Ter wille van geluk. Naretha Franken
Lizel neem die skinkbord en stap agter Marina aan. “Hoe gaan dit met dokter Stiaan? Ons het hom gemis. Jy moet vir hom sê hier is baie werk vir hom.”
Marina sak dankbaar in die stoel agter haar lessenaar neer. “Dankie, Lizel.” Sy neem dadelik ’n sluk van die warm koffie en leun terug in haar stoel.
Gelukkig was Lizel netnou agter haar en kon sy haar gesig nie sien nie. Sy sal haar teen dié soort uitlatings moet staal, want daar gaan nog baie van hulle wees.
“Dit gaan goed met hom. Vol dinge soos altyd. Hy en Ouma gaan vandag bietjie by die tweeling kuier.”
Lizel lyk regtig teleurgesteld. “Ag nee, ek het gehoop hy kom kuier.”
“Hy sal hom wat verbeel.” Sy lag weer, dankbaar dat haar gedagtes afgelei word. “Jy sal my nie glo nie, maar hy het hom sowaar aan sy nuwe maatjies by die see as ‘dokter Stiaan’ voorgestel. Toe hulle vir hom lag, het hy parmantig omgedraai en gesê hulle moet vir my kom vra, of anders moet hulle die SARR Kliniek self bel.”
Lizel slaan haar hand voor haar mond en lag heerlik. “Dis my kind daai!”
“Hy word te ernstig groot. Somtyds wonder ek of dit ’n goeie ding is, of ek hom nie liewer bedags in ’n speelgroep moet sit waar hy behoorlik kind kan wees nie.”
“Stiaan is nie ’n gewone kind nie, Marina. Hy is ’n gebore dokter soos sy oupa. Speelgroepies gaan hom verveel.”
Marina trek haar skouers op. “Ek weet, maar … Waar is daardie kaarte dat ek aan die gang kom?”
“Ek bring hulle.” Lizel skarrel uit en vir ’n oomblik kan Marina net haar oë sluit. Toe sy met die houer pasiëntekaarte terugkeer, sit Marina dadelik regop. “Dankie, Lizel. Is Peter Gregory toe al huis toe?”
“Jip! Hy is laas Vrydag weg. Die omie was omtrent hartseer. Shame, ons het sommer almal saam met hom gehuil. Mens kon nie glo dis dieselfde man wat ’n paar maande gelede hier ingestoot is nie.”
“Dis wat ons beroep lekker en sinvol maak. Sulke pasiënte. Ons gee hulle ’n tweede kans.”
Marina is besig om die laaste stukkie beskuit in haar koffie te week toe Martie en Dewald saam by ontvangs instap. Die beskuit het toe makliker afgegaan as wat sy gedink het – seker ’n teken dat haar liggaam kos nodig het vir die dag wat voorlê. Haar kantoordeur staan oop en sy luister ’n oomblik hoe die twee argumenteer en dan skielik stil word.
Sy glimlag. Lizel het hulle seker gewaarsku dat sy terug is.
Oomblikke later loer hulle om die halfoop deur: “Welkom terug. Ons het jou gemis.”
“Ek hoor so, ja. Wat sou julle tog sonder my gedoen het?” spot sy saam terwyl sy elkeen met ’n stywe drukkie groet. “Gaan kry gou vir julle koffie, dan kom sit julle hier by my sodat ek bietjie op hoogte van alles en almal kan kom.”
Sy blaai vlugtig deur die pasiënte se kaarte terwyl sy wag. Gedurende die naweek het daar twee nuwe pasiënte ingekom, waarvan een die vrou is waarvan Helene haar vertel het. Sy ken dus die pasiënt se agtergrond en geskiedenis en lees net vlugtig deur die doktersverslag. Mevrou Breedt is tydelik in afsondering.
Marina neem haar voor om self met die vrou te werk. Sy skryf haar naam gou op die stippellyn in.
Die ander nuwe pasiënt is ’n jong vrou wat haar arm in ’n motorongeluk verloor het, maar dit gaan gepaard met die verlies van haar seuntjie wat saam met haar in die motor was. Soos in die meeste gevalle sal hier baie nou saam met die span sielkundiges gewerk moet word.
Ook hier skryf Marina haar naam op die stippellyn in. Hoe meer pasiënte sy het, hoe makliker is dit om ander te vermy.
Toe die ander twee fisioterapeute voor haar lessenaar sit, skuif sy die houer met kaarte bietjie eenkant toe en glimlag. “Nou toe, wat’s nuut, snaaks, boos of anders waarvan ek moet weet? Behalwe Dewald se nuwe haarstyl?”
