Ter wille van geluk. Naretha Franken
is wanneer jy sorgloos langs die see lê. Gisteraand toe ek die lêers kom kry het, was Helene hier met die X-strale van mevrou Breedt, een van ons nuwe pasiënte. Die pasiënt is deur verskriklike trauma en het baie letsels daarvan oorgehou. Geestelik sowel as liggaamlik.
“Ek sal haar behandeling ook oorneem, maar julle kan gerus net op hoogte van haar omstandighede kom.”
Hulle knik beide.
“Dan op ’n ligter noot: Ek hoor oom Peter is huis toe. Mag hy altyd vir ons ’n voorbeeld bly. Ons wou almal tou opgegooi het – oorgegee het – en siedaar! Vandag is hy terug in die samelewing. En dit is waarvoor ons hier is en waarvoor ons werk.”
Hulle bespreek nog ’n paar gevalle voordat Martie opstaan en die stoel terugskuif tot ’n entjie van die lessenaar af. “Ek moet wikkel. Mevrou Griesel wag seker al vir my. Sien julle later.”
Toe sy en Dewald alleen is, trek sy Christiaan se kaart uit die boksie en vra telefonies vir Lizel om gou Christiaan se lêer vir haar te bring. Met die lêer oop voor haar kyk sy op na Dewald wat haar die hele tyd dophou.
“Oukei, Dewald, lig my in. Wat is wat. Vertel my alles wat jy weet. Ek weet ek kan als in sy lêer kry, maar dis makliker as jy my inlig. Wat is sy prognose? Wat sê sy dokter?”
Dewald sug liggies. “Ek weet nie wat jy reeds weet nie, maar …”
“Maak asof ek niks weet nie. Begin voor.”
Dewald vee eers oor sy kaalkop asof hy dink. “Die ou het blykbaar probeer selfdood pleeg. Hy is, of liewers, was ’n ryk wynboer uit die Stellenbosch-omgewing. Was getroud, maar is geskei. Volgens sy huisdokterverslag was hy ’n paar keer in en uit rehab vir drankverslawing. Soms ook dwelms. Dit het ongeveer so vyf of ses jaar gelede begin, nog voor sy egskeiding. Ten tye van die motorongeluk het hy blykbaar weer in dié gewoontes verval.
“Na die ongeluk was hy vir amper twee maande in ’n koma. Dit het nogal gehelp om hom op passiewe wyse te rehabiliteer. Daarna is hy nog ’n ruk in die hospitaal behandel, maar hulle het later moed opgegee. Hy is toe onder toesig van sy suster ontslaan.”
Marina voel stokstyf van spanning. “Jy sê hy sal weer kan loop?”
“Ja, noudat die swelsel en bloeding gesak het, lyk sy kanse goed. Daar is geen skade aan sy rugmurg nie, tog wel nog van sy spiere wat onder swelling vasdruk. Ongelukkig het daar reeds baie spierweefsel verlore gegaan en is sy bene teen dié tyd uitgemergel. As die b … As die man net wil saamwerk.”
Marina voel opnuut duiselig van verligting en sy moet die begeerte om op haar knieë te val en dankie te sê sterk onderdruk. Sy sal hom weer laat loop. Sy moet net.
Die skril geluid van die telefoon laat haar amper orent spring. Dewald beduie dat hy moet gaan, en sy waai vlugtig vir hom terwyl sy die gehoorstuk optel en teen haar oor druk.
“Hallo, Ouma.”
“Môre, kind. Jong, ek weet jy het gevra dat ek vir Stiaan daar moet weghou, maar Lisbeth van langsaan het hier aangekom en met die geselsery moes hy weggeglip het. Hy en Milo het die pad gevat. Hulle kan dalk hier iewers naby speel, ek het nog nie regtig verder as die huis gesoek nie, maar ek het net gedink ek moet jou waarsku.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.