Raaiselkind. Annelie Botes
Naam so ylik oor jou lippe laat kom.”
Sy moet hom eerder uitlos. Voor sy ’n kopaar bars.
5 Die beknopte kantoor by Moord en Roof ruik na deurslagpapier en stempelink en sigaretstompies. Die venster is toe en die gebrek aan ventilasie maak haar naar en swewerig.
Wanneer het sy laas geëet? Gisteroggend? Sy kan nie onthou nie. Gister lê ligjare ver. Miskien sal hy vir haar koffie en ’n stoel gee as sy na sy sin antwoord. Nee, hy sal nie. Heeltyd nog gee sy al die antwoorde wat sy ken en hy bly ontevrede.
Die man kyk op van die vaalbruin lêer. Sy turksvyvingers tik met ’n potlood op die lessenaarblad. Ta-tate-ta, ta-tate-ta. Hou in hemelsnaam op! wil sy roep. Moenie maak soos Alexander met die F-kruis gemaak het nie!
“Mevrou Dorfling,” en hy sit die potlood neer, lê agteroor op die draaistoel. “Jou kind is dood, maar jy wys geen hartseer nie.” Hy kruis sy hande agter sy kop, kyk haar bevraagtekenend aan.
Ag, Here. As sy net nie so dodelik moeg was nie. “Ek ís hartseer. Maar julle gee my nie kans of tyd om hartseer te wees nie. Hoe moet ek …?”
Hy hou sy hand in die lug. “Nee, mevrou Dorfling, ek praat nie net van nóú nie. Toe ons vanmiddag by jou huis opgedaag het, was daar geen teken dat jy gehuil het nie.” Ta-tate-ta. “Sê my, is jy hartseer?”
Sy is lighoofdig. Daar is ’n doodse verlamming in haar armholtes. “Ek dink nie ek kan meer huil nie. Die laaste nege jaar het my verhard. Ek kan nie onthou wanneer laas in my lewe het ek gehuil nie. Ek wíl, maar ek kan nie.”
Ta-tate-ta, ta-tate-ta.
Die moegheid van baie dae se min slaap, en die vorige nag toe sy byna heeltyd wakker was, begin aan haar kragte kou. Hoe lank kan sy regop bly só sonder ’n stoel? Van een voet na die ander rondstaan. ’n Onsigbare hand rem haar ooglede af. Sy sweer sy gaan op haar voete aan die slaap raak. Rondom haar word die kantoorruimte en die man se gesig in ’n dun tonnel opgesuig. Dit sing in haar ore. Sy woorde verbuig tot ’n vae agtergrondgeluid.
Toe haar lyf begin kantel, skrik sy regop.
“Kan ek asseblief ’n stoel kry? Ek is moeg en laas nag het ek niks geslaap …”
Hy kom skerp en skielik op haar af. “Nee, mevrou Dorfling, nou stem jou oggend- en aandpraatjies hoegenaamd nie ooreen nie. Tot nou toe beweer jy dan jy was aan die slaap toe die kind verdrink het. Hoe rym dit?”
Vasgekeer. En dít oor ’n klein woordspeling. “Ek bedoel, dit was te kort om as slaap gereken te word.”
“Jy sê dan in die verklaring jy weet nie hoe lank jy geslaap het nie. En nou sê jy dit was kort.”
“Ek … ek … kan ek ’n stoel kry?”
Hy sit die potlood op die bruin lêer neer, staan op en kruis sy arms voor sy bors. Stap dan heen en weer agter die lessenaar. “Kom ons begin van voor af, mevrou Dorfling. Héél voor. En ons gaan elke keer van voor af begin tot jy die waarheid praat.”
“Ek praat nog heeltyd die waarheid. Ek weet nie hoekom glo julle my nie.”
“Uit die feite tot my beskikking kán ek jou nie glo nie, mevrou Dorfling. En ek sal aanhou tot ek die volle waarheid by jou hoor.”
“Kan ek nie asseblief huis toe gaan en eers gaan slaap voordat julle my verder …?”
Hy gee haar nie kans nie. “Hoe dink jy, mevrou Dorfling, hóé het die kind in die bad vol water beland?”
Deur die venster sien sy dit raak skemer. ’n Oneindige moedeloosheid oorval haar. Want sy sien hy gaan waaragtig van voor af begin.
“Hy moes self ingeklim het.”
“Was dit maar altyd sy gewoonte om self in die bad te klim?”
