Branderjaer. Joha van Dyk
nog woorde op haar hand skribbel.
“Soos van die brander?” Mieke sit meer regop, oë gespits op die rowwe graffiti op Verfkwas se stam. “Done.”
“Perfect!” Bella knik voor sy weer begin peuter aan haar das.
“Ugh.”
“Nee, dis nie ‘ugh’ nie.” Bella klap Pieter se been. “Dis interessant. Wat weet ons eintlik van hierdie ouens?”
“Hoekom moet ons enigiets oor hulle weet? Hulle wil niks oor ons weet nie. Hel, ek wed jou twintig rand hulle ken nie eens een van ons se name nie.”
“Is jy jaloers, Piet?” Mieke loer na Deidre oor die Vogue se rand en knipoog.
“Ek’s nie jaloers nie, Mieks, maar hierdie obsessie met hulle is –”
Die klok onderbreek Pieter en hy knyp die brug van sy neus tussen sy wysvinger en duim. Saved by the bell.
Teen die tyd dat Deidre binne is en by haar Engelsklas op die tweede vloer se venster uitkyk, staan die Branderjaers steeds buite in ’n gespanne kring.
Asof die klok nooit gelui het nie.
Louw
“SO KRUGER HET vergewe en vergeet?”
Malherbe is ’n golden boy. Merendeels oor sy punte en sy sagte geaardheid, veral wanneer ’n onderwyser teenwoordig is. Maar meer as enigiets is hy ’n golden boy oor sy van. Die Albertyns is ou geld, nie soos die Volstees wat elke sent uit hierdie toeristedorpie probeer melk nie. En dis nooit so duidelik soos wanneer hy soos nou op die strand staan nie, skouers teruggegooi, die son wat sy rooi hare verlig soos ’n kroon.
“Kruger het ’n alternatiewe idee van vergifnis,” sug Louw uiteindelik. Sy vel prikkel van die soutwater wat droog gebrand word deur die son.
Hulle het vandag ’n stiller strand gekies. Daar’s niks beters as ’n skoon wit stretch strand nie, sonder nuuskierige oë, kameras of verwagtinge.
Weduweekaai is ideaal. So min mense waag om hier te surf oor die onsigbare riwwe en die skerp klippe wat net wag vir ’n ongeluk om te gebeur. Die krans gooi donker skadu’s agter Malherbe, en Louw loer op na waar die ruwe rots deur die blou lug skeur – waar hulle die eerste keer vasgevang is op kamera. Anderdag het iemand ’n throwback gepost van die video. Hy’t die greinerige film net vlugtig bekyk, die vyf bekende laerskoollywe gesien – skaduwees op die krans se laer nokke. Hulle kon enigiemand gewees het. Dalk, as hulle nie mekaar se name geskree het nie, sou hulle nou nog anoniem gewees het. Dalk sou hulle nie ’n stil strand hoef te gesoek het nie.
Dalk sou hulle net kon wéés, sonder al die strings attached.
Louw leun terug op sy elmboë en hou Jak se wipeout fyn dop. Hy’t toegelaat dat Ellis sy brander steel.
“Alternatief is nie bad nie.” Malherbe rits sy wetsuit af en leun teen sy rugsak. As Malherbe se ma nou hier was, sou sy hom uitgetrap het oor sonbrand en sproete en wat nog. Sy sou vir hom die leviete voorgelees het oor die swart ink op sy skouer wat hy by ’n plek in Chancer Bay gekry het. Sy sou baie dinge te sê gehad het. As hulle ooit nog met mekaar gepraat het.
Malherbe is nie gepla nie. Sy bors is versier met littekens – oues al vaag en wit, en nuwes vaalpienk met rowe. Louw kyk weg van die groen-en-pers streep oor Malherbe se sy. Al sy broers lyk dieselfde, vol seerplekke waar Breekwater hulle bygekom het.
“Watse tipe alternatief, Bitter?” vra Malherbe eindelik toe Louw die stilte laat rek.
“Ek moet hierdie girl tutor,” sug Louw en skiet ’n klippie die branders in. Op die see skree Ellis iets vir Jak. “In wiskunde.”
“Dis nie te bad nie. Wie’s die girl?”
“Sy’s actaully in jou graad. Uh …” Louw sluk voor hy die woord oor sy lippe forseer. “Deidre … Anker.”
Malherbe se oë rek. “Anker?”
“Ja.”
