Branderjaer. Joha van Dyk
in een of ander elite-koshuis opeindig op Stellenbosch. Daar’s nie perke aan moontlike rolverdelings vir Jak Human nie.
“Ek het vir hom gesê ons het ’n afperiode môreoggend, so ons vang ’n laat fliek.” Die fliek by die hotel wys net ou films, maar gelukkig is Ellis die grootste 80s nerd in Stormbaai. As sy pa sou uitvra sou Ellis maklik feite oor een of ander classic kon spin. Nie dat sy ouers sal vra nie.
“En hy dink niks daarvan dat julle in verskillende grade is nie?” vra Malherbe.
“Ek het vergeet jou ouers vertrou jou,” snorklag Jak. Hy hou weer sy hand uit vir die bottel, maar Malherbe neem ’n ekstra sluk voor hy dit vir Ellis aangee, wat net sy kop skud. Malherbe sit die bottel op die tafel neer en kyk skerp na Jak. Jak gluur net terug. Sy ma sou hom afslag as sy hom nou moes sien. Almal weet Jak is meer vatbaar vir . . . wel, met ’n pa wat dood is aan ’n overdose kan jy nie te versigtig wees nie.
Louw kyk nie eens na die bottel nie. Hy knyp sy oë toe en wag vir Ellis om die pleister oor die wond te plak. Soms het hy begrip vir Jak se voorkeur vir die draad. Hy maak sy oë oop en sien die rowe oor Jak se maag waar sy hemp opgetrek het teen die rusbank, plastiek oopgebars oor die kussings.
Ander tye dink hy net Jak is die malste persoon in die kamer.
“Ben, kom jou suster na volgende Saterdag se toernooi, of chicken sy uit?” vra Jak, halfpad deur ’n gaap.
Kalla en Ben verskil ’n jaar, maar lyk omtrent identies – die enigste verskil is Ben se blitsende blou oë wat skerp uitstaan teen sy bruin vel, terwyl Kalla se ligbruin blik altyd lyk asof sy jou presies kan opsom. Terwyl Kalla gewoonlik saam met hulle surf, en nie juis vir enigiets bang is nie, vermy sy Storm Hoër se leerders na die beste van haar vermoë. Ironies dat sy die onderdorp, Breekwater, verkies bo die blink Stormbaai waar Ben sy krieketbeurs gekry het.
Ben haal sy skouers op. “Sy checkit nog uit. Dalk kry sy ons ná die tyd, assit haar vibe is.”
“Ons kan maar na ’n private beach toe gaan en ’n paar branders vang,” stel Malherbe voor. Hy’t klaar afgespoel in die see voor hulle bunker toe gekom het, so hy trek sy hemp aan en trek die mou af om die verband weg te steek, voor hy vir oulaas een van die noodgeval-handdoeke oor sy hare vee.
“Hoe gaan jy hierdie by die skool verduidelik?” vra Ellis vinnig en knik na Louw se gesig waar die ontsmettingsmiddel steeds brand. Ellis is gou om die onderwerp oor Kalla te verander. Oorbeskermend is nie die woord nie, maar toe Louw na Ben loer, lyk dit nie of dit hom pla dat sy beste pel sy suster off the hook probeer kry nie. Ellis lig sy wenkbroue vir Louw en kyk betekenisvol na sy handewerk.
[Prompt?]
“Uh, geval? Of moet ek sê ’n brander het my gesig eerste teen die rotse gegooi? Reef rash?”
“Jy kan sê jy’t met Ellis se motorfiets geval,” spot Ben. Ellis se ore word rooi toe hulle almal lag. Hy’s so heilig op die fiets, hy’t dit nog nooit eens uit die garage gestoot nie, al het hy ’n lisensie. Hy ry eerder onwettig rond met Malherbe se bakkie in Stormbaai.
“Twyfel of iemand sal vra.” Malherbe strek sy arms bo sy kop, sy lyf seningrig teenoor Ellis se spiere toe hy langs hom gaan sit. Sy vingers begin ritmes tik op die matras. “As hulle vra is ek seker hulle sal stupid genoeg wees om te glo jy sal die verkeerde brander kies.”
“Louw Swanepoel?” vra Jak in ’n hoë stemmetjie. Hy spring op en hou sy hand op sy bors, terwyl hy die ander een voor sy gesig fladder. “Louw Swanepoel is veels te perfek om foute te maak!” Sy mond trek pruilend saam. “Wie dink jy is jy om sulke aantygings te –”
Toe Louw vir Jak duik, skaterlag sy bendebroer net en stamp hom terug. Jak hou sy vuiste voor sy bors en mik tergend na Louw, maar val dan net terug op die matras waar die res van die ouens sit en lag, die vodka weer vir mekaar aangee en oomblikke in die arena herleef.
