Raaiselkind. Annelie Botes

Raaiselkind - Annelie Botes


Скачать книгу
hy is klein.

      En hy kan nie terugslaan nie.

      Daar was tog tye dat sy huilery stilgeraak het. Verander het in ’n sagte, klaende gekweel. En soms, net soms, het hy verstil in ’n doodse slaap. Ure aaneen. Asof sy liggaampie só uitgeloog was dat hy uit sy eie bestaan weggeglip het na waar daar stille waters van rus was.

      Presies twee jaar en twee dae ná sy geboorte het Alexander se huilsessies opgehou. Net so. Op ’n Sondagoggend. Een oomblik het hy nog traanloos op ’n kombers op die stoep sit en gil en skop, sy hande geflap en die bottel koue melkkoffie wat sy na hom uitgehou het, uit haar hand weggeklap. Die volgende sekonde het hy stil geword en sy kop gedraai asof hy na iets luister.

      In die stilte van die wintersoggend het die gelui van kerkklokke deur die dorp gebeier.

      Gevries in haar spore het sy sy oorblufte gesig dopgehou. Daar was herkenning, menslikheid, in sy oë. Hy het sy kop na haar gedraai en in haar oë gekyk, vorentoe geleun en sy vingertjies na haar uitgesteek. Toe sy afbuk en haar vingers om sy hand krul, het sy lippe klankloos mamma gesê.

      Sy was versteend.

      Toe het hy sy oë weggedraai en sy kop gekantel, met ’n gesig vol vreugde na die kerkklokke geluister. Vir een kortstondige minuut was hy nie weggebêre op ’n geheime eiland waarvan net hy geweet het nie.

      En al was sy van niks anders seker nie, was sy seker dat hy wéét sy is sy ma.

      Tot die klokke stilraak, het sy verstok gestaan. Verbluf oor die byna tasbare stilte wat oor die stoep en die huis gehang het. Haar verkyk aan die blinkheid in sy fletsblou oë. Hoe sy lippies oopgaan in ’n glimlag.

      Here, vir daardie paar sekondes was hy normaal. Vir die eerste keer in baie honderde dae het hy die gordyn weggeskreef sodat sy iets van die mens binne-in die glasborrel kon raaksien.

      Stadig het sy agteruitgeloop om hom nie te verskrik nie. In die kombuis het sy by die koppiekas vooroorgesak en gehuil. Want vir die heel eerste maal was sy doodseker hy kon lag, en dat hy nie doof was nie. En dat sy lippe mamma kon sê.

      Sy het kamer toe geloop om vir Dawid te vertel. Maar sy kon hom nie wakker kry uit sy dronkmanslaap nie.

      Sy maak ’n bakkie met vier vingers, druk dit in die kerriepappery en bring haar hand tot by haar lippe. Die helfte van die lou kos beland op haar sweetpakbroek. Sy lek haar vingers af en probeer die plas op haar broek opvee, maar dit word ’n nóg groter gemors. Die kerrie is verstikkend skerp en brand haar mond. Maar haar honger is groter as haar weersin.

      Steek haar vingers weer in. Kos is kos. Vinniger. Moenie kou nie, sluk net. Moenie met haar tong rondvroetel nie, netnou kry sy ’n sening of ’n beensplinter. Skep, sluk, skep, sluk.

      Voetstappe in die gang.

      Gou eet, jy weet nie wanneer gaan jy weer kos kry nie. Later, as niemand kyk nie, kan jy jou broekspyp boontoe rem en die kerriekol skoonsuig. Dalk laat hulle jou badkamer toe gaan.

      Rinkelende sleutels. Klank van metaal op metaal.

      “Kom, kolonel Herselman wag.”

      “Kan ek asseblief toilet toe gaan?”

      In die badkamer weier die vrou botweg dat sy die toiletdeur dig toemaak. “Los die deur op ’n skreef,” sê sy.

      Die eerste dun urinestroompie bring trane van verligting in haar oë. Sy pers elke druppel uit, en verlang met ’n skroeipyn na die bekendheid van haar eie huis. Gordyne toetrek. In die skemer kamer gaan lê en probeer uitwerk hoe dit kon gebeur dat sy nege jare lank wag gehou het oor Alexander, en toe op ’n krisisoomblik aan die slaap kon raak.

