Omdat jy jy is. Elsa Winckler
sy arm uit en hy gaan sit op die bed. Skuif-skuif, met sy gesonde arm as stut, beweeg hy totdat hy agteroor op die kussings kan lê.
“Is jy oukei, wat kan ek …?” Terwyl sy praat, is die hond onder haar voete. “Hond!” raas sy, maar sy verloor haar balans en voor sy kan keer, val sy bo-oor Steyn se onderlyf.
“Simpel hond!” roep sy hoogs ontsteld uit en probeer so vinnig moontlik van die man afklim. Maar haar hand druk weer op ’n verkeerde plek. Sy spring vervaard orent. Steyn trek sy asem vinnig in. Hul oë ontmoet.
“Steyn?” roep ’n vrouestem van binne.
“Dis my ma,” sis Steyn. “Gooi die kombers oor my lyf,” sê hy en beduie na sy onderlyf.
Haar oë volg die beweging van sy hand. Haar oë rek en haar asem raak heeltemal weg. Vervaard ruk sy die kombers wat aan die voetenent lê oor sy onderlyf en steier ’n ent weg van die bed.
Daar is ’n bult onder die handdoek wat daar nie netnou was nie. Haar wange word bloedrooi.
“Ek is jammer, dit was die hond …”
“Is dit jou verskoning?”
Sy kyk vies na hom. Daar is wragtig ’n glimlag om sy mondhoeke.
“Dis nie snaaks nie!” raas sy in ’n fluisterstem.
Van binne roep nog vrouestemme.
“Hier is jou mense, ek loop nou.” Kathleen draai weg om vinnig uit te stap, maar Steyn gryp haar hand vas.
“Ek het hiernatoe gekom om weg te kom van hulle af, dis jou skuld dat hulle hier is en jy gaan sorg dat hulle weer teruggaan.” Sy stem is dringend.
Voor sy kan antwoord, staan vier vroue in die deur.
“Steyn!” roep die ouer een en storm met uitgestrekte arms op hom af. “Ons is dood van bekommernis! Jy kom nou op die plek saam met ons huis toe, ek het jou susters saamgebring om my te help, en ek wil geen verskonings hoor nie.”
Haar blik val op Leen en Steyn se hande wat nog steeds inmekaar gestrengel is.
Kathleen probeer haar hand uit Steyn s’n trek, maar vir iemand wat minute gelede nog nie op sy eie kon regop staan nie, hou hy verbasend stewig aan haar vas.
“Ma, ontmoet vir Kathleen. Sy is die rede hoekom julle my net hier kan los. Ek is fine, ek gaan rus, Kathleen gaan na my kyk.”
Al vier vroue se oë draai na haar toe.
Sy ma frons. “Is dit met jou wat ek vanoggend gepraat het?”
Leen knik en dié keer los Steyn haar hand toe sy dit wegtrek.
“Mevrou Erasmus. Hallo, ek is Kathleen Mulder. Dis my tante wat oorlede is se plek en ek is hier vir die volgende maand voordat ek weer teruggaan Johannesburg toe en –”
“En dis hoekom sy ingestem het om na my te kyk. Ek is ook vir ’n maand hier. So, ek luister wat die dokter sê, Ma, jy kan ontspan. Ek hoef nêrens heen te gaan nie. Kathleen is letterlik ’n klipgooi van my af.”
“Maar wie gaan jou wasgoed was en vir jou kos maak? Jy kan skaars regop bly, ek weet nie hoe jy dit reggekry het om met jou seer skouer so ver te ry nie. Gerard het my vertel wat die ortopeed te sê het oor die vorige dokter se brouwerk aan jou skouer wat hy moes regmaak. Hy moes letterlik die bene van jou skouer soos ’n legkaart weer aan mekaar las.”
Trane begin rol oor sy ma se wange en sy gryp Steyn se hand vas.
Steyn kan die mure uitklim. Dis presies hoekom hy nie by sy ma gaan bly het nie. Hy weet sy bedoel dit goed, maar hy sien nie kans vir haar gekloek om hom nie. En wanneer sy kloek, kloek sy drie susters net so hard saam. En dit maak hom heeltemal mal.
Hy het tyd nodig om te herstel, hy het dit uiteindelik besef nadat Gerard, sy pel en huisdokter, hom sitgemaak en vir hom uitgespel het hoekom hy na homself moet begin kyk.
Dit was vir hom moeilik om te aanvaar hy is op vyf-en-dertig “uitgebrand”, die woord wat Gerard graag gebruik. Maar hulle kom al van skoolbanke af saam en hy weet Gerard sal nie so iets sê as hy dit nie bedoel nie.
