Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
soveel begrip gehad. Hy het geweet hoe ek voel! En ek … ek het gedink hy verstaan. Hy het self nooit getrou nie, jy kan dus nie sê dat hy ’n oordrewe romantiese siel of so iets gehad het nie. Dit maak nie sin nie.”
“Dit is nogal romanties,” sê Sandra. “Hoe lyk die man? Wie is hy? Het jy hom al ooit gesien?”
“Nee,” sê Julie kortaf. Sy vee haar hare van haar voorkop af, haar groot grys oë steeds vol klein vlammetjies. “En dit maak ook nie saak nie. Ek wil niks van mans weet nie; níks!”
“Nie almal is soos …”
“Bly stil,” waarsku Julia skerp. “Ek wil nie sy naam hoor nie. Liewe aarde, ek het ’n nuwe lewe begin en alles gaan goed. Ek soek nie omwentelinge en herries nie. Soos ek nou leef, is perfek.”
“Jou oom Septimus het nie so gedink nie,” sê Sandra kalm. “As jy my vra, het hy dit gedoen omdat hy aangevoel het jy moet wegbreek of … wel, so iets.”
“Onsin.” Julia val in ’n stoel neer. “Hy het nooit ingemeng nie. Hy was altyd die volmaakte peetpa. Ek kon vir hom briewe skryf en alles vertel, my hart uitpraat, en hy het geluister en op sy besadigde manier raad gegee. Dit was so van my kinderdae af. Ek het hom net elke tweede jaar gesien, maar dit het nie saak gemaak nie. Tyd en afstand het nie ons verhouding geraak nie. En nou … na sy dood doen hy dít!” Haar stem is bitter. “As ek net ’n miljoen rand gehad het.”
“Wat sou dit gehelp het?” vra Sandra. “Dan het jy die hele plaas besit en dan? Sou jy alleen kon boer?”
“Nee, natuurlik nie.” Julia vleg haar vingers inmekaar, haar gesig somber. “Dis hy wat die miljoen moet hê sodat hy my kan uitkoop. Dis die oplossing.”
“Hy het dit nie. Vergeet daarvan. Nie na die droogte nie.”
“Presies.” Julia staan op en loop kombuis toe; na ’n ruk kom sy terug met twee glase koeldrank. Die ysblokkies klingel koel teen die glas. Toe sy weer sit, druk sy die koue glas teen haar warm wange.
“Jy het weer nie jou hoed gedra nie,” merk Sandra op en kyk haar vriendin streng aan. As die een wat die binnenshuise deel van hulle onderneming hanteer, kom sy selde in die son; sy word nooit vol modder nie, sy baklei nie met halsstarrige grassnyers nie. “Jy verrinneweer jou vel.”
“Ek het ’n sterk vel en jy verander die onderwerp van die gesprek.”
Sandra knik. “Kyk, dis geen probleem nie. ’n Jaar is nie lank nie. Dolf kan jou helfte van die werk oorneem. Hy het buitendien voorgestel dat ons hom as derde vennoot aanstel. Jy weet self ons kan al byna nie alles hanteer nie. Met ’n tweede bakkie kan ons uitbrei.”
“Dolf,” sê Julia afgemete. “Die blonde Adonis wat op die oomblik aan jou voete kniel.”
Sandra word nie kwaad nie; daarvoor is sy en Julia al te lank vriendinne.
“Ek is nogal lief vir hom,” sê sy gelykmatig. “Ek dink dis net moontlik dat ons sal trou.”
Julia kyk skuldig af. “Jammer, San. Dit was ongevraag. Ek is ’n verbitterde oujongnooi en jy moet my maar vergewe.”
“Oujongnooi? Jy is agt en twintig, maar soos jy jou verniel, sal jy teen volgende jaar veertig wees!”
Julia lag vir die eerste keer. “Dankie, hoor! Ek sal my wyerandstrooihoed en molvelhandskoene dra. Sal dit jou tevrede stel?”
Sandra glimlag soet. “Miskien, maar om terug te kom na jou probleem toe. Dis net ’n jaar lank, sê jy, ’n kalenderjaar. Ek is nie ten gunste van ’n los-en-vas-trouery nie, maar die hemel weet, baie mense doen dit onder die vaandel van liefde, maar met dieselfde gevolg: die skeihof na ’n jaar.” Sy kyk belangstellend na Julia. “Wat gebeur na die jaar? Gee jy jou helfte aan hom?”
Julia skud haar kop moedeloos. “Dan kan ons blykbaar doen wat ons wil. Kan jy nou sien waarom ek sê dis vergesog? Wat wou oom Septimus bereik het met sy voorwaarde?”
