Branderjaer. Joha van Dyk

Branderjaer - Joha van Dyk


Скачать книгу
saam met Jak sal hy nie die helfte van daai tonnels kan navigate nie. Nie sonder Ben nie. Dis nie verniet dat Ben se naam Kanniedood is nie.

      Jak lê vorentoe en begin paddle met ’n spoed. Louw kyk vir oulaas ver links na Chancer Bay, dan volg hy die kuslyn regs, na die ligtoring, na Breekwater, en hy draai ook uiteindelik weg.

      Daar’s geen kans vir wegglip nie, nie met Breekwater se oë op jou nie.

      Louw volg Jak na die sweet spot wat hy gescout het, na die branders wat saakmaak. Louw byt op sy lip toe sy arms begin pyn. Sy gedagtes bly wentel om die Ankers en hoekom presies hy nie net vir Jak gesê het hy tutor ’n meisie vir punte nie. Louw wurg amper aan ’n knop in sy keel as hy dink aan nog ’n Anker wat met die Branderjaers verbind gaan word. Dan duik hy onder die brander in en kom aan die ander kant op. Hulle paddle tot hulle reg is om die drop te vang. Louw vat links en Jak regs.

      [Stage left, ligte fade in, blou. Stage right, lig­te fade in, groen. Centre stage spot]

      Iewers op die strand het Ben, skateboard in die hand, en Kalla, haar Breekwater-uniform weggesteek onder ’n baadjie, by Malherbe en Ellis aangesluit. Iemand sal nou musiek speel of die Inkvis se skinderstories hardop lees en dalk kommer oor hoe ver Louw en Jak dit al weer op die blou waters gewaag het. Iemand sal kopskud en volhou hulle’s moeg daarvan, of dat hulle nie kan kyk na die massiewe bran­der wat barrel met die ou binne-in nie, en net te vinnig is vir hulle om veilig uit te kom en –

      Almal hou hulle dop.

      Deidre

      CRIME CHANNEL SPEEL 24/7 in die Anker-huis.

      Vandat Deidre kan onthou is die huis gevul met die klank van die stryd tussen reg en verkeerd. Die wit- en-roomkleurige sitkamer is oopplan, die skuifdeur en groot vensters, met ’n voorliefde vir sonskyn, is oop. Die beige gordyne, roos­pienk orgideë, baie versigtig gekweek deur haar ma – alles in die leef­area is in kontras met die grootskerm-televisie wat preek oor moord, dood en hofsake. Teen skemer klink die see har­der, selfs waar sy op die dek staan, kilometers van die bran­ders af. Hier, teen die voet van die berg, af in die straat van die Volstees, lyk die see soos een van Mieke se rowwe verfstrepe, grysblou teen die horison.

      Deidre het nooit seevakansies geken nie. Haar ma het ’n wantroue in seestrome en het nooit juis deelgeneem aan die gemeenskaplike kom-ons-vat-die-kinders-see-toe-uitstappies nie. Gelukkig het haar tannie-hulle langsaan gewoon. Haar neef, Frederik, was altyd die stout een, met sy ouer broer­­­, Bertus, ’n goeie sewe jaar ouer en weg op universiteit. Frederik het haar skelm see toe gevat, haar leer swem en visvang. Dit was Toe. Voor.

      Deidre was vier jaar laas werklik op die strand. En dis ’n dag wat sy nooit wil onthou nie. Sy staan eerder op die kant­lyn, op die promenade met die menigte stalletjies en die room­­ys­waentjie. Sy kyk, maar sy gaan nooit nader as wat sy hoef nie. Nou, Saterdag, gaan sy móét. Ja, sy kon vir Louw vra dat hulle iewers anders ontmoet, maar sy kon nie die whats­app vir hom stuur nie. Sy wil nie meer soos ’n laf­aard voel nie. Sy wil ’n punt vir haarself bewys, hoe gering ook al. Sy gaan opdaag en dit gaan iets beteken. Dit moet net.

      By die promenade, reg in die middel van Stormbaai se kus­lyn, is Pieter se ma, tannie Helen, se kuns-koffiewinkel, Eden. Dis waar sy daagliks in haar Louboutins koffie be­dien aan die dames van haar boekklub, spinklas en besigheidsirkel. Met die hoeveelheid tyd wat sy pa afwesig is, kan selfs Pieter skaars byhou met al sy bedrywighede. Oom Carl het basies ’n monopolie oor die dorp, sy enigste kompetisie is die ander aandeelhouers in ’n “Ontdekkerskomitee”. Die lede van hierdie komitee, of “kultus”, is glo afstammelinge van die oorspronklike stigters van Stormbaai. Bella wou nog ’n artikel doen vir die Inkvis oor hierdie veronderstelde “ontdekkers” wat van Chancer Bay af gevlug het, maar die skoolhoof, meneer Van Deventer, het dit afgekeur. In ’n klein dorpie sal mense enigiets glo.

