Soen. Jan Vermeulen
Bennie skuif orent. “En nou glo hulle nog meer dis jy wat die sketse in haar tas gesit het.”
“Iemand frame my, maar dis niks. Hel, Ben, wat my mal maak, is die idee dat daardie selfde iemand haar wil vermoor.”
“Ag nee, komaan, Peet. Vermoor?”
“Sê nou dis wat met juffrou Palmer gebeur het. Sê nou iemand vermoor hulle. ’n Reeksmoordenaar. In ons skool!”
“Nou wil jy baasspeurder Piet Byleveld speel.”
“Wie’s hy?”
“Piet Byleveld was Suid Afrika se baasspeurder. Een van die drie bestes ter wêreld. May his soul rest in peace. Lees jy nie koerant nie, baasredenaar?” Bennie trek ’n deurtjie van sy bedkassie oop. “Of wil jy kaptein Bennie Griesel wees.”
“En wie’s hy?”
Bennie se gesig lag opgewonde terwyl hy ’n dik boek uit die kassie haal. “Hoofkarakter in meeste van Deon Meyer se boeke. Aha, daar’s nou ’n bekwame Bennie. Hoewel ek dink Meyer het vir Piet Byleveld ge-study toe hy vir Bennie Griesel ge-create het.”
“Goeie hel, Ben. Ek het nooit gedink jy’s ’n Bennie Boekwurm nie.”
Bennie kekkel. “Wys jou net hoe sleg ken jy jou beste vriend na al die jare. Kyk my uit. Hier staan die meeste van Meyer se boeke. Ek kort net een of twee.”
Peet leun nader. “En François Bloemhof. Hoekom hou jy dit alles in jou kas?”
“Want ’n mens hoef nie met alles uit die kas te klim nie. ’n Man moet darem aan sy brose reputasie ook dink, jy weet. By sekere ouens.”
“Ek’s jammer, Ben. Ek praat altyd net oor myself as ek by jou is.”
Bennie skuif die deurtjie weer dig. “Dis niks daai nie. So wat is jou volgende plan?”
“Ek dag jy het raad vir my.”
“My raad is …” Bennie vou sy hande saam. “Kom uit met die waarheid. Die volle waarheid. Want hoekom? Die waarheid sal jou vry maak. Sien, ek lees Bybel ook.”
“Die volle waarheid?” Peet veg teen die drang om eenvoudig op te staan en te loop. “So jy glo my ook nie.”
Bennie pruil sy mond. “Want jy vang mal dinge aan. Wat hét met jou en juffrou Palmer aangegaan? Een dag spog jy met die soen en die klap van jou lewe, volgende dag soek die polisie haar.”
Op daardie oomblik land ’n WhatsApp in Peet se foon. “Kyk nou hier.” ’n Foto van ’n meisie se benerige kaal heup. Net die heup. Fyn donsies oor die magie word digter na onder.
Bennie fluit deur sy tande. “Daai ene lyk te maer om juffrou Reynolds te wees.”
“Nee man, dis Moira.”
“Sy raak desperaat. Wat sê sy?”
“Yours in three.”
“Wat de f … Of mag ek ook nie meer daai Bybelse woordjie uiter nie?”
“Oor drie weke is sy agtien. Dis wat sy bedoel met drie.”
“En dan’s alles joune. Gelukkige duiwel!” Bennie se stem loop oor van spot. “Hoewel ek lankal elke aand lê en sien hoe kap julle spykers in. Kap in, kap in.”
“Sy wou nooit. Maar nou wil ek ook nie meer nie. Ek het jou mos gesê geen meisie meer tot ek juffrou Reynolds het nie. Geen soene. Geen vry nie. Dis hoe lief ek vir haar is.”
“En jy glo daai klein offer waarborg dat sy jou eendag vir altyd sal liefhê?”
Nog ’n WhatsApp arriveer.
“Is dit ’n foto van jou beloofde land?” vra Bennie.
“Nee. Maar dié een kan ek nie vir jou wys nie.”
“Hoewel die foto my niks sou maak nie.”
