Om met vuur te speel. Lucille du Toit
situasie te ontlont. “Waarmee help ek, meneer Matt Marais?” Sy fladder haar wimpers sommer ook en hoop dit laat die ou se hart smelt. Dit het nog altyd gewerk. Dalk vergeet hy wat hy nou eintlik hier kom doen het en kry sy loop.
“Is daar iets in jou oog?”
Oukei, so dit werk nie op al wat ’n man is nie. Sy skud haar kop. “Dis sommer niks. Sê wat jy wil sê, meneer Marais.”
“Ek wil nou nie belaglik klink nie, maar … jou musiek is steurend. Dit is heeltemal te hard.”
So dit ís die musiek? Iewers in haar lyf skiet kommer soos ’n rek los. Die vent is sowaar haar buurman. Miskien is sy net paranoïes, maar sy was nogal seker dat haar pa hom dalk gestuur het. Dan weet haar pa nog nie waar sy is nie? Hopelik vind hy ook nooit uit nie.
’n Diep plooi frons oor die man se aantreklike gelaat.
Onmiddellik trek sy haar oë eerder op skrefies. Sy het nie beplan om in onmin met haar bure hier in Mbombela te leef nie, maar net só krap die man ’n roof af wat talle sessies by haar sielkundige nie kon genees nie.
Wie dink hy miskien is hy?
As kind en tiener het sy genoeg van haar ouers se fiksasie gehad om elke begewing of besluit van haar te beheer. Haar pa en ma se stemme kom weer by haar op:
“Ag, my kind. Jy moet eintlik ’n kuif dra. Dit pas jou so goed.”
“Jy gaan seker nie al daai kos eet nie, of hoe?”
Of haar gunsteling: “Jy gaan dít tog seker nie vandag aantrek nie?” Die herinneringe speel in haar gedagtes af soos ’n YouTube-video. Sy onthou hoe sy een nag haar gunsteling-CD uit ’n vullisdrom gaan grou het. Sasha het dit die vorige dag by Melin gekry en ure daarna geluister. Guns N’ Roses.
Haar ma het dit weggegooi, want dit was glo onvanpas.
Soveel goed is haar verbied: Skoolsokkies, gemorskos, sekere kêrels. Haar kaste en laaie is ook deursoek wanneer sy by die skool was. Na haar matriekafskeid moes sy ’n rok van haar ma se keuse aantrek, anders sou daarvoor nie betaal word nie.
Alles in die naam van liefde omdat haar ma ’n versigtige ouer was en net die beste vir haar wou hê. Haar ma se woorde, nie Sasha s’n nie. Dit is die presiese rede hoekom sy hier is. Dit is alles goed en wel as jou ouers jou wil vertel jou klere is sus en jou eetgewoontes is so, maar as hulle steeds in die bestuurdersitplek van jou lewe wil wees wanneer jy agt-en-twintig jaar oud is, gaan hulle te ver.
Van nou af sal sy haar onafhanklikheid en privaatheid in eie hande neem. Veral na die laaste besluit wat hulle namens haar geneem het. Sy weet dit is kinderagtig, maar die woorde “moenie” of “mag nie” wou haar nog altyd laat skreeu het.
Sasha kyk weer na Matt. Haar musiek is nie so hard nie. Dié tyd van die dag is hier in elk geval altyd ’n geraas in die kompleks. Grassnyers en stofsuiers.
Onwillekeurig klik sy haar tong ergerlik. “Ek kan nie hoor nie. Wat sê jy? Moet ek dit harder sit?” Dalk sal dit vir liewe meneer Matt Marais terug aarde toe bring, want hy dink duidelik hy is so bietjie verhewe bo die res van die werkende klas. En dis presies waarvan sy probeer wegkom.
Die opmerking ruk Matt.
Maak sy ’n grap? Die sexy glimlag van netnou is weg en haar mond is nou ’n uitdagende kurwe. Daar dans duiwels in haar oë asof sy kwaad is vir die wêreld. Dan stap sy na die sitkamer waar die polsende musiek voortspeel. Voordat sy aan die afstandbeheerder peuter, gee sy hom nog ’n uitdagende kyk, amper soos die een wat sy tienersus hom gee wanneer sy die grense toets.
Toe sit sy die klank sowaar nog ’n bietjie harder.
Matt druk sy hande gefrustreerd oor sy ore. Hy is nie iemand wat ongeskik met vroue is nie, tog volg hy haar ongenooi binnetoe.
“Hei, jy kan nie net sommer hier instap nie!” Sy druk haar hand teen sy borskas om hom te stuit.
Matt beduie net vir haar dat hy nie kan hoor nie. Nou is dit hý wat glimlag. Hy neem die omgewing om hom in.
Sy is alleen.
