Ter wille van geluk. Naretha Franken

Ter wille van geluk - Naretha Franken


Скачать книгу
om te weet hier is groot fout. Die seer en stille hulpkreet lê vlak in die bruin kykers, en uit ondervinding weet sy dat daar net een persoon is wat daardie bruin bokkie-oë so kan laat lyk.

      Daarom besef sy ook dat sy baie versigtig sal moet wees en Marina kans moet gee om te verwerk wat ook al nou in haar woed. Vermoedelik het een van die pasiënte se lêers haar weer aan daardie tydperk in haar lewe herinner. ’n Tydperk waaroor sy tot vandag toe nog swyg nes die naam wat nooit weer genoem is nie.

      “Moeilike gevalle?” vra sy sag. Haar hart pyn toe sy die verligting in Marina se lyftaal sien.

      Marina lag kamma ongeërg en strek haar eers uit voordat sy opstaan en na die bank agter haar verskuif. “Gelukkig darem nie almal nie. Die helfte is ou pasiënte wat Lizel sommer bygesit het sodat ek kan inhaal.”

      Hulle gesels ’n rukkie oor van die pasiënte, later oor die vakansie wat verby is totdat Susan se teekoppie leeg is en sy Marina se leë beker by haar neem en kombuis toe stap.

      Marina luister hoe haar ouma die teekoppies uitspoel. Die spanning wat vir ’n oomblik kans gekry het om te lig is weer aan die terugkeer.

      Sy sal nie hier kan opstaan voordat sy weet wat agter Christiaan se teenwoordigheid skuil nie.

      Toe haar ouma oomblikke later weer inloer om nag te sê, sit Marina op die mat met ’n lêer op haar skoot.

      “Dan sê ek maar weer nag. Moenie te laat werk nie, jong, en sit ’n kussing onder jou sitvlak. Môre het jy nierprobleme en dan weet jy nie waar jy daaraan kom nie.”

      Marina glimlag en trek dadelik een van die kussings van die bank af en druk dit onder haar in. “Oukei, moeder Teresa. Tevrede?”

      Haar ouma knik. “Lekker slaap.”

      “Ouma!”

      Ouma Susan draai om en loer oor haar bril na haar kleindogter.

      “Sal Ouma asseblief vir Stiaan ’n paar dae kan weghou van die kliniek af? Hier is ’n paar gevalle waaraan ek hom nie graag wil blootstel nie.”

      “Ek kan probeer, maar jy weet hoe die mannetjie is. Jy dink nog hy is hier, dan …”

      “Ouma, dis baie belangrik. Ek soek hom die volgende paar dae nie naby die kliniek nie.”

      Susan frons liggies. Marina se ontsteltenis bevestig net haar vermoedens – tussen Marina se vinnige besoek aan die kliniek vanmiddag en haar tuiskoms het iets drasties verkeerd geloop. Sy het haar lanklaas só gesien.

      “Ek sal my bes doen, hartjie. Ons twee kan sommer môre bietjie dorp toe ry en by Leendra en die tweeling gaan kuier. Stiaan geniet dit om daar te gaan speel.”

      “Dankie, Ouma.” Marina laat sak haar oë na haar hande.

      “Jy weet dat ek hier vir jou is, my kind. Enige tyd – dag of nag. As jy ’n oor nodig het, sal Ouma luister. Jy het nie nodig om alles altyd alleen te probeer dra nie.”

      Marina vee met die agterkant van haar hand die trane van haar wange af. “Ek weet, Ouma. Dankie. Ek sal later verduidelik, net nie vanaand nie.”

      “Dis goed. Ek wil nie druk op jou sit nie. Net as jy wil en wanneer jy gereed is.”

      Die lêer lê weer oop op haar skoot. Die prentjie van Christiaan van Breda helder in haar gedagtes.

      As sy hom nie geken het daardie dag wat sy hom by die kliniek gaan haal het nie, sou sy net daar halsoorkop op hom verlief kon geraak het. Hy het weer soos die jong student gelyk wat haar hart gesteel het. Die rooierige kleur wat die laaste paar maande eie aan sy gelaat geword het, was heelwat ligter en die vlootblou gholfhemp het sy oë nog blouer laat vertoon. Die donker kuif was skoon gewas en teruggekam.

      Die wind het liggies in sy hare begin baljaar terwyl hy haar tegemoetgestap en omhels het. Die twee maande het hom goed gedoen.

      Daar, in sy omhelsing, het sy gedink: Te hel met alles en almal. Dié man is myne en dit gaan hy bly.

