Raaiselkind. Annelie Botes
koud agter op die lorrie en vir ’n bietjie bakstaan uit die wind moet hulle styf op mekaar bolling. Waar was haar kop dat sy nie haar werksambreel gevat het vir as dit kom reent nie? Maar aan die ander kant was sy slim, want anders wou elkere geverkluimde siel weer onder háár sambreel kom skuilte vat het. Buitendien, wanneer skep die wind haar nie met sambreel en al oor die lorrie se tralies nie?
Die drywer dryf ook nie soos ’n man wat ordentlik wis waar loop die pad nie. Kort-kort tuimel hulle almal op mekaar soos hy die draaie sny. Die jimmele weet, sy moes liewerster by die huis gebly het.
Dis oor hierdie verdomde dronk drywer dat haar maaghelm haar vanoggend so sleg vasgevat het. Haar voorspraak was kant en klaar gemaak, maar sy het haar ore toegedruk vir die Stem. Nog by alles ’n paar maande se godsbotteltjiegeld vir Jeremia agtergelos. Sy weet nie vir wat sy hom opgestuur het na miss Ingrid toe nie. Skone verniet, dié lopery. Want die skaduweeding in haar maag is nie oor miss Ingrid nie, dis al die tyd oor die lorriedrywer. Vandag gaan hy hulle verongeluk.
“Het ant Miriam vir my ’n vuurhoutjie?” vra een van die blinkgedrinktes.
Sy erg haar stink. “Jy weet mos ek rook nie, vir wat sal ek vuurhoutjies met my saamdra vir jou gemak? En jy beter jou gat plat op die lorrie se bak kry, voor jy jou ander oogbank ook stukkend val.”
Skaars was die woorde tussen haar lippe uit of die drywer kerf die draai so skerp dat die hele bolling gillende mense met soetkyste en al hooplê. Genadiglik het sy die draai sien kom en haar met al twee hande aan die bakreling vasgeanker.
As die Here nie sy hande vandag selwers op die stuurwiel sit nie, sien sy nou al nie een van hulle kom hierdie naweek by die grootkerk uit nie. Behalwe as hulle straks in ’n ry onder wit lakens daar neergelê word om oor gerou te word.
Pleks sy eerder haar bidde sommer vir haarselwers agter die hoenderhok loop bid het. Min verskil tussen die hoenderhok en onder die grootkerk se dak. Maar agter die hoenderhok sou haar lewe nie in die hande van ’n onvas drywer neergelê gewees het nie. Sou veel meer duurte vir haar siel gehad het. En Jeremia sou alte graag geloop het om ’n bottel Nagmaalwyn te gaan koop. Sou ewe graag saam met haar wou Nagmaal vat. As dit al manier is hoe sy die stem van die Here in sy kop kan inkry, sal sy dat hy die hele bottel opnagmaal. Die Here sal verstaan dat sy nie ’n ander pad met Jeremia gehad het nie.
Tersellertyd kon sy vir miss Ingrid gaan hand uithou het. Al is dit net vir ’n uurtjie. Heelweek al sien sy dinge lyk verkeerd met miss Ingrid en dit bring ’n swaarte oor haar hart. Lyk glads en geheel soos ’n glasmens. Smaak jou as die wind haar omwaai en sy val, sal sy soos vrot gevrete hout uitmekaarkrummel. Daar’s bloedmin kos in die kaste en miss Ingrid se lyf is net ’n skone visgraat. Laastere week het sy ’n erge skuld aan haar lyf gevoel toe miss Ingrid ’n groot pak suiker en ’n sakkie ertappels en ’n boerpampoen saamgegee het huis toe. As sy als op ’n hoop sit, sou dit meer is as wat daar alles tesame in miss Ingrid se hele huis se koskaste was. Maar miss Ingrid het gesê sy moet dit vat, omdat daar nie aldag kookkos in die huis gemaak word nie. Dan hoes miss Ingrid nog by dit alles dat dit nes ’n blik vol klippers raas.
Die Vader daar bo wis, as dit haar hierdie naweek geluk om lewend by die grootkerk te kom, wil sy miss Ingrid gaan opdra. Sodat Iemand kan help om miss Ingrid regop te hou. Vir Boetatjie ook. Meer as twee weke al dat hy met ’n loopneus rondloop. Blaas die waterigheid in sy hand uit en maak snotborrels daarmee. Lag soos ’n opwenspeelding as hy die grote borrel teen die son hou. Moet seker vir hom mooi is as die son sulke allerhande kleure op die snotborrel uitskyn.
Sy gaan hulle uit haar hart uit opdra, vir miss Ingrid en Boetatjie. Anders weet sy nie wat gaan word nie.
Toe die lorrie op die volgende draai afpyl, plant sy haar voete wyd en klou vas. Laat die Here die stuurwiel vat en die lorrie om die draai stuur, bid sy toe die klomp bevreesde mense eenkant toe beginte steier.