      “Deidre! Dek gou die tafel, asseblief.”

      Deidre trek die skuifdeur toe voor sy die eetgerei uit die eetkamerkas haal en begin dek. Haar ouers se stemme is gedemp in die kombuis van die oopplanvertrek, tussen­deur die gekletter van panne. Die geur van knoffel walm deur die huis.

      Deidre hou die moordtoneel op die televisie dop. Die ak­teurs is amateurs. Die man en vrou stry met oordrewe to­neel­spel en melodrama. Tussen hul “toneelspel” deur vang sy dele van haar ouers se gesprek. ’n Gesprek wat afspeel nes die res – soos twee treine wat reguit op mekaar afpyl.

      Die pan sis en haar ma skink nog ’n glas wyn.

      “So Carl het jou al weer betrek by een van sy planne?”

      “Renate, dis ’n besigheidsgeleentheid,” sug haar pa.

      “Jy’s klaar so min by die huis. Hoekom kan jy nie net –”

      “Ons het mos ’n ooreenkoms, my vrou. Ons het ooreen­gestem. Beide van ons kan ons beroepe behou en steeds ’n gesin hê …”

      “Ek glo ons het eintlik ooreengestem dat ons ons drome moet volg. Myne was om vennoot te wees. Is joune om in Carl Volstee se gat opgekruip te wees?”

      Die man gryp die vrou se kraag en haar hande krul by sy nek. Sy wil terugbaklei.

      Deidre beweeg om die tafel om nader aan die kombuis te staan, haar oë steeds op die televisie. In die kombuis kap die mes teen die snybord.

      “Ek kan nie weer hierdie gesprek voer nie.” Dis vir ’n oom­blik stil. “Jy is ook net saans hier. Wil jy hê ek moet heeldag hier rondwag vir julle om huis toe te kom?”

      “Beide ek en Deidre werk baie hard. Sy is onder groot druk om te presteer. Om aanvaar te word by universiteite. Wêreld­klas universiteite,” byt haar ma.

      “Dink jy nie jy druk ’n bietjie hard nie? Sy’s klaar ’n A-kandidaat. Dink jy nie –”

      “As sy nou glip –”

      “Sy’s ’n mens.”

      “Dit beteken nie sy moet haarself saboteer –”

      Die vrou gryp ’n mes op die toonbank en dit beland in sy rug, maar die man stoot haar agtertoe tot haar kop teen die muur kap, sy vingers steeds om haar nek.

      “Sy’s ’n kind. Tye het verander.”

      “Het die samelewing al verander? Het misoginie al ver­dwyn? Het patriargie al gebuig?”

      “Hemel, Renate.”

      “Hierdie is realiteite. Sy moet voorbereid wees vir die struikelblokke daar buite. Weet jy hoeveel huishoudelike geweld, verkragting, onbillike be–”

      “Ek verstaan jy wil haar in die beste moontlike posisie –”

      Die man se duime klem stywer om die vrou se keel. Onder haar kake knak haar lugpyp – maar hy is besig om uit te bloei. Sy hemp is rooi, sy arms word swakker . . .

      “Nee. Jy verstaan nie.” Die mes kletter op die toonbank. “Hoe dink jy moet sy ’n beurs kry, Albie?”

      Vir ’n oomblik is dit tjoepstil in die kombuis.

      “Renate, ek weet ons lewenstyl … ek verstaan –”

      “Totdat jy nie jou neus uit die Volstees se sake hou nie, sal jy nie verstaan nie. Jy’s te diep in iemand anders se idees vasgevang. En dis nie die man wat ’n ooreenkoms met my gemaak het nie.” Haar ma begin weer kap met die mes, harder as tevore.

      “O? Was hierdie alles deel van ons ooreenkoms? Hoe wil jy hierdie lewenstyl volhou as ek nie –”

      “Jy het my insette. Dis in jou hande. Hou my net daar uit,” sis sy.

      Die man val op die vloer; die vrou langs hom.

      Deidre probeer soos gewoonlik sien of die akteurs asemhaal ten spyte van die “dood-status”.


Скачать книгу