Ter wille van geluk. Naretha Franken
en werk so naby mekaar is, kom Stiaan baie dae sommer saam met haar en is hy vir baie pasiënte ’n opkikkering in hul dag. Met sy groot blou ogies en liefdevolle geaardheid het hy van kleins af pasiënte se harte gesteel en stil-stil met die rehabilitasie van party van hulle gehelp. Soms het sy hom selfs toegelaat om vir Milo, sy Jack Russell, saam te bring as sy gedink het dit sou help om iemand se gemoed ligter te maak.
Veral by die ouer en die kinderpasiënte het Stiaan en Milo al meer as een keer die pad vir die psigiaters en sielkundiges oopgemaak.
Noudat hy ouer is, kom en gaan hy al amper soos hy wil. As sy sien, dan is hy maar hier. En as hy nie hier is nie, wil almal weet waar hy dan vandag is. Gelukkig is die terrein veilig en hou die sekuriteitsbeamptes en personeel almal ’n ogie oor hom.
Sy onthou sy eerste kuiertjie by die kliniek en glimlag onwillekeurig ondanks die benoudheid in haar bors.
Stiaan was toe amper drie en het partykeer nog gesukkel met die l- en s-klanke. Eintlik was hy die dag toevallig daar, want haar ouma moes vir mediese toetse Kaap toe gaan en sy het nie geweet wat om met hom te maak nie. Met die nodige toestemming het sy hom saam werk toe gebring, terwyl Lizel tussendeur moes help om hom besig te hou.
Hy was nie ’n halfuur aan Lizel se sorg oorgegee nie, toe dié in trane vir haar kom sê dat Stiaan weg is en dat sy hom nêrens kry nie.
Dit was syself wat hom ’n rukkie later opgespoor het en in haar spore tot stilstand geskok is.
Stiaan het gestaan voor die rolstoel van Pieter Cronje, ’n oupa wat nie net sy arm in ’n ongeluk verloor het nie, maar ook die lewe van sy geliefde kleinseun. Hy was reeds twee maande hier en wou steeds nie regtig met enigiemand praat nie. Hy was koppig en onbeskof. Alles wat hy gedoen het, was onder protes. Die personeellede het moed begin opgee en het wye draaie om hom geloop.
Met ingetrekte asem het Marina agter die pilaar bly staan en gewonder hoe Pieter sou reageer. Sy was gereed om haar kind voor sy aanslag te gaan wegraap, maar toe gebeur die wonderlike oopbreek van die innerlike sweer voor genesing kan kom.
Verslae het sy gestaan en luister na haar driejarige kind en besef hoe sensitief die mensdom eintlik teenoor ’n kind is.
“Is jy kwaad vir liewe Jesus?” Het Stiaan in sy gebroke taal gevra en tot tussen Pieter se bene gestap.
Marina het asem opgehou vir Pieter se antwoord en reaksie. Waar sou Stiaan aan so ’n vraag kom? Haar grootste vrees was dat hy die arme kind sou wegstamp en hoe so ’n gebaar hom kon skaad.
Die was vir ’n rukkie doodstil. Tot die voëltjies in die boom waaronder Pieter gesit het, het stil geraak.
En toe het Pieter gepraat. Hy het vir Stiaan op sy skoot getel, en Marina kon die emosie in sy stem hoor toe hy sag antwoord: “Ek is, ja. Hoe weet jy?”
“Oom se arm is af en oom lyk hartseer. Is dit baie seer?”
“Net partykeer is dit seer. Wat maak jy hier?”
“Mamma werk hier. Ek bly altyd by Ouma, maar sy is vandag hospitaal toe.”
“Wat is jou naam?”
“Thiaan.”
“Tiaan?”
“Nee, oom. Thiaan.”
“O, oukei. Nou weet ek. Stiaan.”
“Jaaaa.” Stiaan het gegil-lag en van Pieter se skoot afgegly. “Is oom ’n oupa?”
Marina se spiere het weer saamgetrek, maar sy het verskuil agter die pilaar gebly.
Stilte.
“Ek was ’n oupa, ja, maar nie meer nie.”
“Hoekom nie? Ith hy dood?”
Pieter moes geknik het, want Stiaan se vertroostende woorde het nie net vir Pieter nie, maar ook vir Marina in trane gehad.
Verslae het sy tot op haar hurke afgesak.
“Toemaar, oom. Hy is nou die mooiste engeltjie in die hemel. My oupa is ook ’n engeltjie, en ouma sê dis baie beter daar as hier by ons. Nou hoef oom nie meer oor hom te worry nie, hy’th nou veilig.”
