Operasie droomvrou. Jade Mc Menamin
vir Riek, soos sy hom begin noem het, het sy egter goed weggesteek. Niemand behalwe haar geliefde ouma het geweet dat sy gereed was om haar hart weg te gee nie.
Riekert het uit die staanspoor van Elmien gehou. Hy het dadelik aanklank gevind by haar spontane en interessante geaardheid. Of soos hy eenkeer gesê het: die interessante meisiekind met die lewendige groen oë en die wispelturige bos rooibruin krulhare. Haar natuurlike onopgesmukte ingesteldheid teenoor almal en alles in die lewe het hom glo totaal en al oorrompel. Dit was verfrissend om hom in die geselskap te bevind van ’n meisie vir wie die eerste prioriteit nie haar haarstyl, verglansde lippies, gelakte naels of die lengte van haar rompie was nie. Boonop was sy een van net ’n handvol meisies wat met ’n fiets skool toe gery het. Dit, het hy gedink, is superkoel.
By haar kon hy totaal en al op sy gemak wees.
Anders as baie van die ander meisies, het sy nie van hom verwag om die ene bravade te wees en macho op te tree nie. Of om allerhande ligsinnige kopspeletjies te speel nie. Hulle vriendskap was van tienerdrif en -ego ontdaan.
Haar sogenaamde eienaardighede het hy gesien as besonderse eienskappe wat eendag van haar ’n besonderse vrou sou maak. Hy het haar egter nooit anders behandel as enige ander meisie in die skool nie. Vriendelik en met die nodige respek, maar niks meer nie. Hy was immers nog nie gereed om sý hart weg te gee nie.
En indien hy vermoed het dat sy baie van hom gehou het, sou die amper-man met die mooi hande nooit kon raai presies hóé verlief sy was nie.
Hy het vir hom ook ’n fiets gekry en saam met haar skool toe begin ry. Die halfuur wat hulle soggens en smiddae saam deurgebring het, het gou vir hulle albei onontbeerlik geword. Hulle het met mekaar leer praat en na mekaar leer luister. En hulle verlustig in die wete dat albei, in die ander, uiteindelik iemand gevind het wat verstáán.
Hulle het boeke en musiek begin uitruil en toe hulle hul gedeelde versameling deurgedraf het, besluit om wyer te lees en na ander musiek te luister. En elke oomblik daarvan geniet. Hoewel hulle aan ander skoolverwante aktiwiteite deelgeneem het, was dít hulle stokperdjie. Altyd saam, meestal net hulle twee.
Riekert het nie in sport belanggestel nie en slegs meegedoen aan atletiek en swem ter wille van die pret en spangees. Die onderwysers het natuurlik vas geglo dat hy sy sporttalent vermors en hom dikwels probeer oorreed om sport ernstiger op te neem. Totdat hulle gehoor het hoe hard die eiesinnige jong man tydens naweke en skoolvakansies gewerk het.
In sy matriekjaar – kort nadat hy agttien geword het – het hy sy spaargeld onttrek en ’n deel van sy eerste studiejaar se geld vooruit betaal, ’n tweedehandse karretjie aangeskaf en wat oorgebly het, gebruik om Elmien met vakansie te neem.
Net die twee van hulle. In sy rooi Mazdatjie. Kaap toe. Sodat sy die Kaapse fynbos en veral Kirstenbosch kon sien.
Haar ouers het hulle, in die volgepakte kar, sonder ’n sweem van onrus afgesien. Hulle het Riekert vertrou soos hulle hul eie seun vertrou het. Hulle dogter was veilig by die seun wat die vorige drie jaar tydens naweke en skoolvakansies vir Hendrik op sy boupersele gehelp het. Die seun wat so alleen deur sy pa grootgemaak is nadat sy ma jonk en tragies in ’n motorongeluk gesterf het. Die seun wat só diep in almal se harte gekruip het met sy innemende persoonlikheid en natuurlike sjarme dat Annabel weer skoon na haar jong dae verlang het.
Daardie twee weke was die mooiste van Elmien se jong lewe. Net sy en hy. En ’n lang pad vol sonskyn en lag en gesels. En hoewel sy heimlik gehoop het dat ’n romantiese vonk tussen hulle sou ontstaan, was sy nie teleurgesteld toe dit nie gebeur het nie. Sy het sy onverdeelde aandag geniet. Elke oomblik nét vir haar bedoel. Sy glimlag, die ligte stoppelbaard op sy ken, sy windverwaaide kuif, die lig in sy oë – op film, en in haar geheue, vasgebrand.
Vir altyd, hare.
