Soen. Jan Vermeulen
Hy tik vir haar ’n jammer-sê SMS, vee dit uit, tik weer een, maar wis dit ook uit. Hy begin met ‘ons kan nog vriende wees’ maar hy verwyder ook dié boodskap en vee al haar ander en haar foto’s van sy selfoon af.
Nog kan hy nie slaap nie.
Terug voor die rekenaar. Hy tik Profile of a serial killer in en raak verdwaal in al die inligting. Skuins na middernag klim hy terug in die bed en skakel sy bedlig af. Dis donkermaan, maar die melkweg skyn helder deur die oop venster.
Die somerdag se woede begin eindelik taan.
Sy selfoon vibreer op die bedkassie.
Dis ’n WhatsApp sonder profielfoto.
Onbekende nommer.
Wat doen jy?
Hy antwoord: Wie is jy?
Hang af. Jou grootste verrassing ooit. Of jou goorste nagmerrie.
Ek hou nie van die soort games nie.
Jammer vir jou. Speel gaan ons speel. Om mee te begin: I know what you did to Lily Palmer.
Ek het haar gesoen. Toe klap sy my. So?
En toe vererg jy jou. En toe?
Ek gaan nou slaap.
Ek sien daar is nie diefwering voor jou venster nie. Los jou venster oop. Dan klim ek in.
Is jy mal? Dubbelverdieping.
Ek skrik nie soos jy vir hoogtes nie. Ek is Cat Woman.
Jy raak boring. Los my nou uit.
Nee. Ek kom al te ver en ek is al te lank op jou spoor. Ek weet selfs waar jy was vanaand. Derde vloer, Jasmine Court. Scarlett R. Reynolds. Is ek steeds boring?
Dit voel of sy hart agter by sy rug wil uitbeur soos dit teen die matras onder hom klop.
Lelike krap teen daai Audi TT.
Hy vlieg regop en maak sy venster toe. Terug in die bed.
Die volgende WhatsApp land. Ek kon jou duidelik hier van onder af sien.
Wie ís jy?
Jou verlore tweelingsus.
?????
Ek stuur ’n pic van my. Dan praat ons weer.
Sy handpalms sweet rondom sy foon.
Hy wag.
En wag.
En dan … Got you! Met ’n foto wat sy binnegoed laat ruk.
Dis die blou oë wat eerste sy asem wegslaan, want dit is asof hy in ’n spieël in sy oë kyk. Die swart en wit grimering sorg vir die volgende snak na asem. Die ringetjies deur die neusvleuels, deur die lippe, deur elke oorskulp, die stokkerige, rooiswart hare en die Goth-band om die nek gryp hom verder om die keel. Wat hom die meeste wurg, is die feit dat hy na sy ewebeeld kyk; lyntjie vir lyntjie sy beeltenis ten spyte van die oordadige grimering.
Hy skakel sy foon af, skakel die lugversorger aan, gryp ’n gholfstok uit sy kas en duik terug op sy bed.
nou is ek ook wakker
“Shut net up.”
teen die tyd behoort jy te weet jy kan my nie stilmaak nie
“Shut up, James!”
wonderlik wanneer laas het ek my naam uit jou mond gehoor
Hy draai op sy sy. Die aandwind ruk aan die houtraam van sy venster, huil soos ’n walvis om die huis se hoeke. Hy trek sy kussing oor sy kop. Die ekstra donkerte en die lafenis van die lugversorger help hom om uiteindelik aan die slaap te raak.
Maar dan kom die luislang. Hy voel die koue reptiel oor sy bene seil, op teen sy lyf, oor sy bors. Om sy nek. Stywer, stywer, stywer, wurg die slang hom. Hy kan nie ’n vinger verroer om die ondier te verwilder nie.
* * *
“Jisss!” Saterdagoggend. Die reuk van ou visolie en asyn hang vandag selfs tot in Bennie se kamer. Iewers in die woonstel dreun die rusiestemme van ’n man en vrou. Bennie leun terug teen sy bed se kopstuk en hou Peet se foon voor sy oë. “Dit lyk tog soos jou identiese tweeling, geverfde gesig en al.”
