Raaiselkind. Annelie Botes
het Miriam kom fluister.
“Nee, nog nie.”
“Ek bring vir miss Ingrid. Dan los ek alles net so hier in onse sitkamer en vat Boetatjie uit buitentoe. Mens kan sien hy hou nie van bollings mense rondom hom nie. Dan kan miss Ingrid op missus se tyd sit en tee drink en gesels.”
Op daardie doopdag, tussen die babbelende vrouens wat geen benul gehad het van die tamheid in haar liggaam en gees nie, was sy met afsku vervul oor Alexander se koms. Wou sy vir Miriam sê: vat hom, en gaan gooi hom oor die rand van die aarde. Lê hom onder ’n bos neer om dood te gaan. Maak met hom net wat jy wil.
Moet hom net nooit weer terugbring huis toe nie.
“Daar is niemand anders wie se besonderhede ek kan verskaf nie. Net Miriam s’n.”
“Dis my werk en plig om jou vriende te ondervra, mevrou Dorfling. Hulle verklarings kan moontlik tot jou voordeel wees.” Ta-tate-ta. “Of weet hulle dalk iets wat jy nie wil hê ek moet hoor nie?”
“Ek hét nie meer huisvriende nie. Dis al.”
“En dié Gunter, was hy nie jou vriend nie?”
Sy skrik. Wat weet hulle van Gunter? Wat het hy oorvertel van die baie woorde wat sy oor al die tye heen met hom op die kraalmuur gepraat het? Kere toe sy haar opkropping en hartseer op hom omgekeer het. Nee, Gunter sal haar op geen manier verraai nie. Nooit. Al weet sy niks, weet sy dít.
Gunter het nooit by haar huis gekom nie. Eintlik het hy selde op enige plek gekom. Al sy besigheid in die stad gaan doen. Was dit nie dat Dawid destyds ’n ander man se pokerskuld afgeskryf het in ruil vir ’n perd nie, sou sy Gunter seker nooit geken het nie. Toe redeneer Dawid dat Gunter se grond die naaste aan die dorp lê en hy gaan vra vir Gunter of die perd nie daar kon loop nie. En of Gunter dalk opsaalgoed het en sal help met die perdryery.
Soos eie broers geword, Dawid en Gunter. Omtrent die enigste plek waar Dawid gekom het in die jaar of wat voor sy dood. Ook Gunter gewees wat Dawid se motor destyds in die bosse by die brug opgespoor het. En wat dit die Maandagoggend vir haar kom sê het.
Nee, Gunter was nie ’n huisvriend nie. Hulle moet hom uitlos uit hierdie ding uit.
“My kind se perd het op sy plaas geloop. Sondagmiddae het ek hom soontoe geneem om perd te ry. Dis al.”
“Al, mevrou Dorfling? Is jy doodseker?”
Sy sluk. “Ja.”
“Hoekom was sy telefoonnommer op die notaboek langs die telefoon neergeskryf?”
Wat weet die man van Lucy? Wíl hy ’n verbintenis sien tussen die verkoop van die perd en Alexander se dood? “Ek ken nie sy telefoonnommer uit my kop nie. Ek het dit neergeskryf nadat ek dit opgesoek het.”
Ta-tate-ta met die potlood se agterkant op die bruin lêer. “Wanneer het jy hom gebel, en hoekom?”
“Vrydagaand. Omdat ek … omdat ek …” Kan dit teen haar tel?
“Jy dink ’n versinsel uit, mevrou Dorfling. Jy gaan jou vaslieg. Los dit. Ons sal later terugkom na daardie vraag toe.” Hy draai stadig in die rondte op die draaistoel, sy vingerpunte teen mekaar voor sy bors. Trek weer die lêer nader, vat die pen. “Kom ons probeer wéér ’n keer.” Daar is ’n afgemetenheid in sy stem. “Die name van ál jou huisvriende, mevrou Dorfling. Dié van jou oorlede man ook.”
Toe breek haar geduld en sy storm op hom af, stamp met haar voorvinger teen sy bors. “Ek hét nie huisvriende nie! Of wil jy hê ek moet vriende en telefoonnommers uitdink wat nie bestaan nie!” Staan hygend, met die hoes wat dreig om oor haar lippe te bars. Asof dit iemand anders is wat in haar vel leef, hoor sy haarself op die man gil. Sy word vaagweg bewus van die vrou wat agter haar inbeweeg. Toe gryp die man haar arm in ’n knelgreep. Buig dit af en af, tot die pyn haar in ’n gebukkende posisie neerdwing.
“Mevrou Dorfling, as jy aan my stamp, neem ek aan ek moet myself verdedig. Jou optrede kan jou later berou.”