      As dit maar so maklik was. Sy kon eenvoudig nie alleen teen die euwel van dwelms en drank baklei nie. Ongelukkig het sy dit te laat besef.

      Marina skud haar kop asof sy van haar gedagtes wil uitskud.

      Sy blaai om, sukkel om die letters voor haar in fokus te kry en begin lees. Daar is heelwat verslae van verskeie dokters en sielkundiges. Sy moet by die oorsaak uitkom. Haar blik beweeg vlugtig oor die geskrewe reëls, lees hier en daar ’n paar woorde, maar dit maak nie sin nie. Dit klink nie soos Christiaan nie.

      Daarbenewens sukkel sy in haar agterkop om ’n spesifieke rooikop in die verlede te hou. Die gesiggie van die ontvangsdame by daardie ander kliniek, die meisie met die mooi kuiltjies, en haar onskuldige vraag, bring Marina van nuuts af van stryk, maar sy weier om toe te gee. Sy weier om weer deur daardie vernedering te gaan.

      Sy blaai terug en haal ’n paar keer diep asem. Dan begin sy weer voor by die persoonlike inligting.

      Uiteindelik bereik sy die deel waarna sy soek. Ongemerk het sy opgehou asemhaal. Elke senuwee en spier in haar liggaam is in afwagting.

      Nogtans tref die impak van omstandighede haar meer as wat sy verwag het. Sy lees die informasie twee keer om seker te maak. En toe bars sy in trane uit.

      Christiaan is in ’n rolstoel – verlam in sy onderlyf en linkerarm. Vermoedelike selfdoodpoging. Dit kan nie waar wees nie. Nie Christiaan van Breda nie.

      Onmiddellik wil skuldgevoelens haar beetkry. Selfdood? As sy langer gebly het, kon sy hom dalk …

      Hoe is dit moontlik dat ’n mens iemand een oomblik met soveel intensiteit kan haat en daardie selfde persoon oomblikke daarna so jammer kan kry?

      Daardie eerste jaar nadat sy die plaas verlaat het en Londen toe is, daardie jaar het sy sonder ophou bly bid dat God hom moes straf oor wat hy aan haar gedoen het. In haar beknopte woonstelletjie het sy saans alleen gesit met net die teleurstelling, vernedering en bitterheid wat haar aan die lewe gehou het.

      Sy het amper nie geëet nie. Hoekom moes sy as daar niks was om voor te lewe nie?

      Danksy haar Europese burgerskap en ’n ou vriendin, het sy gou werk gekry, maar dit het soggens elke bietjie krag wat sy gehad het, geverg om haar emosies in plek te kry en haar kliënte met die nodige sorg te hanteer.

      Sy het opgestaan, gaan werk, saans teruggekeer en voor die televisie aan die slaap geraak. Maar voor die slaap het die terugflitse gekom. Elke aand soos klokslag, het hulle haar saam met die stilte kom treiter, en moes sy die bitter smaak van vernedering herleef.

      Later het sy soggens opgestaan en die bitter oor die toilet opgebring. Die naarheid het haar werk later beïnvloed en haar kollegas het haar gedwing om ’n dokter te gaan spreek.

      Die vriendelike jong dokter het haar eers gelukgewens en die nuus van haar swangerskap toe met blink oë aan haar oorgedra.

      Daardie aand het sy haarself aan die slaap gehuil. Vir die eerste keer in weke was dit nie die verlede wat haar getreiter het nie, maar het haar kop gesukkel om die skokkende nuus te verwerk.

      Marina voel hoe trane van verwyt weer oor haar wange stroom en vee dit skuldig met haar mou af.

      Maande lank nadat die dokter bevestig het dat sy swanger is, het sy haar liggaam gehaat soos wat sy die man gehaat het wat verantwoordelik was daarvoor.

      Aborsie het haar gedagtegang telkens deurkruis.

      Sy wou die baba nie hê nie en het God verwyt. Hoe kon Hy ’n kind in sulke omstandighede aan haar gee? Een wat sonder ’n pa sou moes grootword, want van een ding was sy doodseker – en dit is dat haar baba nooit sy of haar biologiese pa sou ken nie.

      Eers na ’n paar tekens van ’n dreigende miskraam en toe ’n aantal sessies by ’n sielkundige, het sy begin uitsien na die bondeltjie lewe. Iets wat haar weer rede sou gee om te wil bestaan.

      Dit was egter eers toe hulle maande later vir Stiaan in haar arms gelê het, wat die bitterheid haar verlaat het. Die warm lyfie op haar bors het weer


Скачать книгу