Raaiselkind. Annelie Botes
toe jy reeds drie-en-dertig was; tien jaar ná jou twee ouer dogters. Wóú jy die kind gehad het?”
Die Vader weet hoe graag sy en Dawid ’n seun wou hê. Veral Dawid. Hy het nooit ’n geheim daarvan gemaak nie. Toe sy swanger word, was dit Dawid wat die nuus deur die dorp gesaai het.
As posmeester op ’n plattelandse dorpie het hy elke dag met baie mense omgegaan. Die poskantoorstoep was een van die dorp se gewilde geselsplekke. En mense het van Dawid gehou, hom maklik vertrou. Hy het altyd ’n oor gehad vir andere. Raad gegee met jaggewere, visstokke, boomhuise. Lief om saam met die manne poker te speel vir geld. Party Saterdae sy klompie rande op die perde verwed. Soms nog vir die dorpspan rugby gespeel. Flank. Ywerige ondersteuner by die gholfklub. Nie ’n groot drinker nie. Nie tóé nie. Dopmaak is een ding, het hy altyd gesê, suip is ’n ander ding. Erg oor geselskap en stories en grappe. Kon met so ’n aansteeklike dreun uit sy maag uit lag dat al die koppe in sy rigting draai.
Eintlik wou sy wag tot haar twaalfde week verbygaan voor sy die nuus uitlaat. Maar Dawid sou dit nooit tot dan kon stilhou nie. Sy het nie omgegee dat hy vertel nie, want sy was ewe bly. Teresa en Zettie ook. Hulle was toe nege en elf, en nog nie skaam oor ’n verwagtende ma nie. Het dit by die skool uitgeblaker, en voor haar agste week van swangerskap het die hele dorp geweet. Almal wat by die bank ingekom en met hulle deposito’s en banksake by die toonbank kom staan het, het uitgevra oor haar datum, of sy kon aanvoel of dit ’n seun of ’n dogter is. Kousies en gehekelde borslappe aangedra. Rate gegee oor sooibrand en rekmerke en borsvoeding, en die groeiende ronding van haar maag bekyk.
“As jy in jou boude dra, soos jy, is dit ’n seun,” het tannie Koekoes van langsaan gesê toe sy een laatmiddag met ’n paar jong skorsies uit haar groentetuin oorgeloop het. “Seuns los lelike rekmerke op mens se bobene. Jy moet jou bene saans ná badtyd met lou olyfolie invryf. Laat die botteltjie in kookwater lê.”
Jeremia van Miriam het al die pad van die lokasie af geloop om te kom sê as dit ’n klongtjint is, sal hy hom leer draadkarre maak en boomgom tap. En hy sal hom wys hoe om hoender te slag.
“En sê nou dis ’n meisiekind, Jeremia?”
Hy het gelag en sy kop gekrap. “Nee gottatjie, miss Ingrid, dan wis ek nou nie helemal so mooi nie. Miskien kan Miriam haar leer modderkoekies bak. Rondetjies wat mooigemaak is met seringbessies, soos die kloggoed daar by ons bak.”
Rosie van die koshuiskombuis, voorste vroedvrou van baie lokasiebabas, wat altyd Teresa en Zettie se klein geworde klere oorgeneem het, het ’n bottel boegoeasyn gebring.
“Is vir later as miss Ingrid se voete aan swelle gaan. En miss Ingrid moenie op missus se hurke in die tuin sit en werk nie. Juis die ander dag toe ek met die taxi hier verby is koshuis toe, toe sien ek miss Ingrid sit op missus se hurke doer by die rosebedding. Is ’n ding wat maklik miskraam maak om só te sit. Die Xhosavrouens het my geleer ’n mens sit nooit só voor die dag dat die kleintjie moet gebore kom nie. As die pyne styf opmekaar kom en dis druktyd, gaan hurk hulle teen ’n binnemuur, of sommer teen ’n boomstam, en ek sê miss Ingrid, net twee goeie drukke, dan’s die kleintjie uit.”
Almal weet alles van almal op die dorp.
Klompe kuiermense wat kom tee drink het; gebreide goedjies aangedra het. Dikwels was sy naar en sooibranderig, maar sy kon nie die VLV of die leeskringklub of saans se wyksbiduur mis nie. Die dominee en sy vrou het kom huisbesoek doen en gelees van Abraham en Isak en die offerlam. Agterna tot laat gekuier. By die tennisklub het hulle gespot dat sy ’n dubbelpaar uitmaak en gediskwalifiseer behoort te word.
Almal was bly.
Ná alles, die nuus van ’n laatlam was nuus vir ’n halfdooie dorp. Handjie vol mense saamgebondel in die bakarm van die berg wat soos ’n oervader agter die dorp uitgetroon het. En al het sy en Dawid nog net drie jaar op die dorp gewoon, was hulle reeds spontaan opgeneem in die hart van die gemeenskap. Dawid was op elke kommissie en raad en komitee, in elke span. Ook voorlagter en voordanser by elke bymekaarkomplek.
Hoe absoluut normaal was hulle nie.
