Tweede kans op liefde. Elza Rademeyer
hy by die afdraaipad ingedraai het. Hy kan hoor hoe die bossies tussen die twee spore sy motor se onderstel skuur, en soms moet hy uitswaai vir boomtakke wat gevaarlik laag oor die pad hang. By die waterval aangekom, vergeet hy egter gou van die slegte pad, want dit is sowaar die moeite werd om daarheen af te draai. Die waterval is nog hoër as wat hy dit uit sy kindertyd onthou, en dit skep ’n skouspelagtige toneel. Langs die waterval kronkel daar ’n voetpaadjie met ’n blaretapyt na bo. Dis toe hy bo kom en sien hoe glad die mosbedekte rotse is dat hy werklik besef wat ’n gevaarlike plek dit is. Veral vir ’n kind wat nie altyd die gevare soos ’n grootmens raaksien nie, want sou jy oor die afgrond na benede stort, val jy jou gewis morsdood. Die waterpoel onder is vlak en rotsagtig, dit sal beslis nie help om jou lewe red nie.
Hy klim versigtig terug, en ry verder na Goudbaai. Daar hou hy op die ingewing van die oomblik voor die hotel stil. Miskien is Minette nie te besig nie. Josua het gesê sy ken omtrent almal in die omgewing, so dit kan net lekker wees om met haar te gesels. Net toe hy die stoeptrappies bestyg, kom Groene Weide se eienaar by die deur uit.
Mynhard se vriendelike “goeiemôre” in die verbygaan word met ’n stywerige kopknik beantwoord voordat Jaco in sy motor klim en wegry.
Minette ontvang hom egter met ’n breë glimlag. “Ek het nou net aan jou gedink.”
“Goeiemôre. Nou wat het jou aan my laat dink?”
“Jou buurman wat jy nou net hier buite op die trappe gekry het, Jaco Verwey? Het jy hom al ontmoet?”
“Nie regtig nie. Net vlugtig gesien. Nou hier, en gister by die hek van sy vrou, Tessa. Sy pas mos mense se katte en honde op daar by tannie Alida se huis, ’n buurvrou van oom Jos in wie se huis ek vir die naweek tuisgaan.”
“So jy het haar al ontmoet?”
“Ja, op ’n taamlik onkonvensionele manier.”
Minette lag nadat hy haar vertel het hoe Tessa hom van sy voete af gespring het. “Ja-nee, dit is nogal ’n ongewone kennismaking. Het sy met jou oor Jaco gepraat? Jou dalk vertel hoekom sy nie meer saam met hom op Groene Weide woon nie?”
“Nee. Ek het die indruk gekry dis nie iets waaroor sy wil praat nie.”
“Daar doen allerhande stories oor haar die rondte, maar jy moenie glo wat die mense jou vertel nie.”
“Watse stories?”
Minette werskaf met ’n paar papiere op die toonbank. “Nee, jong, ek wil nie veel sê nie, want Jaco is ’n gerekende man hier in die omgewing. Stinkryk en bemind en gelief onder die inwoners. Hy doen dan sulke goeie opheffingswerk onder die minderbevoorregtes, om nie te praat van die beeste en skape wat hy elke jaar vir die kerkbasaar skenk nie. So ook vir elke funksie op die dorp. Die mense het groot bewondering vir hom.”
“Dit klink nie asof jý bewondering vir hom het nie?”
“Ek het nie, maar kom ons laat dit liewer daar. Het jy kom boek vir middagete?”
“Bedien julle dan middagetes aan buitestanders ook?”
“Net Sondagmiddae. Bestellings moet eintlik voor nege in wees, maar ek kan jou nog laat deurglip. Daar is twee vleissoorte, drie groentes en nagereg ingesluit in die prys.”
“Teen daardie prys, en op grond van die kos se geure hier van die kombuis se kant af, kom ek beslis hier eet,” sê hy nadat sy die prys genoem het. “Sê net hoe laat ek hier moet wees.”
Van die hotel af ry hy na ’n adres op Goudbaai wat volgens Minette dié van die oudste inwoners is. Dalk sal hulle vir hom iets van sy ouers kan vertel. Die mense ontvang hom hartlik nadat hy hom aan hulle voorgestel het, maar dit word gou vir hom duidelik dat hulle ook nie veel weet nie. Hulle het maar net gehoor die boer van Koppie-alleen het sy vrou en kind sommer so soort van oornag verlaat, maar hulle weet nie waaroor dit gegaan het nie.
Terwyl hy later sy ete by die hotel nuttig, kom sluit Minette by hom aan. “Om terug te kom tot ons gesprek van vroeër,” sê sy vir hom, “hier loop stories rond dat Tessa vir Jaco verkul het, maar dit is nie waar nie. Die man met wie sy kastig op Goudbaai se strand geflankeer het, was hier in die hotel tuis. Hy is ’n ou skoolvriend van haar. Hulle het mekaar op die strand raakgeloop en mekaar gesoengroet. ’n Sekere iemand het dit gesien en ’n skinderstorie daarvan loop maak.
“Pieter het ’n nag hier geslaap en my self vertel van hul ontmoeting op die strand, en hoe verras en bly hulle was om mekaar te sien. Daar was nie sprake van romanse tussen hulle nie.”
“Wie het dan die skinderstorie versprei?”
“Charlotte Basson. Jy sien, sy en Jaco het seker vir maklik drie jaar lank ’n liefdesverhouding gehad, en ek sê ‘gehad’ tussen aanhalingstekens.”
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Omdat ek dink dinge tussen hulle het nog nie tot ’n einde gekom nie. Nee, wag, ek praat te veel. Die dag toe ek hier by die hotel begin werk het, moes ek tannie Janie belowe ek sal nie uit die hotel praat nie. Ek wil nie my job kwytraak nie. Glo my maar net as ek sê Tessa het beslis nie vir Jaco verkul nie.”
“Ek het uit Jaco se gesprek met haar afgelei dat hy haar graag op Groene Weide wil terughê. Sy het hom egter duidelik laat verstaan sy sal nie teruggaan nie. Dink jy sy het uitgevind van iets tussen hom en Charlotte?”
“Dis heel moontlik, maar …”
“Jy wou sê?” vra hy toe sy skielik swyg.
“Daar is ander dinge ook wat my laat wonder oor … Nee, wag, moenie my uitlok nie.”
Toe snuif sy die lug en spring op. “O, aarde, iemand het die kastrol met die pampoen op die stoof vergeet. Wag hier, ek is nou terug.”
Met haar terugkeer daag daar egter gaste op aan wie sy moet aandag gee, en daarmee klaar, kom roep ’n werker haar kombuis toe. Hy moet dus maar aanvaar dat sy nie tyd vir verdere gesels het nie. Al wat gebeur het, is dat sy nuuskierigheid oor Tessa eintlik net nog meer geprikkel is.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.