Soen. Jan Vermeulen
ection>
Soen
Jan Vermeulen
Tafelberg
Hierdie boek is bekroon met die Silwer Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2017
Vir Diana, wat weer skryf in my losgemaak het.
“Graadtwaalf, sal jy die liefde van jou lewe met die dood dreig as hy of sy nie jou liefde kan beantwoord nie?”
Juffrou Scarlett R. Reynolds kyk na hom terwyl sy die vraag vir die klas vra, maar die kilheid in haar andersins warm, bruin oë laat Peet Rautenbach voel sy stel slegs in sy antwoord belang. Sy staan so naby hom dat hy die wilde polsslag in haar nekaar kan sien, ook die voglagie op haar sensuele lippe. Die ronding van haar bors in die halfdeursigtige sigeunerrokkie laat hom na ’n stukkie houtskool en skilderkwas verlang.
komaan peet sy sal in jou gesig burp as jy vir haar sê hoe jy oor haar voel
Dis nie ’n helder stem nie. Dis eintlik geen stem nie. Tog ken Peet die stem al sy lewe lank. Hy verstel aan sy skooldas. Dis ’n drukkende warm somersdag. Boonop wurg die das hom en broei sy lyf in die verpligte langbroek en leerlingraadbaadjie.
Die veelkleurige rokkie hip-hop om haar knieë toe sy na die tafel voor in die klas loop. Die fyn stringe klokkies klingel met elke tree om haar heupe. By die tafel swaai sy om. Haar koringblonde kartels swiep om haar gesig. “Julle het seker almal hierdie berig in gister se Burger gesien.” Sy skakel die dataprojektor aan.
Teen die wit skerm verskyn die opskrif: NOG ’n BLONDE STUDENT VERDWYN.
“Wat dink julle het van haar geword?” vra juffrou Reynolds. Sy flits ’n paragraaf teen die wit skerm:
Chanté Locke
Port Elizabeth. – ’n Woordvoerder van die SAPD het bevestig dat ’n amptelike dossier by die Buro vir Vermiste Persone geopen is vir die twintigjarige Blossom Wait wat sedert ’n wilde Goth-partytjie verlede naweek by Willows soek geraak het.
“Die skindertonge sê haar vriend het haar dikwels met geweld gedreig wanneer sy aandag van ander mans kry,” gaan die juffrou voort. “Het hy sy dreigement uitgevoer? Of is hier ’n monster in ons stad wat jong, blonde studente opvreet? Voor julle besluit, kyk hierna.”
’n Volgende paragrafie verskyn teen die wit skerm:
Dit is hierdie week ’n jaar gelede dat nog ’n blonde PE-meisie, Lily Palmer, proefstudent by Algoa Hoër, spoorloos verdwyn het.
“My voorganger,” herinner sy die klas. Sy druk weer die knoppie op die afstandbeheer.
Die skoolhoof van Algoa Hoër, meneer Herman Coetzer, het aan ons redaksie gesê Lily Palmer se verdwyning word steeds deur die personeel en leerders betreur. Coetzer, wat self twintig jaar gelede ’n studentedogter in ’n grusame motorongeluk verloor het, het sy meelewing teenoor beide die meisies se ouers betuig. “Niks kan die verlies ophef nie. Die pynlike gemis raak net erger. Want die liefde vergaan nooit.”
“Wat kan die verband tussen Lily en Blossom se verdwyning wees?” vra juffrou Reynolds. Sy lyk bleek in die gesig. “Skryf vir my ’n opstel daaroor. Om julle kreatiewe denke te stimuleer, luister eers goed na hierdie liefdeslied.”
Sy skakel ’n CD-speler aan.
Peet herken die Meat Loaf-treffer die oomblik toe die kitaar soos ’n brullende motorfiets lostrek. Die klavier en ander kitare val ook in voor die agtergrondstemme opklink. Eindelik sing die blok van ’n Meat Loaf in sy operastem: “And I would do anything for love …”
Peet se selfoon vibreer teen sy bobeen.
Hy haal die foon onder beskerming van sy bank uit sy sak. Met sy duim vee hy oor die venstertjie. Loer. Dis ’n WhatsApp van Bennie Jantjies wat ’n paar banke skuins agter hom sit: Watter gogga het Reynolds se galblaas stukkend gebyt?
Peet antwoord met ’n glimlaggie.
Nog ’n WhatsApp land. Dié keer is dit Moira Kolyn: Hi luv. Jy ht nogi 1 keer uit jo eie gesê jy lief my ook ni. En ons is al 2 mnde saam besef jy?
