Raaiselkind. Annelie Botes
kom nie. Maak klaar en skoon en vries vóór jy hospitaal toe gaan.”
Daar was hope onafgehandelde dinge wat sy en Miriam moes klaarmaak voor sy kon skoon kraam. Linnekas sorteer, kombuiskaste skrop. Gaar kos vir die vrieskas. Dawid wou nog die kinderkamer verf en sy moes gordyne stik. Snags was haar slaap onderbroke en met elke omdraaislag en kramp was sy wakker. Soggens wou sy nie meer so doodvroeg opstaan terwyl die winter oor die dorp aankruip nie. Boonop het sy daarna gesmag om ’n bietjie in die beskutting van haar huis te verdwyn. Middae vir ’n uur te gaan lê. Goed te wees vir Dawid, want sodra die baba kom, sou haar aandag verdeel wees.
Boweal het sy ’n dringende behoefte aan emosionele rus gehad voor die geboorte. Die swangerskap het aan haar gevreet. Haar liggaam was soveel jonger met die ander twee. Anders as met Teresa of Zettie, was die baba besonder woelig binne-in haar, asof hy benoud was en stoeiend uitkomplek soek. Druk bultende knoppe met sy elmboë en knieë uit; trap op haar blaas sodat sy onbeheers begin lek.
Die gedagte aan ’n ooievaarstee het soos ’n swaard oor haar kop gehang. Sy wou nie rosyntjies uit ’n bak versiersuiker snuif en name raai en rympies lees nie. Daarom kon sy haar verligting aan geen mens beskryf toe sy die laaste maal terugkom van die ginekoloog af en Mirna en Lida en Hannah het in haar afwesigheid, pleks van ’n ooievaarstee, die hele huis se gordyne kom was en stryk en hulle weer opgehang. Hulle het die vrieskas ontvries en volgepak met pasteie en pastageregte en gaar vleis en skons en kolwyntjies wat die gemeentevrouens en die bank- en poskantoorpersoneel in die stilligheid gemaak het.
“Ons het Miriam se huissleutel gebruik; ons wou jou red van die sirkus,” het Hannah gesê.
Die trane het uit haar oë gespring. “Dankie, Hannah …”
Soms het sy haarself betrap dat sy opsien teen die geboorte. Gewens sy kon haar oë toeknyp en alles sal pynloos en sonder sukkel verby en klaar wees.
“Die kind lê mooi,” het Oudokter gesê. “Ek dink hy gaan vroeër kom as wat ons uitgewerk het.”
Twee weke voor die datum wat die sonar aangewys het, het sy Dawid die aand ná tien by die gholfklub gebel.
“My water het gebreek, Dawid, jy moet huis toe kom.”
Sy was godsdankbaar oor die laaste twee weke waarvan sy uitgespaar was. Haar lyf was gedaan.
“Boys!” het sy Dawid bo die agtergrondgeraas hoor roep, “skink ’n rondte! Ek betaal!”
Ewige kindman, Dawid. Eintlik wou sy hom nie anders hê nie. Want tussen sy sosiale lewe en kommissies en komitees deur was hy goed vir haar en die kinders. Goeie pa vir Teresa en Zettie. Fietse reggemaak, netbalring opgesit. Soggens hulle hare help vasmaak. Snags opgestaan om die toiletlig vir hulle aan te sit, of kombuis toe geloop as hulle roep vir water. Slaaptyd by hulle ingekruip en Bybelstories gelees. Saam-saam gejil en die kombuis besmeer met ’n pannekoekbakkery. As hulle koorsig was of nagmerries gehad het, het hulle by Dawid kom inkruip. Wanneer sy vrouebiduur toe gaan, of by Mirna of Lida of Hannah koffie drink en vroumensgoed praat, het hy nooit gegrommel om na die kinders te kyk nie. Solank sy nie sy pokertyd gevra het nie.
Sy was lief vir Dawid.
Hy vir haar ook.
“Voel jy al iets?”
Sy het werklik ’n behoefte aan sy nabyheid gehad. “Effens, maar jy moet liewer huis toe kom. Ek moet nog inpak en bad.”
Halfelf was hy by die huis. Hy het die koffer help inpak en die waterkol op die kombuisvloer drooggevee. Rooibostee gemaak en Oudokter gebel. Halfpad voordag toe het haar pyne dringender begin kom en hy het gery en Miriam gaan haal.
“Jy moet heeltyd by my bly, Dawid.”
“Ek sal.” Hy het haar vasgehou sodat haar geswolle maagbult pynlik teen hom aangedruk het. “Alles sal reg wees, jy sal sien.” Sy vingers deur haar hare laat gly. “Ek is lief vir jou, Ingrid.”