“Ek weet nie, maar dis wat my so interesseer. Hy moes gedink het op die een of ander manier gaan jy baat vind by ’n jaar op die plaas. Dis al waaraan ek kan dink. Miskien het hy gehoop jy kry weer vrede, kom oor jou verbittering.”
Julia byt die ergerlike antwoord wat in haar gedagtes opkom, terug en wag eers ’n sekonde of twee voordat sy antwoord.
“Miskien,” gee sy dan teësinnig toe. “Maar waarom dan die voorwaarde dat ons moet trou? Dit sou heeltemal aanvaarbaar gewees het as hy bloot gesê het ek moet ’n jaar lank op die plaas gaan bly voordat ek die grond mag kry.”
“Dit sou nie ordentlik gewees het nie,” sê Sandra ondeund. “Wat sal die mense sê?”
“Ag.” Julia se stem is smalend. “Ons is op die drumpel van die een en twintigste eeu. Wie gee om?”
“Oom Septimus,” sê Sandra kalm. “Hoe oud was hy? Sewentig?”
“Ongeveer, ja.” Julia staan weer op, te rusteloos om te bly sit. “Regtig, ek het nie hierdie soort onsin nodig nie. My lewe is weer rustig, die toekoms was beplan, alles loop soos dit moet.”
Sandra kyk op haar horlosie en spring op.
“Ek moet ry; Dolf kom my nou-nou oplaai. As ek jy is, vriendin, bel ek die man. Wat is sy naam nou weer? Malan? Bel hom en hoor wat hy dink. Doen wat die prokureur voorgestel het: gaan kyk hoe lyk die plaas. Neem ’n jaar verlof terwyl ek en Dolf die onderneming hanteer. Met die kontantdeel van die erfporsie kan ons lekker uitbrei wanneer jy terugkom.”
Julia staan net na haar en kyk, haar woede en ergernis meteens opgedroog.
“Ek word weer gemanipuleer,” sê sy, haar stem tam. “Ek is weereens uitgelewer aan ’n man, nee, twee of drie, van oom Septimus tot die prokureur tot hierdie Malan-vent. Dis al weer mans wat die toutjies trek. En net omdat ek te siek en sat is om weer ’n keer te baklei, weer hof toe te gaan om alles uit te sorteer, weer …” Sy bly moedeloos stil.
“Jy moet dit nie so sien nie,” sê Sandra simpatiek. “Jy is jou eie baas. As jy dit doen, is dit omdat jy iets daaruit gaan kry. ’n Plaas, geld. Wanneer die jaar verby is, kan jy mos jou helfte aan Malan verhuur. Dit behoort jou ’n goeie inkomste te gee vir die res van jou lewe. En ’n jaar lank kan jy daar tussen die berge gaan sit sonder om dag na dag bang te wees jy loop Wilhelm –”
“Ek wil nie sy naam hoor nie!” Julia se oë is nou swart van woede.
“Jammer,” sê Sandra, onbeïndruk deur Julia se hewige reaksie. “Maar jy weet wat ek bedoel. Dink daaroor.”
Julia bly in die sitkamer sit totdat dit later donker word en Plato sy groot kop onder haar hand inskuif en tjankgeluide maak om haar te wys hy is nogal honger en dat dit laat word.
“Ja,” sê sy moeg. “Kom ons gaan kombuis toe.” Sy buk af en druk haar wang teen sy kop. “Jy is die enigste mansmens wat ek naby my kan verduur.”
“Woef!” blaf Plato tevrede en hardloop gly-gly oor die klipvloer agter haar aan kombuis toe.
Hoofstuk 2
Tot die naweek werk Julia teen haar gewone spoed en met die intensiteit wat deel geword het van haar lewe. Dit skakel onnodige getob uit. Terwyl sy doringagtige rankplante terugsnoei of huiseienaars adviseer oor die uitleg van hulle tuine, het sy nie tyd om te dink aan haar probleme nie. Sy betrap haar egter dat sy tog saans, voordat sy aan die slaap raak, ou herinneringe probeer opdiep oor Ouderus. Sy onthou dat sy die huis misterieus en onnatuurlik groot gevind het, maar sy besef dit kan bloot wees omdat sy toe klein was.
Daar was hoë, donker gange, onthou sy, slaapkamers so groot soos hulle sitkamer by die huis, hoë beddens waarop sy moes klouter, ’n kombuis wat rokerig en vreemd geruik het, nie soos haar ma se kombuis nie. Maar meer as dit kan sy nie onthou nie. Die herinnering aan die plaas self bly vaag. Sy weet daar was diere, vir haar as stadskind ’n rariteit. Eende wat koggelend op die werf geloop het en waarvoor sy bang was, beeste, volstruise. Oom Septimus het gesê sy