Branderjaer. Joha van Dyk
julle altyd aanbly ná hoërskool. Wel, julle twee gaan natuurlik nog ná skool hier wees.” Hy’t sy wit tande geflits vir Jak en Louw. “Die kontrak duur tot die laaste een die skool verlaat het. Pasop dat julle nie druip nie.” Hy’t gelag en geknik. Boss het die deur oopgemaak, hulle ’n toer deur die arena gegee en ’n inligtingspamflet met roosters en voorwaardes oorhandig.
Die Kring het die Branderjaers ingewag.
En hulle het gewillig in die rot se kake ingestap.
“IS JY NOG met my?”
Deidre se stem ruk hom terug na die strand. Hy glimlag vinnig – iets wat al hoe makliker raak hoe langer hulle met wiskundeboeke tussen hulle sit.
“Jip, sorry, uh … is jy al klaar?”
Haar wenkbroue lig asof om te sê: Wat dink jy´? En sy draai terug na die syfers in haar werkboek.
[don’t direct your fellow actor]
Louw kyk weer na die handboek. Onder die wenke vir die formule het hy geskryf: Moenie vergeet nie. Toe hy na sy handskrif kyk, kan hy nie help om te onthou hoe sy naam op daardie kontrak staan nie. Louw Swanepoel, netjies uitgeskryf onder sy handtekening.
Deidre blaas die los krulle geïrriteerd uit haar gesig weg. Sy sukkel nou al die hele sessie lank om die hare teruggesteek te hou, maar die vlegsel rebelleer. Louw wil eintlik die rekkie afhaal sodat haar hare los kan hang. Hy kan hom net voorstel hoe –
[Don’t break character]
Hy kyk weer uit oor die see.
Sy het Kruger se klaskamer gekies vir die laaste sessies op Dinsdag en Woensdag, maar hy’t seker gemaak dat Donderdag s’n meer van ’n uitsig het. Weduweekaai het min genoeg mense – die Jaers is by Suidstroom en die skool se kinders sou hulle volg. Hy’t spesiaal gewag tot die meeste van hulle weg is voor hulle geloop het. Hy’s nie lus vir oë nie. Veral nie op Deidre nie. As dit by die Kring moet uitkom …
Deidre was skepties toe hy haar verby die promenade lei na ’n afdraai met ’n vervalle teerpad en heuwels oortrek met lang grasse. Op die heuwel het haar mond ’n bietjie oopgeval toe sy die strand soos ’n vishoek voor hulle sien uitstrek, die steil kranse wat oor hulle uittoring, die ligblou waters van die baai.
Louw kon net na haar kyk.
Nou lê die water skitterend voor hulle. Dis windstil en so ver van die dorp, ’n mens hoor nie eens die karre nie. As toeriste die see wil sien is die promenade die beste plek – sentraal en propvol winkeltjies, kafees en eetplekke.
“Ek verstaan nie hoe dit so maklik vir jou is nie.”
Louw kyk om. Sy het weer opgegee en prentjies in die sand begin teken.
“Gee gou?” Hy vat die boek by haar en lees vinnig deur die som. Met ’n paar strepe van die potlood is die probleem opgelos.
“Sien? Dis nie so moeilik nie.” Hy gooi die potlood neer en leun terug op sy arms. Die son maak hom lui en, besef hy skielik, hy voel vir die eerste keer die week heeltemal kalm. Asof niks hulle hier kan aanraak nie. Dis mal, dink hy weer. Hulle ken mekaar nog net ’n paar weke, maar dit voel soos jare. Asof hy nog altyd haar uitdrukkings probeer ontleed het, haar geterg het, haar wiskundesomme probeer oplos het.
“Sien? Dis onmoontlik, man. Julle’s heeltyd by die see, of in die berge of … hoe kry jy alles gedoen?” Sy klap die handboek toe en leun terug met haar hande in die sand agter haar begrawe.
“Ons is nie heeltyd buite nie,” stry hy halfhartig. Haar wenkbrou lig uitdagend, maar hy raak nou al gewoond daaraan. Eerlikwaar? Dit stuur ’n adrenalien-rush deur hom as hy ’n reaksie kry. Sy dra al haar emosie op haar gesig. Haar gesigsuitdrukkings is oordadig en oordrewe, maar op haar gesig pas dit, en hy wil al hoe meer sien.
