Ter wille van geluk. Naretha Franken

Ter wille van geluk - Naretha Franken


Скачать книгу
het. Die klein mensie sou net hare wees.

      Haar verlede het sy weggesluit. Christiaan van Breda se naam sou nooit weer oor haar lippe kom nie.

      Vrae het die familie se oë vol gelê, maar niemand het reguit gevra nie. Op haar ouma en oupa se versoek het sy en Stiaan terug na Suid-Afrika gekom. Die huis was hopeloos te groot vir hulle twee ou mense, en buitendien is die plek tog eendag haar erfporsie, was haar oupa se uitnodiging.

      Dit het soos ’n ligstraal op die donker horison gelyk. Op die koop toe het sy werk gekry en ’n oppasser vir haar baba.

      Dit was eers heelwat later dat sy haar grootouers gedeeltes van die storie vertel het.

      ’n Jaar na haar en Stiaan se intrek by hulle het haar oupa sonder haar medewete die gekraakte spieël in die bal-en-kloupoot-hangkas in haar kamer laat vervang. Soos die spieël was sy ook weer heel – so het die spieël gewys. Haar gesig was voller en die donker kringe onder haar oë nie meer so opmerklik nie.

      Marina snuif en soek na ’n snesie in haar baadjiesak.

      Tog, al het sy hoe hard vir vergelding gebid, het sy dít nie verwag nie. Verlamming – in ’n rolstoel vasgekeer? – nee, God, asseblief. Dis te erg. Asseblief, hemelse Vader, ek vra om verskoning. Vergewe my my haat en al my gekerm oor vergelding.

      Al het hy ook wát gedoen, verdien hy nie dít nie.

      3

      Marina kan nie verder lees nie. Stram en koud staan sy op en gaan bed toe. Sonder om tande te borsel of haar nagklere aan te trek, kruip sy onder die duvet in en smoor haar snikke in haar kussing. Trane bly kom, en later weet sy nie meer of sy koud kry en of haar liggaam nog aan skok ly nie.

      Die beeld van Christiaan in ’n rolstoel en die gedagte dat hy moontlik selfdood wou pleeg, bly haar dwarsdeur die slapelose nag by.

      Haar kussing is later sopnat, haar lyf seer van opgekropte emosies en dit neem haar onwillekeurig weer terug na dáárdie nag. Die nag wat haar lewe so drasties verander het. Die nag wat nie net haar liggaam gekneus het nie, maar haar siel doodgemaak het.

      Sy het haarself belowe om nooit weer daaraan te dink nie en het dit baie jare lank reggekry, maar vannag is daar te veel ooreenkomste en dwing dit haar weer bloeiend die verlede in.

      Al wou sy so graag vergeet dat die ontvangsdame haar mond verbygepraat het en van Adél met die rooi hare vergeet, en al wou sy haar huwelik nog ’n kans gee, was dit alles net ’n bietjie te veel gevra.

      Sy het die rooikop tot in die agterste kamers van haar geheue verjaag, en haar man met liefde en vreugde terug op die plaas verwelkom. Hulle het hand aan hand deur die kelders gestap, die werksmense was bly om hom te sien en die toekoms het weer rooskleurig gelyk.

      Alles was presies weer soos dit hoort totdat Christiaan haar die aand opgetel en kamer toe gedra het. Sy het regtig hard probeer, maar Adél het uit die hoekie ontsnap waarheen sy haar geban het en uitdagend voor haar kom staan.

      Marina het haar oë stywer toegeknyp en harder probeer, maar die oomblik van passie het in duisende skerwe gespat toe sy teen Christiaan se bors gedruk het en met ’n hees stem gesê het: “Wag, Christiaan. Wag!”

      Met ’n frons het hy orent gekom en effe uitasem na haar gekyk. “Wat?”

      Sy het onder hom uit geseil en regop teen die kopstuk van die bed bly sit. “Ek weet dis slegte tydsberekening, maar ek moet weet, anders …”

      “Ag, kom nou, Marina. Moet net nie weer begin nie. Ek sien regtig nie vanaand kans vir derms ryg nie.”

      Haar moed het haar amper begewe, maar sy het ook besef dat sy nie daardie aand by hom kon slaap as sy nie uitklaring het nie. Daarom het sy hom weer weggestoot toe hy haar wou nadertrek.

      “Wie is Adél?” Haar stem was slegs ’n fluistering, maar hy het dit gehoor. Sy liggaamstaal het dit verraai.

      “Wie? Waaraan torring jy tog nou weer?”

