Raaiselkind. Annelie Botes
gewonder of Dawid sou gespring het as dit nie dáárvoor was nie.
“Ek was seker ses jaar laas in die kerk. Die moederskamer was onbruikbaar en ek kon nie waag om met Alexander in die kerk te sit toe hy groter was nie.”
“Het jou man soms beurte geneem om na die kind te kyk sodat jy kon kerk toe gaan?”
“Nee, my man het hom nóóit opgepas nie. Al waarmee hy gehelp het, was om hom Sondae te neem om te gaan perdry.”
Haar oë krap soos sandsuiker. Hoekom delf die man in haar kerklewe? Wat het dit met Alexander se verdrinking te make?
Hy lek sy middelvinger en duim nat en trek ’n faks uit die stapel, lees en skud sy kop. “Dit blyk dat jy die perd wou verkoop. Maar dít later. So, jy beweer jy was ses jaar laas in die kerk?”
Dan wás hulle by Gunter. Net hy weet sy wou Lucy verkoop. Nie wóú nie; moes. Waar anders kon sy op kort kennisgewing die geld vandaan kry om die bedrag wat sy Vrydag by die toonbank kort was, terug te betaal? Kalm bly. Hy moenie agterkom sy het geskrik nie. Gunter weet waarvoor sy die geld nodig gehad het; hy sou vir hulle gesê het.
“Ja.”
“Is jou man dan nie omtrent vier jaar gelede uit ’n kerk begrawe nie?”
Sy moenie sommer net praat sonder om te dink nie. Fyntrap. Sy verstand is skerper as ’n slagmes. “Nee, my man is veras sonder roudiens. Ek het gedink jy bedoel ’n gewone erediens.”
“Moenie my vrae verdraai nie, mevrou Dorfling. Antwoord wat ek vra en antwoord die waarheid. As jy beweer jy was ses jaar laas in die kerk,” en hy vryf die kant van sy vuis oor die lessenaar en pen haar vas met sy oë, “dan moet dit presies so wees. Jou wyksouderling en wyksdiaken se besonderhede.”
Hoekom vra hy oor onbenullighede waarop sy nie klinkklare antwoorde het nie, of waaroor sy bang is sy gee ’n antwoord waaroor hy haar kan kats?
“Ek het geen benul nie. Daar was in jare nooit ’n diaken by my nie, want hulle weet ek het nie dankoffergeld nie.”
Soos in ’n dowwe droom onthou sy die keer toe Dawid die dankofferkoeverte vir die predikant gaan teruggee het en gesê het gee is iets wat van twee kante af kom. Here, hy was woedend toe hy by die huis kom. ’n Nuwe bottel brandewyn oopgemaak en teenoor háár afgegaan. Gesê hy subsidieer nie luukse strandhuise en oorsese toere nie, en dít terwyl die gemeente in geldelike nood rondworstel.
“Die laaste keer toe daar ’n ouderling in my huis was, was destyds met my man se dood. En hulle het lankal weggetrek uit die dorp.”
“Jy het dus geen kontak met die kerk of kerkstrukture nie?”
God weet, baie dae het sy met ’n seerheid kerk toe verlang. Na die diep basnote van die orrel, die lig wat deur die kerkvensters filtreer. Om net een maal die soetheid van die Nagmaalwyn te ruik; ’n blokkie van Hannah se tuisgebakte soetsuurdeegbrood met Nagmaal op haar tong te proe.
Baie nagte as sy by Alexander gewaak het, het sy in haar gesangboek geblaai. Gekyk na óú goed van vergange tye. Soms gehuil as sy afkom op datums en aantekeninge. Mirna-hulle doop. Zettie wissel eerste tand. Brei Dawid se kabeltrui klaar. Gister teruggekom van neuroloog. Lida voorgestel as diakones.
Koffieringe, droë blare van die mopboom by die kerktrappe. Partymaal het sy die bekende gesange opgesoek waar die dun bladsye bruin gevat was, en die wysies in haar binneste geneurie. Teruggedink aan ’n tyd wat anders was, toe daar nie oorlog in haar lewe was nie. Toe sy en Dawid en die dogters Sondae ná kerk by Mirna-hulle se huis in die koel skadutuin gaan tee drink het. ’n Tyd toe sy en Hannah saans tot laat gesit het om tafellappe te verf vir die kerkbasaar se naaldwerktafel. Tannie Koekoes wat by die tuinhekkie staan en wag dat hulle haar oplaai kerk toe.
