Operasie droomvrou. Jade Mc Menamin
al weer als.”
“Jy’s nie jouself nie.”
Elmien sluk selfbewus, vermy haar ma se ondersoekende blik. Ma’s en hulle voorgevoelens en aanvoelings en instinkte! “Ek wil net weet hoekom Ma-hulle nie vir my ’n meer romantiese of eksotiese naam gegee het nie, dis al.”
Die sekonde of twee voordat haar ma antwoord, voel soos minute. Elmien druk ’n stukkie aartappelskil in haar mond en knibbel kamma ongeërg daaraan.
“Soos wat nogal?”
“Wel, iets soos Allegra, Alyssa of Anouk.”
“Allegra, Alyssa of Anouk?” Dit lyk asof Hester die aartappel en groentemes wil neergooi en hardloop vir haar noodhulptas.
“Jip.”
“Tsk, jy’s mos g’n ’n Allegra, Alyssa of Anouk nie.”
“Hoe kan Ma so sê? Ek meen, hoe kon Ma destyds al so seker gewees het ek gaan nie ’n Allegra, ’n Alyssa of ’n Anouk word nie?”
“Gmf, ek het net geweet. Maar, glo my, as ons die naamgeeëry aan jou ouma oorgelaat het, sou jy sekerlik Allegra, Alyssa of Anouk gewees het.”
“Sy’t Ma dan ’n tradisionele familienaam gegee.”
“Op aandrang van jou oupa, ja. En sy het hom nooit vergewe nie … so lief soos sy hom gehad het.”
“Wie’t besluit om my Elmien te noem?”
“Ek en jou pa het saam ’n klompie name uitgesoek, maar jy’t jou naam eintlik self gekies.”
“Ek onthou dat Ma gesê het dat ek die eerste keer beweeg het toe Ma my naam hardop –”
“Jy’t nie net beweeg nie, jy’t geskóp.” Haar ma sit die aartappel en die groentemessie neer om te beduie presies hoe en waar daar geskop is. “Ek was besig om my lysie babaname hardop te lees, nogal omdat jou ouma daarop aangedring het dat ek kwansuis eers moes voel hoe die name in my mond sit, toe ek jou voel skop het. Ek het jou vroeër al voel beweeg, maar dit was die eerste keer dat jy geskop het … asof jy vir my iets wou sê.”
By die aanhoor van die woord “lysie” het elke breinsel in Elmien se kop penorent gespring. “Was Ma een vir lysies? Ma weet, doenlysies, om-te-lysies.”
“Nee wat, buiten die kruidenierslys teen die yskas het ek nooit erg aan lysies gehad nie.”
Elmien sug.
“Wil jy regtig oor jou naam praat of is daar iets anders waaroor ons behoort te gesels?”
“Ek wonder maar net: Hoekom Elmien? Wat maak Elmien so spesiaal?”
“’n Kind se naam word in ’n ouer se hart geskryf voordat dit aan die kind behoort. Buitendien is dit nie die naam wat betekenis aan die kind gee nie, maar wel die kind wat betekenis aan die naam gee.”
Haar ma se insig verbaas Elmien. “Ek’s nie ondankbaar oor my naam nie, dis net, Elmien is so ’n verbeeldinglose naam. So plein.”
Haar ma glimlag soos ma’s maar glimlag wanneer hulle deur hul dogters se verskonings en pretensies sien. “Nie plein nie, ongekunsteld. Ongekunsteld en onpretensieus. Nes jy. Jy’s ons Mienkie, en ons Mienkie sal jy bly.”
Elmien sit haar arm om haar ma se skouers. “Ja, ja, en nou gaan Ma my al die standaardkomplimente gee wat Ma my gewoonlik gee wanneer Ma my beter wil laat voel oor myself. Spaar my, asseblief.”
Haar ma kyk na Elmien soos ma’s maar kyk wanneer hulle seker is dat hulle van beter weet. “Miskien moet ek jou net weer herinner aan die Mienkie wat bedags studeer en saans gewerk het om vir haar studie te help betaal. Aan die Mienkie wat bly werk het lank nadat haar ouers se finansies verbeter het, net omdat haar ma en pa lanklaas met vakansie was. Aan die Mienkie wat nou help om vir haar broer se studie te betaal. Aan die Mienkie wat daarop aangedring het om die ou Victoriaanse huis wat sy by haar ouma geërf het, eiehandig te restoureer, ondanks haar boukontrakteur-pa se bereidwilligheid om te help.”
