Om met vuur te speel. Lucille du Toit

Om met vuur te speel - Lucille du Toit


Скачать книгу
uit haar oë.

      Die volgende oomblik begin musiek speel. Emarie het sowaar uitgepluis hoe die goed werk. Nou skop sy haar skoolskoene uit en klim op die koffietafel.

      Die volgende oomblik begin sy dans.

      Hier kom moeilikheid. Die beeld van Sasha in sy droom spook weer by hom.

      “Wat?” vra Emarie toe hy hande op die heupe na haar staar. “Dis uit bedagsaamheid dat ek net kyk of hulle werk.”

      Sy knipoog en Matt kry skoon ’n pyn oor sy borskas by die besef sy sus word groot.

      Met die sleutel in die deur vries Sasha.

      “Die bliksem.”

      Melin trek haar asem skerp in. Sy is nie gewoond daaraan dat Sasha vloek nie.

      Dan luister Sasha weer. “Die wetter.”

      Melin bars uit van die lag.

      “Hoor jy dit? Musiek. Kliphard. Helder oordag.”

      Eindelik stoot sy haar voordeur oop. Die pes gebruik sowaar haar luidsprekers. Maar sy is nou so gedaan na die adrenalien wat seker nog deur haar are pomp, dat sy nie kans sien vir nuwe drama met haar buurman nie. Saam met die bekommernis is haar lyf skoon lam. Wie weet of sy ooit die werk gaan kry.

      “Van wie praat jy?” vra Melin laggend.

      “My simpel nuwe buurman wat my luidsprekers gesteel het omdat ek nie my musiek wou sagter sit nie.” Sasha vertel haar vriendin alles. “En dan is hy nog ’n flippen hunk daarby.”

      Melin se skouers ruk soos sy lag: “Ai, Sash. Toe dink jy hy is ’n ontkleedanser?”

      “Meer soos wens, maar toe is hy net ’n mooi man, en hardekop soos ’n ou man.”

      “Jý, my vriendin, is die hardekop.” Melin tik haar teen die slaap.

      “Miskien. Maar hoe kry ek my luidsprekers nou terug? Die moontlikheid dat ek hulle binnekort sal moet verkoop, is groot. Én die res van die goed.” Sasha beduie na haar skootrekenaar op die lessenaar.

      “Moenie so negatief wees nie. Jy was fantasties. Gee Ricky net kans om daaroor te slaap. En buitendien sal jou pa jou in die hande kan kry as jy skielik alles wat hy vir jou gekoop het op die internet te koop adverteer.”

      Haar foon se vrolike deuntjie begin van iewers uit haar rugsak sing. Haastig grawe Sasha dit uit.

      “Hallo.” Vandat sy uit die Kaap weg is, beantwoord sy nie meer haar foon as Sasha-Lee Hugo nie.

      “Sasha, dis Ricky. Ek het goeie nuus. Een van my dames het haar enkel gebreek. Jy is in. Jy weet hoe dit werk, die een se dood is die ander se brood. Ek sal jou ’n aand gee om oor jou skok te kom. Sien jou môreaand seweuur. Moenie laat wees nie. En … dink solank aan ’n stage naam, oukei? Ons verkoop fantasie hier, onthou.”

      Sasha sit haar hand oor haar voorkop. Sy het dit sowaar reggekry. Al is dit nou nie juis iets om oor te spog nie, gaan dit oor die doelwit wat sy voor oë het.

      “Ek het die werk!” Sy gryp Melin om die lyf. “Môreaand is my eerste vertoning.”

      4

      Voor die spieël in haar donker badkamer pers Sasha haar lippe weer op mekaar. Die lipglans wat sy bo-oor haar lipstiffie aanhet, laat haar robynrooi lippe klam en blink lyk. Sy vee versigtig die paar swart spikkels oogskadu wat op haar wangbeen te lande gekom het met ’n sponsie weg.

      Die rokerige grimering laat haar oë nog groter lyk, weet sy goed. Haar wimpers kort dalk nog een laag maskara. Swaar grimering, is Melin se raad. Nadat sy haar wangbene met ’n brons blosser beklemtoon het, kyk sy weer in die spieël. Sy lyk asof sy aan ’n skoonheidskompetisie gaan deelneem.

      Met ’n krultang draai sy enkele, lang, spiraalvormige lokke.

      Terwyl sy kop onderstebo staan, spuit sy amper die hele blik haarsproei op haar hare uit. Sy waai met haar hand voor haar gesig om van die dampe ontslae te raak. Dan maak sy eerder die klein venstertjie in die badkamer oop. Sy begin van die donker hare hou, amper meer as van haar vorige blonde lokke.