Al droom hy van ontsnap uit hierdie dorp, kyk Louw na sy vriende en dink aan die gelukkige tye in hulle bunkers. En skielik is daar ’n ander, meer powerful deel van hom wat wens dat niks sal verander nie.
Deidre
DEIDRE HAAT DIT om swak te doen in ’n vak. Sy haat dit amper soveel soos wiskunde. Amper, maar nie genoeg dat sy nie nou voor die wiskunde-onderwyser staan met smekende oë nie. Juffrou Kruger is nie een vir trane nie, maar gelukkig is sy ’n softy as dit kom by ’n tragiese geval. En eerlikwaar, op hierdie stadium is A-kandidaat-Deidre, mejuffrou Volpunte, se saak redelik tragies.
Juffrou Kruger leun terug in haar stoel en bestudeer Deidre van agter haar brilglase. Selfs in ’n stoel, hande oor die armleunings gevou, is juffrou Kruger intimiderend. Deidre het hierdie gesprek menige kere sedert graad tien gehad. As jou ma Renate Anker is en jou wiskundepunt jou gemiddeld aftrek, sal jy van klas tot klas geskuif word tot die gevolgtrekking uiteindelik gemaak is dat die onderwysers nie die probleem is nie. Deidre is die probleem. En sy weet dit nou al ’n ruk lank. Haar oplossing was om dit te ignoreer. Sy trek haarself terug in haar kamer met ekstra leeswerk vir haar ander vakke, probeer opmaak vir die onvermydelike trefslag van wiskunde. Nou lê aansoeke om universiteitstoelating voor en hierdie gesprek moet weer plaasvind. Deidre kan nie vir ewig wegkruip nie.
Toe Kruger uiteindelik oogkontak verbreek en na die toetspunte voor haar loer, ontspan Deidre se skouers net liggies voor sy hulle weer terugstoot. Nie een van hulle het al iets gesê nie, net in stilte gewag vir een of ander oplossing om uit die lug te val. Die dubbel-wiskundeperiodes was hel, soos gewoonlik, maar wat dit nog erger gemaak het, was die wete dat sy presies hier sal moet staan wanneer die pouseklok lui.
Pouses is die beste tyd om onderwysers te druk vir antwoorde – daar’s niks wat ’n onderwyser meer begeer as om leerders te ontglip in hierdie kort twintig minute nie.
“Daar is nie nog onderwysers nie, Anker.” Kruger lig ’n wenkbrou, dit maak ’n negentiggradehoek op haar voorkop.
“Ek weet.” Deidre weet ook wat sal gebeur as sy met haar ouers gaan praat oor nog ’n swak uitslag. Haar pa, terug van ’n besigheidsweek, sal teleurstelling in sy oë dra. Deidre kan opstelle skryf oor hoe woedend haar ma sal wees. Al die hoë punte en prestasies in haar ander vakke beteken eintlik, volgens haar ma, niks in die regte wêreld nie. Al wat dit sal doen is om Die Plan te verwoes. Metafories op te skeur.
Metafories wou Deidre al baie dinge met Die Plan gedoen het.
Die Plan is al sedert graad agt in plek. Doen aansoek vir UCT en Stellenbosch – enigiets anders is ’n mors van tyd. ’n LLB by ’n goeie universiteit (asof dit saakmaak vir iemand wat nie in Regte belangstel nie), dan article by ’n goeie vennootskap. As haar ma haar sin kry, sal sy Deidre druk vir advokaat. Natuurlik is ’n woonstel en ’n kar ingesluit in hierdie blink toekoms. Die Plan is mooi uitgewerk. “Daar sal mans op universiteit wees wat in jou gaan belangstel,” het haar ma haar plegtig ingelig. “Hulle is nie belangrik nie; inteendeel, hulle is net struikelblokke in die pad van ’n goeie toekoms.” ’n Toekoms waarin Deidre alles doen waaroor haar ma gedroom het – op ’n silwerskinkbord vir haar aangebied.
Kruger se stem ruk haar terug na die werklikheid:
“Jy’s slim, maar hierdie punte . . . Moet jy vir beurse aansoek doen?”
Deidre knik vinnig. Haar tas raak al hoe swaarder hoe langer sy staan, maar sy sit dit nie neer nie, sy gaan sit ook nie in een van die banke nie. Sy moet haar man staan. Sy kort ’n oplossing.
“Juffrou … Daar’s niks wat ek nog kan doen nie. Ek leer vir ’n oopboek-klastoets en dop in elk geval. Ek kan nie weer vir my ma-hulle vra vir ’n tutor nie. Ek het al by baie van hulle lesse gehad, maar niks verbeter nie.” Sy hoop nie Kruger kan sien hoe styf haar skouers is, hoe die spanning haar rugstring laat krom trek en haar hande laat sweet nie.
“Sommige mense is net nie aangelê vir wiskunde nie. Jy doen blykbaar goed in jou ander vakke.