Omdat jy jy is. Elsa Winckler
oor jare opgebou en deesdae is al drie sy susters deel daarvan.
Wat hom besiel het om die woord trou te gebruik, sal hy ook nie weet nie. Hy probeer net ’n plan maak om sy ma en susters terug in Kaapstad te kry sodat hy kan rus.
Die pille wat Kathleen vroeër vir hom gegee het, het ten minste sy koors gebreek, maar sy skouer pyn weer soos die hel. Daaroor sal hy nie ’n woord sê nie, want as sy ma dit moet agterkom, laai sy hom dadelik in die motor. Op die een of ander manier moet hy van haar en sy susters ontslae raak.
Hy probeer nog ’n manier bedink om sy ma van die trou-onderwerp af te kry, toe Debbie instap met ’n skinkbord bekers in haar hande, sy ander twee susters en Kathleen reg agter haar.
“Ma, drink jou koffie. Ons kan met geruste harte teruggaan. Kathleen hier gaan mooi na Steyn kyk. En Steyn, toe ons hoor wat sy doen, het ons besef jy kan haar help. Sy kyk na jou en jy help haar – wen-wen.”
“Maar dis wonderlik, kind,” sê sy ma en vat ’n beker koffie. “Wat doen jy?”
Voor sy egter haar mond kan oopmaak, praat Karina. “Ma weet van Ensovoorts? Die aanlynwinkel …?”
“… met die mooi kombuisgoed en nou ook al die ander mooi goed?” vra sy ma.
“Einste,” sê Debbie. “Dis hierdie mooi meisiekind se brain child.”
Sy ma snak behoorlik na asem. “Dis die wonderlikste winkel. Ek is absoluut mal oor al jou produkte en ek is seker daarvan ek is jou beste kliënt!”
Kathleen lag en kuiltjies maak hul verskyning op haar wange. Betower, staar hy. Hy het gedink hy het dit gedroom, maar sy het regtig kuiltjies. Sy het nog net een keer geglimlag vandat hy haar ontmoet het en dit was toe sy die kothuis sien. Die ander kere was sy óf vies óf aan die bloos.
Sy lyf reageer sommer weer toe hy onthou hoekom sy so gebloos het en hy skuif ongemaklik rond op die bed.
Sy ma is dadelik by. “Wat is fout? Kan ek vir jou pynpille kry?”
“Ek is fine, Ma.” Hy moet vinnig haar aandag aflei. Hy draai na Kathleen. “So, hoekom het jy my hulp nodig?”
“Ek het nie gesê ek het jou hulp –” begin sy, maar sy susters neem weer die gesprek oor.
“Sy moet ’n besigheidsplan vir die bank opstel. Dis mos wat jy doen, dan nie? Hoewel ek nog nooit regtig kon vasstel wat doen ’n onafhanklike konsultant en trouble-shooter nie. Maar ek weet jy help besighede met planne, so jy kan vir Kathleen help. En omdat sy jou help om gesond te word, hoef sy nie jou buitensporige fooie te betaal nie. Wen-wen,” sê Debbie.
Karina het ook iets by te voeg. “Haar besigheid het te groot geword vir die perseel wat hulle nou gebruik en sy moet ’n nuwe plek koop – ook iets waarmee jy kan help.”
“Dis regtig nie nodig nie, ek sê mos ek sal regkom,” probeer Kathleen keer. “Buitendien, Steyn is net tydelik …” Maar sy ken nog nie sy ma en susters as hulle eers hul kop op ’n ding gesit het nie. Niemand steur hulle aan haar nie.
“Maar is dit nou nie wonderlik nie.” Sy ma klap opgewonde haar hande voordat sy afbuk en hom ’n soen op sy wang gee. “Ek kan heeltemal verstaan hoekom jy van trou begin praat.”
“Trou?” vra sy susters gelyk.
Hy kreun hardop. “Niemand praat van trou nie!”
“Is,” sê sy ma verontwaardig. “Jy het van trou gepraat. Nou net.”
“Ma, luister nou asseblief. Ek het gesê niemand gaan trou nie. Ek ken vir julle. As julle eers begin dink daar is liefde in die lug, reël julle troues. Debbie dink aan die koek wat sy gaan bak, Christie beplan blommerangskikkings, jy begin trourokke ontwerp en Karina beplan die foto’s wat sy gaan neem.”
Sy ma en susters staar hom oopmond aan.
“Trou en liefde in een sin,” prewel Christie met ontsag.