Hy stuur vir haar ’n blommetjie. Oomblikke later kom Bennie se reaksie: Wel, as die juffrou se oë koeëls kon skiet, het jy nou vol lood in die lykshuis gelê en bibber.
Peet glip sy foon terug in sy sak, want hy sien juffrou Reynolds gluur hom aan. Hy probeer haar met sy oë kalmeer, probeer vir haar vertel hoe hy oor haar voel, soos wat hy al die afgelope paar maande elke dag vir haar met sy oë probeer oortuig. Sy bly so gevoelloos soos ’n sandbeeld op die strand na hom kyk.
Toe Meat Loaf sweer: “But I won’t do that!” skakel sy die CD-speler af. “Vertel my in jou opstel wat het van die twee blonde studente geword. Wie laat hulle verdwyn en hoekom? Skryf ook vir my jou definisie van ware liefde neer.”
“Hoeveel woorde, Juffrou?” vra iemand van agter in die klas.
“Duisend vyfhonderd.”
“Duisend vyfhonderd!” kreun Moira Kolyn.
Juffrou Reynolds ruk haar lyf regop. “Het ek gesê duisend vyfhonderd? Ek het twee duisend bedoel. Handgeskrewe.” Met elke woord sweepslag haar stem. Sy het sterk, helderwit tande wat effens oneweredig lê, maar selfs dít is vir hom mooi. “Die opstel is vir Maandag,” gee sy die opdrag ’n steiler opdraand.
“Bitch,” mompel Tom Kruger agter hom.
donner die vent
Peet se das kry lewe en krul soos ’n slang stywer om sy keel, so styf dat sy nekare swel. Hy pluk die boonste knoop van sy hemp los. Teen dié tyd is sy skraal lyf natgesweet in die baadjie. Hy voel sy lyf se wasem teen sy vel. Sy kop word ’n dobberende heliumballon. Hy smyt sy boeke in sy groen rugsak.
Juffrou Reynolds sweef by hom verby op pad na juffrou Bekker, bynaam Jumbo, die departementshoof wat haar van agter in die klas sit en beoordeel. Die alsiende blink ogies van die kringtelevisie se kamera teen die plafon volg haar, kan Peet sien. Blykbaar volg die hoof se oë haar ook van waar hy in sy kantoor agter sy massiewe lessenaar sit, want sy stem stuit haar oor die interkom: “Juffrou Reynolds. Na my kantoor toe. Dadelik.”
“Yes!” jubel Tom gedemp agter Peet. “Bitch!”
Juffrou Reynolds byt op haar onderlip terwyl sy haar handsak en aktetas voor in die klas gaan opraap. Sonder om na die graadtwaalfs te kyk, vlieg sy met die geklingel van fyn klokkies om haar heupe by die deur uit. Op dieselfde oomblik kondig die klok skril die einde van die skoolweek aan.
Dit donderweer soos almal boeke wegpak, stoele op die plankvloer terugskuif en aan die babbel gaan, met die getwiet van selfone en tablette tussenin.
Peet staan op. Hy draai om na Tom. “Het jy haar ’n bitch genoem, Tom?”
“Ja.” Die amateur swaargewig-bokskampioen van die Oos-Kaapse skole verrys tot sy volle 1.9 meter. Hy kyk af na Peet: “Want sy ís ’n bitch.”
“Tom.” Peet voel hoe sy mond uitdroog. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Bennie hom grootoog aangaap. Skuins agter Bennie hurk Moira in haar korter-as-wettige rokkie langs haar tas. Ook sy kyk op na hom. “Tom,” sê hy, “trek asseblief jou woorde terug.”
Tom het die breedste glimlag in die ganse skool. “Of anders?”
“Of anders kan ek jou harder laat val as wat jy nog ooit geval het.”
“Jy?” Tom koggel Peet met die wysvinger teen die voorkop. “Dink jy ek skrik vir jou omdat jou pa en ma pastore is, hoofseun? Ons almal weet jy het nie hulle heilige gene nie. Ons weet hulle het jou op die weeshuis se stoep opgetel. Kaalgat in koerantpapier.”
Peet hoor hoe word asems ingesuig.
nou eet hom nou
Tom skrik vir seker ook nie vir die vuishou wat na hom toe snel nie, of vir die groen what-would-Jesus-do armbandjie om Peet se dun gewrig nie, want hy probeer nie eens keer nie. Die vuis tref hom in sy diafragma. Hy knak dubbeld en blaas