Soen. Jan Vermeulen
met ’n frons gekonfronteer. Daarom verduidelik hy: “My meisie het foto’s van haarself vir my gestuur. En as ek julle laat kyk … nee, sy verdien dit nie.”
“Naakfoto’s?”
“Soort van, ja.”
Die uitgestrekte hand word onttrek. “Ons respekteer jou dat jy haar eer beskerm.” Die hand vorm ’n vuis met wit kneukels. “Nè, Mamma.”
“Absoluut.”
Peet laat verdwyn die foon weer in sy sak. “Ek sal alles wat onrein is, self afhaal.”
Die pa kom met ’n sagte glimlag orent. “Nou moet ek verder gaan voorberei vir Sondag.” Hy soen sy vrou teen die voorkop en loop fluitend – een of ander gospellied –studeerkamer toe.
“Soen hy Ma darem nog partykeer op die mond?” vra Peet.
“Koffie?” vra sy.
“Eerder koue melk, asseblief.”
Peet volg haar kombuis toe.
So ruik ’n volwasse vrou. Warm. Duur parfuum. Velroom.
“Hoe voel jy oor juffrou Reynolds?” vra sy terwyl sy die perkoleerder met filterwater vul en vir hom ’n glas koue melk skink. “Jy sit soveel gevoel in elke lyntjie wat jy van haar trek.”
Hy gaan sit op een van die hoë stoeltjies langs die toonbank en leun met sy elmboë op die swart marmerblad, dankbaar vir die kalmte wat altyd van sy ma na hom toe uitstraal. Genoeg kalmte dat hy met haar oor alles kan praat. “Ek gaan met juffrou Reynolds trou.”
Ryna skakel die perkoleerder aan. “Is daar iets tussen julle?”
“Nog nie, maar ek kan nie die gevoel verhelp nie. Nes ’n mens nie ’n griepgevoel kan verhelp nie.”
“Hoe lank voel jy al so?” vra sy.
“Van die eerste dag dat sy in die klas gestap het. Met klokkies om haar heupe.”
“Jy sal geduldig vir haar moet wag. Vir nog ’n paar jaar ten minste.”
“Ek weet nie of ek sal kan nie. Ek haat elke oomblik sonder haar.”
“Die liefde hoop en verdra alles,” gee sy ’n Bybelantwoord, maar klink nie prekerig nie, eerder deurleef. “Sien jy kans, Peet?”
“Dit voel of ek twee mense is, Ma. Die een sal hoop en wag, die ander wil breek en gryp en vloek en lieg om haar in die hande te kry. Ek raak bang vir daardie ek.”
Sy pak vir haar ’n koffiebeker uit.
“Dis iets reals, Ma. Soos iemand real.”
Sy trek die suikerpot nader. Vingers van fyn porselein.
“Ma weet, partykeer as ek gaan lê, dan voel dit of ek eers die ander ek aan die slaap moet maak, anders kan ekself nie slaap nie. Partykeer voel dit of die ander ek uit my gaan en vir my sit en kyk as ek wil slaap.”
Melk in die mikrogolf.
“Ek praat al letterlik teë met hierdie ander ek. En ek doen dinge. Vandag het Tom Kruger gesê juffrou Reynolds is ’n bitch en julle het my by die weeshuis opgetel. Voor ek my kon keer, slaan ek hom. Dis asof iemand in my kop my uitgedaag het om dit te doen.”
’n Pakkie soetkoekies verskyn uit die kas; die soort met die taai, rooi konfytgesiggies wat al van kleintyd sy gunsteling is. “Onthou jy nog vir James?” vra sy.
hier kom dit nou
“Wie’s James?” hou hy hom dom.
Sy maak die pakkie koekies oop. Skud ’n klompie in ’n kristalbak uit. “Jou denkbeeldige maatjie toe jy vier jaar oud was. Onthou jy, jy het gesê James is eintlik jou boetie wat presies nes jy lyk. Oral waar jy gegaan het, was hy saam met jou. As jy iets breek, het jy gesê dit was James.”
