Soen. Jan Vermeulen

Soen - Jan Vermeulen


Скачать книгу
wat bedoel jy met die woorde onderaan, Peet?” vra die hoof.

      Peet voel ’n das stywer om sy keel span, al het hy ’n gholfhemp aan waarvan al die knope los is. “Dit was ’n kunsopdrag van meneer Buthelezi. Ons moes iets teken met daardie woorde, dis al.”

      “Toe teken jy vir juffrou Reynolds. Kaal.”

      “Maar ’n mens sien niks.”

      “Niks lyk nie so nie,” sê die hoof. “Nogal met ’n mes dreigend bo haar.”

      “Aan die ander kant,” sê sy pa. “Peet kon die mes se lem ingedryf in haar liggaam geskets het, maar hy het nie.” Die pastoor se oë glinster. “Hitchcock het eenkeer gesê: ‘There is no terror in the bang, only in the anticipation of it.’” Hy draai na sy seun. “Jou skets is in werklikheid ’n kunswerk. Well done.”

      “Buitendien kan dit net sowel Scarlett Johansson in my sketse wees,” verdedig Peet ook.

      “Scarlett Johansson?” Meneer Coetzer lyk nou effens van stryk af.

      “Van Avengers, Meneer. Sy en juffrou Reynolds kon ’n identiese tweeling wees.”

      “Toegegee,” sug meneer Coetzer. Hy suig sy wange diep in, asof hy nuwe woema soek. “Maar hierdie sketse is ongetwyfeld almal van juffrou Reynolds, en al hierdie dinge dui op ’n obsessie met haar. Selfs seksuele teistering en ’n doodsdreigement. Dit is haar interpretasie, met goeie reg.”

      “Nee, Meneer.”

      “Dis hoekom sy vandag in die klas gevra het of jy die liefde van jou lewe met die dood sal dreig as hy of sy nie jou liefde beantwoord nie. Dis ook hoekom julle die opstel vir Maandag met die hand moet skryf. Sy toets jou.” Meneer Coetzer lyk nou so beheersd soos ’n soplepel. “Juffrou Reynolds is van plan om ’n klag teen jou en die skool te lê. Ek moes vandag wal gooi om haar te kalmeer.”

      Peet skuif rond op die bank. “Meneer, al word ek ’n miljoen jaar oud, sal ek haar nooit dreig of seermaak nie. Dis ’n moeder van ’n misverstand hierdie.”

      Meneer Coetzer skuif die sketse een vir een terug in die lêer. Hy lyk verlig toe die laaste klanke van die klavierkonsert wegsterf. “Ek sê jou wat, Peet. Ek gee jou grasie tot Maandagoggend voor skool om goed oor alles na te dink. Dan kom spreek jy my in my kantoor. Onthou net, dreigemente van hierdie aard word in ’n ernstige lig beskou.”

      drolneus

      * * *

      “Ek het nie die sketse in haar tas geplant nie.” Hy sit saam met sy pa en ma om die swart marmertoonbank in die kombuis, die pastasmaak nog in sy mond. Die perkoleerder gorrel soos oupa twee jaar gelede daar in die agterste kamer op sy sterfbed gedoen het. Die aroma van egte, vars moerkoffie vul die kombuis, maar Peet het vir hom ysige lemoensap geskink.

      “Miskien wil iemand jou in die moeilikheid bring,” sê sy ma. “Dalk iemand wat jaloers is op jou. Of ’n vyand. Het jy vyande, Peet?”

      Sy pa se blou oë flits. “Maar Mamma, Petrus hét die sketse gedoen en die suggestiewe sin in die juffrou se toets geskryf.”

      Peet pluk sy glas so heftig nader dat van die lemoensap oor die rant spat. “Wel, ek kon ’n veel rowwer sin met penetreer gemaak het.”

      “Peet,” sug sy ma en vee die toonbank voor hom droog.

      “Sit jy in die klas met sulke gedagtes oor jou juffrou?” vra sy pa.

      Peet hou die glas nou in albei hande vas. “Hoe ook al, ek het nie bedoel om haar te dreig nie. Pa het self erken dis ’n kunswerk.”

      Sy pa neem sy hande met die glas en al in syne. “Daar is ’n Bybelteks wat sê die goeie wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die kwade staan my by. Kyk in my oë sodat ek jou gees kan optel. Peet, teister jy jou juffrou?”

      “Nee, Pa.” Behalwe met my oë en my gedagtes.

      “Is jy verlief op jou juffrou?”