En moenie dat dit kom reent nie. Nie voor die lorrie botstil op die grootkerk se werf staan nie.
9 Gedisoriënteerd word sy wakker toe die vrouespeurder haar teen die skouer druk. Sy lê op ’n smal houtbank. Dis skemerdonker rondom haar.
“Hier’s vir jou iets om te eet.”
Vervaard sit sy regop, ruik kerrie. Waar is sy? Eers toe die vrou die traliehek toedruk en sluit, besef sy sy is in ’n sel; dat daar ’n tyd verbygegaan het waarvan sy nie kan onthou nie.
Die harde houtbank is taai onder haar hande. Die skemerte rondom haar stink na urine en braaksel. Haar mond is skuimerig en smaak na stof.
“Jy moet klaar eet, kolonel Herselman wag vir jou,” sê die vrou deur die tralies. Toe verdwyn haar voetstappe gangaf.
’n Tronksel? Tronkkos? Dit kan nie wees nie.
Tog. Sy kan vaagweg onthou dat syself hierheen geloop het. Die vrou het vir die man gesê hulle moet ’n aantekening van haar hoesery maak. Ja, tog. Die man het voor geloop, die vrou agter haar. Die vrou het saam met haar by die sel ingeloop en iets gesê van ’n tydelike sel en dat sy ’n rukkie kan slaap. Verbeel sy haar, of het sy vir die vrou water gevra?
Dis soos ’n nagmerrie wat uit haar onderbewuste opwel. Was dit ’n uur gelede, of tien? Of gister? Niemand het die water gebring nie. Het sy gedroom sy hoor die stadsverkeer op die agtergrond? ’n Trein wat fluit? En dat sy met haar kop afdraand slaap tot die bloed ’n stywe ballon in haar brein word?
Sy raak met haar slaapdom kneukels aan die enemmelbord met kerriekos wat die vrou langs haar op die houtbank neergesit het. Dis nog louwarm. Die honger oorweldig haar. Wanneer laas het sy geëet? Gisteroggend? Ja, gisteroggend met teetyd by die bank. ’n Kaasbroodjie, waarvan die helfte vergete in die kleinbordjie agtergebly het. Sy gryp die enemmelbord, sit dit weer neer. Nee, sy sal nie tronkkos eet nie, nie in hierdie halfdonkerte waar sy nie kan sien wat by haar mond ingaan nie. Nog minder hier waar die walglike stank van urine en braaksel haar maag wil omdop. Waar vorige verdagtes toppies op die vloer doodgetrap en hulle name en pleitroepe met ontlasting teen die muur geskryf het.
Maar haar honger is dierlik sterk. Waar is die messegoed? Sy gaan staan by die traliehek, roep gangaf. Wag met haar kop vooroorgesak teen die tralies en hoop dat iemand haar sal hoor en ’n mes en vurk bring. Sy skrik en begin hoes toe die vrou skielik in die skemerdonker gang voor die traliehek praat.
“Is iets verkeerd, mevrou Dorfling?”
“Julle het my mes en vurk vergeet. Kan ek asseblief …”
“Ons het dit nie vergeet nie. In ’n tydelike sel kry niemand eetgerei nie.”
“Nou hoe moet ek …?”
“Eet met jou hande, mevrou Dorfling.”
Dierkind wat met sy hande eet. Soms dae lank nie sy mond aan kos sit nie, sodat sy wonder wat hou hom aan die lewe. Ander dae verorber hy berge kos, drie maal meer as ’n grootmens, tot sy gedink het sy maag gaan skeur. Inprop, besmeer, smak, uitspoeg. Bars sonder rede in giggelbuie uit sodat die kos by sy mond uitspat en tot teen haar kuiltjie en wenkbroue sproeireën.
Koue pampoen. Pap geklitste oorryp piesang. Kaassmeer.
Dis al wat hy ooit wou eet.
Altyd agterdogtig oor wat in sy bord geskep is. Besnuif die kos. Steek sy vingers in die pappery en soek klonte. Werk deur die kos nes ’n erdwurm deur modder. Waag dit om ’n ertjie of ’n ryskorrel of ’n krummel maalvleis op sy bord te skep, en hy laat sak sy kop. Grom nes ’n hond wat gevaar ruik.
Sy kan nie onthou hoeveel borde hy in nege jaar gebreek het nie. Baie. Geweier om uit iets anders as ’n spierwit porseleinbord te eet. Sonder ’n blommetjie of goue randjie of ’n verdikkinkie daarop. Daar was ’n tyd toe die bordebrekery haar ondergekry het en sy wit plastiekborde gekoop het. Ná hy dae lank wydsbeen in die sandput gesit en die soveelste plastiekbord met ’n klip vermorsel het, het sy opgehou om plastiekborde te koop. Eerder opgespring en die porseleinbord gevang voor dit teen die muur of teen die kombuiskas aan flenters skerf.
Op ses weke het Alexander minder geweeg as by geboorte. Oudokter was krapperig. Nie soseer