Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
is verbaas. “Ek sou graag meer van die plaas wou sien. Ek het vanoggend hier bo uitgeklim.”
“Ek weet,” sê hy. “Ek het jou gesien.”
Sy lig haar wenkbroue. “Inderdaad?”
Hy staan op. “Ons kan ry wanneer jy reg is.”
Sy volg hom en dié keer ry hulle met die bakkie. Eers neem hy haar met die grondpad langs soos hulle die vorige aand ingekom het, dan draai hy af. Die hele tyd verduidelik hy, wys vir haar waar die oorspronklike grens was, watter kampe vir volstruise of angorabokke of beeste is, wat lusern is, wat nie.
Toe hy op ’n gegewe punt langs die rivier ry, kyk sy na hom. “Is ons nou op my grond?”
Hy glimlag effens. “Ja, die rivier is joune.”
“Hou stil, asseblief,” sê sy, en hulle klim uit. Sy stap tot op die wal van die stroompie en staan daarna en kyk. Dis nie diep nie, maar die water kabbel helder oor die klippe. Sy gee ’n laggie, trek haar skoene uit en klim versigtig af sodat die koue water oor haar kaal voete loop.
“My eie rivier,” sê sy peinsend. Sy draai terug en kyk na hom wat nog op die wal bly staan, sy oë verberg agter sy sonbril. “Eintlik kan jy nie stry nie,” sê sy. “’n Mens kan jou eintlik doodlag oor die hele ding. As ek net ’n jaar lank met jou getroud bly, is hierdie rivier myne. En wat dan? Moet ek vir my ’n hartbeeshuisie hier oprig en hier kom bly? Wat maak ek met my rivier wanneer die jaar verby is? Waarom het oom Septimus dit nie ook voorgeskryf nie?”
Hy kom effens nader, gaan sit op ’n groot klip en steek ’n sigaret aan. “Ek kan dit by jou huur, of jy kan hier ’n huis bou.”
Sy loop heen en weer in die koue water; die klippe is glad en rond onder haar voetsole.
“En wat gaan die gemeenskap dáárvan dink? Meneer en mevrou Malan het ’n jaar lank saamgewoon en nou is hulle bure. Elkeen in sy eie huis, op sy eie stuk grond. Jy moet erken dis lagwekkend.”
“Dit sou gewees het as daar nie soveel op die spel was nie. Vir jou is dit niks meer as ’n tussenspel nie, vir my is dit … my hele lewe, die enigste lewe wat ek ken.”
Sy bly staan, haar hande op haar heupe. “Moenie op my gevoel speel nie,” sê sy waarskuwend. “Die jare dat ek my deur ’n man laat inloop het, is verby. Ek vertrou julle nie.”
“Ek kan dit sien,” sê hy sag. “Sal ons verder ry?”
“Nee,” sê sy koppig. “Dis lekker hier. Ek hou van my rivier.”
Hy protesteer nie. “Watse werk doen jy?” vra hy na ’n ruk.
Sy stap steeds heen en weer; buk nou en dan af om ’n mooi klippie op te tel terwyl sy vertel.
“Ek hou daarvan,” sluit sy af. “Ek hou van vroetel in die grond en om goed te plant en dit te sien groei. Ek is my eie baas en ek vind dit bevredigend om nie tussen mense te werk nie. Ek verkies plante en bome se geselskap.”
“Die tuin hier is verwaarloos,” merk hy op. “Miskien het jy gesien. Dis net die rose wat floreer.”
“Ek het gesien, ja. Leë beddings met ’n paar verpotte jakobregops en gousblomme. Ek haat gousblomme.”
“Hoekom?” vra hy op sy stil manier.
“Hulle stink.” Sy kom nader gestap en gaan sit op ’n klip ’n ent van hom af. “As ons trou,” vra sy en gooi die klippies van een hand na die ander, “hoe doen ons dit?”
“Ons dominee sal die huweliksbevestiging waarneem.”
“Nee.” Haar stem is weer skerp. “Ek bring nie my siel in die gedrang nie. Ek gaan nie ’n klomp goed belowe wat ek nie bedoel nie. En dit voor God.”
“Miskien sou dit die beste wees as ek Pretoria toe kom,” sê hy. “Ons kan in die landdroskantoor trou en niemand hier hoef iets te weet nie.”
“Dis nie wat jy wou gehad het nie,” sê sy.
