Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
sy regtig dink Sandra en Dolf gaan in die huis kom woon in die jaar wat sy, Julia, weg is nie. Nee, sy oortuig haarself dis bloot omdat die huis so deurmekaar geword het dat sy niks meer kan kry wanneer sy daarna soek nie. Sy gaan haal groot vullissakke en sorteer al die geskrifte en papiere, gooi hope daarvan weg. Sy dra houers met plante uit op die stoep of na die kweekhuis langs die stoep en teen die aand se kant is sy tevrede. Selfs haar lessenaar lyk netjies, te netjies eintlik. Plato lyk ook verward – die hoop ou koerante waarop hy altyd gelê het, is weg.
Nadat sy aandete gemaak het, toe sy in haar nagklere op die bank in die skoon woonkamer sit, kyk sy peinsend na die telefoon. Sy probeer dit miskyk, dwing haar aandag terug na die tydskrif wat sy lees, maar na ’n ruk staan sy op en gaan soek in haar klerekas na die romp wat sy gedra het die dag toe sy meneer Brink gaan spreek het.
Selfs toe sy met die kaartjie wat hy haar gegee het, in haar hand sit, twyfel sy nog. Solank sy dit alles ignoreer, bestaan dit nie, was alles ’n verspotte onderbreking van haar daaglikse roetine. Maar sy kán dit nie ignoreer nie. Die nommers op die wit karton spring rond, eis om erken te word. Uiteindelik staan sy sugtend op, gaan sit agter haar lessenaar en tel die gehoorstuk van die telefoon op. Sy skakel met dom vingers, stadig en deeglik, met een oog op die kaartjie asof sy nie reeds die nommer uit haar kop ken nie.
“Malan,” sê ’n stem aan die ander kant.
Haar eerste reaksie is om die gehoorstuk neer te wil sit. Dis ’n ontegemoetkomende stem, ’n stem wat niks verraai nie.
“Julia Naudé,” sê sy dan en maak keelskoon.
“Goeienaand,” sê hy.
Sy weet glad nie wat om verder te sê nie en verwens haar impulsiwiteit. Sy moes eers mooi gedink het, alle moontlike wendinge in die gesprek gerepeteer het.
“Meneer Brink het gesê ek moet u bel,” sê sy lomp, “die prokureur aan hierdie kant.”
“Ja,” sê hy.
Sy vererg haar vir sy onbehulpsaamheid. “U is natuurlik bekend met die verregaande voorwaardes in oom Septimus se testament.”
“Ja, ek is.”
“Ek het gesê ek weier om eens daaroor te dink,” sê sy bitsig. “Niemand kan dit van my verwag nie. Ons leef nie meer in die Middeleeue nie. Wat my betref, kan die plaas dadelik verkoop word en die geld na liefdadigheid gaan.”
“Ek begryp.”
Vir die eerste keer is sy bewus van emosie in sy stem. Wat dit is, kan sy nie sê nie, maar daar is iets. Die stem is nie meer so onbetrokke nie.
“Vanselfsprekend,” gaan sy voort. “Niemand kan van my verwag om so ’n belaglike voorwaarde na te kom nie.”
“Nee,” sê hy.
Sy is lus en beëindig die gesprek daar en dan. “Meneer Brink dink dit sal ’n goeie plan wees as ek eers kom kyk hoe die plaas lyk,” sê sy. “Dis die enigste toegewing wat ek bereid is om te maak. Watse verskil dit gaan maak, gaan my verstand te bowe.”
“Dis ’n mooi plaas,” sê hy.
“Wat het dit met die prys van eiers te maak?” vra sy bitsig. “Ek het ’n huis hier, en ’n florerende onderneming. Ek soek nie ’n stuk grond nie. Hoe mooi dit is, is dus nie ter sake nie.”
“Wanneer wou u kom?” vra hy beleef en hy ignoreer haar onvriendelikheid.
Sy woorde haal die wind uit haar seile. “Ek weet nie – nie voor volgende naweek nie. Ek kan Vrydagmiddag afvlieg en Sondag terugkom.”
“Dis in orde. Sal u my die presiese tye laat weet? Dan sal ek op die lughawe wees.”
“Dis net ’n mors van geld,” sê sy stuurs. “En tyd. Ek het beter dinge om te doen.”
Hy antwoord nie hierop nie. Op die agtergrond hoor sy ’n radio speel.
“Ek sal laat weet,” sê sy. “Goeienag.” Sy sit die gehoorstuk neer en staar na die instrument asof dit gevaar inhou. Sy moes nie gebel het nie. Iets het in beweging gekom wat liewer in die kiem gesmoor moes geword het. Dan haal sy haar skouers op en gaan maak koffie. Dis nie vir die Malan-man wat sy dit gedoen het nie, ook nie vir die prokureur of selfs vir haar eie gemoedsrus nie – dis vir oom Septimus.
