Branderjaer. Joha van Dyk
huge te wees.” Hy druk sy hand in sy broeksak. “Dit maak nie saak nie, selfs die kleineres is die moeite werd.”
“Kort jy nie ’n grote om die kompetisie te wen nie?” frons Deidre.
Sy frons met haar hele gesig. Haar neus kreukel, oë vernou, vol vrae. Haar wenkbroue lig en hy snap sy wag vir ’n antwoord.
[Prompt?]
Louw skud sy kop, glimlag gereed. Altyd gereed.
Niemand vra hierdie vrae nie. Die meeste girls daag op ná die kompetisie en praat oor hoe cool, hoe rugged, hoe gevaarlik alles is wat hulle doen. Hulle neem foto’s en tag hulle met #branderjaers #bitter #klippies #vuur #kannie en meestal #stoke.
Jak kort eintlik ’n hele ander app om sy fans te akkommodeer. Louw check nie eens meer Instagram nie, maar die mense wat met hulle praat … wanneer laas het iemand gevra oor die tegniese aspekte van surf en gewag vir ’n wérklike antwoord?
Soos Deidre tans wag.
[haal diep asem]
“Die grootte help, maar die hele ervaring, hóé jy die wave ry en wat jy daarmee doen … dis wat dit die moeite werd maak.” Is dit genoeg? Hoe verduidelik hy iets wat hy deesdae net dóén? Wat so natuurlik soos asemhaal is?
“Die ervaring?” Deidre leun nader en jasmyn hang skielik in die lug. Louw se gedagtes dryf onwillekeurig na Stellenbosch en die Regsfakulteit waar hy gereeld verbystap, die struike gepeper met wit blomme in die lente.
[Prompt, asseblief]
Hy rol sy skouers terug. “Die ondervinding soos … die reuk, die kalmte, die koue van die water, hoe die branders beweeg. Alles wat op die strand gebeur verdwyn en dan’s dit net jy en die perde –”
“Perde?” Om hulle maal leerders, loslopers wat van die snoepie na hulle tasse stap, maar Deidre het skynbaar haar hardloopstreke gelos.
Hy krap aan sy kraag waaronder nuwe rofies jeuk, die leertoutjie met sy charms klingel om sy nek. Haar oë volg die klank.
[Don’t let the audience rattle you]
“As die wind waai en die water daai wit skuim op die see maak. Mens noem dit perde.”
Deidre begin iets sê, maar Malherbe en Ben storm skielik op hulle af en gooi Louw van balans af. Hy gryp Malherbe se skouer – altyd die standvastigste een – maar strompel in elk geval.
Ben ruk amper Louw se arm uit lit uit. “Kom ou, Klippies het jaffels by die snoepie gescore.”
“Hanja?” Louw kan die grynslag nie keer nie. Wat Ellis nie vir ’n snoepie-score sal doen nie …
Ben gooi sy kop terug met ’n lag. “Jy weet mos! Sy cave as hy sy ogies bat en praat oor die ‘psigologiese belewenis van bergklim’.”
Malherbe rol sy oë en sien skielik vir Deidre raak. Hy glimlag versigtig; die glimlag wat hy dra vandat die Albertyns die groot huis teen Kannube Duin gekoop en hiernatoe getrek het. Ben lag oor iets, maar niemand luister nie – iets wat nie sommer gebeur nie. Hulle staar na Louw, wag dat hy haar voorstel, maar haar naam haak in sy keel soos ’n mond vol soutwater. Soos hulle gesprek wat skielik soos ’n knop in sy keel sit.
[Nog ’n prompt, Swanepoel?]
“Jy! Jaers!” Jak spring tussen hulle deur en draai om in ’n agterstevoor draffie. “Kom, ouens! Kannie, daar’s ysies betrokke.”
Die spell is verbreek. Jak wat in hul noemname ingeglip het, herinner Louw aan waar hulle is. Skool. Hier is hy nie Louw nie – hy’s Bitter. Nes Ben Kannie heet. En Malherbe, Vuur. Deidre is skielik net nog ’n hoërskoolmeisie anderkant die gang, en Bitter se broers roep hom agterna. Hy kyk na haar in die wegloop.
