Raaiselkind. Annelie Botes
Net van dag tot dag aangekarring het tot sy dood neerslaan.
Maar toe het sy nog nie die vloekwoord, outisme, geken nie. Nie eens geweet daar bestaan so ’n toestand nie.
Onverwagse dorwarm dag in die náwinter gewees. ’n Noordewind wat die motor van die pad af wou waai. Solank hulle aan die ry was, was dit gangbaar, want dan het Alexander bedaar. Nes wanneer Miriam straatlangs stap met die stootkar. Toe hulle onder ’n boom stop om koffie te drink en die frikkadelle en kaastoebroodjies te eet wat Miriam ingepak het, het die sirene weer afgegaan.
“Lyk my hy hou van rondry,” het sy afgestomp gesê en die padkosbak oopgemaak. “Net toe ons stilhou, begin hy weer huil.”
Leë niksseggende woorde, grensend aan onnosel. Asof Dawid dit nie self kon uitredeneer nie. Hy het sy koffiebeker op die enjinkap neergeplak. Op sy gesig was ’n blouswart onweer aan die opkom. Sy kon sien hoe hy hom inhou en sy woorde terugbyt.
Daardie dag onder die koelteboom by die stilhouplek was die eerste maal dat sy intens bewus geword het van ’n groter wordende kloof tussen haar en Dawid. Sy wou haar hande uitsteek en hom aanraak, by hom pleit om genade te hê met haar en met Alexander. Met homself ook. Hom troos dat die huilery die een af ander tyd wel sou verbygaan.
Maar daar het ’n golf van bitterheid en misnoegdheid uit Dawid gewalm, sodat sy nie ’n bietjie van die goedheid en krag wat daar in haar oor was, vir hom kon aangee nie.
Sy het die padkosbak toegemaak en hulle het gery.
“Bliksem, Ingrid, ek kan dit nie meer uitstaan nie,” het hy gesê toe hulle die buitewyke van die stad binnery. “My werk ly daaronder en ek weet nie wat gaan ons maak as jy teruggaan werk toe nie. Miriam is oud, sy kan nie huishou én die kind oppas nie. Netnou loop sy uit skone moedeloosheid aan en dán weet ek wragtig nie wat ons gaan maak nie.”
“Dawid, jy weet mos voor jou siel Miriam sal nie …”
“Nee, Ingrid, jy’s verkeerd, ek weet niks meer nie! As ék in agt weke se tyd kon oud word, Ingrid, tot gatwordens toe sat, wil ek nie eens probeer dink hoe moet Miriam voel nie. Dis nie haar kind nie.”
“Miskien moet ek iemand kry om Miriam te help met die was- en strykgoed. Net vir ’n maand, tot dit beter gaan. Sy sal weet van iemand wat werk soek.”
“Liewe moer, Ingrid, ons kom skaars uit met die geld wat ons het! Zettie praat van ’n Kinderkranskamp en Teresa vra ’n nuwe raket. Laas maand het ek nie eens die dankofferkoevert ingegee nie. En nou kom praat jy van nóg geld uitgee!”
Daar was ’n onrus in haar oor geld. Dawid se banksake was by ’n ander bank op die dorp. Maar sy het tekenmagte op sy rekening gehad. Miskien moet sy ’n bankstaat trek en self kyk of dit so benard is as wat Dawid voorgee.
“Ek het maar net gedink dat ekstra hulp …”
“Jy dink onnosel. Vergéét dit, Ingrid.”
Sy wou hom aanvat oor die geld waarmee hy poker speel en dat hy nie sy sak toeknyp by die gholfklub nie. Maar sy het eerder geswyg, want die dag wat voorgelê het, was lank, en sy het nie die krag gehad om vroegoggend al ’n bliksemstorm te oorleef nie.
Beter om ’n buffer te skep. “’n Bietjie koffie?” en sy het die fles in die ry oopgeskroef.
In antwoord het hy die motor onnodig teruggerat, en vinniger gery as waarmee sy gemaklik was.
“Ek sê nou vir jou, Ingrid, ons loop nie vandag by daardie spesialis weg sonder antwoorde nie. Ek wil weet presies wat is verkeerd met die kind, en ek wil dit vandag weet.”
Wat kon sy sê?
Alles wat Dawid gesê het, het sy al honderde male deurgesif. Haar opstand was niks minder as syne nie. As hy die situasie nie kon uitstaan nie, hoe moes sy dit uitstaan? Immers was hy bedags by die werk, saans by vergaderings en komitees, of hy kon gholfklub toe vlug. Sy was vier-en-twintig uur per dag aan diens. Sonder behoorlike slaap; sonder antwoorde of raad; met ’n power ondersteuningstelsel en boonop ’n tanende geloof in haar eie moederskap.
