Raaiselkind. Annelie Botes

Raaiselkind - Annelie Botes


Скачать книгу
het niemand nodig om my te verdedig nie, want ek hét niks om te verdedig nie.”

      “Jou posisie is moontlik meer benard as wat jy dink, mevrou Dorfling.”

      “Ek weet dit is nie.”

      In die middel van haar sin het hy na die vrouespeurder omgedraai. “Kaptein,” en hy ta-tate-ta met die merkpen op die lessenaar, “maak weer ’n aantekening, met die tyd daarby, dat die verdagte regsverteenwoordiging weier.”

      Sy moet haar nie verknies oor verslae en getuienisse nie. Daar is niks wat enigiemand kan sê om haar skuldig te maak nie. Die waarheid is dat dit ’n tragiese ongeluk was. Al fout wat sy gemaak het, was om aan die slaap te raak terwyl Alexander die kaassmeerpot leeg geëet het. En toe gebeur dit. Dis al. Sy moet haar nie laat bedreig nie.

      “Jy het nou tyd gehad vir rus en besinning, mevrou Dorfling. Nou kan ons voortgaan.”

      Moenie dat hy agterkom sy het niks gedink en niks besin nie, maar ’n doodse slaap geslaap. Dwarsdeur die stank wat uit die mat opslaan. Haar lyf het nie eens agtergekom sy lê op ’n harde houtbank nie.

      Hy vat ’n pen, maak die lêer oop. “Outisme is ’n lewenslange toestand, mevrou Dorfling. Volgens die rekords kon die laaste nege jaar beslis nie vir jou maklik gewees het nie.”

      Is dit moontlik dat daar agter sy klaarblyklike hardheid tóg iewers ’n plek van begrip is? Of is dit ’n benaderingstaktiek waarmee hy haar wil sag knie? “Dit was nege moeilike jare, ja.”

      “Jou ouers: het jy enige bystand van hulle ontvang?”

      “My ouers is oorlede voor ek getroud is.”

      “Broers of susters op wie se ondersteuning jy kon terugval?”

      “Ek het ’n suster, maar sy woon oorsee. Ek sien haar nooit.”

      “En jou oorlede man se familie?”

      Here, sy wil nie terugloop op daardie ou paaie nie. Hoe hulle haar in die woestyn agtergelos het ná Dawid se dood. Nooit ’n sent uitgehaal om haar te help nie. Nie eens gebel as Teresa of Zettie verjaar nie. Altyd onverdraagsaam teenoor Alexander. Voor Dawid se dood darem soms kom kuier. Snags wattepluisies in hulle ore gedruk vir die gekap van die beiteltjie. Hulle kamerdeur gesluit sodat hy nie kon inkom om hulle juwele en horlosies te verniel of die mure en hulle nagklere met pampoen te besmeer of hulle kamerlig te knip-knip-knip nie.

      Miss Ingrid, het Miriam een oggend ontsteld by die bank kom sê, die oumissus slaan vir Boetatjie met die houtlepel. En die oumaster skree op hom oordat hy nie wil oatspap eet nie. En die oumaster het die lappeboks bo-op die hangkas gesit, nou’t Boetatjie nie ’n lêplek nie.

      “Ma,” het sy die middag ná werk gesê, “Alexander eet nie oatspap nie. Hy eet níks wat klonterig is nie. Ma moenie hom slaan as hy …”

      “O? En wie moet hom dan slaan?”

      “Ons weet nie wat is verkeerd met hom nie, Ma. Maar ons weet hy is anders as gewone kinders.”

      “Julle wíl hom nie slaan nie. Dis dié dat hy so ’n stoute klein helsem is. Dis omdat jy …”

      Daar het ’n gloed oor haar voorkop uitgeslaan. “Ma, laat ons mekaar vandag baie mooi verstaan: in hierdie huis besluit net ek of Dawid wanneer Alexander ’n pak moet kry.”

      Skielik het almal gelyk op haar afgepyl. Skoonfamilie, Dawid. Iewers op die agtergrond het die middagtrein gefluit en Alexander het gillend met sy kop teen die gangmuur vasgehardloop. Later kon sy nie onthou wie wát gesê het nie. Maar hulle het soos ’n stormbrander oor haar gebreek. Was dit nie vir Teresa en Zettie wat weerskante van haar kom skerm het nie, sou sy alleen voor die brander gestaan het.

      Lank nadat almal al geslaap het daardie nag, het sy soos ’n doofblinde met Alexander op en af in die straat geloop. Gewens die Here wou hulle lewend wegneem na ’n plek waar Alexander se andersheid nie saak maak nie.

      Maar sy het geweet daar bestaan nie so ’n plek nie.

      “Ma?”