Die plaas was sy lewe, dit weet sy. Dit was sy gesin, sy geliefde. Wanneer sy so daaraan dink, word die situasie draagliker. Miskien was dit die enigste manier waaraan hy in sy siek toestand kon dink om sy peetkind aan sy geliefde plaas voor te stel. Miskien, juis omdat hy nooit self getrou het nie, het hy nie besef watter groot stap so iets is nie. ’n Transaksie, het hy seker gedink, ’n manier om twee mense elkeen ’n erfporsie te gee.
Sy skud haar kop. Dis verspot. Oom Septimus was miskien eksentriek, maar hy was ’n nugter mens, modern in sy denke. En … hy het haar die indruk gegee, al die jare wat sy hom geken het, dat hy haar welsyn op die hart dra. Waarom dan? Waarom?
Sandra dink dis ’n uitstekende plan dat sy die plaas gaan bekyk. “Ek sê al lankal dis tyd dat jy wegkom,” sê sy. “Ek het van die begin af gesê dis nie ’n goeie ding dat jy hier aanbly nie. Die huis is tog vol herinneringe, jy is nog in dieselfde stad as …”
“Ek gaan net vir die naweek,” antwoord Julia. “Moenie gevolgtrekkings maak nie. Ek gaan net kyk.”
Sandra, altyd so keurig versorg, kyk Julia krities aan. “En dra tog hierdie week handskoene wanneer jy in die grond krap. Jy wil darem ’n goeie indruk maak.”
“Nee, ek wil nie. Wat skeel dit my wat die man van my dink?”
“Miskien moet jy nuwe klere koop. Wanneer laas het jy iets moois gekoop? Ek praat nie van hemde en langbroeke nie, ek praat van iets vrouliks.”
“Sandra,” sê Julia afgemete, “jy laat my klink na ’n agtiende-eeuse prinsessie wat vir die eerste keer aan haar beloofde prins voorgestel gaan word. Ek gee nie ’n duiwel om wat Malan van my dink nie. My dae van dinge doen om ’n man te plesier, is lankal verby, soos jy goed weet.”
“Ja,” sug Sandra. “Ek weet, en ek sê nog dis die grootste skade wat hy jou aangedoen het. Jy kán mooi wees en jy ís vroulik, maak nie saak hoe hard jy probeer om anders te wees nie.”
“Los my uit,” sê Julia en Sandra gooi haar hande in die lug.
Toe Sandra Julia Vrydagmiddag lughawe toe neem, is sy bly om te sien dat Julia ten minste netjies aangetrek is. Ook haar naels is skoon – kort, maar ten minste skoon. Sy dra ’n wit langbroek met ’n donkerblou baadjie oor haar skouer. Haar hare is skoon en nie soos gewoonlik van haar gesig af vasgemaak nie; dit hang los en word met ’n fluweelband van haar voorkop af weggehou.
“Sien jou Sondagaand,” sê sy toe sy vir Julia aflaai. “Geniet dit.”
“Ha!” is al wat Julia hierop te sê het.
Die vlug is lank, omdat Julia in Port Elizabeth moet oorklim na ’n ligte vliegtuig wat vir haar lyk asof dit nooit eens oor ’n heuweltjie sal kan lig nie, laat staan ’n bergreeks. Maar dit doen dit wel, en toe die son begin sak, klim sy uit en kyk soekend na die klompie mense wat om die klein lughawegeboutjie rondstaan.
Daar is ’n paar mans in kortbroeke en oopnekhemde. Aangesien sy geen benul het hoe oud André Malan is nie, loop sy huiwerig na ’n man wat eenkant staan, sy hare yl gekam oor ’n breë pankop. Net voordat sy haar hand uitsteek om hom te groet, storm iemand by haar verby en omhels die man. Sy staan vinnig terug, verbouereerd en verleë.
“Juffrou Naudé?” sêvra iemand agter haar en sy swaai om, so vinnig dat sy hom omtrent omstamp met haar naweektas wat sy sommer in haar hand dra.
“Ja.” Sy steek haar hand uit en skud syne. Hy lyk glad nie soos sy haar hom voorgestel het nie. Sy is self lank, maar hy is ten minste ’n kop langer as sy. Hy is ook nie geklee in ’n kortbroek nie – hy dra ’n ligte, baie netjiese langbroek, ’n wit hemp en ’n beige linnebaadjie. Sy dik, donker hare groei sterk van sy voorkop af en hy dra ’n sonbril, iets