Louw het vinnig ná die tyd besef waarom Deidre aan die begin so bekend gelyk het. Sy’s ’n Anker. Die naam wat altyd oor hulle koppe hang. Hulle sit vir ’n oomblik met die naam tussen hulle. Ná daardie middag sou hulle nooit weer daaroor praat nie. Uit gewoonte glip Louw se hand na die toutjie om sy nek. Die draadankertjie wat daaraan hang is die ligste van sy charms, maar eintlik die swaarste in sy gemoed. Hy zip dit toe onder sy wetsuit.
“Deidre is slim,” verbreek Malherbe die stilte.
Louw knik. Dis natuurlik waar hy haar tevore gesien het, op die verhoog vir Top Tien? Buite Malherbe se registerklas? Louw hou die branders dop. Dit lyk amper of die witperde optel, wat beteken sy pa sal nie sommer laat op die see bly nie.
Of dalk is dit een van dáái aande en is dit presies wat hy sal doen.
“Is haar ma nie die advokaat nie?”
’n Rilling trek teen Louw se rug af. Ellis is op pad uit die water. “Ek’s nie seker nie, Vuur.” Hy stof halfhartig sandkorrels van sy moue af. “Ek vra nie te veel vrae nie. Is Ben op pad?”
Malherbe knik, oë op Ellis se naderende figuur. “Hy’t vir Kalla gaan uithelp met huiswerk. Hulle’s seker amper hier.”
Louw gryp sy board en drafstap na die surf se klein branders, skulpe kraak onder sy voete. Ellis gryp Louw se hand in die verbygaan in ’n losserige high five en Louw glimlag wrang om die seer weg te steek. Die bloukolle teen sy arm klop toe hy in die water kom, toe hy paddle tot by Jak. Pyn skiet regdeur sy lyf.
“Dis amper verby, Bitter.” Die spot is weg uit Jak se oë. Dis onnatuurlik vir Jak om sonder terg te wees. Dis maklik genoeg om die stres weg te steek vir die res. Hulle almal het dit. Die Jaers weet wat van hulle verwag word en elkeen van hulle dra dit wanneer dit tyd is. Hulle tree daardie arena binne en doen wat hulle moet. En hulle kla nie. Veral nie voor Kalla nie. Hierdie gemors is nie haar skuld nie – dit was hulle keuse om die papiere te teken – maar Kalla se kapasiteit vir skuldig voel is way te groot. Dit sal dinge net moeiliker maak.
Jak is anders. Louw kan nie veel vir sy beste vriend wegsteek nie. Sure, hy deal ook met die Jaers se skuld, maar hulle drop alles met mekaar. Die bulshit van “dis oukei”, “dis nie so erg nie”, “alles is great” verdwyn. Die broederskap is sterk, vandat hulle vriende geword het daai dag van die storm. Selfs toe hy weggetrek het, toe hulle terugkom, toe Jak se ma hom hulle vriendskap verbied het, toe hulle van dieselfde meisie gehou het, toe hulle besef het –
“Jy orraait?” hyg Jak. Hy grynslag asof hy kan sien waaraan Louw dink, maar Louw begin lag voor hy regop sit op die branderplank.
“Ja, Stoke, ek’s net …” Hy lek sy lippe. Hy’s tense oor Anker. Oor haar, haar van en alles wat daarmee saamkom. Oor haar ma, die advokaat. Oor matriek dop. Hy’s tense oor klasse. Die Brandertoets. Breekwater. Altyd Breekwater. Maar uit al hierdie opsies wil hy net een met Jak deel.
“Die Toets het my net ’n bietjie opgestres,” sug hy. Sy nek slaan uit met hoendervleis. Die wind is definitief besig om op te tel. Jak skud sy hare uit soos ’n hond.
“Jy was laas op jou senuwees vir ’n Brandertoets toe jy, wat? Soos, twaalf was? Hierdie is niks, Bitter. Jy het dit. En al het jy nie hierdie een nie,” sy skouer trek op, “dan het jy die volgende een. Hierdie is die kiddie pool. Ons is gemaak vir die Olympics.” Jak knipoog. Om hulle is alles gloeiend helder, die hele dorp uitgestrek langs hulle soos iets uit ’n prenteboek.
Vol potensiaal.
Die strand is vierde van die promenade waar al die toeriste saamdrom, waar Louw-hulle moet perform. Waar hulle nou sit en kyk na hulle vriende se vae silhoeëtte op die strand, weet Louw as hulle lank genoeg wegpedal van die promenade af, sover links moontlik,