Soen. Jan Vermeulen
duidelik.” Peet wag ’n paar minute na meneer Coetzer by die voordeur ingenooi is, voor hy ook by die huis inglip. Die koelte van die lugversorgers verwelkom hom met oop arms. Hy hardloop met lang hale teen die wenteltrap op na die boonste verdieping, in die gang af tot in sy kamer. Sy skoolklere vlieg deur die lug soos hy uittrek sodat hy sy oorverhitte liggaam onder ’n koue stort in sy badkamer kan lawe. Daarna ruk hy ’n donkerblou kortbroek uit sy klerekas.
Die rooi liggie van sy interkom op die lessenaar skiet met ’n ligte knal aan. Hy druk die knop in: “Wat?” Geen reaksie aan die anderkant. Daarom antwoord hy soos hy geleer is: “Ja, Pa?”
“Kom af sitkamer toe.”
ek sê mos besemlip het vir jou gekom nie vir berading nie
“Ek wil begin met my huiswerk, Pa.”
“Kom, Petrus.”
as hy jou petrus noem is dinge so ernstig soos die wet en profete self
Hy trek ’n wit gholfhemp aan wat losserig oor die kortbroek hang. Havaianas. En stoot sy kam deur sy nat hare, agteroor.
Die gang wat na die wenteltrap lei, is met skilderye in klassieke rame behang asof die huis ’n kunsmuseum is. Die digte mat laat hom geruisloos teen die stewige wenteltrap ondertoe seil. Duisende liggies skitter in die kristal van die kandelaber wat langs die trap hang en weerkaats in die gepoetste silwerkershouers teen die muur. In die ruim sitkamer met die antieke houtmeubels, silwerbakke en -ornamente onder die hoë versierde wit plafon, kyk pastore Tim en Ryna en die skoolhoof op toe hy instap.
Hy herken Mendelssohn se onstuimige Klavierkonsert No. 1 in G-mineur wat in die agtergrond speel.
Sy ma het ’n pastelkleurige rokkie aan wat oor die knieë reik. Kaal bene en Green Cross-sandale. Haar vosbruin hare is styf rondom die kop vasgesteek. Sy pa is in ’n swart katoenlangbroek, wit kortmouhemp, skoene van krokodilleer. Sy silwergrys hare is perfek agteroor gekam sodat die punte oor sy kraag vee.
Meneer Coetzer staan op van die rusbank. “Middag, Peet.”
Stewige handdruk.
poephol
“Middag, Meneer.”
“Sit, Petrus.” Sy pa beduie na die sofa. Hy het ’n fynbesnede gesig. Blou oë. “Meneer Coetzer het iets ernstigs op die hart.” Sy pa en die hoof se oë smelt saam. Peet sien vandag ’n diep band tussen die twee mans wat hy nog nie voorheen opgemerk het nie.
“Eerstens moet ek benadruk, Peet,” begin meneer Coetzer. “Jy is Algoa Hoër se mees voorbeeldige hoofseun in jare. Vanjaar verower jy nog die SA Beker vir Redenaars. Ons verwag van jou minstens sewe A’ s. En een vir kuns, volgens meneer Buthelezi. En dan weet ons almal van jou natuurlike musiektalent. Jy is voorwaar ’n uiters begaafde jongman.”
maar
“Maar vandag kom ek na jou toe met ’n netelige kwessie. Jy weet waarna ek verwys.”
“Ek het nie ’n idee nie, Meneer.”
“Peet.” Pastoor Ryna se oë raak sag soos gebreide groen klei. “Dink mooi.”
“Petrus,” val pastoor Tim ook in. “Ons verwag eerlikheid van jou.”
die drie span mos nou saam teen jou
“Meneer Coetzer moet vir ons sê waarvan hy praat.”
“Goed,” stem die hoof in. Aan die ringvinger van sy hand wat oor sy ken vryf, glim ’n breë troupand, al is hy reeds ’n paar jaar geskei. “Ek gee jou ’n leidraad. Juffrou Reynolds.”
“Juffrou Reynolds?”
Die hoof kyk so gevoelvol soos ’n skeurtandhaai na hom. “Juffrou Reynolds beweer jy het haar met die dood gedreig, Peet. Dat jy haar met ’n mes sal doodmaak as jy haar nie kan kry nie.”