Vleis gebraai. Vrolike karavaan-naweke by die see saam met Mirna en Lida en Hannah en hulle mans en kinders. Hegte kring gevorm, sy en Mirna en Lida en Hannah. By elkeen het sy iets anders gevind om haar te verryk.
Mirna was iemand vir aardse goed. Ryk geërf. Pragtige grasdakhuis met ’n swembad teen die rivieroewer. Boomryke tuin vol mosbegroeide klippe. Weglooppaadjies van ronde boomstompskywe waartussen die peace-in-the-home ’n sagte tapyt vorm. Skadukolle begroei met skelrooi begonias. Plate varings. Swart lelies. Binne die huis alles uitgelê soos ’n Oos-Kaapse jagtershuis. Aardse interieur in strooikleur, roomwit, goiing. Los kussings van diervelmotiewe; buffel- en koedoekoppe gemonteer teen modderkleurige mure; los kwaggavelmatte. Altyd Mirna se kennis wat ingeroep is as een van hulle ’n gasvroutafel moes dek vir ’n vrouetee.
Lida het in die vierkantige huis oorkant die bank gebly. Spesialeklasonderwyseres by die skool. Die intellektuele een onder hulle. Nie veel erg aan tuinmaak en kuns en fynhede nie. Weet alles van politiek en effektetrusts. Voorsitster van die leeskringklub en kenner van skrywers. ’n Hele vertrek in haar huis net vol boekrakke. Eerste vrou in die gemeente wat tot die kerkraad verkies is.
Hannah was die sielsmens. Dromer met ewige wysies in haar kop. Vergeet maklik soggens om haar hare te kam. Gaan kaalvoet kafee toe met ’n bont romp wat teen haar enkelringe swaai. Kook roosblaarkonfyt en bak rogbrood. Gaan grawe modder om haar huis se deurkosyne in Xhosapatrone te versier. Sit eiehandig ’n rietdakplafon in haar kombuis. Knaend ’n hartsgedig wat sy vir hulle wil voorlees.
Baie kere het sy gewonder hoe dit gekom het dat sy in dié kring opgeneem is. Sy wat vaal en alledaags was. Sit om die kombuistafel en werk saam met Dawid om hulle begroting te balanseer. Stuur die kinders vroeg bed toe, en sit tot ounag by die verwarmer en krabbel speel, met die pot moerkoffie op die verwarmer. Gaan stap op broeiende somersnagte om af te koel voor slaaptyd. Vroetel smiddae ná werk in die tuin. Sy tussen haar daglelies en bokbaaivygies en primulas in bonte van geel-rooi-pers. Pluk bosse langsteelpronkertjies wat die huis na soetheid laat ruik.
Dawid was iemand vir ’n kostuin. Baie male het Jeremia hom op Saterdae kom hand gee met die groentes wat hulle geplant het. Tiemie, witwortels, salie, kruisement, rooirissies, knoffel. Somertyd rye en rye rankbone, opgerank teen riete. Dratyd, as die oggendkoelte oor alles hang en die berg nog net ’n donker vlek is, is sy en Dawid en die kinders buitentoe om die geil trosse tussen die blare uit te pluk. Saans gekerf terwyl Dawid vir Teresa en Zettie stories vertel van seeskilpaaie wat kan praat en eenoogmonsters met gewebde voete en waterprinsesse met silwerkrone vol bloedrooi robyne.
Hulle het nie geweet hulle normaliteit sou binnekort vlak voor hulle oë verpoeier nie. Hoe sou hulle vooruit kon weet?
Die sonar het gewys dis ’n seuntjie. Dawid was in ekstase. Hy het ’n plakkaat teen die muur bokant die posbusse opgesit: It’s going to be a boy! Sy was ook hartsbly. Veral om Dawid se onthalwe.
“Hy kry my oupa se naam,” het Dawid gesê terwyl hulle een Dinsdagaand sit en krabbel speel het.
Dinsdagaande het Dawid nie uitgegaan nie; ’n selfgemaakte reël. Maandae en Donderdae was vergaderingaande. Woensdagaand en Vrydagaand was dit gholfklub en poker. Saterdae het hulle saam met die dorp se sosiale stroom gedryf.
“Alexander. Net dit. Nie allerhande tweede name nie.” Dawid het sy krabbelblokkies rondgeskuif op die balkie. “Jy moet my belowe, Ingrid, hy word nie in ’n rokkerige ding gedoop nie.”
“Sê nou die sonar was verkeerd en dis ’n dogtertjie, Dawid?”
“Dan noem ons haar Alexandra. Maar dit sal nie wees nie. Ek het self die tottertjie gesien.”
Die koms van haar kraamverlof was ’n verlossing. Ondanks die koelheid van die laatherfs was haar voete opgeswel tot in haar enkels. Snags het haar kuite gekramp; haar rug het haar opgekeil en sy kon beswaarlik heeldag agter die toonbank staan. Die bankbestuurder het aangebied dat sy agter in die kantoor werk waar sy kon sit. Maar sy was nie lus vir ’n verandering in werksroetine nie.
“Dis goed om skoon te kraam, Ingridjie,”