Soen. Jan Vermeulen

Soen - Jan Vermeulen


Скачать книгу
in hulle afwesigheid.

      Eindelik staan hy voor 306. ’n Dowwe lig skyn van binne deur die geriffelde glas van die deur. Alles in hom is gespanne toe hy klop. ’n Beweging aan die binnekant. ’n Sleutel draai. Die deur gaan oop tot waar die veiligheidskettinkie strek.

      ’n Kaalbolyf meneer Blom loer deur die skreef. Die klos hare hang soos ’n nat stert oor sy voorkop. “Wie soek jy?”

      “Ek moet met juffrou Reynolds praat,” stotter Peet.

      “Wie is jy?”

      “Peet Rautenbach. Asseblief, dis baie belangrik.”

      Meneer Blom frons. “Is jy die kakhuis wat haar stalk?”

      “Nee. Dis juis waaroor ek met haar moet praat.”

      Die deur swaai oop. Meneer Blom het ’n handdoek om sy onderlyf gebind. Bofbalkolf in sy hand. “Ek donner jou hardegat gesiggie vir jou flenters.” Hy stamp die kolf teen Peet se bors. “Ons is nie nou by die skool waar jy kroonwild is nie.”

      Peet steier tot teen die stoepreling. Die drie verdiepings suig soos dertig verdiepings aan sy rug. Hy dwing homself om nie af te kyk nie. “Ek wil net met juffrou Reynolds praat.”

      “Nee.”

      “Ek sal haar nooit dreig nie, Meneer.”

      “Dit kan jy Maandag vir die polisie spin,” sis meneer Blom na aan Peet se gesig, die kolf hard teen sy keel, die lae stoepreling en die dertig verdiepings agter hom. Of is dit drie honderd?

      Iemand beweeg in die deur. Sy het ’n lang, geblomde kamerjas aan. Kaalvoet. Haar hare is in slierte teen haar kop. Sy is sonder grimering. “Wat gaan aan, Dan?” vra sy.

      Meneer Blom loer oor sy skouer. “Jou stalker het kom kuier.”

      “Wie?”

      “Daai fake pastoor se seun. Peet Rautenbach. Moet ek hom oor die reling gooi?”

      “Nee, wag!”

      Meneer Blom sleep hom aan sy baadjie se kraag deur toe, die kolf steeds teen sy keel. “Sê hi vir jou stalker.”

      slaan hom met jou crash helmet one shot teen sy neus

      “Peet Rautenbach?” Hy sien weer die skrik van vroeër vandag in haar oë.

      “Ek moet met Juffrou praat,” stotter hy.

      Meneer Blom beur hom teen die kosyn vas, sy gespierde voorarm stewig teen die bors. “Jy kan Maandag alles vir die polisie verduidelik, jou vieslike klein gemors.”

      “Waaroor wil jy praat?” vra juffrou Reynolds.

      “Oor die sketse. Ek het dit nie in Juffrou se tas gesit nie.”

      “En ons moet jou glo?” blaf meneer Blom in sy gesig.

      Juffrou Reynolds tree terug. “Ons lyk sleg so in die deur. Kom binne.”

      “Jy’s nie ernstig nie,” keer meneer Blom.

      “Jy’s mos hier om my te beskerm.” Sy loop voor hulle uit.

      Uiteindelik het Peet genoeg durf om die onderwyser se arm weg te stoot en die kolf onder sy ken uit te druk. Hy volg juffrou Reynolds verlig in die kort gangetjie af, met meneer Blom in sy nek. Reguit tot in die sitkamer waar ’n musieksentrum se liggies in die donker op maat van sagte musiek flikker. ’n Reusedakwaaier sirkuleer tjir-tjir die vroeë-aand hitte deur die vertrek. Die matte ruik muf. Die mure lyk muf. Groot, geelbruin kolle slaan uit teen die lae plafon. Iewers lek die dak gereeld. Die reuk van ou hondemis hang in die lug.

      Juffrou Reynolds skakel ’n dowwe staanlamp aan en gaan sit op ’n rusbank. Die japon val hoog oop oor haar bene. Meneer Blom gaan sit langs haar en vou die japon weer toe.

      “Sit,” nooi sy kil en beduie na ’n bank oorkant hulle.

      Peet gaan sit, die valhelm op sy skoot. “Dit was nie ek nie,” sê hy weer. Sy hartklop begin bedaar. Iewers agter ’n toe deur tjank ’n ontstelde hondjie.