      Die eerste ding wat sy gedoen het toe sy hier aankom, was om haar blonde hare sjokoladebruin te kleur. Ingeval iemand haar eien.

      Terwyl sy gou haar Jimmy Choo-skoene aantrek, vang haar oog die tyd op haar horlosie. Agt minute voor ses. In ’n rugsak pak sy twee uitrustings vir vanaand. Haar swart korset wat met kristalle geborduur is saam met die satyn-sjoebroekie wat daarby pas en nog ’n pienk-en-swart nommertjie.

      Toe sy vandag vir Melin die foto’s daarvan gestuur het, kon hulle nie besluit watter een die beste sal werk vir haar dans vanaand nie. Op die ou end het hulle saam besluit dat sy vir een van die meisies daar raad sal vra. Darem nie almal van hulle het gister mislik gelyk nie. Sy is seker iemand sal haar kan raadgee.

      By Skillie se deur moet Sasha eers weer met die handvatsel sukkel. Die ding haak effens vas en mens moet dit ’n paar maal trek voordat die deur oopgaan.

      Toe sy die sleutel draai en agteruit ry, begin die kar ruk. ’n Gorrel en nog twee rukke voordat die kewer tot stilstand skud. Met ’n skietgebed trap sy die koppelaar in en draai die sleutel weer, maar die enjin is morsdood.

      Dan sien sy die brandstofnaald lê onder die rooi. Kan dit wees?

      Sy kyk op haar horlosie. As sy nou nog eers na ’n vulstasie moet stap, petrol koop en kom ingooi, sal sy nooit betyds by die werk wees nie.

      En Ricky lyk nie na die tipe baas wat laatkommery sal duld nie. Buitendien is daar seker baie meisies wat nes sy desperaat vir werk is. Niemand is onvervangbaar nie, dít het haar pa altyd gesê. Toe die besef dat sy dalk nie onmiddellik genoeg geld gaan hê vir brandstof nie deurskemer, maak sy haar beursie traag oop.

      Léég? Sy grynslag by die gedagte dat sý, Sasha-Lee Hugo, ’n damsel in distress is. Wie sou dit ooit kon gedink het?

      Daar was dan nog gister geld in haar beursie. Sasha byt haar lip terwyl sy na die plek kyk waar sy gedink het nog ’n paar honderdrande sal wees. Of was dit eergister? Het sy die pizza gistermiddag toe met van haar laaste geld betaal? Vervlaks, sy moes die ou nie eens getip het nie.

      Haar sexy buurman glip weer ongenooid by haar gedagtegang in. Dalk kan sy hom om hulp vra.

      Dit sal die dag wees.

      “Argh!” Sy gee die stuurwiel ’n hou. Die Volla kan seker stof in enige nuwerwetse petrolvraat se oë skop. Dalk verdamp die ding se petrol soos goeie brandewyn uit ’n oeroue balie.

      Skielik is sy spyt oor die kos wat sy gisteraand gekoop het, maar sy wou feesvier na die goeie nuus dat sy die werk gekry het. En waar sy vandaan kom, is snoekpatee, vye en briekaas nou nie juis danig luuks nie. Maar dis wat sy kon bekostig het … of altans gedink het sy kon bekostig het.

      Weereens mis sy die gerief van haar pa se geld. Nee, sy durf nie so dink nie. Sy is om ’n baie goeie rede weg. Sy sal net moet begin besef dat om haar bankkaart te swaai nie meer ’n opsie is nie. Hopelik maak sy vanaand genoeg geld om deur die volgende week te kom en as alles goed gaan, kan sy geld vir haar droom begin wegsit.

      Eers moet sy by die werk kom. Dalk kan sy hier buite op die straathoek staan en van haar duur skoene of ’n handsak of twee verkoop? Maar hoe sal dit nou lyk?

      Sy bel vir Melin. Wat gaan haar vriendin sê omdat sy al weer ’n guns vra?

      “Hallo.” Melin fluister toe sy die oproep beantwoord.

      “Hoekom fluister jy so?” Onwillekeurig fluister Sasha ook.

      “Het jy nie my boodskap gekry nie? Ek en Alex is in die fliek.”

      “O. Nee. Jammer. Ek het dit seker nie gesien nie.” Sasha byt haar lip vas. Het sy nie al genoeg van Melin gevra nie?

      “Is iets fout?” vra Melin bekommerd.

      “Hmm, nee, dis sommer niks … geniet julle aand.” Nadat sy die oproep beëindig


Скачать книгу