      Nee, sy wil nie huis toe gaan nie. Die stilte sal haar van haar verstand af dryf. Eerder by Gunter op die kraalmuur gaan sit. Sommer die berge in loop en nooit weer terugkom nie. Loop tot haar voete stukkend is en sy van uitputting en ontwatering en hartseer dood neerval. Tot sy in ’n nagdonker niksheid wegsink, waar sy kan vergeet om Alexander te onthou.

      Here, dit kán mos nie wees nie. Hoe kon hulle ’n kombers oor hom gooi en die trollie by die voordeur uitstoot, asof afskeid nie saak maak nie.

      Weg.

      Vir ewig.

      Altyd lief gewees vir stil, donker wegkruipplekke. Onder die beddens, in klerekaste, kop toegetrek in die lappeboks, opgekrimp in die besemkas wat soveel jare lank sy skuilplek was.

      Hou op dink. Hou op dink. Hou óp dink.

      Sy rol die laaste velletjies van die toiletrol af. Toe sy die toilet spoel, druk die vrou die deur dadelik verder oop.

      “Kom, maak klaar dat ons kan loop.”

      Sy sukkel by die wasbak. Die warmkraan is met ’n draad vasgedraai en sy kry nie die kerrietaaisel met koue water van haar naelvliese afgewas nie. Daar is nie ’n handdoek nie. Vee haar hande aan haar broekspype droog. Los die kerriekol, dit sal nie met koue water skoon kom nie.

      “Hoe laat is dit?”

      “Twintig voor nege.”

      Dit kan nie wees nie. “In die aand?”

      “Ja. Maak klaar.”

      “Hoe lank het ek dan geslaap?”

      “Bietjie minder as ’n uur. Kom.”

      Wat is ’n uur gereken teen nege jaar se slaap wat sy agter is? Eindelose nagte vol ure waarin Alexander haar uit haar slaap kom wakker maak het. Haar aan haar nagklere deur die deurmekaar huis rondgetrek het tot sy wou omval van ellende. Ligte aan- en afgeskakel het tot die ligwisseling in haar oogkasse wou ontplof. Met die beiteltjie gekap dat dit bedags steeds deur haar kop eggo terwyl sy mense se tjeks wissel en besighede se sakke bronsgeld staan en weeg.

      “Ek … ek …”

      “Kom, mevrou Dorfling, kolonel Herselman wag.”

      Die stoel waarop sy vroeër gesit het, is weggeneem. Hoe lank sal sy hierdie keer op haar voete moet staan? Die man sit met ’n pak fakse voor hom op die lessenaar. Vlugtig registreer sy in die verbygaan enkele van die onderstebo woorde op die boonste faks. … medico-legal post mortem …

      “Goed geslaap?” Hy kruis sy vingers en lê agteroor op die draaistoel. “Jammer ons kon jou nie meer gerief gee nie.” Hy trek die pak fakse nader en stamp dit haaks. “Troos jou daaraan, jy sal nie vannag hier slaap nie. Ons gebruik die tydelike sel by Moord en Roof net vir kort tye van eensame opsluiting. Meesal vir dinktyd en besinning.”

      Staan verbouereerd rond. “Waar gaan ek dan slaap?”

      “In die polisieselle.”

      Haar asem ruk terug tot laag in haar maag. Here van genade, nee. “Beteken dit in die tronk?”

      “Sê maar so, ja. Jy is ’n verdagte, mevrou Dorfling. Daar is onopgeklaarde sake wat spruit uit die lykskouingsverslag. Solank jy ’n verdagte is en aangehou word vir ondervraging, word jy in die polisieselle aangehou. En ons sal jou nie laat gaan voor ons nie honderd persent tevrede is met die ondervraging nie.”

      “Hoeveel keer moet ek nog sê: julle ondervra die verkeerde mens. Ek het niks te doen met my kind se …”

      “Nee, mevrou,” en hy kom regop en steek sy hand onverbiddelik in die lug. “Ons vermoed jy het iets daarmee te doen. Ons is speurders: ons werk met getuienis, met lykskouingsverslae, harde feite. En daarvolgens …”

      “Daarvolgens wát?”

      Wát kan in die lykskouingsverslag en in die klomp fakse geskryf staan, anders as dat Alexander verdrink het? Met wie het die man almal gepraat? Buitendien, wat kon enigiemand gesê het wat van háár ’n verdagte kan maak?

      “Kan ek asseblief die verslae deurlees?”

      Hy druk die fakse in die lêer en sit sy hande besitlik daarop neer. “Wat in hierdie dossier staan, mevrou Dorfling, is uitsluitlik vir die oë van die ondersoekbeampte bedoel.”

      “Maar


Скачать книгу