“Nee,” erken hy. “Maar ek het ook nie voorsien hoe ek sou voel nie; dit was soos om te hoor jou hele lewe gaan van jou weggeneem word.”
Sy kyk hom ondersoekend aan. “Dis wat ek die minste van alles verstaan. Dis wreed. Waarom het oom Septimus dit aan jou gedoen?”
Hy skud net sy kop. “Ek weet nie.”
Sy tel weer haar skoene op en trek hulle aan. “Ons kan maar ry.”
Die res van die middag ry hulle rond en hoe meer sy sien, hoe magteloser voel sy. Waarom is dit nie ’n lelike, verwaarloosde plaas nie? dink sy bitter. Dit sou dit soveel makliker gemaak het. Waarom is hy nie ’n brutale, selfsugtige bees van ’n man nie? As sy hom van die staanspoor af kon gehaat het, was dit makliker. Sy wil nie vir hom jammer voel nie, maar sy kan nie help om simpatie te hê met sy situasie nie. Waarom het die plaas en veral die huis onmiddellik so ’n aantrekkingskrag vir haar? Waarom voel sy so tuis, is sy klaar besitlik oor “haar” rivier?
Sondagmiddag toe hulle terugry na die lughawe toe, weet sy dat sy nie langer kan baklei nie. Om haar goedjies in te pak, om ’n laaste keer in die lang, donker gang af te stap, was moeilik. Sy wil nie weggaan nie. Sy wil elke oggend op die stoep uitstap en kyk na die ongelooflike uitsig, die panorama van lappe groen en berge, van bos en klip en rivier. In minder as twee dae het sy ’n rus gevind waarna sy jare lank al soek en sy wil dit nie prysgee nie.
“Dis goed,” sê sy vir hom toe hulle ry. “Ek sal dit doen.”
“Sal jy met my trou?”
“Jy vra dan so mooi,” sê sy sarkasties. “Ja. Laat ons dit maar doen en agter die rug kry. Dis oor twee weke Kersfees. Gaan jy weg?”
“Nee.”
“Ek gaan na my ouers toe,” sê sy. “Net ’n paar dae lank oor die Kerstyd. Sal ons dit direk daarna maak? ’n Kalenderjaar, het hulle gesê. Ons kan dit netsowel van Januarie af maak.”
“Dis goed,” sê hy. “Reël dit vir die Saterdag na Kersfees. Ek sal opvlieg. Kan jy alles reël?”
“Ja. Maar ek sal met my motor hierheen kom; ek sal baie bagasie hê. Meubels en linne hoef ek seker nie te bring nie.”
“Nee,” antwoord hy. “Tensy jy natuurlik goed het waarsonder jy nie kan leef nie.”
“My hond,” sê sy dadelik. “My musiek.”
“Natuurlik.”
Op die lughawe staan die ligte vliegtuig wat sy moet haal al op die aanloopbaan en sy sug by voorbaat toe sy dink aan die lang reis terug. Sy steek haar hand uit en skud syne.
“Dankie vir die naweek. Ek sal jou bel en op die hoogte hou van die reëlings. Jy kan jou prokureur in kennis stel en ek sal met myne skakel. Ek veronderstel hulle roer nie voordat hulle ’n afskrif van ons huweliksertifikaat in hulle hande vashou nie.”
Hy glimlag effens. “Nee, seker nie. Ek hoop jy reis veilig terug.”
Sy knik en stap na die vliegtuig sonder om weer om te kyk. Sy weet hy staan nog daar. Toe sy al sit en deur die venstertjie kyk, kan sy nog sy skraal gestalte in die son sien staan, sy hand effens opgelig om die lig van sy oë af te skerm. Selfs toe hulle opgestyg het en die vliegtuig ’n laaste draai maak voordat dit begin klim, verbeel sy haar sy kan hom nog sien staan.
Hoofstuk 4
“Ek was ’n lafaard,” sê Julia oor en oor vir Sandra in die volgende paar weke terwyl sy inpak en organiseer. “Net so! Twee dae, en ek kapituleer heeltemal! Omgeval soos ’n strooihalm in die wind. Sonder slag of stoot.”
Terug in haar huis en bekende omgewing is haar besluit selfs meer onverklaarbaar, maar wanneer sy aan die plaas dink, weet sy sy kan nie anders nie.
“Dit het ’n bekoring wat ek nie kan beskryf nie,” probeer sy vir Sandra verduidelik.