“Hóór jy my, Ingrid?”
“Ja, Dawid, ek hoor jou.”
“Het jy die brief wat Oudokter gegee het?”
“Ja, Dawid, ek het dit.”
Die spesialis was nie in die minste ontsteld nie, asof hy elke dag van sy lewe só ’n baba hanteer. Ore, keel, maag, urine, stoelgang, longe, fontanel. Daar was nie ’n plek waar hy nie gedruk en gekyk en geluister het nie. Toe hy klaar is, het Dawid Alexander gevat en buite in die gang gaan staan sodat sy en die dokter mekaar kon hoor.
Hy kry niks om oor bekommerd te wees nie, was sy uitspraak. Fisiek is die outjie gesond. Party kinders neig maar tot koliek. Waarskynlik ’n melkallergie. Maar siende dat hulle al die pad gekom het, gaan hy ’n klompie toetse laat doen.
Rond en bont deur die hospitaalgebou. Eerste verdieping toe vir dit, derde verdieping toe vir dat. X-straalkamer toe.
Middelmiddag was hulle terug in die spreekkamer. Gedaan. Dawid se oë was versonke. Sy was honger en dors. Asof hy oorgegee het, het Alexander met oopgespreide arms op haar skoot geslaap.
“Staak die borsvoeding,” het die spesialis gesê. Sojamelk voorgeskryf. Nuwe soort slaapstroop. Gesê sy moet stadigaan begin met vaste stowwe, want die outjie is ondergewig.
Tegelykertyd wou sy histeries aan die lag en aan die huil gaan. Vaste stowwe? Wat sy hóé in hom moet inkry?
“Indien sy toestand nie binne twee weke verbeter nie, bring hom terug,” en hy het die voorskrifblaadjie losgeskeur. Hy moes die radeloosheid op haar gesig kon sien. “U begryp tog, mevrou, dat die maak van ’n finale diagnose nie so eenvoudig is nie. As sy toestand nie verbeter nie, sal dit dalk nodig wees om hom ’n paar dae lank vir waarneming op te neem.”
“Ek begryp.”
Maar in haar was daar niks, níks wat enigiets wou of kon begryp nie. Vlak voor haar oë het die hoop wat daar in haar bestaan het, omgesit in wanhoop.
Toe die rekening twee weke later opdaag, het sy gewens sy hoef dit nie vir Dawid te wys nie.
“Bliksem, Ingrid, ons was skaars ’n halfuur by die man! Hoe kan hy só ’n rekening stuur?”
Ag, Here, hoe moes sy weet? “Hy’s ’n spesialis, Dawid. Ons moet aanvaar sy konsultasies is duurder as …”
“Spesialis se moer, man! Wat het hy miskien vir die kind gedoen? Net ’n klomp stront aan ons afgesmeer.”
Dit het gelyk of Dawid bo-op haar wou spring. “Dawid, ons moet iewers begin om …”
Hy laat haar nooit klaar praat nie. “As jy hierdie moerse rekening as ’n begin sien, en dié vir die spul toetse is nog nie eens bygereken nie, wat sien jy dan as die einde?”
“Hy het gesê ons moet Alexander terugbring vir …”
Rys op van woede. “Terugneem vir wát?”
Sy het nie vir hom ’n antwoord gehad nie.
Dalk was dit die hemelhoë rekening wat op niks uitgedraai het, maar sy het daardie dag gemerk as die eerste maal dat Dawid Alexander geslaan het. Twee harde houe op sy bobeentjie. Toe raap sy Alexander voor Dawid se hand weg en hardloop olienhoutboom toe, waar sy gehoop het hy in haar arms sou tevrede wees terwyl hy die spikkelskadu’s dophou.
Hy was toe tien weke oud.
En daar onder die olienhoutboom, in die koue van die náwinter wat hulle omvou het, het ’n vreemdsoortige teerheid en erbarming in haar wakker geword. Tingerige kind met die glasblou oë. Raaiselkind wat roep en roep, maar niemand begryp sy taal nie. En sy het besluit: Al kos dit haar laaste druppels krag, sy sou hom liefhê en probeer verstaan. As niemand anders dan vir hom wou baklei nie, sy sou.
Jy sit lank met hom in die koue onder die olienhoutboom. Tot jou oë droog is en hy in jou arms slaap. Jou vingerpunt stryk die wenkbroutjies plat. In sy slaap sug