Of hy dit wil weet of nie, die hoofoorsaak van die fietsongeluk was sy leefstyl. Uiteindelik het sy ongebalanseerde patroon van ellelang werksure en die feit dat hy nooit vakansie neem nie, hul tol geëis. Hy het gedink as hy fiks is en gereeld fietsry, sal hy oukei wees. Toe nou nie.
Om die kroon te span, was die eerste operasie aan sy skouer ’n flop. As hy maar van die begin af na Gerard geluister het en na die ortopeed gegaan het wat hy aanbeveel het, sou hy nie ’n tweede operasie ook moes laat doen nie. Maar soos gewoonlik het hy sy eie kop gevolg en is hy na die een die naaste aan hom om tyd en ’n ryery te spaar – wat toe ’n helse fout blyk te gewees het.
Asof dit nie erg genoeg was nie, is hy boonop met hierdie simpel longontsteking platgetrek voor hy ontslaan kon word. Dit het net nog verspilde tyd in die hospitaal beteken. En nou is hy so swak soos ’n baba wat begin loop.
Hy moet minstens ’n maand afneem en volkome herstel, het Gerard aangedring. Gaan weg, het hy beveel. As jy in die Kaap bly, gaan jy nie ophou werk nie en mense gaan jou gereeld pla. Maar dis eers toe Gerard hom met sy ma begin dreig het dat hy besef het sy vriend is ernstig.
Niemand het seker gedink hy gaan self al die pad Greyton toe bestuur nie. Maar dié weggesteekte dorpie anderkant Sir Lowryspas het hom tydens die TransCape-fietsresies vroeër vanjaar bekoor. Hy het geweet dit sal die perfekte plek wees om te rus as hy dan nou móét. Ná ’n paar telefoonoproepe het hy tot ’n stil blyplek ook gehad.
Maar hy moes geweet het, dinge is selde so eenvoudig soos wat dit lyk. In plaas van stilte, is die plek vol vroumense en ’n hond. En nie net die gewone vier wat elke beweging van hom vier-en-twintig-sewe met entoesiasme dophou nie, maar ook ’n langbeen-blondekop wat sy bloed tot ver onder sy middel laat sak.
Soos wat so pas gebeur het. Die enigste goeie ding van die hele bisarre toneel is dat hy ten minste weet die twee operasies het hom nie ontman nie, alles werk nog.
“Waar is die hond?” vra hy. Hy moet aan iets anders dink as die vroumens se uitwerking op hom, veral met sy ma langs sy bed.
“Hond? Watter hond?” vra Debbie, sy oudste suster.
“Hier was ’n hond,” sê Kathleen en kyk rond, “maar ek weet nie wat van hom geword het nie.”
“Los nou die hond,” sê sy ma en druk sy hand. “Jy kan nie hier bly nie, Steyn, jy moet dit tog kan insien –”
“Ek weet nie, Ma,” val Christie, een van sy ander susters, haar in die rede. Sy het ’n groot glimlag op haar gesig. “Dalk is dit nie so ’n slegte idee nie.” Haar oë flits tussen hom en Kathleen en hy besef dadelik waarheen haar gedagtes spring.
“So ’n heerlike stil plek soos Greyton is dalk net wat hy nodig het,” voeg Karina, sy jongste suster, met ’n knipoog by. “En, Ma, hy is nie alleen nie. Ek maak tee, sit Ma nou hier en hou vir Steyn geselskap, ons sal mooi vir Kathleen verduidelik wat hy nodig het.”
En voordat hy kan keer, is sy susters en ’n verdwaasde Kathleen uit by die deur.
“Mooi meisie,” sê sy ma. Hy hou net mooi niks van die vonkel in haar oog nie.
“Ma, dis my landlady. Sy het ingestem om te kyk dat ek orraait is, dis al. Ek weet julle vier beplan troues vir ’n lewe, maar hier is niks, ek herhaal, níks aan die gang tussen my en Kathleen nie, ons het mekaar gister ontmoet. Ons is baie toevallig saam hier. Niemand gaan trou nie. Sy woon in Johannesburg.”
“Trou? My kind, dis die eerste keer in jou vyf-en-dertig jaar dat jy die woord gebruik, ek is so opgewonde.”
“Ma!” raas hy.
“Ag, toe nou. Gun my maar om opgewonde te raak, ek wag al so lank. Dit lyk nie asof jou susters ’n plan het om te trou nie en dis my skuld, ek weet. Hulle is so betrokke by die besigheid en vertel gereeld vir my hulle het nie tyd vir ’n liefdeslewe nie,