Raaiselkind. Annelie Botes
En wonderbaarlik, op pad huis toe het hy ophou skree. Een sekonde het dit nog geëggo in die motor, die volgende sekonde was dit onrusbarend stil. Sy het omgeswaai en gekyk of hy nie ophou asemhaal het nie. Hy het botstil gelê met groot oop oë, asof hy na iets luister. Sy oë was té groot oop vir ’n baba van vyf dae en daar was iets in die grysblouheid wat vreemd was. ’n Raaiselagtige skynsel, asof hy na iets moois kyk wat net hy kan sien.
Sy het gewéét iets in sy oë is nie reg nie.
Here, iets was verskriklik verkeerd.
Sy sou nie vir Dawid sê nie, het sy besluit.
“Bliksem, dankie tog,” het Dawid gesê, “ek hoop dis nou oor en klaar. G’n regsinnige mens kon dit uithou nie.”
Dit sou drie en ’n halwe jaar neem voor sy die betekenis van die skynsel in Alexander se oë begin verstaan het. En selfs tóé kon sy dit nooit ten volle verstaan nie.
Outisme.
Vervloekte siekte wat aanhou tot in lengte van dae.
“Mens kom geleidelik agter daar’s fout. Ek weet nie presies wanneer ek dit agtergekom het nie.” Haar tong voel dik op haar mondvloer. Die kantoor kantel skeef, die man se gesig draai uit fokus. “As baba het hy baie gehuil.”
Dit voel of daar ’n hommelby in haar kop vasgekeer is. “Hy was altyd klein en tingerig, want hy het die absolute minimum geëet.”
Daar is ’n oormaat spoeg in haar mond. Sy is naar. Sy kyk om na waar die vrouespeurder agter haar sit en wil haar hand na die vrou uitsteek. Maar die vrou se oë bly neergeslaan op die knypbord op haar skoot.
“Dit was my eerste seuntjie en … almal het vir my gesê seuntjies is meer geneig tot … koliek.”
Toe voel sy hoe sy omval. Skrik regop toe koue water haar gesig tref. Lek die nattigheid van haar lippe af. Oor haar buk die vrouespeurder met ’n koppie in die hand.
“Asseblief, mevrou Dorfling, ek het jou samewerking nodig,” sê die man en gaan sit op sy draaistoel, plant sy elmboë op die lessenaar.
“Ek is verskriklik moeg.”
“Jy sal later tyd kry om te rus, mevrou Dorfling. Ons is hier besig met ’n ondersoek na die onnatuurlike dood van ’n kind. Boonop ’n gestremde kind. Dis ’n prioriteitsmisdaad en dis my werk om …”
“Alexander het verdrink. Wát moet jy ondersoek?”
“En ek waarborg jou, mevrou Dorfling,” en hy kyk op, reg tot in haar oë, “hy het nié verdrink nie. Ons het alle rede om te vermoed dat jy ’n verduideliking daaromtrent kan gee.”
Hoe, hóé kan hulle haar verdink? Sy wat elke spaarsekonde en spaarsent van haar lewe vir Alexander gegee het. Wat hom liefgehad het in soverre hy haar ooit toegelaat het om hom lief te hê. Hoeveel nagte het sy saam met hom deur die huis gedwaal terwyl hy met die beiteltjie kap-kap-kap? Hoeveel kere het sy die voet wat haar opsetlik in die gesig geskop het, vasgegryp en sy voetsool gesoen en gesoen? Moenie, Xandertjie, moenie Mamma skop nie. Dis seer, Xandertjie. Kyk, Mamma het vir jou nuwe sokkies gekoop. Bloues. Net vir jou. Kom, Xander, kom ons trek jou sokkies aan.
Here van genade. Gister was sy nog by die werk. Gisteraand het sy nog vir Gunter gevra of hy Lucy sal koop. Hoe is dit moontlik dat sy nou in Moord en Roof se kantore sit en besig is om haarself te verdedig teen aantygings wat sy nie verstaan nie? “Asseblief, ek is oormoeg, ek kan nie meer reguit dink nie.”
“Ou storie, daardie. Jy sal nie by my daarmee wegkom nie.”
“Ek sweer.”
“Baie mense het al valslik gesweer in hierdie kantoor. Om maar net agterna ’n bekentenis te maak. Party mense neem langer as ander om by daardie punt te kom.”
Vra, vra, vra.
Gee haar nie tyd om klaarheid te kry voor sy antwoord nie. Krap die bietjie rigting wat sy het, deurmekaar; wip verbandloos van die een ding na die volgende. Of miskien lyk dit net so. Sy is leeggetap. Sy wil huis toe gaan en tussen die bekendheid van haar eie lakens inkruip, haar gesig in die kussing vasdruk om te huil oor nege jaar se sielehel. Oor alles wat sy opgeoffer het en nié opgeoffer het nie. Oor Dawid wat nie langer sy weg in die lewe oopgesien het nie. Oor Alexander. Veral oor Alexander wat in ’n lykshuis lê. Kind met die glasblou oë, vir wie sy so magteloos lief was. Al het hy haar nooit liefgehad nie.
