Raaiselkind. Annelie Botes

Raaiselkind - Annelie Botes


Скачать книгу

      Raaiselkind

      Annelie Botes

      Tafelberg

      Vir elke mens aan wie die taak gegee is om met ’n raaiselkind deur die lewe te reis

      Gee ag op dié met ’n gekwelde gees

      want hulle is vol vreemde wysheid.

      Muurskrif, Nineve, 6 v.C.

      1 Die sementvloer van die badkamer is ’n blok ys onder haar voete. Koue prikke skiet deur haar kuite tot in haar knieë. Verbouereerd kyk sy af na haar spierwit lyf, dan op na die vrouespeurder wat hande agter die rug by die wasbak staan. Haar oog glip skrams na die klein matglasvierkant van die toiletvenster.

      Nee, dis te klein en te hoog. En al kon sy daar uit, kan sy nie kaal in die strate uithardloop nie. Buitendien, dis ver huis toe; sy sal bosselangs moet hou om ongesiens daar te kom. En kom sy oor twee of drie dae uiteindelik by die huis, wag hulle haar tóg daar in, want hulle weet sy het nêrens anders om heen te gaan nie.

      Dalk kan sy voor die dorp wegswaai en op Gunter se plaas in die berge gaan wegkruip. Van bolle en bessies lewe. Iewers in die bergruigtes sal ’n bakkrans of ’n grot wees waar sy die winter van haar lyf af kan hou. Dalk kan sy in die donker bergaf gaan en by Gunter ’n kombers en hoesmedisyne kry. Hy sal vir niemand sê sy kruip in die berge weg nie.

      Nee, sy sal nie weet watter bessies is giftig nie. En sê nou sy is te bang om donkernag af te gaan na Gunter se huis toe, of sy kry longontsteking in die nat klowe? Nee, hulle sal Gunter se plek dophou. Sal waarskynlik polisiehonde stuur om haar spoor te vat.

      Wat van Miriam se huis in die lokasie? Sweerlik sal niemand na haar kom soek in die houtkamertjie agter die hoenderhok nie. Nee, die lokasie het te veel oë. Dan kom Miriam om háár onthalwe ook in die moeilikheid.

      Sy moenie dom wees en probeer wegkom nie. Hulle sal haar orals uitruik.

      Buitendien, sy hoef vir niemand weg te kruip nie. Sy weet die speurder dink sy het Alexander verdrink. Hoekom anders sou hulle haar arresteer en hierheen bring vir ondervraging; so ver ondertoe grawe in óú goed van jare en jare terug? Maar hulle dink verkeerd. Alexander was bloed van haar bloed. Al was hy outisties, was hy haar kind. Onbeheerste kind vol wildheid en neuroses en rituele.

      Tog.

      Sy sou hom nooit skade berokken het nie.

      “Sak wydsbeen op jou hurke neer,” sê die vrouespeurder en staan effe tru, draai nie vir ’n sekonde haar oë weg nie.

      Wydsbeen op haar hurke neersak? Waarvoor? Is die vrou van haar sinne beroof?

      Antwoord nie. Bly stokstyfregop staan.

      “Asseblief, mevrou Dorfling.”

      Sy moenie gaan sit nie. Sy moenie voor hulle verkrummel nie. “Ek is kaal. Ek kan mos nie … ek bedoel …”

      Die vrouespeurder kom ’n tree nader. “Ek moet jou deursoek vir gevaarlike voorwerpe, dis al.”

      “Jy hét my al deursoek.” Handpalms na bo gedraai, pleitend. “Ek is kaal; wat kan ek wegsteek?”

      “Dis normale prosedure. Jy sal jou verbaas wáár desperate vroue goed indruk en later uittrek om as wapens of ontsnapmiddels te gebruik. Sak asseblief op jou hurke af.”

      Vir tydlose sekondes meet sy en die vrou mekaar. Toe sak sy stadig op haar hurke. Vernederd. Gestroop. Toe haar vingerpunte die yskoue badkamervloer raak, ruk ’n hoesbui met ’n rasperklank uit haar borskas los. Sy knyp om haar blaasspiere te beheer en verloor haar balans. Die hoestrane laat alles om haar verwaas. Deur die dun traanlaag sien sy die vrouespeurder se skoene en onderbene nader kom.

      “Staan maar op en trek aan. Wat ook al daar binne kon wees, sou teen dié tyd uitgepeul het. Ryg jou tekkieveters uit sodat dit saam met jou ander goed opgeskryf kan word.”

      “Julle verneder my verskriklik. Sou jy daarvan hou om op jou hurke te sit sodat ’n vreemdeling tussen jou bene kan inkyk?”

