Raaiselkind. Annelie Botes
vir Miriam is daar net een sterfling wat ooit ná aan haar siel gekom het.
Gunter.
En so ná as wat hy aan haar was, net so ver en onbereikbaar was hy. Man met die stilbruin oë wat alles sê en terselfdertyd niks sê nie. Man wat met die saal op sy skouer aangestap kom om die hondmak perd vir Alexander op te saal, die stiebeuels klingelend terwyl hy woordeloos werk. Sweetvlekke aan sy kakiehemp, al teen sy rugbiltonge langs. Man wat die stof met die sonverbrande rugkant van sy hand van sy voorkop wegsmeer, sy knipmes uithaal en die lem teen sy broekspyp skoon vee. Wat baie middae saam met haar op die kraalmuur sit terwyl die kanferboswind oor hulle waai.
“Jy moet Alexander se voete beter versorg, Ingrid.” Hy het knipmes in die hand gekniel waar Alexander op sy rug op die stalvloerstrooi gelê het. “Kyk hoe lyk sy voete van die dorings en sweerplekke.”
Sy was moeg daardie dag. Dawid se dood het nog aan haar gekleef. Niemand in die dorp het haar reguit in die oë gekyk nie. Sy ook nie in hulle s’n nie. Want sy was bang hulle kyk mekaar middeldeur.
“Ag, Gunter, hy weet nie eens daar is dorings in sy voete nie.”
“Hy gaan in ’n geroeste ding trap en bloedvergiftiging kry. Jy móét sy voete beter versorg, Ingrid. Anders moet jy hom leer om skoene te dra.”
“Hy weier om skoene te dra, en dit help nie ek probeer sy voete versorg nie, hy skop in my gesig.”
Karring met die mes sonder om op te kyk. “Hoekom lê hy dan stil as ek die dorings uitkrap?”
“Omdat jy nie ek is nie. Hy staan my teë in alles.”
Gunter het na die blik melksalf op die hekpaal beduie. “Hou op nonsens praat en gee die blik aan, sodat ek sy voete kan insmeer.”
Elke Sondag wat sy Alexander geneem het om te gaan perdry, en Gunter met die saal en stiebeuels aangestap kom, het Alexander op sy rug in die stal gaan lê. Asof hy besef het hy mag eers ry as Gunter sy voete skoongekrap en ingesmeer het. Nooit na Gunter geskop of vir hom gegrom nie. Vir daardie vreedsame twintig minute of ’n halfuur kon sy haar lossny van Alexander. Kon sy hom in Gunter se hande neersit.
In die begin was sy senuagtig wanneer Alexander aan die perd se maanhare swaai of die perd se lippe ooptrek en aan haar tande krap. Op die grond lê met sy voete al trappende teen die perd se maag. Elke keer dat Alexander agter die perd inbeweeg en aan haar stert hang, het sy die geringste beweging van die perd gespanne dopgehou.
“Ek is onrustig as hy tussen die perd se bene lê. Wanneer trap sy nie op hom nie, of skop hom?”
“Lucy sal nie op hom trap of hom skop nie. Sy ken hom, en sy weet.”
“Hoe kan jy sê die perd weet? Sy het mos nie ’n oog onder haar maag om te sien waar lê Alexander nie.”
“Jy vrees onnodig, Ingrid. Lucy sal nie op hom trap nie.”
Dan het sy na die knielende man gekyk wat so tydsaam met die kind se voet in sy hand sit. Elke dorinkie uitkrap, elke stukkie dooie vel afsny, elke snymerk en sweerplekkie met die vetterige melksalf invryf.
God, het sy al baie daar op die kraalmuur gevra, hoekom het ek ’n outistiese kind gekry? Hoe moet ek hom liefhê en troetel as hy my gedurig wegdruk en vir my grom asof ek ’n inbreker is? Hy hoor of verstaan my nie; kyk dwarsdeur my asof ek ’n glasborrel is.
Altyd antwoordloos.
Tog, vir haar was God in die reuk van strooi en perd en stal en melksalf. In die vreedsame dophou van Gunter en Alexander. Al gebeur dit dan uiteindelik so dat dit ál is wat sy vir die res van haar lewe van Gunter met haar sal saamdra, is dit ver beter as niks.
Sou die veldbrand oor Alexander se dood al tot by Gunter se ore gebrand het? Sal hy haar by haar huis kom soek en agterkom sy is nie daar nie?
“Stap voor my uit.” Die vrouespeurder du haar in die rug.