Vir haar ouers het sy gesê dat die vakansie haar finaal laat besluit het om plantkunde te gaan studeer. Vir haar ouma, dat sy ’n blik op die hemel gekry het. Die nagte om hulle vuurtjie, in hulle tent, onder ’n sterbelaaide uitspansel.
Niemand het ooit weer aan Riekert oor sport gekarring nie. En die maats, wat soms na hom verwys het as ’n boekwurm of ’n bleeksiel, het hulle woorde gou gesluk. En skielik was Riekert en Elmien se vriendskap ook glad nie meer so eienaardig nie.
Hulle het so goed oor die weg gekom omdat hulle soveel gemeen gehad het, het almal saamgestem.
Die vriendskap het hegter geraak. Op universiteit was hulle eenvoudig onafskeidbaar. Ander studente was altyd verbaas om te hoor dat die twee nie vas uitgegaan het nie. En ewe verbaas om te hoor dat hulle ook nie met ander mense uitgegaan het nie. Elmien en Riekert. Riekert en Elmien. Oral saam, en saam in alles. Mienkie en Riek. Beste vriende. Sielsgenote.
“Dit sal ons glad nie verbaas as julle eendag wel sou trou nie,” sou ’n vriend of vriendin opmerk – die natuurlike en ooglopende uiteinde van so ’n besonderse vriendskap.
Maar hulle was verkeerd.
Riekert het sy emosionele afstand behou. So onwrikbaar dat Elmien soms gevoel het asof daar ’n ondeurdringbare muur tussen hulle was. In ’n stadium het sy selfs begin wonder of hy enigsins in vroue belangstel. Maar toe sy eendag in daardie rigting begin skimp het, het hy so gelag dat hy in sy melkskommel verstik het.
Hulle vriendskap het verdiep, maar die alomteenwoordige skeiding het gebly. En in haar hart het ’n vermoede gevorm dat hy nie oor álles met haar gepraat het nie.
“Sulke mans het almal daardie aura,” het Annabel gesê.
“Mens kan dit beswaarlik ’n aura noem.”
“Dis wat hulle so onweerstaanbaar vir vroue soos ons maak.”
Vroue soos óns?
Annabel Labuschagne het, tot groot ontsteltenis van haar skoonfamilie, geweier om die tradisionele uitspraak van haar getroude van te gebruik. En toe die Franse uitspraak ’n omstrede kwessie word, eenvoudig weer haar nooiensvan begin gebruik.
Dit het Bernard Labuschagne min gepla. Dit was deel van die formidabele Annabel se bekoring.
Elmien het haar ouma ondersoekend aangekyk. Daar was iets onweerstaanbaars omtrent haar. Iets waarop jy nooit jou vinger sou kon lê nie. Beeldskoon. Op ’n klassieke manier. Ook wêreldwys. Want sy het wyd gelees en wyd gereis. Sy het die lewe geken. Mans geken. Soos die gemiddelde vrou ’n man nooit sal ken nie.
Elmien was allesbehalwe ’n femme fatale, ’n sogenaamde “man’s type of woman”. Sy was ’n platjie. Haar ma se plantengel. Haar pa se patatrankie. ’n Natuurkind. Altyd aan ’t luister na die wind in die bome, met een oor gespits vir die aarde se hartklop.
Annabel het goed bedoel, maar haar woorde het Elmien net meer verwar. Met haar ma kón sy nie praat nie. En met haar vriendinne het sy nooit haar hartsgeheime gedeel nie. Toe, in plaas van praat, doen sy wat enige jong liefdesgroentjie sou doen: Sy klap toe soos ’n Venus-vlieëvanger.
3
“En dit?” wil Elmien weet toe Riekert haar kombuis vroegoggend met ’n bonkige lêer onder die arm binnestap.
Hy glimlag soos ’n man met ’n plan. “Dít, my liewe Mienkie, is Operasie droomvrou.”
Sy frons geïrriteerd. Die rede vir sy laaste besoek lê nog pynlik vars in haar geheue. Kan die man nie aanvaar nee is néé nie?
Die uitdrukking op haar gesig gaan by Riekert verby. Hy sit die lêer op die kombuistafel neer, neem oorkant haar plaas. “Ek het heelaand op die internet gesoek: Google, Wikipedia, oral. Uitdrukke gemaak van als wat ek gevind het.”
“Umpff,” sluk sy ’n wind toe hy die lêer oopmaak. Die dik pak uitdrukke is netjies geliasseer in deursigtige plastieksakkies, met helderkleurige verdelingskartonne van een tot tien gemerk tussenin.
Riekert leun vooroor, neem die koffiebeker nonchalant uit haar hand en vat ’n fris sluk. “Mmm … nes ek daarvan hou.”
Elmien se frons verander in ’n nors uitdrukking. Sy vou haar arms dramaties oor haar bors. “Het jy dalk