Operasie droomvrou. Jade Mc Menamin
sou hierdie vreemdeling wees? En wat het hy met my vriend Riek aangevang? Elmien se gedagtes is ’n warboel van emosies. Riek – ’n fashionista! Riek – ’n stalker! Riek – ’n onbeholpe stommerik! Riek – ’n blosende skoolseun!
Eensklaps word als net te veel. Dit is uit voordat sy dit kan keer: “Sy’t haar dalk kaduks geskrik vir die badsout. Ek meen, jy hét fyn gelaatstrekke en sagte hande en jy bloos asof jy met grimering op jou gesig betrap word.”
Riekert word weer hoogrooi.
Kyk net hoe bloos hy wragtag weer. Van oor tot oor en van voorkop tot wie weet waar. Soos ’n blêrrie skoolseun.
“Ek’t nie fyn gelaatstrekke nie,” brom hy nors, “en my hande is g’n sag nie.”
“Wel, vandat jy my pa nie meer so gereeld op die konstruksiewerf help nie, lyk jou hande maar taamlik bleek en sag.”
“Ek was besig met my tesis,” brom hy, “en ek doen nog my eie tuinwerk.” Maar sy aandag is gou weer by die misterieuse blonde skoonheid: “Dink jy regtig sy …?”
Elmien probeer gerusstellend glimlag, maar die glimlag span geforseerd van mondhoek tot mondhoek asof sy ’n dik laag lipstiffie aanhet. Sy onderdruk die versoeking om haar mond hard en aanhoudend te vryf.
Riekert herstel gou van die verleentheid, maar daar is nou iets koorsagtigs in sy blik. “Ek’t na die betaalpunte gedrafstap, die Emporium van hoek tot kant deursoek, maar sy was reeds weg.”
Elmien wil begin giggel. Riek haak nooit uit nie, hy’s veels te agtermekaar. Bedaard, koel en kalm. Die rustigste mens wat sy ken.
“Wat sou haar naam wees?” mymer hy opnuut. “Dit kan nét iets romanties of eksoties wees. Iets soos: Allegra of Alyssa of Anouk.”
Elmien kyk hom aan asof sy begin twyfel aan sy toerekeningsvatbaarheid. Dan strek sy lui. Oordrewe, soos die gaap. “Ek’s pootuit en gaan nou bed toe. Tensy jy van plan is om weer in die hangmat te slaap, moet jy nou jou ry kry.”
“Ek moet haar opspoor,” sê hy steeds afgetrokke, “anders gaan ek vir die res van my lewe na haar soek.”
Die desperate vertedering in sy stem trek die ranke van vrees dig om haar hart.
“Sal jy my asseblief help soek?”
Sy skiet so vinnig uit die hangmat dat sy amper op sy skoot beland. “Riek,” maak sy floutjies verskoning, “dis laat en ek’s moeg.” Sy leun nader om halfhartig oor sy skouer te vryf. “En dit klink of jy ook ’n besige dag gehad het.”
Hy staan op, haal die lys weer uit sy sak. “Ek sal vanaand nie ’n oog kan toemaak nie.”
“Riekert,” vererg sy haar op die plek, “dis té laat vir dié nonsens.”
“Hoe kan jy dit nonsens noem? Ons praat van my toekomstige …”
“Vrou?” ’n Ongemaklike stilte kom lê tussen hulle. Só ’n stilte het hom nog nooit aan hulle opgedring nie. Dit onthuts haar. Haar stem sny sarkasties daardeur. “Goed, die liefde van jou lewe … happily ever after. Maar na aanleiding van wat? ’n Opgeligte wenkbrou? ’n Terloopse aanmerking?”
“Sy’t vir my geglimlag ook,” laat hy gebelg hoor, “op ’n sekere manier.”
“’n Glimlag? Wow, onsterflike liefde.” Sy skud haar kop. “Dit word flirt genoem.”
“Jý, Elmien,” laat hy driftig hoor, “is die een wat my oortuig het dat die belofte van ’n hele leeftyd se liefdevolle samesyn in ’n enkele oomblik opgesluit kan lê.”
Hy noem haar nooit Elmien nie. “Is jy nie ’n bietjie oud vir ’n crush nie, Riek?”
“Dis nie ’n crush nie.”
“Daar’s beswaarlik genoeg ure in ’n dag om te doen wat ek moet doen en jy, jý van alle mense, weet maar alte goed dat ek reeds drie mense se werk by die kwekery doen. En asof dit nie genoeg is nie, is ek boonop verantwoordelik vir die ontwerp en uitleg van die naderende watertuinskou. En tussendeur probeer ek hierdie blêrrie ou huis restoureer.”