Peet voel hoe ’n deksel aan die bokant van sy skedel oopklap. Hy gryp sy bobene vas in ’n poging om te verhoed dat hy deur die opening in sy kop vlug.
“Kom ek verduidelik vir jou hoekom juffrou Reynolds glo jy dreig haar met die dood,” sê Meneer Coetzer. Hy knip sy aktetas op die koffietafel oop terwyl Yuja Wang in die agtergrond Mendelssohn se Klavierkonsert driftig aanvoer.
Die hoof haal ’n antwoordboek uit die aktetas. Die rimpels oor sy hande verraai ’n veel hoër ouderdom as wat die swart hare en oordadige swart snor voorgee. “Herken jy die naam en handskrif, Peet?”
“Dis myne, Meneer.” Peet moet sy aandag wegdwing van die pendulum van oorlede oupa se staanhorlosie, wat hipnotiserend heen en weer agter die hoof swaai. “Dit was ’n toets van juffrou Reynolds.”
“Lees die sin wat in rooi onderstreep is,” sê meneer Coetzer.
“Ons moes sinne maak met woorde soos penetreer, byvoorbeeld.”
“Lees,” beveel meneer Coetzer.
Peet trek die boek nader: “Toe ek haar soen, penetreer my tong tussen haar sagte lippe deur tot diep in haar warm, nat mond.”
Sy ma snak na asem. Haar ooglede vou soos swaanvlerke oor haar groen oë.
“Daar’s niks met die sin verkeerd nie,” sê Peet. Sy tong kleef aan sy verhemelte.
“Toegegee,” stem meneer Coetzer in. Hy neem weer die antwoordboek en pak dit netjies terug in sy aktetas. “Die probleem is egter jou moontlike intensie. Jy’t geweet dis juffrou Reynolds wat die sin sou lees.”
“So?”
“Petrus,” berispe sy pa hom.
Meneer Coetzer vou ook ’n geel lêer uit die aktetas op die koffietafel oop. Die lêer bevat houtskool- en potloodsketse van juffrou Reynolds. Hy stal die sketse in perfekte gelid langs mekaar uit: Juffrou Reynolds in stywe jeans. Deursigtige japonne. Skrapse bikini’s. Kaalbolyf, met arms of hare net-net beskermend voor haar. Portretstudies met oop lippe, wit tande (nie heeltemal so oneweredig soos in die werklikheid nie), skalkse laggies, smeulende kyke. Op een skets lek sy met ’n krullende tong aan ’n draairoomys. In nog een suig haar lippe om ’n ysstokkie wat diep in haar mond gedruk is, haar wange effens ingeduik, haar oë dromerig.
“Peet?” Rooi en pers vlamme vlek oor sy pa se fynbesnede gesig.
“Ek het dit geteken,” erken Peet. Sy hart klop in sy droë tong. “Dit was ’n kunsopdrag van meneer Buthelezi. Waar kry julle dit?”
“Jy het dit in juffrou Reynolds se aktetas geplant,” sug meneer Coetzer.
“Nooit! Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Die sketse is altyd in my kunssak. Dit was vanoggend nog met kunsperiode daar. En dis net onskuldige sketse.”
Meneer Coetzer pak nog ’n skets langs die ander op die koffietafel uit, maak seker elke tekenvel se hoeke en lyne lê in gelid met die ander. Aan sy regterhand se pinkie pryk ’n robyn soos ’n vars bloeddruppel op ’n goue ring. “Is dié een ook onskuldig, Peet?”
Juffrou Reynolds stort. Hy het haar volronde kurwes effens oordryf, besef hy, en haar borsmaat effens vergroot. Haar oë kyk in afgryse na die hand wat met ’n vleismes bokant haar huiwer. Onderaan het hy in drukskrif geskryf: “As ek jou nie kan hê nie.”
“Dis uit ’n ou fliek,” verduidelik hy so vinnig dat hy hakkel. Sy wange vat vlam. “Ons kyk graag ou flieks in die huis.”
“Dis ’n Hitchcock,” bevestig sy pa. “Psycho, nè, Mamma?”
Ryna knik woordeloos.
“Norman Bates het ’n probleem met sy ou moeder,” verduidelik pastoor Tim. “Soos trouens die meeste manlike Hitchcock-karakters probleme met die moederfiguur het.” Peet probeer sy pa met sy oë stilmaak, maar die pastoor tik met sy wysvinger op die skets. “En die meeste Hitchcock-slagoffers is blond,” verklaar