Raaiselkind. Annelie Botes
wat ek bedoel het.”
Trommel sy vingerpunte op die bruin lêer. “Mevrou Dorfling, hiér besluit ek wat is duidelik en wat nie. Was jou kind in die Kinderkrans? ’n Speelskool? In die kleuterkerk?”
Dit klop in haar kuiltjie. “Ek het al hoeveel maal gesê: Alexander was outisties. Het jy enige werklike idee wat outisme is?”
Hy kom agter die lessenaar uit, loop weer in stadige sirkels rondom haar. “Moenie bekommerd wees oor my kennis van outisme nie, mevrou Dorfling. As ek dalk dom voorkom, moet ek jou waarsku: ek is nie dom nie. En moenie my vrae probeer omseil nie. Antwoord wat ek vra: Was jou kind in die Kinderkrans, of in ’n speelskool, of betrokke by die kerk se kleutergroep?”
“Nee.”
“Jy het dus nie stimulerende leermetodes gevolg nie?”
Sy sug. Dis asof die asemteug vanuit iemand anders se lyf kom. “Dis nie só nie. Dis net dat ons … dat ek …”
Hy onderbreek haar. “Jy het vroeër gesê jou vriendekring was klein. Korrek so?”
“Kan ons asseblief een onderwerp afhandel voor ons met die volgende een begin? Ek kan nie so deurmekaar dink nie.”
“Al my vrae, mevrou Dorfling, sal uiteindelik een prentjie vorm: die dood van jou kind en die gebeure wat daartoe gelei het. Ek wil al jou vriende se name, telefoonnommers en adresse hê. Begin by dié wat die nouste by jou betrokke was. Elkeen, moet niemand uitlaat nie.”
10 Die wolke in die kloof hang laag en grys soos lood, sien sy.
Dit moenie nou neuk om te kom reent nie, want die lorrie het nie ’n seil nie. Maar natreent is nie haar ergste kommernis nie. Haar ergste kommernis is die nat pad. Hoeka is dit klaar snotglad van gister se reent. As die onweer nou moet uitsak en die pad word natter as wat dit klaar is, hang almal op hierdie lorrie se lewens vandag aan ’n dunne garinkie.
Toe die drywer die lorrie t’rugrat vir die laaste steil klim tot bo in die kloof, sien sy hoe die mense hulle soetkyste gryp en vasvatplek soek. Die kloggoed hang aan hulle ma’s se rokke en die ma’s weet nie of hulle hulselwers of eerder die tjinners moet vashou nie.
Die opklim tot bo is niks. Dis die skerp afdraand wat aan die oorkant wag. Deur die lorrie se agterruit sien sy hoe die drywer sy lippe om die bottelkop sit. Drink kopagteroor dat sy gorrel op en af wip. Hy skiet die leë bottel by die venster uit en dit spat flenters teen ’n krans. Sy sien die mense is bang. Die kloggoed se oë staan spierrewit in hulle koppe. Doodgaan van siekte is een ding, en doodgaan van ’n dronk man wat soos ’n hondsdol windhond met die lorrie om die draaie sny, is ’n ander ding.
“Julle moet julle zolle doodmaak,” skree sy bo die gedreun van die enjin uit. “As ons vandag omslaan en die petrol loop uit, slaan ons almal aan die brand!”
Bevrees knyp hulle die rookgoed dood. Die kloggoed kruip vaster teen hulle ma’s se bene. Die ou antie wat in die huis langes die peperboom bly en elke maand met dowwemaan vir twee dae aanmekaar huil, vee die trane uit haar oë.
Nou moet sy voorvat. Hulle moenie die vrees uit die klooflug na hulle toe aanroep nie. As mens die dood in die oë kyk, moet jy sterk staan met jou voete diep geplant. Jy vra die Here om saam met jou te staan. Om jou ’n paar engele ook te gee. Dan sit jy jou vingers om die dood se keelgat en druk sy lugpyp toe. Baklei t’rug. Dis al genade.
Hulle moet sing. Baie dat sy al gesien het die dood is bang vir ’n halleluja. As mens al die verse oor en oor sing, staan die dood agteruit. Skrikkerig daarvoor, want daar is baie krag in ’n halleluja se lyf.
Vat nou doerie tyd toe die pofadder vir Johansie van ant Sophie in die kuit gepik het. Agter by die watergate se riete gewees. Toe hol Johansie skrou-skrou weg, en die slang sit hom agterna. Skoon onder die slang uitgehol tot by ant Sophie binne-in die voorhuis. Hom helemal onnooslik geskrik. Arig soos die kuit opgeswel het en die tjint van pyn gelê en krul het. Slegte seerplek gemaak wat laterhands beginte stink het. Toe dit lyk of die Here Johansie gaan kom haal om by sy voete voor die troon te gaan sit, het hulle beurt gemaak om langes Johansie se kooi te sing. Dieselle lied. Oor en oor. O, was my en witter as sneeu sal ek wees …
Dwarsdeur die nag. Dwarsdeur die dag.