Hy kraak die eerste gesiggie-koekie tussen sy tande. “Ek kan net vaagweg so iets onthou.” Hy is seker hy oortuig haar nie. Hy sien dit in die groen bewegings van haar oë. “Wat het van hom geword?” vra hy nogtans en neem ’n sluk koue melk.
“Jou pa en ek en nog beraders het gebid.” Sy skink haar koffie. “Toe gaan James weg.”
Nog ’n koekie.
“Is James terug?” vra sy.
pas nou op wat jy antwoord
Hy lag sodat sy senuwees kan bedaar. Hy het nog altyd gedink hy kan enigiets met sy ma bespreek, maar nou strem iets hom. “Ek’s darem nie meer vier nie,” antwoord hy.
“Nee, jy is nie.”
“Het Ma ook ’n denkbeeldige maatjie gehad toe Ma klein was?”
“Maar nie toe ek klein was nie.” ’n Blos huiwer oor haar wange.
“O ja. Ek onthou vir Erika, Ma se babapop in die pienk rokkie. Sy het presies nes ’n regte mensie gelyk.”
“Dit was juis die idee dat sy werklik moes lyk.”
“Sy het mos haar eie babastoeltjie in die kombuis gehad.”
Ryna glimlag en knik. “En haar eie kamer.”
“Ek kan onthou hoe Ma haar altyd in die gesig gesoen het, soos vir ’n regte baba. Dit was soos dood in die huis toe julle haar weggegee het.”
“Ja, dit was.” Ryna gaan sit oorkant hom en neem self ook ’n koekie.
Hy voel verlig. Hy kon die gesprek swaai.
“Erika was die sielkundige se raad,” sê sy ma sag. “Maar jou pa glo nie in sielkundiges nie.”
“Sou die dogtertjie wat Ma verwag het se naam Erika wees?”
“Ek sou haar graag Erika wou noem, ja.” Sy doop die gesiggie-koekie met bewende vingers in haar koffie.
“Hoe het dit gevoel om op skool al ’n baba te verwag?” vra hy.
Sy antwoord hom nie.
“Sou Oupa-hulle nie dalk tog die kind aanvaar het as Ma net eerlik met hulle gaan praat het nie?”
“Ek wonder dikwels oor daardie vraag.”
Hy vat nog ’n gesiggie-koekie. “Waaroor ek wonder … het Ma haar dan nie liefgehad nie?” Slukkie koue melk.
“Ek sal nooit ophou om haar lief te hê nie,” antwoord Ryna.
“Al is sy nooit gebore nie?”
“Ja.”
Hy breek die koekie tussen sy vingers. “Toe my bloedma my op die weeshuis se stoep in die koerantpapier gaan neersit het …” Hy wou sê dis seker nie dieselfde nie. Hy was al gebore toe sy ma hom weggegooi het, maar hy kan skielik nie verder praat nie. Hy sien die trane in Ryna se ooghoeke.
“Jammer, Ma,” stotter hy.
Sy trek ’n sakkie appels nader. “Sal jy hou van toffieappels vir nagereg Sondag?”
“Ma weet mos. As daar nie pienk draairoomyse en rooi toffieappels in die hemel is nie, wil ek nie eendag soontoe gaan nie.”
* * *
In sy kamer, na hy in koue water gestort het, skakel hy die lugversorger, wat sy ma of iemand intussen kom aansit het, af en maak sy venster oop vir vars seelug. ’n Fris aandwind is besig om op steek.
Bennie laat reën ’n vlaag WhatsApps om hom te waarsku teen die hartseer wat juffrou Reynolds vir hom gaan veroorsaak. Hy antwoord geduldig, maar ignoreer later elke nuwe boodskap.
Dan gaan sit hy en tik op sy rekenaar: WAT EK SAL OFFER VIR (JOU) LIEFDE
Sy vingers raak berserk. Die woorde stroom eerlik en sonder om te sensor; twee-duisend-en-twaalf van hulle, volgens Microsoft se telling.
Hy klap sy rekenaar toe, skakel sy lig af en duik in die bed, maar