Dewald wat ’n beeld van ’n man is, met donker hare en donker sensitiewe oë, vryf selfbewus oor sy kaalgeskeerde kop en vou sy hande dan vies op sy skoot. Blykbaar was sy pa ’n Spanjaard wat op ’n nederige boeremeisie verlief geraak het. Coenie, sy jare lange vriend, is ’n haarkapper wat gereeld nuwe haarstyle op Dewald toets. Dis nie die eerste keer dat Dewald met ’n kaalgeskeerde kop daarvan afkom nie.
“Ek neem aan Coenie se nuwe eksperiment was toe weer ’n flop?”
“Kom ons praat liewer nie daaroor nie. Ek’s nog so de hel in vir hom dat ek in die uitskopstoel voor die televisie slaap. So have mercy met my asseblief. Die nagte is lank en my rug seer.”
Marina kan net lag. Dié twee het al vir baie drama en humor in die kliniek gesorg. Haar blik gaan vlugtig na Martie wat sukkel om haar lag weg te steek. Dis duidelik dat Martie weet hoe die proefneming gelyk het. Een vuil kyk van Dewald laat haar egter gou sluk en regop sit.
“Nou toe. Waar begin ons?” vra Marina saakliker.
Dewald vat gou ’n sluk van sy koffie en leun dan vorentoe om sy arms op die lessenaar voor hom te laat rus. “Kom ons begin sommer met die probleemgeval. Meneer Van Breda het kort nadat jy weg is, hier aangekom. Martie het hom probeer behandel en hom toe oorgeskuif na my toe.
“Sonder om lelik te wees, boss, ek gee op. Ek het genoeg gehad. Daar is geen salf aan hom te smeer nie. Almal in die kliniek is al gatvol vir hom. Ek kom nou net van hom af.”
Martie knik en haar oë vertel dat sy net soos Dewald voel.
“Ek kry tot al die veiligheidswagte jammer. Julius moes al ’n hele paar keer van sy hoë wagtoringstoeltjie afklim om Van Breda van die swembad af te gaan weghaal.”
Martie se stem is sag toe sy praat: “Ek kry hom in ’n mate jammer. Dis duidelik dat hy nie wou bly lewe het nie. En nou neem hy almal kwalik wat hom terug na die lewe gebring het. Ek vrees dat hy sodra hy die kans kry, weer gaan probeer om sy eie lewe te neem. Volgens Julius staar hy die hele tyd wat hy buite sit na die swembad.”
Marina besef dat sy sal moet asemhaal, want sy is op die punt om flou te word. Dit mag nie gebeur nie.
Christiaan! Hoe is dit moontlik? Haar liewe dierbare man – hoe is dit moontlik dat sy lewe so handuit geruk het?
“Daar is soveel mense vir wie daar geen hoop is nie. Hierdie ou moet net saamwerk en hy kan binne ’n paar maande weer op sy voete wees,” voeg Martie moedeloos by.
Marina voel hoe haar liggaam ruk. Gisteraand het sy nie die moed gehad om Christiaan se doktersverslae deur te lees nie. Verstaan sy reg? Is daar nog hoop vir hom? Sal hy weer kan loop? Dis asof die son deur die wolke wil breek.
Sy is amper te bang om te vra, maar kan haarself ook nie keer nie. “Is daar dus ’n kans dat hy weer kan loop? Ek was te moeg gisteraand om al die doktersverslae te lees.”
Dis weer Martie wat sag antwoord: “Sy prognose lyk goed. Die wil om weer op te staan is net nie daar nie. Dis nêrens aangeteken nie, maar ek vermoed die ou het ’n skuldgevoel oor iets – daarom die selfdoodpoging en negatiewe uitkyk op die lewe.”
Marina staal haarself. “Kon niemand nog uitvind wat daaragter skuil nie? Die psigiaters, kon hulle …?”
Dewald skud sy kop driftig. “Ek sê mos vir jou, hy maak nie sy mond oop nie en weier om enige samewerking te gee. Dit verbaas my dat hy nog eet. Hy roer nie eens sy oë wanneer mens met hom werk nie.”
Die skuldgevoel wat reeds die vorige aand al in Marina se kop kom klouter het, raak al groter. Dit bied haar geen keuse nie: Vir al wat sy weet, is sy miskien die enigste persoon wat Christiaan van Breda kan help.
Sy kyk van die een na die ander. Hoor dan hoe haar stem verklaar dat sy hom as pasiënt sal oorneem.
Dit voel of die duisende breinselle in haar kop almal in opstand kom teen haar besluit. “Is jy van jou flippen kop af?” skreeu hulle. Maar sy weet daar is geen ander uitweg nie.
Die twee aan die oorkant van die lessenaar lyk