Om met vuur te speel. Lucille du Toit
blik ontvlug eerder na buite. Sy weet nie of sy bly of bang moet wees dat Matt juis nou kies om sy bakkie se vermoë te toets nie. Hy ry al vinniger en daardie spier in sy wang spring amper saam met die ritme van die musiek wat sag speel.
Toe hy nie buite die klub stilhou nie, raak Sasha verward. Sy moet nou uit die kar kom! “Jy kan my sommer net hier aflaai.”
Matt ry net weer deur die stampvol parkeerarea.
“Regtig … ek waardeer jou moeite, maar ek is klaar laat en … ” Sy wil vir hom sê dit is haar eerste aand, sy kan nie laat wees nie, maar sy los dit. Hoe minder haar buurman van haar weet, hoe beter.
Uiteindelik parkeer hy die groot stuk blik met gemak op ’n piepklein parkeerplek. Dankie tog.
Toe die bakkie tot stilstand kom, leun Matt oor haar. Hy sit sy hand op die handvatsel.
“Is jy seker jy wil uitklim?” vra hy bekommerd.
Sy kan die frons op haar voorkop voel. Nee. Sy is nie seker nie, wil sy skree, maar los dit ook.
“Natuurlik. ’n Meisie moet eet, of hoe?” Sasha glimlag, maar sy kan voel dit bereik nie haar starre oë nie.
Matt kyk deursoekend na haar asof hy die leuen op haar gesig kan sien.
Voordat sy van plan verander, pluk sy gou haar deur oop en spring uit. “Weereens dankie!”
Hy knik net.
Sy blik gee haar so ’n effense pyn oor haar hart. Sy is nie seker of dit bejammering of woede is nie.
Sasha trek haar skouers reguit. Sy kan nie nou aan meneer Matt Marais se veroordelende blik dink nie. Nog minder aan hoe skuldig dit haar laat voel oor iets wat sy nog nie eens gedoen het nie, al is sy seker dat sy vanaand ’n streep in haar lewe gaan oorsteek waaroor sy nooit weer sal kan terugtree nie.
Vanaand is sy iemand anders. Vervlaks! Sy het skoon vergeet om vir haarself ’n nuwe naam uit te dink.
Toe Sasha wegstap, wil sy omkyk na hom, maar keer haarself. Sy moet fokus. Op haar vertoning. Hopelik sal al die jare se model- en balletklasse vanaand in haar guns tel.
Miskien sal sy eendag vir hom vertel wie sy regtig is en hoekom sy doen wat sy doen, maar nie gou nie.
Voordat sy die deur oopmaak waar al die personeellede moet ingaan, onthou sy haar ma wat haar as dogtertjie altyd in liefde en sprokies laat glo het. Sal haar ma nog dink mens kan liefde enige plek kry as sy weet waar haar dogter vanaand is? Nee. Haar ma glo lankal self nie meer in sprokies en ware liefde nie. Anders sou sy nie toegelaat het dat haar pa vir haar, wat Sasha-Lee is, ’n man van sý keuse uitsoek nie.
Die klub se ligte is gedemp toe sy binnestap. Rook borrel uit rookmasjiene en rol oor die verhoog.
“Jy’s laat, skat.” Dis Ricky wat met haar arms gevou teen die kroeg staan, wat praat: “Tientalle meisies het vir die werk tougestaan. Moenie dat ek spyt kry dat ek vir Alex ’n guns doen nie.”
Ricky se streng blik dring haar siel binne. Sasha stap nader. “Hi. Jammer dat ek laat is. Dit sal nie weer gebeur nie, ek belowe.”
Ricky knik: “’n Paar reëls. Geen snaakse besigheid nie. Jy laat nie toe dat mans aan jou vat nie. Hulle mag net kyk. Verstaan jy my?”
Sasha knik dankbaar.
“Jy het te alle tye iets aan jou bas en oor jou borste aan. Die plek het klas, hier laat ons iets aan die verbeelding oor.”
“Oukei,” sê Sasha.
“Ek is nie klaar nie.” Ricky kyk kwaai na haar. “Jy is te alle tye goed versorg. Jou hare en naels en jou lyf. Sorg dat jy elke dag gaan gym of een of ander soort oefening kry. Ek laat nie sellulietbelaaide dye op my verhoog toe nie. Daar agter om is die kleedkamers. Gee weer jou musiek vir Mike,” sê sy. “Toe-toe, moet nie net hier staan nie. Roer jou!”
Ricky se stem laat Sasha ruk van die skrik. Sy is nie gewoond daaraan dat mense so met haar praat nie, en nog minder dat sy vir ’n baas moet werk.