Dertien minute oor ses op ’n verskriklike koue wintersoggend het Alexander met ’n deurborende skree uit haar losgeglip. Volmaak.
Dawid het die vetterige gesiggie gesoen; sy voorvinger oor die slymhaartjies gevee en die bloednat bondeltjie in sy nekholte vasgedruk. Oor die skouertjie na haar gekyk. Sy stoppelwange was nat van trane en geboortevog.
“Ja, ek wou Alexander hê.”
“En toe die moeilikheid begin, wou jy hom toe steeds hê?”
“Ja, ek wou.” Haar voete pyn. Haar mond is taai. Sy wens sy het nooit die slaappil gedrink nie.
“Wanneer het jy die eerste maal vermoed daar is fout met die kind?”
6 Sy vee die los meel van die tafel af en spoel die botterpiering met warm water uit. Here, haar maag wil omdop. Miskien moet sy ’n halwe koppietjie koffie drink voor sy loop. Nee, netnou is sy laat vir die lorrie.
Snaaks hoedat sy doerie nag toe Boetatjie gebore is ook so ’n draaispul in haar derms gehad het. Toe master Dawid haar teen vieruur wakker klop, was sy dadelik regop. Skaars tien minute dat hy hoef te gewag het vir haar om aangetrek te kom en kop te kam. Dat sy nou weer daaraan moet dink …
“Jeremia,” het sy die vorige aand gesê nadat sy die hoenders ingejaag en die hok op slot gesit het, “môre moet jy jou handig maak in die huis wyl ek in die werk staan. Miss Ingrid se tyd kom nader en alles hierso by my huis kan nie maar net hooplê tot dan toe nie.”
Daar was klompe dinge by haar eie huis wat moes klaar voor miss Ingrid se bybie kom. Huis skoonmaak, komberse uithang. Die stoof moes ordentlik geskuur kom. Daar was ’n stukkende ruit in die voorkamer waar die wind snags yskoud ingewaai het wat moes reg. En Jeremia is ’n tydsamige man. As sy teen September wil groenbone plant, moet sy hom al teen Junie laat beginte spit en riete kap vir oprank. As sy rug nie driekwart afgeknak is nie, is hy dronk in sy kop. Of hy hou hom kruppel. Of doof.
“Jy moet by ’n winkel kom en putty en ’n ruit koop. Staalwol vir die stoof se skuur ook. Ek sal die geld vir die goed in die Bybel neersit, by Rigters.” Ou manier van haar om die geld in die Bybel te sit. Al hoe sy Jeremia sover kry om in die Bybel te blaai. “Dan moet jy …”
Hy het haar vinnig stilgepraat. “Wil jy hê ek moet die stoof skuur?”
“Ja, of lyk dit altemits vir jou of ek vier hande het?”
“Ek gaan mÔre velle brei en as ek daar klaar is …”
“Velle brei? Dit lieg jy, Jeremia! Moenie my vir onnooslik vat nie! Jy meen seker jy gaan heeldag by ’n vyfgellingdrom sit en domino’s speel. Vergeet dit, Jeremia. Môre loop koop jy putty en staalwol. En die Here help jou as ek by die huis kom en die stoof is nie …”
“Ag gottatjie, Miriam. Vir wat kan jy nie selwers die stoof Saterdag skuur nie? Kry end met jou ongedurigheid! Mens sal sweer dis jy wat ’n bybie moet kry!”
Hy weet haar Kristelikheid kan dit nie uitstaan as hy so gottatjie nie. Teister haar daarmee; soek haar bloed. Want hy weet as hy haar eers eenmaal die kwade in het, ruk sy haar maklik op. Sê sommer vir hom hy’s kaksleg en goddelooslik en dat haar twee hande sterk genoeg is vir sy deel van die werk ook. Lei haar tot binne-in die sonde van kwaadword, sodat hy kan agteroorsit en sy twee hande bymekaarvou vir niksdoen.
Maar doerie aand voor Boetatjie gebore gekom het, het sy haar nie van Jeremia se skelmte laat insuig nie. Want daardie aand toe sy teen skemerte die sleutel in die hoenderhok se slot draai, had sy ’n hellere voorbode van iets wat nie reg was nie. Skoon asof miss Ingrid in grote nood na haar roep. Net een harde roep. Toe sy omdraai om te kyk of miss Ingrid straks agter haar staan, toe sien sy miss Ingrid se gesig in die aandwolke. Maar waar haar oë moet gesit het, was twee troewele glasalbasters. Skoon melkerig.
Heretjie, sy’t geskrik.
Skaars had sy die sleutel uitgetrek, of haar maaghelm het aan die prate gegaan.
Sy het in die halfdonker omgeloop na ant Maria en ’n bondel staalwol gaan leen. Daardie nag het sy nie haar kop op ’n kussing neergelê