Om met vuur te speel. Lucille du Toit
en dan uiteet.
’n Goeie vriendin sou lankal die boodskap gesien en beantwoord het, maar haar eie krisis is so intens dat sy haar vriendskap met Melin verwaarloos. Nee, vanaand kan sy nie weer op Melin staatmaak nie.
Dalk duimgooi? Hoe weet mens deesdae saam met wie jy in ’n kar kan klim?
Haar horlosie bevestig dat sy nog net ’n uur het voordat sy by Aantrekkingskrag moet wees.
Sal sy haar trots in haar sak steek en by haar sexy buurman gaan aanklop? O, hemel nee.
Wat anders?
Papnat met ’n handdoek wat laag op sy heupe hang, maak meneer Matt Marais sy voordeur vir haar oop.
Sasha trek haar asem skerp in. So met waterdruppels op sy kaal brons borskas lyk sy oë vanaand blouer as gisteroggend. Seker omdat die beneuktheid weg is. Sy lippe ruk geamuseerd voordat hy breed vir haar glimlag. Asof hy presies weet watter uitwerking hy op haar het.
“Sasha … wat ’n verrassing. As jy hier is vir jou luidsprekers – ”
“Mag ek inkom?” val sy hom in die rede. Sy hoor die aarseling in haar stem.
“Sure,” sê hy en staan weg sodat sy verby hom kan stap. Groot fout! Haar hande klou bewerig aan haar sak vas asof dit ’n reddingsboei is wat haar bo moet hou. Die skoon reuk van seep en skeerroom laat vlamme teen haar nek uitslaan.
Sy haat dit om so buite beheer te voel. Dit is dan juis die rede waarom sy hier in Mbombela is – sodat sý vir ’n verandering aan die stuur van haar eie lewe kan wees. Maar op die oomblik voel dit of sy nooit daarby sal uitkom nie.
Matt gryp ’n T-hemp wat oor die bank se rugleuning lê en trek dit gou oor sy kop.
Sasha kan sien hoe sy maagspiere golwe onder sy vel maak.
Vies dat sy dit oplet, kyk sy eerder weg.
Matt se meenthuis is nie juis wat sy interessant sal noem nie. Daar is bruin leerbanke in ’n L-vorm met ’n koffietafel in die middel. ’n Allemintige plasma-televisieskerm hang teen die oorkantste muur. Tipies man. En natuurlik wys daar op die oomblik sport. ’n Leë wegneemete-houer staan op die koffietafel langs ’n blikkie Coke.
Afgesien daarvan is die plek eintlik perfeksionisties skoon vir ’n man. Há! Hy bly natuurlik nie alleen hier nie. Tog, g’n teken van ’n vrou se hand nie. Teen sy mure is wit-en-grys foto’s van vliegtuie en helikopters. Die woonstel is pure man.
“Waarmee help ek?” Hy vryf oor sy kort hare. Waterdruppels spat op sy kaal voete. “Wag net ’n oomblik.” Hy draf na sy kamer en skuif die deur effens toe.
Sy probeer om hom nie agterna te staar nie, maar die oomblik toe die handdoek vloer toe val, sien sy deur die skreef hoe hy met sy kaal agterstewe in ’n denim inspring.
Flippit.
Haar pols versnel en sy moet diep asemhaal. Dit is die laaste ding wat sy nou wou gesien het.
’n Skoonheidskoningin-glimlag is nou nie wat Matt verwag het toe hy die deur oopgemaak het nie. Terug in die sitkamer vou hy sy arms voor sy bors, onseker of dit is omdat hy vies is dat die beeldskone meisiekind in sy huis is of omdat hy bang is sy sien hoe sy hart in sy borskas sucker punch nie. Die verraaier.
Vanaand het sy donker grimering aan en heelwat meer klere as vanoggend, maar die manier waarop die denimbroek en T-hemp aan haar perfekte figuur kleef, laat niks aan sy verbeelding oor nie. Haar bruin hare vou in sagte golwe om haar skouers.
Matt kug effens. Hy hou niks van die manier hoe sy hom laat voel nie.
“Soos ek sê, ek is nie hier oor die luidsprekers nie. Ek het gedink ons kan oorbegin … vanoggend was onnodig. Ons is immers bure.”
Matt staan verstar na haar mond en kyk. Met elke woord wat sy sê, kry sy hele lyf lewe.
“En … ek wil jou ’n groot guns vra,” begin sy toe Matt niks verder sê nie.
Matt kan voel hoe sy wenkbroue vanself lig. Sy wil hom ’n guns vra?