“Die kreatuur sê sy is my sussie, maar identiese tweelinge is altyd van dieselfde geslag. Jy weet ek glo al van kleins af ek het ’n tweelingbroer êrens, nie ’n sussie nie.”
“Kyk hierso,” Bennie se wysvinger grawe teen die kant van sy kop, “ek dink nou net, miskien was julle ’n drieling. Jy, sy en ’n boetie. Ek wonder net wat het van hom geword.”
“Nee, Bennie. Ek dink eerder iemand het ’n foto van my ge-photoshop. Iemand probeer gekskeer met my.”
“Moontlik.” Bennie se oë vernou. “Maar volgens my ingebore gay-radar is hierdie wel ’n heksie, nie photoshop nie.”
“Wat’s haar storie dan met my?” Peet gryp die foon uit Bennie se hand. “Sy weet alles van my, selfs van my hoogtevrees. Selfs dat ek by juffrou Reynolds was. Ek dink dis sy wat die TT gekrap het. Maar hoekom?”
“The plot thickens.”
“En hoe weet sy van my en Lily Palmer?”
’n Vrouestem skel iewers in die woonstel. Kort daarna slaan ’n deur. Bennie rol sy oë. “Sê my, het jy en juffrou Palmer regtig net gesoen? Net een keer?”
“Ek het jou al ’n miljoen keer gesê. Dit was net een soen.”
“Miskien moet jy vir juffrou Reynolds ook soen sodat sy jou ook net een keer behoorlik kan regklap.”
“Sal niks help nie, Ben. I’m spoilt for life.”
“Maar jy het seker nog skaars twintig woorde met haar gepraat.”
“Ons praat genoeg met ons oë.”
“Ag, asseblief my lief!” Bennie wip weer regop. “So dink jy sy sal jou toelaat om in haar te finish wanneer julle die eerste keer ’n skroppie maak?”
“Ben, jou hormone jaag weer jou verbeelding op.” Hy glip sy foon terug in sy sak.
“Jy het nie ’n idee nie.” Bennie skuif rond op die bed asof dorings onder hom groei. “Hoe beland ons tog op die onderwerp? Sê my eerder, gaan jy jou venster ooplos vir jou Goth-sus?”
“Ek sal nog dink daaroor. En nou moet ek waai.”
Bennie lag geforseerd uit sy maag. “Amper sê ek vlieg dan in jou maai.”
Op pad huis toe ry Peet by Jasmine Court verby. Dis ’n vry land. Hy mag by enige woonstel verbyry. Niemand kan daaroor polisie toe hardloop nie. In die daglig lyk die gebou nog meer verwaarloos. Verf wat afskilfer. Geute en afvoerpype wat skeef hang. Lang gras. Rommel wat teen die muur gewaai lê. Die TT staan in die parkeerarea.
Hy draai die spoedkrane oop en ril toe hy aan gisteraand se slang-nagmerrie dink.
* * *
Saterdae is tuinmaakdag in die Rautenbachs se lewe. Peet sny die gras. Pastoor Tim spit kompos en roosvoedsel in die akkers van sy roostuin. Pastoor Ryna spuit organiese insekdoder aan die onderkante van die roosblare en sny rose, vir Sondag se kerkdiens, met ’n vlymskerp snoeiskêr af. Aan sommige takkies sit roosknoppies wat nog nie eens begin oopmaak het nie. Haar mondspiertjies trek met elke knip van die skêr, asof sy seerkry, hoewel geen dorinkie haar vingers deur die stewige leerhandskoene kan raps nie.
Al drie het koffiekleurige kuitbroeke en groen T-hemde aan. Tuinskoene.
Terwyl Peet die bak met grassnysels in die tuinsak uitskud, buig sy pa oor na hom. “Jou foon skoon?”
“Ja, Pa.”
en wat van cat woman
“Wil Pa sien?”
mooi jy vat wilde kanse
“Nee.”