Saterdag, vorm sy lippe. Hy hoop dis genoeg van ’n verskoning, maar haar emosies is nie goed weggesteek nie. Irritasie trek aan haar mondhoeke, maar hy’s klaar om die draai en by die trappe af, sy beste vriende om hom, op pad na meisies wat enigiets sal gee vir ’n glimlag. Die donkerkop wyk soos ’n skim na ’n hoek in sy brein. Sy vriende druk verby mekaar by die lewenswetenskappeklas se deur en sprint om voor te kom. Nog ’n kompetisie. Nog iets om te jaag. Presies hoe dit moet wees.
Broers en branders.
Deidre
“HOE IS DIT dat jy nie elke dag huis toe rol nie?” Mieke kyk verontwaardig hoe Pieter nog ’n hand vol springmielies in sy mond prop. Mieke het nog altyd ’n vreemde verhouding met kos gehad, maar wanneer Pieter in die omtrek is, is dit net sóveel duideliker, aangesien hy enigiets eetbaars verorber en steeds so skraal bly.
Mieke gryp die papiersak met springmielies by hom en waai dit voor sy gesig. “Hierdie is hoekom jy nog nie ’n meisie het nie.”
Boomtakke gooi skadu’s oor die grasperk. Pieter leun terug teen die stam van die boom waaronder hulle gewoonlik pouses sit, balkies blink op sy blazer se lapel.
“Wie’t tyd vir meisies? Hulle’s in elk geval net moeilikheid,” sê hy skouerophalend. “Ek het anyways vir julle.” Hy vee ’n hand oor sy vaalblonde borselkop. Met die aanbreek van branderseisoen het die skoolhoof seuns begin inroep om hare af te skeer, om die anargie en onrustigheid te demp. Branderseisoen is die dorp se besigste tyd, wanneer toeriste gelok word deur die perfekte weer en kompetisies op Stormbaai se strande.
“Wel, óns gaan jou nie date nie,” sing-sê Mieke, terwyl sy deur ’n Vogue blaai wat sy by die kunsonderwyser geleen het.
“Ah, daar kom die Poppies,” verander Pieter die onderwerp met ’n kreun en sit regop. Die Branderpoppies mik gewoonlik vir die quad waar die Branderjaers tussen ander leerders pronk. Die rugby-ouens kom vanaf die rugbyveld verby hulle geloop en gaan staan om iets op Dekker Vermaak se foon te kyk. “Check hierdie video oor die Jaers se nuutste bergklim-ekskursie,” sê hy en hou die foon na hulle uit.
“Klippies hang aan ’n tak van ’n cliff af! Daai Stellenbosch copycats kon nie eens verby die eerste steilte kom nie!”
Vaagweg hoor Deidre iemand juig in die video, voor die wind die klank wegruk.
“Kannie het blykbaar ’n nuwe grot ontdek –”
“Weet nie hoe de hel hy by daai spasies inkruip nie.”
“Hallo? Het julle vergeet dis Branderseisoen? Ons kyk Saterdag, nè?”
“Asseblief. Het hierdie mense nie lewens nie?” mompel Pieter en druk nog springmielies in sy mond.
Deidre probeer hard om nie na Pieter te kyk nie. Haar gesig voel klaar warm, sy druk haar kneukels teen haar wange om af te koel. Onwillekeurig soek haar oë oor die quad, maar die groep seuns is nog nie op hulle gewone plek nie.
Die Branderjaers kom van jongs af saam met hulle vreemde noemname en vreemde stokperdjies.
Ekstreme stokperdjies.
Dit het op laerskool begin. Deidre was in juffrou Van Wyk se graadvier-wiskundeklas, ironies genoeg, toe die interkom afgaan en die seuns geroep word. ’n Klomp seuns, van graad vier en vyf het skool gebunk en in Weduweekaai van die rotse af gaan duik. Die duikpunt was ’n goeie tien meter hoog, niks vir ’n grootmens nie, maar vir ’n laerskoolkind?
Wanneer Deidre terugdink, kan sy skaars ’n tyd sonder die Branderjaers onthou.
“Alles uitgesort met Kruger?” vra Pieter skielik langs haar.
“Nee, ons is onderbreek en Kruger het na die kans gegryp om my daar uit te kry,” sê sy en leun terug op haar arms.
“Sy ken jou ma.” Mieke kyk nie op van die tydskrif nie. “Jou ma is nie die maklikste vrou by ouervergaderings nie.”
“Advokaat