      “Maar jy het die sketse geteken.” Haar bolip trek styf.

      “Ek neem mos kuns.” Selfs al sit hy oorkant haar, kan hy haar ruik. Haar nat hare. Haar lyfseep. ’n Vroulike warmte. Mondspoel.

      “Ek weet,” sê sy. “Maar wie gee jou die reg om my so te teken?”

      “Dit was vir ’n opdrag. Ons moes iets skets met die tema ‘As ek jou nie kan hê nie’. Soos dit in ons gedagtes is.”

      Meneer Blom klap teen die kolf wat by sy kuit leun. Sy ander hand rus hoog op haar been. “En juffrou Reynolds is so in jou kop?”

      “Ja, Meneer.” Hy voel die blos oor sy gesig versprei. “Nee, Meneer. Ek bedoel, ek het haar as reference gebruik. As meneer sal verstaan wat dit beteken.”

      Sy glimlag onverwags. Dis ’n glimlag wat sy hart direk aan sy maag vasknoop.

      “Jy’s siek,” sê die man met die nat bokstert bo-op sy kop.

      “Dis hoe kuns werk, Meneer.” En die liefde werk ook so, maar hy sê dit nie. “Hoe die sketse uit my kunssak in haar tas beland het, weet ek nie.”

      “Maar wanneer het jy haar in ’n bikini gesien?” vra meneer Blom. “Of onder die stort?”

      “Net in my gedagtes, Meneer. Kuns is verbeeldingryk en kreatief, maar logies ook.” Hy voel nou so ontspanne, dat die woorde soos water oor klippers rol. “Soos die verhouding tussen skelet en spiere en senings en sulke goed.”

      Juffrou Reynolds snork deur haar neus. Dan giggel sy.

      “Ha-ha-ha, lag ek ook,” draai meneer Blom die sarkasme-kraantjie oop. “Jy moet dink ons is onnosel. Môre vra ek vir daai Zulu of dit die waarheid is.”

      “So jy sal iemand doodmaak as jy haar nie kan kry nie?” vra juffrou Reynolds.

      Hy verduidelik vinnig: “Nee, Juffrou. Ek kan dink die ding van juffrou Palmer wat verdwyn het stres Juffrou op, maar my sketse het niks daarmee te make nie. My sketse sê maar net hoe ek hierbinne voel.”

      Juffrou Reynolds staan op en swaai haar hand. “Jy moet nou gaan.” Vir ’n oomblik is dit weer net kaal bene wat hoog wys. Hy kan nie sy oë belet om te kyk nie. In ’n oogwink staan meneer Blom egter voor hom, die kolf gereed vir ’n doodslag. Die handdoek om sy onderlyf sit darem nog stewig.

      “Juffrou Palmer het miskien skielik oorsee gegaan,” probeer Peet nog steeds die situasie red, maar hy besef hy verongeluk alles net verder.

      Meneer Blom tol in die rondte en slaan met die kolf een helse hou teen die tafel se poot. “Hou jou bek van Lily af!” skree hy. “Uit! Trap!”

      Peet kom koes-koes orent. Hy hou die valhelm beskermend voor sy gesig.

      “Maandag is dit jy en die polisie!” skel die meneer terwyl Peet na die deur mik.

      Die naglug is gloeiend om hom toe hy met die nou stel trappe na onder hop. Dié keer trap hy die slapende boemelaar mis. Uit by die gekraakte hoofingang. Tot by sy motorfiets. In die flou lig van die parkeerarea sien hy duidelik die diep krapmerk teen die kant van die rooi TT. Vanaf die voorste modderskerm tot heel agter. Presies aan die kant waar sy motorfiets staan.

      Hy slaan sy leerbaadjie se kraag op, skuif die valhelm oor sy kop en swaai sy been oor die sitplek. Een van die vroue op die straathoek wuif hom nader, maar toe hy haar ignoreer, steek sy haar duime tussen haar vingers deur en gil iets onverstaanbaars op hom.

      * * *

      “O hel, Petrus, jy moes nie gegaan het nie.” Bennie Jantjies lê plat op sy rug op sy bed, hande agter die kop. “Jy het al die verkeerde goed gesê. Ek sweer sy dislike jou nou meer as ooit.”

      Peet sit op die ekstra enkelbed in Bennie se kamer, met sy rug teen die muur wat tot by die plafon beplak is met gespierde mans in eksotiese swemdrag, deurtrekkers en sommige sonder ’n stukkie


Скачать книгу