Deidre ruk skielik haar foon uit, maak Instagram oop en tik #branderjaer.
“Lo and behold, Bitter,” grynslag sy terwyl sy deur die hordes posts scroll.
Hy wil nie kyk nie. Vandat daardie eerste video die internet getref het, het dit ’n game geword. ’n Speletjie van “wat gaan hulle volgende doen”. Elke toertjie wat gevolg het was meer intens, meer avontuurlustig, meer aangevuur. Asof die adrenalien opgebou het by die skool, totdat hulle weer van rotse afduik, die grootste branders ry, die donkerste grotte ontdek, die stormwater van Kliprivier aandurf. Dis asof alles binne Louw opwen tot die oomblik wanneer hy losgelaat word en uiteindelik kan beweeg soos hy moet.
Elke toertjie is op Instagram gelaai, Facebook, YouTube.
Hulle het nie gedink die reaksie buite Stormbaai sou so groot wees nie. Hulle wou deel wat hulle doen omdat mense geïnteresseerd was, omdat hulle geniet het wat hulle doen. Hulle het nie gedink ’n laerskool-vriendegroep sou ’n kultus word nie – Branderjaers. Dié wat die ekstreme najaag. Dit was nie lank voor studente en leerders van ander hoërskole dit begin optel en hulle eie kompeterende aard na vore laat kom het nie. Dit maak vir goeie kompetisie en nuwe pelle, maar daar’s altyd iets aan húlle. Die Branderjaers. Sy broers en alles wat hulle is. Hulle het hierdie ding begin. Ekstreem is in hulle bloed.
“Haai, kyk, Natasha het jou die skool sien verlaat op pad strand toe.”
[Subtiel, Swanepoel. Wees onsigbaar vir die gehoor]
“Sy’t uitgelaat dat jy saam met my was,” raai hy.
“A-ha, ja, maar Maandag was jy op Mokerpiek.” Sy loer sydelings na hom. “Jy’t gaan bergklim ná wiskunde.”
“Jou storie het my lus gemaak vir die uitsig.” Hy kyk na haar onder sy arm deur. “Hei! Moenie nou belangrik kom voel nie,” spot hy. “Ellis het in elk geval gesê ons moet oefen.”
Hy het nie. Dit was Louw se voorstel, maar hy kon nie help nie. Nes vanmiddag wou hy daar loop en hom voorstel wat haar uitdrukking sou wees. Wat sou vir haar mooi wees? Waarna sou sy kyk? Wat sou sy gedink het toe sy op daai piek staan en die wêreld daar onder sien?
“Dis fair.” Deidre scroll af, kyk na al die posts en draai haar foon sodat hy die hashtags onder die foto’s en video’s kan sien.
#branderjaer #vuur #klippies #kannie #stoke #bitter #extremeliving
Die strande is vol volleyball en musiek, meisies wat tan en ouens wat touchies speel terwyl hulle die surfers dophou.
Skielik trek haar wenkbroue saam en daardie groen-groen oë kyk na hom. Hy kom regop en hou die branders dop. Die eb en vloed. Alles raak stiller. Alles behalwe die geraas op Deidre se foon.
“Daar’s ’n live video aan die gang.”
#stellieschallenge
Nou en dan hou hy haar gesig dop terwyl sy die video bestudeer. Teen haar neus begin terg daar al sproetjies, die donker sirkels wat Donderdag onder haar oë was, is ligter. Dis asof sy meer wakker is. Hy wil sy hand uitsteek en een van die los krulle agter haar oor indruk –
“Hulle’s by Suidstroom.”
Suidstroom is ’n gewilde strand reg langs die promenade aan Breekwater se kant, maar ver genoeg van die onderdorp dat dit nog veilig is. Louw weet presies waar sy bendebroers is. Hy sluk die skuldgevoel weg en byt die binnekant van sy wang.
“Die ander surf, hoekom is jy nie daar nie?” Sy maak die comments oop.
#mandown
“Ek’s mos hier.” Louw vou sy arms op sy opgetrekte knieë.
“Ja, maar jy kon die tyd kies, hoekom het jy nie … Of hoekom het ons nie daar gaan sit nie? Jy kon tussendeur ’n brander of twee –”
Opgewonde gille trek deur die speaker toe ’n brander klap.
“Sien julle hom?”
“Stoke!”
“Daar’s Malherbe!”
“Jis,