Gangaf. Op met die trap. Verby toegetrekte deure. Terug na waar die man met die potswart kraletjiesoë haar by sy lessenaar inwag. Reg om haar emosionele skanse stelselmatig aan skerwe te slaan. Here, sy is moeg; sy sien nie kans om sy breë rooi gesig en die hare wat by sy neusgate uitsteek te aanskou nie. As hy haar net een uur lank alleen sal los. Om te huil oor Alexander; om alleen te wees met die beeld van haar dooie kind wat so slap in haar arms hang. Te onthou hoe sy sy waternat lyfie op die bed neergelê het en haar mond oor syne gesit het om die asem in sy lyf terug te blaas. Na hom geroep en geroep het. Keer op keer afgesak en geblaas het. Maar sy oë het stokdood in hare bly vasstaar.
Vandat die man en vrou vroeër vanmiddag by haar huis ingestap het, los die man haar nie een sekonde nie. Vra, vra, vra. Onophoudelik. En elke vraag laat dit meer en meer klink asof hy oortuig is sy het Alexander verdrink. Hoekom wil hy van háár ’n verdagte maak? Hoekom vra hy nie uit oor al die kere toe sy Alexander soos ’n tierkat beskerm het teen die aanslae van die dorpsmense nie? Jare waarin sy hom elke keer opnuut liefgehad het. Snags by sy bedjie gesit en sy voetsole met die skoenborsel gevryf het terwyl hy slaap. Op haar knieë saam met hom in sy tafeldoekhuis gespeel het. Vir hom melkkoffie geneem het waar hy ineengekrimp in die besemkas weggekruip sit. Jare waarin sy haarself verskeur het op soek na antwoorde. Op die rand van bankrotskap gaan draai het oor dokters en nogmaals dokters. Met ’n gehawende motor rondgeswerf het op soek na mediese hulp en kennis. Telkens donkernag deur koedoewêreld teruggekom het van afsprake en doktersondersoeke. Op die anderkantste rand van malword omgedraai het omdat niemand antwoorde kon gee nie.
Maar dís nie die dinge waaroor die man haar onophoudelik onder kruisverhoor neem nie.
As sy geweet het hulle kom haar weer ’n keer ondervra, sou sy nie die slaappil gedrink het nie. Dan sou dit nie heeltyd vir haar nodig gewees het om te veg teen die dronkvaak wat haar wil wegsuig nie.
“Loop vinniger,” sê die vrou agter haar en raak haar teen die niere.
Hulle voetstappe weerklink deur die Saterdagmiddagverlatenheid van die Moord-en-Roof-gebou. ’n Ent gangaf spoel die lig uit ’n oop kantoordeur. Sy sien nie kans om haarself weer voor die man te verdedig nie. Maar immers is die kantoor nie so vriesend koud soos toe sy kaal in die badkamer met haar arms bokant haar kop gestaan het nie.
Miskien neem hulle haar nou huis toe.
Nee, sy moenie haar hoop daarop bou nie.
As hulle beplan om haar te laat huis toe gaan, sou hulle haar nie so deeglik deursoek het nie. Sy kan onthou die man het vroeër iets gesê van ag-en-veertig uur aanhou vir ondervraging. Iewers tussenin moet sy slaap en bad en eet. Here, sê nou hulle sit haar in ’n tronksel tot die ag-en-veertig uur verby is? En sê nou die man dink dan nog steeds sy is die skuldige, wat dan?
“Ek sal jou aanraai om jou samewerking vir kolonel Herselman te gee. Moenie dit vir jouself moeilik maak nie,” praat die vrou op haar hakke. “Die kolonel is nie ’n geduldige man nie; ook nie ’n sagte man nie. Baie verdagtes kry later spyt omdat hulle nie uit die staanspoor hulle volle samewerking gegee …”
“Asseblief,” en sy stop viervoet in die swak verligte gang sodat die vrou byna teen haar vasloop, tol om en smeek: “Kan ek nie maar huis toe gaan nie? Ek is ontsettend moeg. Ek het die laaste twee weke omtrent nooit geslaap nie. Julle maak ’n verskriklike fout om my te beskuldig van …”
“Ons beskuldig jou nie, mevrou Dorfling. Jy is ’n verdagte en al wat ons doen, is om jou te ondervra.”
Here, laat die vrou asseblief na haar luister en haar huis toe neem. As die stilte en mensloosheid in die huis te veel raak, kan sy uitry na Gunter toe. Alleen op die kraalmuur gaan sit; na God soek in die bekende reuke van die stal.
“Hoe kan ek ’n verdagte wees? Julle behoort tog self in te sien julle maak ’n fout om my te verdink.”
“Mevrou Dorfling, jou kind se dood was beslis nie ’n ongeluk nie.”
“Hoe kan jy so ’n ongegronde aantyging maak? Julle was nie daar om te sien wat gebeur het nie.”
“Presies. Maar uit die feite in die lykskouingsverslag