Sy wil haar arm losruk, maar ’n steekpyn skiet tot in haar skouerpotjie. Stadig los hy haar arm en draai na die vrouespeurder. “Maak ’n aantekening dat die verdagte aggressief optree, en vul die prisoniers-eiendomsregister in. Ek wil oor twintig minute ry. Hoe gouer ons haar by die polisieselle kry, hoe beter.”
Vingerafdrukke. Palmafdrukke. Duimafdrukke. Kante van haar hande. Gebarste seepsplinter om die ergste swart ink afgewas te kry. Deur kaal gange terugloop na die benouende kantoor. Die vrou dop haar handsak op die lessenaar om, skud alles uit en skryf dit op.
“Kom kyk wat ek opskryf.”
Haarborsel, handspieël. Lipstif. Telefoonkwitansie. ID-boek. Tjekboek, tjekbladsynommers. Kredietkaartnommer en vervaldatum. Pen. Tampons. Twee hoofpynpille. Vier pepermente. Verkreukelde tissues. Tel elke sent in haar beursie. Rits die noodhulpsakkie oop wat sy oral met haar saamdra.
“En dié?” Met geligte wenkbroue hou die vrou die ampul met kalmeermiddel en die naaldlose spuit in die lug.
12 Die drywer knyp die stuurwiel met sy knieë vas en skroef nog ’n bottel oop. Goddank kan sy die grootkerk se wit stippel al in die verte voor haar oë sien lê. Voor die bottel te diep in sy lyf sit, sal hulle by die grootkerk stop. Sal beter is as sy haar kop kan losmaak van die lorrie en die drywer af. Van miss Ingrid en Boetatjie ook. Die mense moet maar alleen verder sing.
Sy wonder of Jeremia die brood goed deurgebak het. Sou hy onthou het om die boonste korse ’n smeerseltjie botter te gee vir safte? Anders saag hy die kombuisvloer vol krummels om deur die klipharde korse te kom. Solank hy nie vergeet om die hoenders te laat uitkom nie. Hulle is nie gewend heeldag in die hok opbolling nie. Lê min eiers as hulle so opgedruk is, want hulle senuwese is onrustig. Vir al wat sy wis, laat hy die hoenders aan die genade oor tot sy môreaand t’rugkom. Korte kop wat Jeremia het.
“Dis van brousels drink wat jou verstand so weggevreet is,” het sy knap laastere week vir hom gesê toe hy by die huis aankom met ’n pak bruinbroodmeel. Sy wou suikerkoekies bak, en hoe moet sy nou suikerkoekies bak met bruinbroodmeel?
“Die Here is my getuie, Jeremia, een oggend is een oggend gaan jy nog wakker word sonder binnegoed in jou kop. Is lankal tyd dat jy jou laag buig voor die Here en vergiffenis …”
“Ag gottatjie, Miriam, my kop makeer niks! Oppas eerder dat jou kopnate nie oopbars van te veel Kristelikheid nie.”
“Nou vir wat loop staan en koop jy bruinbroodmeel? Ek het mos uitdruklik vir jou gesê koekmeel.”
“Die winkel was uitgeverkoop van koekmeel.”
“Dit lieg jy, Jeremia! Waar’s my kleingeld?”
Hy’t sy broeksak uitgedop en die losgeld op die tafel neergeplak. Meer as vyf rand kort. Die engel van goedheid wat elkere dag om haar rondvlieg, het haar gehelp om haar lippe opmekaar te hou. Want as sy toe aan die skelle moes gaan, het sy hom ingesê tot verby sy voormense se sondes.
Slegte helsem, Jeremia, fyne liegter. Dink sy’s te onnooslik om te weet wanneer hy lieg. Sy weet hy gaan die godsbotteltjie se geld wat sy by Esegiël agtergelos het, loop uitmors op sondegoed. As dit nie op domino’s is nie, sal dit op ’n suipsel is. Die jimmele weet, sy sukkel met Jeremia. Meer as dertig jaar al dat sy hom deur die lewe moet trek. Kan hom nie eens met ’n vredige hart dorp toe stuur vir ’n pakkie suurdeeg nie.
Sy kan selwers loop, maar haar twee bene is by gedaan verby. As sy t’rugkom van die dorp af, smaak dit haar die jigpyn trek tot in haar heuppotjies. En Jeremia kan net sowel die winkelsake vir haar loop doen. As hy nie met dominospeel besig is nie, sit hy tog net heeldag in die son teen die huis se voormuur en waai die vlieë van sy gesig af. Rook, gesels met almal wat verbyloop. Skoon sku vir werk. Lig nie sy vinger om ’n boontjierank op te lei of ’n hoendereier uit te haal nie. Laat staan nog houtkap. Wragtig, manvat is moeilikheid vat. Is waar wat haar ma doerie tyd gesê het: as jy met akkies speel, moet jy nie kla as jou hande stink nie.
Maar Jeremia was ’n mooie man in sy jonkjare. Witte ry tande