Van agter die pilaar het sy besef dat Stiaan haar ouma se woorde herhaal het. Dit was hoe hulle sy vrae oor oupa Sebastiaan beantwoord het nadat hy stil in sy slaap oorlede is. Nooit het sy egter besef dat dit soveel impak op die kind sou hê nie. Nog minder sou enigiemand kon dink dat daardie besoek van klein Stiaan tot Pieter se herstel sal lei nie.
Die storie het soos ’n veldbrand versprei en van daardie dag af was Stiaan oral welkom. Sommige van die personeellede noem hom speels “dokter Stiaan” en daarop is hy baie trots.
Hoe gaan sy aan haar kind verduidelik dat sy hom van môre af nie naby die kliniek wil sien nie?
Marina se hart krimp ineen.
Toe sy voor hulle huis tot stilstand kom, is daar tog ’n stemmetjie wat by al die vrees en paniek verbykom en haar bietjie kalmeer. Die stemmetjie herinner haar dat Christiaan ’n pasiënt is en klaarblyklik nie eens weet dat sy hier werk nie.
Ook maan dit haar dat sy dankbaar moet wees dat sy nie môreoggend trompop in hom gaan vasloop nie, maar dat sy bietjie van ’n voorsprong het en haar vir die ontmoeting kan voorberei.
Milo ontvang haar met ’n swaaiende stert toe sy die voordeur oopstoot.
Sy sit die sak met die lêer op die vloer neer en besef dan eers hoe lam haar arm is. Sy was so ingedagte dat sy nie eens agtergekom het hoe swaar die sak geword het nie.
“Jinne, my kind, kyk hoe nat is jy. Môre is jy siek, gaan klim dadelik in ’n warm bad.”
“Ek sal fine wees, Ouma.” Sy trek haar nat jas uit en gee dit vir haar ouma. “Sal Ouma dit gou kombuis toe neem, asseblief?” Dan gaan sit sy sommer op die vloer en trek haar deurweekte tekkies en sokkies uit.
“Ek weet nie vir wat jy nie die kar gevat het nie.” Ouma Susan hou haar hand uit vir die tekkies en sokkies. Eers toe stap sy kombuis toe.
Marina laat haar begaan.
Kaalvoet loop sy in die gang af na haar seun se kamer. Bekommerd kyk sy na die slapende gesiggie. Sy wou dit nog nooit erken nie, sy wou dit nie sien nie, maar vanaand, met die verlede op hulle drumpel, kan sy nie anders as om dit te erken nie: Stiaan lyk net soos sy pa.
Sy soen hom sag op die voorkop en vee teer oor die blonde haartjies. Sy moet haar kind beskerm, maar een ding weet sy immers vanaand: Vlug gaan en kan sy nie weer nie. Baklei wél.
2
Marina wag totdat haar ouma naggesê en haar kamerdeur toegemaak het voordat sy die sak met lêers gaan haal en die lêers weer in hul onderskeie hopies voor haar op die koffietafel rangskik. Die televisie speel sag in die agtergrond.
Doelgerig begin sy eers met die ou pasiënte se lêers, maar sy sukkel om te konsentreer. Haar hartklop versnel elke keer wat sy aan daardie ander lêer dink.
Met die nuwe pasiënte probeer sy regtig harder konsentreer. Elke geval is uniek, maar gelukkig nie te vreemd nie.
Dan bly nog net die een lêer op die tafel oor. Sy kyk lank na die bekende naam. Sy sou nie vrou gewees het as sy nie ’n bietjie nuuskierig was nie. Om die waarheid te sê, noudat sy meer gewoond geraak het aan die wete dat hy hier naby is en dat sy kalmer kan dink, is sy sommer vrek nuuskierig om te weet wat agter sy opname by die SARR Kliniek skuil.
Van een ding is sy immers seker en dit is dat hy nie hier opgeneem sou gewees het as dit nie ernstig was nie.
Sy gaan maak eers vir haar ’n beker rooibostee en drink die helfte daarvan uit voordat sy die lêer nadertrek. Haar hande begin van voor af bewe, en met haar oë toe, haal sy ’n paar keer diep asem. Dan begin sy heel boaan die vorm. Sy naam, geboortedatum – die adres is nog dieselfde, mediese fonds se besonderhede en dan sy naasbestaandes. Mevrou Ruchelle Barnard – suster. In die volgende kolom van naasbestaandes staan kort en kragtig: GEEN.