“Nooit gedink ek sal dit uit my broer se mond hoor nie,” sê Debbie opgewonde.
“My hene, en dit sommer binne ’n dag,” lag Karina. “Oe, julle gaan mooi kinders maak.”
Steyn het genoeg gehad. “Uit. Almal van julle!” bulder hy. Hy moet weer pynpille drink, maar nie voor hy van sy ma en susters ontslae geraak het nie.
“Niemand gaan trou nie!” probeer hy weer.
Sy ma lag en klop vir Kathleen op die skouer. “Toemaar, hartjie, dis wat hulle almal aanvanklik sê. Ons praat weer. Ons het in elk geval kos en wyn gebring, Steyn, net ingeval ons jou nie omgepraat kry nie. Dis in die kombuis en in die yskas. Maar die mooi meisiekind gaan mos vir jou help, dalk het jy dit glad nie nodig nie.”
Die volgende oomblik is dit net hy en Kathleen in die kamer.
“Ek is jammer. My ma en susters … Ek het geen verskoning vir hulle nie. Ignoreer alles wat hulle sê, asseblief. Ook die idee dat jy my hoef te help. Ek het dit bloot vir my ma gesê om haar gerus te stel. Gee my net ’n dag of wat, ek kry ’n ander blyplek sodra ek kan regop bly.”
“Dis …” Sy maak keel skoon. “Dis nie nodig nie. Bly gerus hier. Vir die hele maand. Ek gaan so besig wees, ek sal nie eens agterkom hier is iemand in die kothuis nie.”
“Jy wil nie meer van my ontslae raak nie?”
Sy rol haar oë. “Ek sal verkies om alleen te wees, maar jy is siek en …”
“Ek is nie siek nie. Ek dink jy het dit vroeër agtergekom, of hoe?”
Haar oë rek voordat sy weer bloedrooi bloos. “Ek kan nie glo jy verwys weer daarna nie,” sê sy en druk haar hande teen haar wange.
“Ek is ’n man en jy is mooi en sexy.”
Sy kyk hom geïrriteer aan. “Ek is baie dinge, maar sexy is beslis nie een daarvan nie. Nou goed, jy is nie siek nie en jy het nie my hulp nodig nie. En ek het ook nie jou hulp nodig nie. Ek is bly ons verstaan mekaar. Tot siens.”
Steyn skuif teen die kussings af. Wow. Sy is heeltemal onbewus van die uitwerking wat sy op mans het, op hóm het. Hy het nog nooit so ’n girl ontmoet nie. Gewoonlik is vroumense baie bewus van hoe hulle lyk en hulle weet net hoe om te flikflooi.
Interessante girl, dié.
4
Kathleen probeer konsentreer op die papiere wat sy by die bank gekry het oor hul vereistes vir ’n besigheidsplan, maar sy is nog so ontsteld, die lettertjies wip net op en af voor haar.
Dis al amper twee-uur en sy het nog nie middagete gehad nie. Sou Steyn al geëet het? Sy is onmiddellik opgewerk. Hier sit sy al weer en dink aan hom. Soos wat sy die afgelope paar uur gedoen het.
Hy het dit duidelik gemaak hy het nie haar hulp nodig nie.
Maar sy onthou hoe styfgespan sy lyf vanoggend was, hoe bleek hy was.
Dis nie haar probleem nie, dit is nié haar probleem nie. Sy ma en susters het vir hom kos gebring, hy kan op sy knieë soontoe kruip vir al wat sy omgee. Dis erg genoeg dat hy haar vrede versteur, sy gaan haar nie oor hom bekommer nie.
Maar toe sy haar kom kry, het sy twee toebroodjies gemaak – sonder ’n plan. Die kos wat sy ma-hulle gebring het, is vars en moet nog voorberei word en van wat sy kon sien, kan die man nie eens lank regop staan nie, wat nog te sê kos maak.
Voor sy van plan kan verander, sit sy ’n servet oor die bordjie en stap by die agterdeur van die huis uit. En steek in haar spore vas. Op die onderste trappie lê Hond.
Toe hy haar sien, wip hy regop en lag met sy tong wat uithang. Dis in elk geval soos wat dit vir haar lyk.
“En toe, jy laat my bo-op die man val en maak jou toe uit die voete, nè?” raas sy.
Hond gee ’n kermgeluid en gaan lê met sy kop op sy voorpote.
Sy snork verontwaardig. “Ek