      Toe sy omkyk, was Teresa twee treë agter haar in die flou lig van die straatlamp. “Laat ek hom ’n bietjie stoot, dan gaan slaap Ma.”

      Mond vol trane oor die kaalvoetkind wat in die nag na haar toe kom. Los die stootkar en sit haar arms om die skraal skouers. “Ek sal nie kan slaap as jy alleen hier buite is nie.”

      “Ma het nie eens vanaand iets geëet nie. Moet ek vir Ma ’n broodjie gaan maak en hiernatoe bring?”

      “Dit sal lekker wees, my kind.”

      “Ek hoop Ouma-hulle ry sommer mÔre.”

      Terwyl Teresa wegloop, het sy haar agternagekyk en sy kon glad nie uitwerk hoe om haarself in gelyke stukke op te sny sodat elkeen na aan haar ’n regverdige deel kry nie.

      Behalwe met Dawid se dood, het sy haar skoonouers laas gesien toe Alexander omtrent tussen drie en vier was. Wat sy goed kan onthou, is dat sy toe al geweet het Alexander is outisties.

      Daardie keer sou hulle twee weke bly. Op die sesde dag is hulle vort. Dikbek en opgeblaas. Geen mens kan dit hier uithou nie! Dis ’n malhuis! Outisme is ’n treurige verskoning! Dis omdat julle die kind sy sin in alles gee en hom nie tugtig nie! Al wat hy kort, is ’n goeie drag slae! Ons het gekom om te rus en te kuier, en al wat ons doen, is keer en gryp en vashou! Waar het jy al gesien mens los ’n kind snags alleen om die huis met ’n beitel af te kap? Van wanneer af het hy die reg om almal se lewens soos ’n demoon te regeer? Hy maak en breek soos hy lus het, hy skop in julle gesigte en eet soos ’n barbaar met sy hande! En julle los hom!

      Dit was ’n loodsware berg wat van haar skouers afgetel word toe hulle wegry. Tegelykertyd ook ’n splinternuwe loodswaarheid wat op haar kop neergesit word. Want van daar af aan het Dawid sy laaste bietjie regsinnigheid verloor. Hy het Alexander rondgeruk. Sy drinkery het ’n gewoonte geword, sy gesigvel ’n opgeblase netwerk van rooi aartjies. Hy het opgehou om Teresa en Zettie met hulle huiswerk te help. Geheel en al opgehou kerk toe gaan en met sy galbrakery teen die Christendom begin. Snags voor die televisie gelê; afgekordon van alles. Dikwels gaan slaap sonder om te bad, sodat sy snags die sweetwalm aan sy lyf kon ruik. Baie oggende werk toe gegaan sonder om te skeer; die vorige dag se verkreukelde hemp en broek weer aan sy lyf.

      “My man se ouers het hulle onttrek. Behalwe destyds toe hulle afgekom het met sy dood, hoor of sien ek niks van hulle nie.”

      “Hoekom sou dit wees, mevrou Dorfling?”

      Sy sluk aan die taaiheid in haar mond. “Hulle kon Alexander nie verdra nie. En ek dink hulle het my geblameer oor my man se dood.”

      Hy skryf in die lêer.

      Die nasmaak van die kerrie kook in haar op.

      “Jou kerkverband en die besonderhede van jou predikant?”

      Hakkel. Vee ’n haarstring van haar voorkop weg en voel die koue vel van haar hand se rugkant teen haar neusbrug. “Amptelik is ek ’n lidmaat op die boeke van die NG Kerk.” Sluk die hoes terug. “Maar ek het geen kontak meer met die kerk of die predikant nie. Ek ken ook nie sy telefoonnommer nie.”

      Hy kyk wantrouig op. “Ag, kom nou, mevrou Dorfling, jy bly op ’n plattelandse dorp waar elke siel die dokter en predikant en prokureur en hospitaal se telefoonnommers uit hulle koppe ken.”

      Hoekom glo hy haar nie? Wat laat hom dink die predikant was op die lang duur bestand teen ’n besete kind wat elke diens van die lofgesang tot by die uitspreek van die seën ontwrig? Op die bank spring en hande klap terwyl die wet en geloofsbelydenis voorgelees word, in kollektetyd die bord wegslaan en histeries lag as hy luister hoe die geld wegrol.

      Wat laat hom dink sy was op die lang duur bestand teen die gemeente se renons? Draaiende koppe en fronsende gesigte as sy by die kerk instap en met Alexander in die agterste bank gaan sit. Eenmaal wou sy op die galery gaan sit, maar daar was ’n kennisgewing op die trap: Koorlede alleenlik. Seker bang Alexander bespring die orrelis en dryf haar van


Скачать книгу