      “Dis my werk, mevrou Dorfling, dis iets wat ek elke dag doen.” Onverstoord, sonder selfs ’n stemstyging. “As daar later moeilikheid kom omdat jy wel iets daar binne weggesteek het, moet ek verduidelik.”

      2 Dis nog pikdonkeroggend. Murgkoud. Swaarte gehad om uit die warm kooigoeters op te staan.

      Sy moet klaarkry. Die grootkerk se lorrie gaan nie vir haar wag nie. En dis vergete se tyd al dat sy agter in die kloof by die grootkerk wil uitkom om haar te gaan afbuig voor die Here. Oor baie dinge.

      Sy vou die broodkombers van die deegskottel af en stoot die moue van die blou trui wat sy nog van oorle’ master Dawid geërf het tot bokant haar elmboë op. Doop haar kneukels in die piering louwarm botter om die brooddeeg af te knie.

      Haar maag kramp.

      Die Here weet, van wakkerwordtyd af al is iets in haar derms nie soos dit hoort nie. Brommerigheid wat haar binnegoed al in mekaar laat vasknoop. Maak dat daar ’n floute op haar wil kom neersak.

      Dis ’n voorgevoelentheid. Sy weet dit.

      Lank t’rug, toe haar ma nog geleef het, het haar ma eendag gesê party mense word met ’n helm in hulle mae gebore. En dat ’n maaghelm baie meer praatkrag het as ’n kophelm. Hoeveel kere was daar nie al snaakse dode in hierdie lokasiestraat nie, en elkere keer het haar maaghelm dit vooraf vir haar gekom sê. Soos die keer toe Mannetjie van ant Maria aan ’n hempsknoop doodgeverstik het. En toe Sina se derde voortjint gegly en in ’n twee vinger diepe waterpoeletjie geverdrink het.

      Sy wil liewerster nie beginte dink aan al die kere toe die doodsengel se harde stem met haar gepraat het nie. Sleg vir haar kop. Vir die draaierigheid in haar derms ook.

      “Miriam!” Dis Jeremia uit die agterkamer. “Is die koffie klaar getrek?”

      Sy hou haar doof. Regte luigat, Jeremia. Lê met sy agterent warm toegetrek onder die pisvelle wyl sy met haar sere jigbene in die koue nagwind moet uitsukkel houtkamertjie toe om fynhout te breek vir vuurmaak. Deeg afknie. Panne smeer. Sukkel met die rokerige klamhoutvuur. Sal seker nog Jeremia se broek ook vir hom moet loop aantrek voor sy vanoggend op die lorrie kan klim grootkerk toe.

      Haar maag gee weer ’n draai. Miskien moet sy kleinhuisie toe gaan. Nee. Dis nie ’n kleinhuisiedraai nie.

      Dis iets anders.

      As die Here maar net hierdie naweek tot Maandagoggend met invaltyd by miss Ingrid en by Boetatjie sal bly. Sommer by Jeremia ook, dat hy nie die brood laat oorrys of dit kliphard uitbak nie. Laat hom goed is vir haar hoenders, en moenie dat hy sy hande aan die lê-eiers sit nie.

      En seën die grootkerk.

      3 Daar binne.

      Here van alle heres.

      Hét sy nog iets daar binne? Alles wat sy ooit was of kon wees, het doodgegaan. Stadig en moeisaam, nege helse jare lank. Sel vir sel. Weefsel vir weefsel. Tot by die senupunte. Dit wat Alexander nie oor nege jare heen afgekerf het nie, het die dorpsmense afgekerf.

      Nou is Alexander dood.

      As sy nie sy slap lyfie vanoggend met haar eie hande uit die badwater getel en in die stilheid van sy glasblou oë vasgekyk het nie, sou sy dit nie geglo het nie.

      Wat gaan sy maak as hulle agterkom sy is werklik onskuldig en hulle neem haar terug dorp toe? Waar daar niemand is aan wie se deur sy kan klop of by wie se kombuistafel sy kan gaan sit en huil oor haar kind nie. So seker as God leef, die dorpsmense gaan nooit ophou skinder en gis nie. Die enigste mens op die dorp wat iets vir haar en Alexander oorhet, is Miriam. Moederhen wat hulle onder haar bruin vlerkvere ingedruk het; haar vlerke kloekend om hulle toegevou het waar en wanneer sy kon. Miriam, wat op somber dae ’n bakhand vol vertroosting uitgedeel het; gesê het die son sal hulle nie in die heldere dag steek nie, ook nie die maan in die nag nie. Sou iemand al daaraan gedink het om vir Miriam te gaan sê van die verskriklike ding wat gebeur het? Nee, Miriam is mos nie die naweek by die huis nie. Sy het Vrydagmiddag met uitvaltyd gesê sy ry Saterdagoggend vroeg


Скачать книгу