Branderjaer. Joha van Dyk

Branderjaer - Joha van Dyk


Скачать книгу

      

      Branderjaer

      Joha van Dyk

      Human & Rousseau

      Aan die seun met die blou beker

      Louw

      [Nee]

      “BITTER! BITTER! BITTER!”

      Louw gooi sy volle gewig agter sy vuis, ruk dan terug en sien hoe Beast sy neus vashou. Soos gewoonlik sê sy brein en sy lyf “nee”. Dis nie natuurlik nie. Dis die teenoorgestelde van wat hy wíl doen. Maar in die Kring gaan dit nie oor wil nie. Dit gaan oor wat jy móét doen. Almal in die Kring het skuld – Bloedskuld.

      En die Branderjaers het ’n moerse prys om te betaal.

      Beast skud homself reg en storm op Louw af. Hierdie keer hou hy niks terug nie. Louw duik weg en vermy Beast se voet wat uitswaai na sy been. Beast kom nader en mik vir Louw se niere, maar hy hoor Malherbe se waarskuwing en blok die hou net betyds. Pyn skiet deur sy voorarm van die impak en –

      Bam!

      Louw strompel agteruit, een hand nog in ’n vuis, voete gereed om weg te spring. Met sy ander hand voel-voel hy aan sy kakebeen waar ’n vorige hou hom getref het. Hy duik onder nog ’n vuishou en vat weer een in sy sy, hy swaai sy hand, maar mis . . .

      Alles gebeur te vinnig.

      Louw sien Beast se move net te laat en ruk so ver terug as wat hy kan. Ongelukkig vir hom verwag Beast dit, want sy ander vuis is gereed; die bloed van die vorige match steeds op sy kneukels.

      Louw se knieë kap in die koue sement vas. Die skare juig oorverdowend. Gewoonlik is dit maklik om die geluide uit te doof, maar vanaand . . . Louw spoeg teen die kant van die arena en sy oë glip oor die glimmende doringdraad wat vir hom gewag het as hy net-net stadiger was. Hy draai sy kop en kyk op na sy opponent met die arendsvlerke oor sy bors getatoëer. Verby Beast sien Louw die Kringmakers in al hulle glorie – fancy dasse en whiskeyglase, beursies vol note. Hulle gaste lag wanneer hulle afkyk na die arena; hulle’s veronderstel om te wen vanaand. Of Boss vir die fighters die regte orders gegee het is natuurlik ’n ope vraag. Louw weet net wat hy weet.

      Hy moet vanaand verloor.

      [On your feet, move to stage left]

      Hy stoot homself op sy voete en rol sy skouers. As hy Ben was, sou hy begin aanval het – Ben sou in hierdie ou vasneuk en nie ophou tot een van hulle val nie. Ben staan langs Jak, sy arms gekruis, wenkbroue gespanne saamgetrek. Jak sou Beast se bewegings vooraf kon uitfigure en hom voorspring. Malherbe sou meer takties jab tot hy ’n swakpunt kry. Ellis sou op sy voete bly, vinnig, maar nie so vinnig soos Jak nie. Op hierdie stadium moet Louw besluit hoe hy wil verloor. Teen die doringdraad? Of met ’n vuis, of moontlik ’n voet in sy gesig?

      Hy loer weer na die doringdraad, sien Jak se pein­s­ende blik en neem sy besluit. Jak sou gaan vir die doringdraad – enigiets om sy gesig skoon te hou vir sy ma.

      Louw het niks om te verloor nie.

      “AH!” LOUW SE regterhand gryp aan sy hare, sy linker vas op sy knie om te keer dat hy Ellis wegstoot. Die alkohol brand oor sy wangbeen, en al wat Louw kan doen is om sy asem deur geknerste tande uit te blaas.

      Die bunker is in een van Ben se geliefkoosde grotte. Ben was so opgewonde toe hy met die Jaers gedeel het hoe hy by Meermin Cove se grotte ingespoel het, ’n plek wat on­be­woon­­baar gelyk het van buite. Ben het glo vinnig besef die water kom net tot by sy knieë wanneer hy staan, en met sy lief­de vir smal, donker spasies het hy onmiddellik teen die kante van die grot begin loop tot hy die skeur gekry het wat net hy, as die befaamde Kanniedood, altyd in staat is om te vind. “Toe ek deurie skeur squeeze,” het hy opgemerk, met ’n tartende kyk na Jak, “het ek gedink ons is innie moeilikheid – jou groot kop sal seker nie passie.” Hy’t gekoes vir Jak se hand en verduidelik dat die spasie al hoe groter word. Toe hy by die groot area kom wat uiteindelik hulle bunker geword het, het hy ontdek daar is ’n groter, makliker ingang vir ál die Jaers. Ook maar goed, want Jak het daai skeur een kyk gegee voor hy sy kop geskud en gemompel het: “Not a chance.”