“Skillie wil vanaand niks weet van ry nie, en ek moet by die werk kom.”
Matt loer deur die venster na waar haar karretjie geparkeer staan.
“Sal jy my dalk net gou by my werk kan gaan aflaai? Ek sal jou môre vir petrol kan vergoed, want ek het nie nou kontant by my nie. Asseblief.”
Matt moet keer of sy gaan hoor hoe hy op sy tande kners. Nie omdat hy haar moet help nie. Ook nie omdat hy die wedstryd waarna hy gekyk het, gaan misloop nie, maar omdat hy presies weet hoe sy vanaand die kontant gaan maak om hom te vergoed.
“As jy my help, sal ek die hele diefstal-episode vergeet. Jy kan die speakers selfs hou.” Sasha se uitdrukking is pleitend.
Matt sluk ’n glimlag wat aan sy mondhoeke pluk. Sy lyk so oulik terwyl sy soebat. Hy vryf oor sy ken, onseker of hy die vroumens moet help. Wil hy by haar betrokke raak?
Sy hele wese skree hy moet van haar af wegbly, maar daai mooi lippe van haar blink vanaand soos glas … en demmit, daardie glimlag. En hy is nou maar ’n sucker vir meisies in ’n gemors; daarvan kan Lexi getuig. Hy het homself belowe hy sal nie dat enige vroumens hom ooit weer misbruik nie.
Matt skud sy kop asof hy die herinneringe aan Lexi van sy lyf sal kan afskud, maar dit is nie so maklik nie. “Kom ek kyk gou of ek iets fout sien in die enjin.”
Toe hy omdraai om sy gereedskapkis te kry, praat sy weer: “Dit sal nie nodig wees nie. Asseblief. Ek is reeds laat. Sal jy my asseblief eerder net kan aflaai?”
Matt knik. Net solank sy nie ’n gewoonte daarvan maak nie, sal dit seker nie skade doen om haar een keer te help nie. Miskien voel hy dan ook minder simpel omdat hy gister haar luidsprekers gevat het … en omdat sy steeds dink dat hy ’n polisieman is. Hy was nog van plan om hulle vandag vir haar terug te gee, maar kon nie besluit wat hy vir haar sou sê wanneer sy die deur oopmaak nie. En nou staan sy hier en sy lyk so aanloklik.
Hy kan net hoop dat hy sy oë op die pad gehou kry. “Goed. Ek kry gou my sleutels.”
In Matt se bakkie voel die spasie skielik vir Sasha vreeslik klein. Die man se nabyheid is vir haar heeltemal verstikkend. Sy lekker skoon seep- en mentgeur omring haar en laat haar hart paaldans van plesier. Maar, keer sy haarself, sy kan nie enigsins by hom betrokke raak nie … by enige man betrokke raak nie.
Vir al wat sy weet, is sy nog verloof.
Skielik draai hy en leun oor haar, en voel dit asof al die lug uit haar longe ontsnap. Wat maak die man?
Dan vat hy die veiligheidsgordel en maak dit om haar skraal lyf vas. Vir ’n oomblik bly hy roerloos naby. Sy gesig is so naby sy kan elke detail van sy sexy mond sien.
“Jy ry nie saam my sonder om jou vas te maak nie,” sê hy amper kwaai.
As haar hart net nie so boosaardig wou klop nie! Sy waag ’n vinnige blik na sy kant toe terwyl sy haar handsak senuweeagtig op haar skoot vasklou. Selfs sy profiel is dié van ’n Adonis. Of nee, hy lyk eerder of hy net ’n kitaar en cowboyhoed kort. En natuurlik ’n koringhalm wat hy in sy kies hou en af en toe aan kou.
“Dankie.” Gespanne gooi sy haar hare oor haar skouer en draai haar kop weg. Sy wil eerder by die venster uitkyk as om weer ’n blik in sy rigting te waag. Sasha moet haarself herinner dat hy gister soos ’n idioot opgetree het en nie enigsins van plan lyk om haar luidsprekers terug te gee nie.
“Waarnatoe?” vra Matt toe hy by die kompleks se hek uitry.
Sasha sluk hard. As sy nou nie vrek laat was nie, sou sy dat hy haar twee blokke van Aantrekkingskrag af aflaai, maar daarvoor is daar nie tyd nie. Hy het buitendien gisteroggend die paal in haar sitkamer gesien. Hy is nie dom nie. Sy kon sien hy weet presies waarna hy kyk.
“Andersonstraat,” sê sy huiwerig. “Jy kan my buite Aantrekkingskrag aflaai … asseblief.”
Matt kug. Die spier in sy wang spring. Sy kneukels