      “Pappa!” berispe Ryna haar man.

      “Sou dit sonde wees?” vra Peet.

      “Dit hang af.” Sy pa laat los sy hande. “Die liefde handel nie onwelvoeglik nie.”

      “Ek het niks verkeerds gedoen nie, Pa.”

      “Nog nie,” brom sy pa.

      Sy ma pak die skottelgoed in die skottelgoedwasser. “Maar ek kan verstaan dat die juffrou bang is,” sê sy. “Verlede jaar verdwyn haar voorganger spoorloos. En ek lees in gister se Burger ’n student het ná ’n wilde partytjie verdwyn. Het julle dit ook gesien?”

      “Ek het dit gesien,” sê Peet.

      “En jy, Pappa?”

      “Nie gesien nie,” mompel haar man.

      Sy draai na hom. “Haar naam is Blossom Wait, Pappa.”

      “Jy laat dit klink of ek haar moet ken, Mamma,” antwoord hy in sy hoë preekstem. “Maar nee, ek het eerlikwaar geen idee nie.”

      Peet voel skielik dapper. “Terwyl ons so van eerlikwaar praat, daar’s iets wat julle vir my ook eerlik moet sê. Kyk in my oë, Pa.”

      Ryna lyk soos Lot se vrou waar sy voor die skottelgoedwasser kniel en omkyk.

      “Kon julle regtig nooit uitvind wie my biologiese ouers is nie?”

      “Ons het wel probeer,” antwoord sy pa dadelik. “Die polisie het ook probeer. Dit was die koerante vol. Selfs oor die radio.” Hy kyk na sy vrou. “Maar ons kon nie uitvind nie. Nè, Mamma?”

      “Nee,” bevestig sy voor die skottelgoedwasser.

      “So julle kon ook nie weet watse soort mense hulle is nie, behalwe dat hulle die soort is wat ’n baba in koerantpapier op die weeshuis se stoep neersit. Julle het ’n groot kans met my gewaag.” Hy drink sy lemoensap met een teug op. “Ek bedoel, ek dra nie julle gene nie. So julle kon nie weet wat julle kry nie.”

      ’n Glimlag sprei oor die pa se gelaat. “God het jou vir ons gegee. Dis goed genoeg vir ons om te weet. En nou is jy wat ons betref ’n volbloed Rautenbach. Koninklike familie. Jy moet weet, Peet, die Rautenbachs was reg deur die eeue lojale, hegte familiemense. Jy kan Oostenryk se geskiedenis gaan oplees. Ons is vandag nog dieselfde familievoëls.”

      “Peet, jy het lanklaas sulke vrae gevra,” merk sy ma op terwyl sy die skottelgoedwasser se deksel toeknip. “Het iets gebeur?”

      “Sommer net iemand wat my probeer slegsê het.”

      “Jy moenie jou laat boelie nie,” sê sy pa. “Jy is ’n koningskind.”

      Peet staan bewerig op.

      “Onthou een ding,” sê sy pa. “Ons is jou gesin. Wat ook al gebeur, wat jy ook al doen, of nie doen nie, ons bly jou gesin. Ons bly lief vir jou deur dik en dun. Ons is Rautenbachs.”

      “Dankie. Dit weet ek darem vir seker. Al het julle my so amper laat twyfel in die sitkamer.” Hy stoot die hoë stoeltjie tot teen die toonbank. “Ek gaan nou huiswerk doen.”

      Halfpad met die wenteltrap op land ’n WhatsApp op sy foon. Moira. Hy gaan sit op die trap en lees: Is dt oor ek jo nie sx wo gee ni? Ek wil. Ekt nt gesê dt mut special wees. Ekt gesê wag tot ek 18 is. Dis oor 3 weke. Kon jy ni eens so lank wag vi my ni hmmm?

      Hy antwoord dadelik: Dis nie dit nie.

      No wt dn? Is da imnd andrs? Sê my asb.

      Nee. Nog nie, wil hy tik, maar bedink hom.

      Haar volgende boodskap vlieg in: Ek sl vi jo wag ma nt vi 3 weke. Dn sl ek joue wees vi altyd + altyd. Ma as jy my nie kom vat ni, muni huil as ek my liefde vi imnd andrs gee ni.

      Hy prop die selfoon terug in sy sak, hardloop verder met die spiraaltrap op en gaan kyk in die spieël teen sy kamermuur. Soos wie lyk hy, pa of ma? Wie se skraal lyf het hy? Wie se blou oë? Wie se swart hare?


Скачать книгу