“Het jy al aan ’n naam gedink?” roep Ricky agterna.
Sasha draai om: “Nee,” sê sy verleë. Hoe kon sy daarvan vergeet het!
Ricky skud haar kop ontevrede.
Sasha skarrel eerder in die rigting waarin Ricky beduie het. Agter ’n robynrooi fluweelgordyn sien sy klomp meisies wat aantrek. Sy sal dit nou nie juis ’n kleedkamer noem nie, maar dit lyk vir haar sy is ten minste op die regte plek.
Hier is rakke met verskillende uitrustings en rye spieëls teen die een muur. Grimering lê op die werkblad besaai met kunswimpers, watte, kunsnaels en gefrommelde sneesdoekies oral. Visnetkouse hang oor die stoele se ruglenings.
Nes sy nog altyd gedink het dit dalk agter die skerms van ’n Victoria’s Secret-vertoning lyk.
“Hallo. Is jy die nuwe girl?” vra ’n vrou met ’n kort blonde bob.
Sasha knik.
“Ek is Tammy. Welkom. Jy onthou seker vir Vee.” Tammy beduie na die maer rooikopvrou wat haar dans verfilm het.
Vee knik net.
“En daar is Angie, Bekka, Colleen, Vera en Geraldine.”
“Dankie, en hi, julle.” Sasha sluk hard toe sy sien hoe van die meisies aangetrek is. Haar hart klop soos iemand wat aan ’n toe deur hamer. Asof die ding haar wil laat wakker skrik en sê: Dít is nie vir jou nie. Sy haal ’n paar maal diep asem.
Sy moet dit net doen.
Op enige ander plek sal iemand haar dalk herken, maar hier kan sy wegraak. En as sy genoeg geld bymekaar gemaak het, gaan sy haar eie uitgewery oopmaak – sonder haar pa se hulp of sy geld.
Die ironie van wat sy vanaand doen, gaan nie ongesiens verby nie. Sy is eintlik ’n boekwurm wat daarvan hou om veilig, deur die karakters in boeke, wilde avonture te hê.
Na vanaand sal sy seker self ’n boek kan skryf.
“Kyk op die rails, kry vir jou iets om aan te trek as jy nie jou eie outfit gebring het nie. En gee vir my jou musiek. Ek sal dit gou vir Mike vat. Ricky is skoon beneuk vanaand. Twee meisies is siek. So jy sal dalk meer as een keer moet dans.”
“Maar … ” Sasha wil nog vir Tammy verduidelik dat sy net een dans geoefen het, maar sy is klaar weg. Hoe op aarde sal sy sommer nog ’n dans uit haar duim kan suig?
“Fake it till you make it,” kom haar ma se simpel woorde by haar op.
As haar ma darem moet weet waarvoor sy vanaand dié brokkie goue raad gaan gebruik.
Woede borrel na die oppervlak toe Matt sy bakkie voor sy meenthuis parkeer. Hy stap na Sasha se groen Volla. Hy sluk moeilik aan die feit dat sy oulike buurvrou haar klere voor klouerige mans afpluk om ’n bestaan te maak. Waar is haar familie? Waardeur moet jy gaan om by so ’n plek op te eindig? Is daar nie mense wat vir haar omgee nie en wat kan voorkom dat sy doen wat sy doen om aan die lewe te bly?
As hy net dink dat Emarie so iets moet doen om kos op die tafel te sit, raak hy naar van ontsteltenis. Hy wou eers by die vervlakste klub uitklim en self gaan kyk wat daarbinne aangaan, maar het besluit om dit te los.
Sasha is sy buurvrou, nie sy meisie of sy sus … of Lexi wat gered moet word nie. En sy is groot genoeg om haar eie besluite te neem. Dit is net die vervlakste beklemmende gevoel, asof ’n luislang stadig besig is om om sy lyf vas te trek, waarvan hy niks hou nie.
Hoe gaan sy boonop vanaand by die huis kom? Voor hy homself kan keer, voel hy aan die deure van die kar. Die ding is nie eens gesluit nie. Dit het hy amper verwag. Hy kan hom net so wel besig hou, want anders gaan hy heelaand aan haar dink en aan wat sy nou doen.
“Sjoe, dit was goed!” sê Sasha toe sy uit die pad staan vir die klomp wat van die verhoog af gedraf kom. Die vertoning word geopen deur ’n paar van die meisies wat ’n gesamentlike nommer doen. Sasha is nie seker hoekom sy so verbaas klink, asof