“Nee, ek het reeds gesê hy het nie daarvan gehou om te bad nie. Ek dink hy was bang die propgaatjie suig hom in.”
Hy gaan sit en tel weer die potlood op. “Toe besluit hy vanoggend, vir die eerste maal in nege jaar, om daarvan te hou en self in te klim?”
“Dis al oplossing wat ek kan gee.”
“Die speurtak kon géén tekens van geforseerde toegang tot jou huis vind nie, mevrou Dorfling, ook nie vreemde vingerafdrukke nie. Al die sleutels is daar. Daar was dus geen ongemagtigde toegang tot jou huis nie, en niemand anders as jy wat die kind in die bad kon getel het nie.”
“Hy moes self ingeklim het.”
Hy trek ’n laai oop, haal ’n merkpen met ’n neongeel doppie uit, onderstreep iets in die lêer. “Ek waarborg jou, mevrou: hy het nie.”
“Ek verstaan regtig nie hoe jy so ’n bewering kan maak nie. Jy was immers ook nie daar om te kan oordeel nie. En ek gaan my nie laat intimideer om …”
“Nee, mevrou Dorfling,” en hy kom so vinnig regop dat die draaistoel tot teen die muur skuif, “ek was nie daar nie, en die aangeleentheid het niks met intimidasie te make nie. Maar daar is ’n lykskouing op die oorledene gedoen. Lykskouings lieg nie. En Moord en Roof word nie ingeroep vir nonsens nie.” Hy stap om die lessenaar en kom staan byna teenaan haar. “Wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur, mevrou Dorfling?”
Haar kop wil nie meer reguit dink nie. “Ek weet nie.”
Hy draai na die vrouespeurder. “Maak ’n aantekening dat die verdagte nie behoorlike samewerking wil gee nie.”
Uit die hoek van haar oog sien sy die vrou skryf iets. Sy skrik. Of sy dit wil erken of nie, sy is bang. Nie vir die waarheid nie, maar vir die onbekende terrein waarop sy beweeg. “Kan ek asseblief ’n kopseerpil kry?”
“Teken haar versoek aan,” sê hy vir die vrouespeurder en draai weer terug na haar. “Dis teen polisieregulasies om medikasie te verskaf tydens ondervraging. Antwoord nou my vraag: wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur?”
Hy gaan nie ophou nie. Waaragtig nie. En haar kop wil bars. “Hy het verdrink. Ek weet niks meer as dit nie.”
“Hoe het hy dan in die bad gekom?”
Sy moet dink; herroep presies in watter volgorde die nag verbygegaan het.
“Alexander was heelnag wakker, besig om pleister af te kap met die beiteltjie. Hy was besmeer met sementpoeier en kaassmeer. Sy lyf was yskoud en ek wou hom probeer bad en by my in die bed tel om te kyk of hy nie tot ruste sal kom nie.”
Stofdroë mond.
“Die badwater was ingetap, maar hy het verseg om te bad voor die kaassmeerpot leeg was. My voete was seer en ek het op die bed gaan lê terwyl hy by die televisie gesit en die kaassmeerpot uitgelek het. Ek wóú nie slaap nie. Toe ek wakker word, het ek hom in die bad gekry.”
Water. ’n Stoel. Asseblief. Haar bene en voete kan dit nie meer uithou nie.
Hy beweeg weg uit haar persoonlike sfeer, kruis sy hande agter sy rug, stap kop vooroor geboë op en af in die kantoor. Toe hy agter haar instap, slaan die hoendervleis teen haar skouerblaaie uit. Hy is gevaarlik, weet sy. Genadeloos. Slim. As daar dan regtig iets in die lykskouingsverslag staan wat háár onder verdenking kan bring, moet sy haarself sterk maak, anders gaan hy haar op ’n onregverdige manier knak, so seker as wat die Here leef. Van almal in die wêreld is sy die allerlaaste een wat Alexander sou skade aandoen.
Hulle kan beweer wat hulle wil.
Sy sou nie.
“Jy sê die badwater was klaar ingetap. Beteken dit jy het die krane toegedraai voor jy aan die slaap geraak het?”
“Ja, ek het.”
“Die huis is oorstroom, mevrou Dorfling. Wie het die krane weer oopgedraai?”
“Alexander het graag met krane gespeel. Hy kon dit self oopgedraai het.”
“Sy geboorte, mevrou, was dit ’n normale geboorte?”