U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie …
Eendag het sy by Gunter op die kraalmuur gesit en kyk hoe loop Lucy al in die rondte met Alexander. Grys middag vol dreigende reën. Grysheid in haar hart ook.
“Gunter,” het sy gevra, “wie en wat is die kerk?”
Hy het sy hande tussen sy knieë bymekaargevat, lank gedink. Tot sy nie geweet het of hy haar sou antwoord nie.
“Ek kan jou nie antwoord nie, Ingrid. Want ek verstaan self nie die kerk nie.”
“Wat behóórt die kerk te wees?”
Tuur weg. “’n Instrument van God.”
Asof Dawid lewend voor haar gestaan het, het sy die gebelgdheid en toorn op sy gesig teruggeroep daardie laaste maal toe hy die predikant die deur gewys het. “Watter God, of watter god?”
“Dis kompleks, Ingrid. Los ’n redenasie oor die kerk uit. Dis ’n sirkel sonder eindpunt. Hou vir jouself kerk in jou kop.”
“Hoekom gaan jy nooit kerk toe nie, Gunter?”
“Lang geskiedenis wat ek verkies om nie te herroep nie.”
Hy het van die kraalmuur afgewip en aangestap na waar die perd met die slapende kind op haar rug gaan staan het.
Sy het ook afgespring en voor hom ingedruk. “Sê my, Gunter: hoekom gaan jy nooit kerk toe nie?”
Troebelte in sy oë. Klein fronsie op sy voorkop. “Ek is nie ’n kerkmens nie, dis al.”
“Hoekom nie?”
Kyk haar. Kyk haar. Kyk haar.
“Want ek is ’n Godsmens. Dis twee konsepte wat heel dikwels onversoenbaar is. Dis presies wat ek ’n week voor Dawid se dood vir hom gesê het. Dawid was verbitterd teenoor die gemeenskap, maar veral teenoor die kerk. Ná wat tussen hom en die kerk gebeur het, kan mens hom nie verkwalik nie. Maar sielsgewyse het dit hom duur gekos. Kry jóú bitterheid afgewerk, Ingrid, dis regtig nie die moeite werd nie. Regtig nie.”
Toe druk hy haar sag met sy voorarm eenkant toe en gaan tel die slapende kind van die perd af.
Daar was duisterhede oor Dawid waarvan net Gunter geweet het. Dikwels het sy die behoefte gehad om hom uit te vra oor Dawid, maar die moed het haar kortgekom. En al sou sy alles weet, kon sy hom nie onder op die rivierbedding gaan optel en aanmekaarwerk nie.
Die man se stem klap teen haar oortromme.
“Ek het jou ’n vraag gevra, mevrou Dorfling, en ek wag steeds vir ’n antwoord!”
“Ekskuus, ek kan nie onthou nie.”
Vroetel met sy vingers deur sy borselhare. “Asseblief, mevrou Dorfling, jy rek my geduld te ver. Moenie.”
“Ek is moeg; ek sweer ek het nie gehoor …”
“Leef jy kerkloos?”
Kyk op. Kyk in sy oë. “Ja, ek leef kerkloos.”
“Enige spesifieke rede daarvoor?”
“My man, later ek ook, was in groot konflik met die kerk.”
Hy laat sak sy hand en skryf. Kyk weer op, skiet ’n volgende vraag op haar af. “Spesiale onderwysers of bekwame mense wat jy gebruik het in die onderrig van jou oorlede kind?”
Sy sien die gevaarhoek. In haar sufheid sal sy haar woorde moet weeg; dit moenie klink asof sy Alexander aan die genade oorgelaat het nie. Want sy het nie. “Alexander was vrygestel van skool. Onder die dorpsmense was daar niemand wat belanggestel het om te help nie. Dalk het hulle nie kans gesien nie, of nie genoeg kennis gehad nie, ek weet nie. Hy was moeilik en dit het baie gevra om na hom te kyk. Laat staan om hom te leer. Hy kon nie leer nie. Behalwe ek en Miriam het niemand met hom gewerk of hom onderrig nie.”
“En jou ouer dogters?”
“Toe hulle in die laerskool was, het hulle soms met hom gespeel. Ek weet ook nie of mens dit speel kan noem nie. Hy het nie verstaan hoe om te speel nie. Op hoërskool het hulle gehelp as ek hulle gedwing het. Deesdae kom hulle soms vakansietye huis toe, dan help hulle ’n bietjie. Maar hulle …”
“Jy het sopas