’n Soet reuk hang in die meenthuis. Wierook wat sy in ’n houer op ’n ou vernielde houtboekrak laat brand. Op die boekrak is ’n klomp splinternuwe boeke. Toe hy sy blik verder draai, kom hy skielik tot stilstand. In die middel van haar woonvertrek is ’n dik metaalpaal ingebou. As dit ’n brandweerstasie was, sou hy geweet het waarvoor dit bedoel was, maar dié is geen brandweerstasie nie – al bly hier blykbaar ’n vuurvreter.
Is dit hoekom sy dieselfde liedjie oor en oor speel? Oefen sy vir ’n vertoning?
Hy trek sy asem in en skuif sy oë ondersoekend oor die res van die meubels. Daar is strooikussings in rooibont kleure op die swart fluweelbanke wat hier en daar ’n stukkende plek het. In die een hoek van die vertrek staan ’n lessenaar met ’n skootrekenaar.
Nie sommer enige skootrekenaar nie, ’n flippen MacBook Pro met Retina display. Dit maak glad nie sin nie, want dit hoort nie hier tussen die verflenterde meubels nie. In die ander hoek staan ’n klomp bokse wat sy seker nog moet uitpak.
Hier wil hy liewer uitkom.
Voordat hy gaan, sal hy doen waarvoor hy gekom het. As sy die geraas nie sagter gaan sit nie, sal hy. Asof op ’n missie stap hy na die TV-kas waarop die bluetooth-luidsprekers staan. Sasha spring voor hom in, maar hy systap haar moeiteloos. Hy het mos mooi gevra om die musiek sagter te sit en nou is hy die hel in.
Geen wonder dit klink of die musiek binne-in sy meenthuis ook speel nie. Dit is nie enige luidsprekers nie, dit is KEF MUO’s. Luidsprekers waarvoor hy sy voortande sal gee, maar dié goed sal hy nooit op sy salaris kan bekostig nie.
Wie is die meisie? Iets voel nie heeltemal pluis nie. Kan paaldans regtig so goed betaal of doen sy ander dinge om so baie geld te maak? Nee, daaraan wil hy nou nie eens dink nie. Hy vou ’n koordlose luidspreker in elke vuis toe en pluk hulle van die TV-kas af.
“Jy’s ongemanierd!” gil sy agter hom aan terwyl hy na sy huis stap.
Sy drafstap agter hom aan, maar Matt maak seker dat sy sal sukkel om by te hou. “Hei, kom terug. Dit is diefstal! Ek gaan die polisie bel,” dreig sy toe hy bly loop.
Hy kyk oor sy skouer na sy nuwe buurvrou. As dinge anders uitgewerk het, sou hy dalk heel lekker langs haar kon gebly het. Hy sou haar dalk selfs beter wou leer ken het, vasstel of haar lippe regtig so sag is soos wat hulle lyk, maar beslis nie meer nie, veral nie noudat hy weet wat sy vir ’n lewe doen nie.
Matt glimlag.
Voordat hy sy voordeur toeskop, antwoord hy haar oor sy skouer: “Ek ís die polisie, buurvrou.” Nie dat hy ’n polisieman is nie. Tel die leuen as jy vriende in die polisie het? Hy sal haar luidsprekers net so ’n dag of twee hou om seker te maak sy kry die boodskap. Dalk sal sy dan meer op haar hoede wees.
Vir ’n oomblik bly Sasha verslae staar na die man se toe voordeur voordat sy terugstap na haar meenthuis. Daar slaan sy haar voordeur ook met mening toe dat die ruite klappertand.
Mag hy dit gehoor het.
As sy haar deur die heeldag aanhou toeslaan, sal hy dit ook kom afhaal?
Ongelooflik, wat nou net gebeur het! Hoe durf die ou sommer net by haar woonstel inbars en haar eiendom konfiskeer. Sy rol haar oë. Mens sou sweer sy is terug by haar ouerhuis in die Kaap. Wie dink hy is hy? Sulke gedrag is sy beslis nie van mans gewoond nie. In die Kaap het mans ten minste nog maniere. Storm sommer hier in sonder ’n hemp en skoene, en met al daardie spiere op skou vir die wêreld om te sien. Ongepoets. Kon hy nie net mooi gevra het sy moet die musiek sagter sit nie?
Maar is dit nie presies wat hy gedoen het nie?
Nogtans. Hy kla soos ’n regte ou man.
Meneer Matt Marais. ’n Polisieman, seker ’n vervlakste konstabel wat heeldag agter ’n lessenaar sit en liasseerwerk doen en dan wil hy kamma slaap. Gmf, snork sy onvroulik. Sy het gesien hoe veroordelend sy oë oor die paal in die middel van haar sitkamer gly. Goeiste,