      “Ek moet weet, Christiaan. En moet asseblief nie vir my lieg nie. Jy weet waar het lieg en bedrieg ons gebring.”

      Hy het duidelik geïrriteerd regop gesit. “En jy weet ook waar het jou alewige gekerm ons gebring.”

      Sy het sy laaste woorde geïgnoreer. “Is sy jou minnares? Het julle seks gehad?”

      Uit selfverdediging het hy opgespring en haar aangegluur, maar hy was te laat en kon die blos nie wegsteek wat oor sy gesig versprei het nie.

      Haar binneste het begin pyn.

      “Waar kom jy aan sulke snert?” het hy geskree.

      “Het julle?”

      Hy het sy klere van die mat af opgetel, aangetrek en op die bed langs haar kom sit. ’n Gelade stilte het gevolg, en sy het gewag dat hy haar moet vertel dat dit alles ’n misverstand was. Dat die rooikop net een of ander kennis is, of dat dit by haar is waar hy sy dwelms gekry het. Enigiets, behalwe dat hulle minnaars was. Maar aan die ander kant, selfs daarvoor sou sy hom op daardie oomblik kon vergewe het as hy net opreg jammer was.

      “Hoe weet jy van haar?” het hy uiteindelik gevra.

      “Maak dit regtig saak? Jy het by haar geslaap of jy het nie?”

      Hy het kwaad geword. Sy hele houding het haar vertel dat hy skuldig is. “Kan ons hierdie gesprek nie net vir ’n ander dag los nie? Ek is skaars terug by die huis en wil regtig …”

      Sy het haar kop geskud nog voordat hy klaar gepraat het.

      Dit het hom net aangespoor om op sy perdjie te klim.

      “Oukei, Marina, jy wil mos nou weet. Jy wil mos nóú hierdie spesiale aand van ons bederf, maar goed hier kom dit en moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.” Hy het na haar gekyk, sy blik intens. “Ja, ek het een of twee keer met Adél seks gehad, maar sy is en was nog nooit my minnares nie. Ek was dronk, en dit het hoegenaamd niks beteken nie. Sy was my supplier.”

      Al het sy dit verwag, was die skok om dit so prontuit uit sy mond te hoor te veel om te hanteer. Sy het opgespring en oor die wasbak naar geraak.

      Hy het agter haar aangestap. “Is jy oukei? Ek het jou gewaarsku, maar jy het mos aangehou en aangehou.”

      In haar hele lewe was sy nog nooit so kwaad soos op daardie oomblik nie. Sy het haar mond met ’n stuk toiletpapier afgevee en reg voor hom gaan staan.

      “En hier staan jy, die magtige Christiaan van Breda, en jy vertel vir jou vrou, sonder om te blik of te bloos, sonder eens ‘ek’s jammer’, dat jy seks gehad het met ’n ander vroumens en … en … Wie de hel dink jy is jy? Wat het van jou geword, Christiaan? Jou ouers draai in hulle graf om as hulle jou vandag moes hoor en sien.” Haar stem het amper ’n oktaaf geklim, maar sy kon haarself net nie keer nie.

      “Ek ken jou nie meer nie.”

      “Dan vra jy nog hoekom. Hoor hoe gaan jy aan. Ek het jou gesê dit was net een of twee keer en ek is mos nou skoon.”

      “Gmf. Hoopy doo! Moet dít my nou laat beter voel?” Sy het op haar tone voor hom gaan staan en amper geskree: “Luister jy en luister nou mooi. Idioot wat ek was, het ek nogal gedink dat as jy berou sou toon oor wat jy ook al gedoen het, sal ek jou kan vergewe. Ek sou ter wille van wat mooi en goed was tussen ons, vanaand die minste gewees het en jou enigiets vergewe het. Enigiets. Maar o nee, Christiaan van Breda is mos nooit verkeerd nie. Hy maak net soos hy wil en te hel met die res. Te hel met wie hy onder sy voete vergruis. Te hel met die mense wat vir hom lief is.”

      Christiaan het ineengekrimp.

      “Wel, my man, daardie tyd is verby. Ek gaan nie toelaat dat jy my verder verneder nie. Ek het genoeg gehad. Wat daar ook al tussen julle is, gaan gerus voort, maar jy sal nie weer met ’n vinger aan my raak totdat …”

      Haar bravade het geswig en sy het begin huil. “Gaan hoer en rumoer jy nou maar tot jy genoeg gehad het, maar moenie by my kom huil as jy met een van jou houvrouens se babas sit en hulle jou kaal


Скачать книгу