      Die nuwe ingang is in die berge wat strek om Weduweekaai en uiteindelik tot Malherbe se gunstelingkransduikpunt lei. Die skeur word weggesteek deur ’n groot struik. Dit was amper snaaks toe die skoolkinders se simpel quest om die Jaers se bunkers te vind daartoe gelei het dat die soekgroepies ’n groot brander by Meermin Cove se grot geverf het om dit te merk. Ongelukkig vir hulle het Ben teruggeglip en die skeur toegepak met klippe aan die binnekant. Naby en tog heeltemal buite bereik.

      Louw leun met sy kop teen die rotsmuur, die koue ’n verligting. Dit was hy´ wat destyds die voorstel gemaak het dat die nuutontdekte grot hulle volgende bunker moet wees – die veiligste moontlike plek vir enige Jaer om weg te kruip. En boonop het dit ’n goeie recovery space geword, danksy die medisynekissie wat Jak van die huis af weggedra het, die plastiekrusbank wat Ellis van die scrapyard af aangedra het en die ou koshuismatras wat Malherbe en Ben uit die stoorkamer gesmokkel het. Dieselfde matras waarop Louw en Ellis nou sit en sukkel met die sny wat Beast reggekry het.

      ’n Paar kerse flikker in die bries wat deur die grot trek en gooi bewegende skadu’s oor hulle gesigte. Elk van Louw se broers is op hul gewone plekke. Jak het nie vanaand ’n klein vuurtjie gemaak vir hitte nie, maar sy Zippo lighter skiet oop en toe in sy hand terwyl hy deur sy musiek scroll. Bo Louw hang die flits waar Ellis altyd dokter speel. Ben trek sy sketsboek nader waarin hy besig is met ’n tonnelsisteem van die Kan­go­grotte, sy geografienotas vergete op die koffietafel wat hulle in Ellis se garage aanmekaargeslaan het. Malherbe verbind die sny op sy arm, terwyl hy nou en dan na die kerse loer.

      Deesdae gebeur dit min dat al vyf van hulle gelyk die fights bywoon. Gewoonlik is dit net die twee wat die Kring bin­ne­tree en dalk ’n ondersteuner. Dis nodig, sodat almal kans kry om te ontsnap en terug te gaan na die regte wêreld waar daar dinge is soos wiskundetoetse en Afrikaans­op­stel­le. Soms droom Louw van die dag wanneer hy finaal van die arena kan wegstap, wanneer hy die dorp kan agterlaat met al sy donker geheime en die slymerige Kringmakers wat die Bran­derjaers in hul kloue vashou.

      “Hei! Moenie alles op Louw se gesig mors nie.” Jak hou sy hand uit en vang die bottel vodka maklik by Ellis – hy is nie verniet gesmeek om in die krieketspan te wees nie. As Jak maar net vatbaar was vir ’n gesmeek. Jak neem ’n vinnige sluk voor hy die bottel teruggooi.

      “Waar dink jou ma slaap jy vanaand?” vra Louw. Hy suig lug in tussen sy tande toe Ellis nog vodka op ’n stukkie watte oor sy sny smeer.

      “Uh, by Ellis.” Jak kies uiteindelik ’n Reggae-liedjie, die ritme steady en lui.

      Louw laat sak sy kop. Gewoonlik is dit net Fokofpo­li­sie­kar en Jack Parow ná Jak in die Kring was. Hulle luister deesdae baie Fokofpolisiekar.

      As Louw sy sin kon kry, sou Malherbe nie vanaand ba­klei het nie. Drie vyfdes van die Branderjaers is in graad elf en hy wéét hoe belangrik daardie punte is, veral vir iemand soos Ben wat afhanklik is van ’n beurs. Maar Louw is net een mens – soos Jak aanhou sê wanneer hy instem om een van die ander se skofte te vat. Hulle is broers, hulle doen nie hierdie ding alleen nie. Vir nou moet Jak en Louw soveel moontlik skofte vat voor hulle klaarmaak met matriek, net om ’n bietjie verligting vir die graadelfs te bring.

      Ellis hou die bottel vir Ben, maar hy gee dit vir Malherbe aan. Wanneer dit fight-aand is, slaap hulle twee gewoonlik by Malherbe se familiestrandhuisie op Pêrelbaai, ’n klein strand anderkant Stormbaai. Die koshuispersoneel sal nie juis verstaan as hulle eers ná twaalf in die bed klim nie, maar hulle verstaan die Albertyns se geld, en hulle verstaan dat Ben Palmer beste vriende is met Malherbe Albertyn, so ’n uitslaap-vergunning is gemaak. Vryheid is iets wat Malherbe nog altyd kon koop, en hy sluk uit die bottel asof dit net aan hom behoort.

      “Waar dink jou pa is ons, anyway?” mompel Jak wanneer hy uiteindelik terugleun


Скачать книгу