Elmien se oë skiet vol trane.
Haar ma sit haar arms om Elmien en trek haar styf teen haar vas. “Ons gesels nie nét oor name nie, nè?”
Elmien sluk die trane weg. “As ek regtig daai Mienkie is, hoekom … hoekom sien ander haar dan nie raak nie?” Haar stem klink moeg.
“Ander?”
“Wel, dis net Ma en Pa en Marnus.”
“En Riek dan? George? En die mense wat vir julle werk? Jou gereelde klante? En vriende?”
“Hulle tel nie, Ma. Wat ek bedoel, is: Hoekom sien die mense wat ’n mens wil hê jou moet raaksien, jou nie raak nie?”
“Dalk lê die probleem nie by jou nie.”
Elmien snuif aan die trane wat weer vlak kom sit. “Wat bedoel Ma?”
“Dis nie jy wat so plein of so vaal of so oninteressant is dat mense jou glad nie raaksien nie; dis eerder ’n geval van mense wat nie kan sien wat hulle behoort te sien nie omdat hulle siende blind is.”
Elmien gee haar ma gou ’n drukkie en bied aan om die eetkamertafel te dek, voordat Riek se naam dalk opduik.
Hester kyk haar dogter agterna asof sy weet dat Elmien sal terugkeer om dié gesprek te hervat. Nes sy vroeër instinktief geweet het dat Elmien nie haar ma se sogenaamde boerekos kom soek het nie. Sy hoop dat Elmien dán die vrymoedigheid sal hê om oor haar eerste en enigste liefde te praat. Want alhoewel Elmien nog nooit só oor daardie liefde gepraat het nie, is Hester daarvan maar alte bewus.
Die naam wat nie genoem is nie, bly in die vertrek hang.
Hester en Hendrik se eersgeborene het die familie uit die staanspoor bekoor. Terwyl ander babas in die uitgebreide Jordaan-familie bykans sonder uitsondering blond en lig van vel by geboorte was, het Elmien haar verskyning gemaak met ’n kop vol donker krulle en ’n velletjie wat gelyk het asof die son dit reeds met heuningsoene bedek het. Die welige bos bruin hare het dan ook dadelik die kenmerkende rooi Mallard-skynsel gehad.
Die dokter wat haar in die wêreld gebring het, het gesweer dat hy haar sien glimlag het, kort nadat hy haar ’n stewige raps op die boud gegee het.
Mag dit ’n teken wees dat my kind eendag meer sal lag as huil, het Hester gebid.
Mag die liefde sagkens met jou omgaan en geluk jou altyd toelag, het Annabel haar toegewens.
“Laat Hendrik maar spog,” het sy hardop met die kleinding gepraat, “jy’s g’n ’n Jordaan nie.” En toe sagter asof sy ’n geheim deel. “Ook nie ’n Labuschagne nie … jy is ’n Mallard, deur en deur.”
En of dit waar is of nie, het Annabel haar in elk geval behandel asof sy een is.
Annabel het ook nooit vir haar gewone speelgoed gekoop nie. Dit was wel goed waarmee sy graag wou speel, maar wat terselfdertyd eendag waardevol sou wees. ’n Porseleinteestel. Silwerkoekvurkies met perlemoenhewwe. Geborduurde servette. Servetringe van rooskwarts. En kristalkershouertjies.
Aanvanklik het Hester als net kopskuddend gadegeslaan, maar toe Elmien begin praat, was haar woordeskat dié van ’n volwassene en het sy ingewikkelde begrippe en konsepte begin snap. Hester het haar tot Hendrik gewend: “Praat asseblief tog net met Annabel.”
“Hoekom ek? Dis jóú ma.”
“Julle kom beter oor die weg.”
“Strooi.”
“Jy’t ’n slag met haar.”
“Hester, dit is ’n ma-kind-ouma-ding. Ek dink nie jy moet die arme skoonseun hierby insleep nie. Buitendien kan ek nie sien waaroor die groot bohaai gaan nie.”
Hester het hom kwaai aangekyk. “Ons dogter het vanoggend aan die ontbyttafel met my oor die ‘proses van fotosintese’ gepraat. Asof dit nie erg genoeg was dat sy woorde soos chlorofil en chrisofil gebruik