Twee weke later toe speel Johansie buite in die strate.
Sy moet insit en sing. Sodat almal kan saamsing om die dood van die lorrie af weg te hou. Haar gorrelpyp bewe toe sy die noot vat. Hard sing, sodat haar lied bokant die lorrie se gebrul kan uitlig en die mense se bangte kan omsit in sterkte. Sodat elkere engel in die kloof hulle agterop die lorrie kan hoor en saam met die lorrie kom vlieg.
Sien jy die ongetelde skaar? Wat bring hul tog so bymekaar?
Eers bestaar hulle haar nes ’n klomp vars gedipte skape. Toe beginte die een wat vuurhoutjies gesoek het, saamsing. Woord vir woord hou hy by haar. Duidelik klim sy basstem bokant die lorrie se gedreun uit en sy sien hoe die mense se lippe roer, hoe die kloggoed se vingers skiet gee aan hulle ma’s se rokke en bene. Toe hulle vers drie se inval vat, vra sy die Here moet haar rekening skoonvee oor sy haar so stink geërg het vir ’n suurasem wat by háár kom vuurhoutjies soek het. Nooit gerekent hy sou vers een se woorde ken nie, laat staan nog die ander verse.
’n Sagte stem roep uit die ry, Jesus van Nasaret gaan verby!
Later het sy opgehou tel hoeveel maal hulle by vers vyf gaan draai het. Al wat sy wis, was dat daar nie ’n enkelte engel in die hele kloof was wat nié saam met die lorrie kom vlieg het nie. Toe was sy bly dat die Here haar voete op die lorrie laat klim het. Want die lorrie sou nie vandag deur die kloof kon gekom het sonder ’n halleluja nie.
Toe die drywer die gelykte vat en sy die wit muur van die grootkerk in die verte tussen die suurdorings sien uitsteek, hoor sy Boetatjie na haar roep. So duidelik dat dit voel of hy teenaan haar sit.
Mimmi! Mimmi!
Heretjie, hoekom sien sy dan vir Boetatjie tussen die engele om die lorrie vlieg? Hoekom staan sy oë so stokdood in sy kop?
Sy skrik die hallelujawoorde glads van haar tong af. Jesus van Nasaret, bly die naweek asseblief tog by miss Ingrid en by Boetatjie, bid sy en vee die windtrane uit haar oë weg. Dis jare laas dat ons koek gebak het in onse huis en ek wis nie eens of die koekpanne al deurgeroes is nie, maar Maandag, Here, nie ’n ander dag as Maandag nie, sal ek ’n koek bak. Bly net tot Maandag by miss Ingrid en by Boetatjie.
11 Die name en telefoonnommers van haar huisvriende. Wat moet sy vir die man sê?
“Vroeër het ons baie vriende en kennisse gehad, veral my man. Dis onmoontlik om hulle almal op te noem. Ons het baie mense geken en met baie mense omgegaan. Maar ek het drie besonder goeie vriendinne gehad wat baie ná aan my was.”
“Begin by dié drie se besonderhede.”
Sy ignoreer hom; ’n naamlose hartseer wel in haar op. Mirna. Lida. Hannah.
Tennismaats. Huilmaats. Lagmaats. Dikwels vir ’n Saterdag in een motor uit die dorp weggeglip en op die naaste groot dorp gaan inkopies doen. Mekaar se hare gekleur. Naaldwerklap uitgekies en saam-saam op die groot geelhouteetkamertafel in Mirna se huis uitgeknip. Gefilosofeer oor kinders grootmaak. Laataand by mekaar tampons geleen. Ooievaarstees gehou. Rondom een kombuistafel sit en afpak oor infeksies en skoonma’s. Mekaar se kinders opgepas, en tee geskink by die Nagmaal. In een kombuis Kersfeeskoekies gebak. Mekaar se susters gewees wanneer die swartsiekte een van hulle beetvat.
Hóé het Alexander se koms nie alles vernietig nie. Sterk brûe wat ná ’n tyd soos droë sandkastele inmekaargestort het.
“Hulle was soos my bloedsusters. Ná Alexander se geboorte het die vriendskappe geleidelik doodgeloop. Eers was ek hartseer en kwaad daaroor, maar later het ek besef dit was ’n natuurlike verloop van omstandighede.”
“Gee net hulle name en adresse en huistelefoonnommers. Dié van hulle werksplekke ook.”
Terwyl sy die besonderhede gee, roep sy hulle gesigte terug. Mirna wat vooroor