Riekert reageer nie op die tirade nie. Hy staan stil en luister, met afgetrokke oë, na die driftige woorde wat uit haar oorvol gemoed bars. “Dit was nie my bedoeling om jou verder te vermoei nie … dankie dat jy geluister het.”
“Riek …”
“Lekker slaap, Mienkie.”
“Nag, Riek,” groet sy met ’n dik stem.
Sy wag nie oudergewoonte vir die drie kort toeterklanke voordat sy motor straataf verdwyn nie, maar sluit die sekuriteithek en voordeur dadelik, skakel die ingangsportaaltjie se lig af en vlug na haar kamer.
Sy bly met die tandeborsel in haar hand voor die wasbak staan, terwyl sy na haar weerkaatsing in die spieël staar. Hulle gesprek zoem soos ’n hiperaktiewe by deur haar gedagtes. Die tandeborsel druk sy uiteindelik in haar mond, maar bly weer net so staan. Sy probeer haar gevoelens peil, haar reaksie regverdig, maar die ontnugtering sit nog skrikwekkend vars in haar gemoed. Sy is al besig om haar mond uit te spoel toe sy eers agterkom dat sy nooit tandepasta op die tandeborsel gesit het nie.
Vies smyt sy dit neer.
Waar het die venyn in haar stem vandaan gekom? Want sy, Elmien Jordaan, het nog nooit só met ’n ander mens gepraat nie. Laat staan nog met Riekert Rossouw, haar beste vriend en geesgenoot.
Maar toe sy in die bed klim, besef sy dat die venyn uit ’n plek gekom het wat nou dig toegerank is.
Hy het nie getoet nie … onthou sy toe sy die bedlampie afskakel.
Boonop is die huiskriek ook vanaand stil.
2
George Papadopoulos, Elmien se vennoot by die kwekery, en die res van die personeel by Plant B’zarre weet goed om haar nie te pla wanneer sy so op en af tussen die rye plante en boompies stap nie. Eers die een blok. Op en af. Dan die volgende. Én die volgende. Totdat sy die hele kwekery deurgestap het. En as sy steeds nie beter voel, of die probleem waarmee sy worstel, uitgepluis het nie, sal sy weer van voor af begin. Ry vir ry. Blok vir blok. Net so af en toe, soos nou, stop om aan ’n blom of blaar te ruik of te vryf.
Elmien vryf aan een van die Gold Crest-konifer se goudgeel takkies, deeglik bewus daarvan dat George haar ’n geruime tyd al bekommerd dophou. Hy wil die uitleg van die verskillende fonteintjies vir die komende watertuinskou met haar bespreek. Maar die op- en afstappery maak hom senuweeagtig. Stress drill, het hy dit daardie heel eerste keer genoem. En haar gevra hoekom sy nie maar, soos die vroue in sy familie, kan gaan kook of shop of spa toe gaan of chocolates eet wanneer sy terneergedruk voel nie.
“Ek, depressed? Nog nooit nie, Georgie,” het sy dit weggelag.
“Hy wonder seker of die plante regtig met my praat,” mompel sy terwyl sy aan haar vingers ruik. Die suurlemoenagtige geur van die koniferboompie is een van haar geliefkoosde geure. Selde sal sy verby so ’n boompie stap en die besonderse geur nie eers gou geniet nie. Sy wens sy kon dit bottel. Soos sy al gewens het dat sy ouma Annabel se reuk kon bottel vir geleenthede soos nou wanneer sy met ’n allesoorheersende verlange na haar hunker. Na haar nabyheid, haar insig en raad.
Annabel is oorlede in die jaar voor Elmien en George die kwekery begin het. Die feit dat die vrou wat so ’n enorme bydrae tot haar liefde vir plante gemaak het, nooit in haar sukses kon deel nie, maak die verlies net groter.
Sy streel oor die takkies. “Wat sou jý gedoen het, Annabel?” Ja, wat sou die onkonvensionele, romantiese en tog wyse ou vrou – wat aangedring het dat haar kleindogter haar op haar naam noem – gedoen het?
Annabel was versot op Riekert Rossouw. Elmien se ma, Hester, het haar gereeld vererg vir Annabel se skaamtelose flankeerdery met Elmien se skoolvriend en het selfs op ’n keer vir Elmien gesê dat haar ouma heimlik wens dat sy weer jonk is wanneer Riekert Rossouw in die omtrek was. Maar Elmien het geweet dat haar ouma