As die huil opdroog, wil sy wegsink in ’n wêreld van stilte en nóg stilte. Slaap, slaap, slaap. Dalk moet sy na Gunter toe ry en haar op die strooi in die stal aan die slaap huil. En wanneer sy wakker word, sal sy vir Gunter sê Alexander wás toe veiliger tussen die perd se hoewe as by haar, dat die perd se instinkte suiwerder was as haar eie. Gunter, sal sy sê, help my om op die kraalmuur te klim sodat ek ver kan sien. Vat jou knipmes, Gunter, en kyk of jy die skuldgevoel uit my hart kan wegkerf. En ek vra jou, Gunter, omdat ek niemand anders het om voor te vra nie, om my asseblief te help met geld vir die begrafnis.
Gunter sal haar op die kraalmuur tel sodat sy ver kan sien. Hy sal die geld vir die begrafniskoste in haar hand neersit, omdat sy hande Alexander se voetsole geken het. Omdat daar ’n dag was toe hy háár voete gewas en afgedroog het. ’n Ander, ver dag toe sy geslaap en hy sy baadjie oor haar gegooi het …
Die een of ander tyd het die vrouespeurder vir haar ’n koppie water en ’n stoel gebring. ’n Krakende houtstoel met lendelam pote. Maar dit kon haar nie meer skeel of sy staan of sit of lê nie; of die stoelpote onder haar afknak nie. Haar weerstand was op breekpunt en die man voor haar se nimmereindigende gepraat het soos ’n vreemde taal geklink. Soms het sy lippe klankloos geroer en sy kon sy vrae nie volg nie, sodat hy hulle moes herhaal.
“Hoe laat is dit?” het sy gevra toe sy deur die stof teen die ruitglas sien dis al stikdonker. Iewers het die tyd verstrengeld geraak. Dis Saterdag, dít weet sy. Gister was sy nog sewehonderd twee-en-neëntig rand kort by die toonbank. Gistermiddag het sy Miriam huis toe geneem en daarna Alexander se hare laat sny. Of is dit al Sondag? Miskien weet Gunter nog nie wat gebeur het nie, miskien wag hy vir haar en Alexander hy die stal. Hy sal weet daar is fout as sy nie opdaag nie.
Nee, dit móét Saterdag wees. Want daar het nie ’n nag verbygegaan nadat sy Alexander uit die bad getel het nie.
Vra, vra, vra.
Die afgeremdheid in haar is té groot om bang te wees vir die onverbiddelikheid in die man se stemtoon. Sy kan nie meer omgee of hy haar lewenslank agter tralies sit oor iets waaraan sy onskuldig is nie. Watter verskil sal dit maak? Nege jaar lank was sy opgesluit in ’n tronk wat Alexander steen vir steen, dag vir dag en nag vir nag rondom haar gebou het.
Vensterloos. Ligloos. Liefdeloos. Gewetenloos.
’n Ander tronk kan sekerlik nie meer uitmergelend wees nie.
Stadig, stadig glip sy weg uit haarself, raak sy regop op die stoel aan die slaap. Ver weg in ’n onderstebo wêreld hoor sy die vrouespeurder roep. Mevrou Dorfling! Mevrou Dorfling!
Vergetelheid.
Induik in koel waters. Word ’n nimf met ’n sterk stertvin. Swem gewigloos weg. Roei dieper, na waar sy nie meer Alexander se glasblou oë kan sien nie; ’n plek van geluidloosheid waar sy nie Dawid se laaste maande van verbittering kan herroep nie. Ver, tot op ’n alleenplek wat Gunter vir haar wys. Waar die tand van die F-kruis nie meer ta-tate-ta nie. Tot die beitel te stomp word en sy nie snags die pleisterbrokke op die vloer hoor neerplof nie.
Sy hoor haarself hoes.
Maar sy is nie seker of dit háár longe is wat hoes nie.
8 Vandat sy vanoggend op die dorp met ’n gesukkelte haar bene oor die lorrie se tralies gesit het om saam met die spul wynasems uit te ry kloof toe, het sy al baie spyt gekry. Elkere grootkerk is dit dieselle storie. Sy wis nie waar sit die mense se Kristelikheid dat hulle sonder skaamte in so ’n toestand op die lorrie klim nie. En dit in die Naam van die Heiland. Sy moes haar nie ingelaat het in ’n grootkerkhouery nie. Haar tyd van lorrie ry is verby. Daarvoor is haar twee bene te