodige, maar sy kan genoeg van hom sien om te weet hy is ’n … wel, ’n uitsonderlike voorbeeld van die manlike spesie. Haar gesig word sommer warm. Watse soort vrou is sy? Die man is dalk aan die doodgaan en sy sit en …?
“Genoeg gesien?” kraak sy stem en sy ruk haar kop terug om na hom te kyk.
Sy oë is op skrefies.
“Jy’s siek. Jy hoort in ’n hospitaal,” sê sy, dadelik kwaad vir die man.
“Ek is nie siek nie,” grom hy en druk hom stadig regop met sy gesonde arm.
Die handdoek skuif gevaarlik ver eenkant toe en verbouereerd gryp sy die punt om dit terug te trek. Wat sy uiteindelik vasgryp, is egter nie die handdoek nie, maar ’n deel van hom wat onder die handdoek was.
“Bliksem, vroumens,” kners hy uit. “Dis nie nou die tyd …”
Ontsteld, skaam, verontwaardig spring sy op. “Ek wou net die handdoek regtrek …”
“Yeah, right.” Hy skuif verder teen die muur op en vou die handdoek om sy lyf. “Ek kan opstaan, draai weg,” beveel hy dwars en sy stap vinnig by die badkamer uit.
Van binne die badkamer kom ’n gesteun en tussendeur blaf die hond kort-kort.
“Wie de hel se brak is dit dié?” hoor sy voor dit stil raak.
“Ek het gedink dis joune.”
’n Paar dowwe vloekwoorde dui aan dis nie sy hond nie.
Hy maak keel skoon. “Uhm … kan jy my asseblief tot in die kamer help?”
Sy stap terug by die badkamer in, maar vermy sy oë. Die hond staan met sy tong by sy bek uit, laggend vir hulle en kyk.
“As ek my arm om jou skouers kan sit …?” ’n Spiertjie spring-spring in sy wang.
Sonder om ’n woord te sê, glip sy onder sy gesonde arm in. Sy begin stap.
“Tot by die bed, dankie,” sê hy.
Kathleen probeer op die afstand konsentreer. Die man ruik absoluut hemels. Kwyl dam in haar