“Doen dit jou heeltemal niks as jy na ’n sexy meisie kyk nie?”
Bennie skud sy kop. “Ek kan skoonheid waardeer. Maar dit doen my niks. Onthou jy vir Sheila de Ville?”
“Mejuffrou Hoërskool?”
“Mejuffrou Hoërskool sonder deeltekens. Wel, eenkeer het ek besluit om eens en vir altyd seker te maak. Toe soen ek haar lank oopmond en vroetel oral. Soos in oral. Ek gril nou nog as ek daaraan dink. En geen styftes by my nie, net disgust. So erg dat ek petrol wou suip om my mee te reinig. Nee dankie, nie weer nie.”
Nog ’n WhatsApp. Peet lees lank aan die boodskap voor hy sê: “Dié keer is dit my ma. Sy sê die polisie soek my.”
Die twee polisiemanne in uniform lyk kinderlik onderdanig in die geselskap van pastore Tim en Ryna Rautenbach. Sersant Plaatjies en konstabel Green kan nie genoeg jammer sê dat hulle net hulle opdragte uitvoer nie.
“Waarop alles neerkom, is dít,” verduidelik die pa aan sy seun wat stil eenkant sit. “Die polisie kom waarsku jou as jy dit weer naby juffrou Reynolds se woonstel waag, sal sy en meneer Blom ’n klag van teistering lê.”
niks van die krap teen die tt nie
“Verstaan jy die situasie?” vra sy pa.
“Heeltemal. En ek’s baie jammer oor als.”
“Die ding is net,” sê konstabel Green, “die stad is op hol oor die koerantstories van die meisies wat verdwyn het. Almal sien nou net serial killers in almal.”
“Wel, ons het niks daarmee te doen nie,” sê pastoor Ryna. “En ek is seker Peet het nie bedoel om moeilikheid te maak nie.” Haar groen oë roer van gevoel.
“Natuurlik nie.” Sersant Plaatjies styg orent. “Ons teken aan dat Peet beloof om nie weer die dame by haar woonstel te besoek nie.”
Die twee uniforms laat ’n polisie-sweetreuk agter toe hulle vertrek.
“Is daar iets waaroor jy met my en jou ma wil praat?” Die pa se blou oë is ondersoekend op sy seun gerig. Sy hoekige ken is uitgestoot soos altyd wanneer hy ’n ernstige vraag vra. “Onthou ons ooreenkoms in hierdie huis. Geen geheime word onder ons matte gevee nie.”
“Ek onthou, Pa. En ek’s jammer dat die polisie hier moes aankom.”
“Polisiemanne se oë gee my altyd koue rillings,” sê sy pa. “Maar ons glo jy is jammer. Nè, Mamma?”
“Hoe dan anders,” beaam sy.
“Daarom wil ons weet of ons vir jou mag bid,” sê sy pa.
’n Krieweling woel in Peet se maag. “Julle hoef mos nie te vra nie.”
“Wat ons in gedagte het,” vervolg sy pa, “is om gebedsberading vir jou te reël.”
“Ekskuus?”
“Ons doen dit privaat en diskreet,” probeer sy pa hom gerusstel. “Net jy en ons en ’n paar vertrouelinge.”
“Hoekom?” Sy wange vat vlam soos ’n magnesiumlint wat aan die brand gesteek word.
“Net om seker te maak daar is nie enige bindinge op of in jou nie,” verduidelik sy pa. “Want daar is iets vreemds aan jou. Of in jou. Nè, Mamma?”
Sy knik sonder om in haar seun se rigting te kyk.
“Het jy ’n deur vir die vyand oopgemaak?” vra sy pa. “Of selfs ’n venstertjie? Soos op die internet.”
“Julle kan enige tyd my internetspore nagaan.”
Sy pa se slanke hand word na hom uitgesteek. “Gee jou selfoon dat ek sien of daar onrein dinge op is.”
“Nee.” Peet se hand klem sy foon in sy broeksak vas. “Ek is nie meer heeltemal ’n kind nie.”
Die