Branderjaer. Joha van Dyk
Anders gaan alles wat hy dink net uitkom en verkeerd klink en –
Hy vat aan die leertoutjie om sy nek, hy’t dadelik ná skool die das van sy nek afgeruk en die eerste twee knope van sy hemp losgemaak. Hulle sit op sy baadjie. Hoe nader dit kom aan die einde van die jaar, hoe meer versmoor voel hy in hierdie klere. Hoe meer wil hy uit sy klasse loop en Malherbe se bakkie vat en net … fokof. Hy krap weer aan die rowe op sy wang. Hy kan nie gaan nie. En selfs wanneer hy hier uitkom moet hy vir nog ’n jaar terugkom.
Deidre se stem is versigtig toe sy weer praat. “Jy kan nie geskok wees oor die aandag nie. Ek meen, is jy nie al gewoond daaraan nie?”
“Mens raak moeg daarvan, Deidre.”
“Ja, maar julle vra daarvoor.”
Sy oë beland op haar en sy leun terug. Irritasie byt aan hom, woorde jeuk binne sy mond, woorde wat hy onder ander omstandighede sou laat uitglip.
“Vra daarvoor?”
“Julle post heeltyd video’s en foto’s. Julle’t jul eie hashtag – hierdie is basies ’n brand wat julle ontwikkel het.”
“Ons was kinders. Toe dit begin het, was ons kids.” Dis al. Hulle was kinders en mense het hulle gemaak in hierdie –
“Wat gevaarlike toertjies gedoen het om aandag te trek.”
Louw se mond hang amper oop, hy byt op die punt van sy tong, voor hy skielik opspring. Die bekende woorde glip van sy tong af voor hy behoorlik sy balans kry: “Waag of waarheid?”
“Wat?” Haar hele gesig trek met vrae, en Louw kan nie help om te glimlag nie. Sy vra die vrae waaroor die meeste mense wonder. Wat niemand actually waag om te vra nie. Sy wil wéét hoekom hulle so is en hy wíl vir haar wys.
“Waag of waarheid? Kies een.”
“Is dit Branderjaer-kode vir truth or dare?”
Louw staar – die vorm van haar lippe wat effens oophang, haar hande wat vasgryp aan die sand, die wind wat oor haar speel soos oor ’n meisie in ’n rom-com. Skielik is dit die maklikste besluit van sy lewe.
Hy ruk sy skoene en sokkies af en gooi hulle teen sy tas.
“Wat –”
Hy gryp haar skoene vas, glip hulle saam met haar sokkies af en trek haar op met ’n vinnige beweging.
“Wat doen jy?” probeer Deidre protesteer, maar Louw lag net en raap haar in sy arms op en begin hardloop.
Sy gil en probeer uit sy arms loskom, maar dis tevergeefs. Die golwe kom al hoe nader. Hy is nie van plan om haar sommer net te los nie. Hy hardloop met haar in die vlak water in en dan is die branders oor hulle.
Louw los haar in die vlak water en duik dieper in. Toe sy kop die water breek, lag hy.
Die lug was nog nooit so soet nie.
“Is jy mal?” proes sy toe sy besef sy kan staan.
“Is dit nie die punt nie?” skater Louw.
’n Lag bars oor Deidre se lippe. Louw kyk met ’n grynslag na haar en sak dan onder die water in. Die skoolklere maak dit moeiliker, maar hy glip deur die water tot hy voor haar is, haar gesig sentimeters van syne. Skielik hoor Louw net sy eie asemhaling, sy hartklop wat al hoe harder word toe hy besef hoe naby hy aan haar is.
Haar glimlag is oorweldigend. Louw kyk na die druppels op haar wimpers, op haar lippe en sy mond voel skielik droog.
Sy hand lig na haar gesig en vang ’n druppel teen haar wang. Die fyn materiaal van haar skoolhemp is amper deurskynend, maar Louw kan nie wegkyk van haar gesig nie. Alles wat hy wil hê, is daar.
“Hierdie gevoel? Jy voel dit, nè?” Sy hande glip na haar heupe en hou haar stil, terwyl die branders liggies teen hulle breek. Sy knik. “Dis hoekom ons dit gedoen het.”
Deidre se asem kom nog vinnig, maar haar glimlag verdwyn stadig. Nes syne.
“Dis nie vir die likes op sosiale media nie.” Hy hoop sy verstaan. Meer as enigiets wil hy hê sy´ moet verstaan wat hy bedoel. “Ons was kinders wat by ’n krans wou afspring en sien wat gebeur. Die vrou wat die video geneem het, het dit op Facebook geplaas. Sy´’t dit vir ons gegee. Ons het net onsself ’n naam gegee toe die ouens ons begin spot het. Toe begin ons goed raak in wat ons doen. Maar hierdie gevoel? Dís hoekom ons dit doen.”
Dis skielik stil tussen hulle. Louw probeer haar effense hartseer mond, die trek van haar oë van die soutwater, die ligte bewing van haar lyf, alles inneem.
Dan breek sy gesig in ’n glimlag oop en hulle verdwyn saam onder die water in.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.