Branderjaer. Joha van Dyk
praat nie oor finansies nie, maar haar pa lyk meer uitgeput elke keer wanneer hy terugkeer van nog ’n besigheidsweek. Haar ma is heeltyd opgetense. Wat ook al aangaan, nog uitgawes gaan dit nie beter maak nie.
“Dis soms moeilik vir die tutors. Hulle’s besig by universiteite en colleges, dan moet hulle nog ry om hier te wees. Daar’s ook net soveel tutors in Stormbaai. Dalk kan –”
“Skuus, Juffrou, is dit ’n slegte tyd?”
Deidre swaai om na Louw Swanepoel in al sy matrikulant-glorie: das losgeknoop, glimlag pynlik arrogant, ’n ry rowe wat regoor sy wang sny.
As Deidre daar en dan kon uitloop sou sy uithárdloop.
Louw is een van dáárdie ouens. Die ou met die looks, die ou met die guns van die onderwysers. Die ou met die pelle waarna almal kyk wanneer hulle deur die quad loop. Die ou wat homself die meeste van die tyd in stormwaters sal gooi vir ’n gevaarlike brander of selfs teen ’n krans sal afduik vir ’n oomblik van adrenalien. Waaghalsig. Windgat. Weerbarstig. Alles wat Deidre nie kan verdra nie.
“Swanepoel,” sug Kruger. Sy vryf haar kneukels oor haar voorkop, asof sy voorberei vir ’n lang geveg. “Gee my ’n oomblik.”
“Reg so, Juffrou,” knik hy. Sy blik glip oor Deidre waar sy met haar tas en baadjie in die hand staan. Deidre rol senuagtig haar trui se moue op, ’n erfstuk van haar neef. Die kamer voel skielik te vol met Kruger én Louw, asof sy platgedruk gaan word deur die twee dominerende teenwoordighede. Louw bly staan buite die klas met sonlig wat in sy hare rondspeel, die skoolbaadjie wat span oor breë skouers.
Kruger sug weer, maar sy leun nie terug nie. Sy maak reg om te gaan. Sy sal ’n gesprek met Louw in twee sekondes afhandel, knak voor sy sjarme en vir Deidre gaan sy definitief nou afskiet. Daar is nie ’n logiese antwoord vir haar probleem nie – alle moontlike opsies weier sy. Haar enigste uitweg is om sover moontlik nie te druip nie.
Onwaarskynlik.
“Eerlikwaar,” begin juffrou Kruger, “jou ander punte is goed en jou gemiddeld …” Daai uilagtige oë glip skielik verby Deidre. Deidre rol haar skouers terug. Natuurlik sal die onderwyser tydens háár krisis aan Louw aandag gee. Wat het sy verwag? Sy’t hierdie geveg verloor die oomblik toe hy teen die kosyn kom leun het asof hy die skool besit.
Sy haat hom, besluit sy. Sy’t nog nooit ooghare vir hulle gehad nie, veral nie toe hulle vir Pieter begin spot het toe hy as prefek verkies is in graad sewe nie. Toe hulle haar beste vriend begin aanvat het, het haar irritasie met hulle gegroei. Maar nou? Sy haat hom. En sy groepie. En alles waarvoor hulle staan en –
“Swanepoel is geniaal. Beste in sy klas.”
Deidre verstar, vingers wit geklem om die tas se band. “Hoekom is hy dan nie ’n tutor nie, Juffrou?”
Hy en sy bende maak geen geheim daarvan dat hulle nul belangstelling het in enigiets behalwe adrenalien-highs nie. Daai strandkuiers en branders gaan hulle nêrens bring nie. En dis asof die onderwysers net nie omgee nie. Almal moet sien kom klaar, maar die Jaers word alles verskoon. Kruger weet dit. Sy lyk nie geskok oor Deidre se vraag nie. Inteendeel, sy hanteer dit met gemak.
“Swanepoel het ’n gewoonte om sy branderplankryery bo alles te plaas, maar ek is seker hy besef nou hoe verkeerd dit is.” Sy skiet ’n skerp kyk oor Deidre se skouer.
Moenie omdraai nie. Moenie kyk nie. Hy verdien nie jou aandag nie.
“Hy het ’n paar uitstelle en verlore klasse om voor op te maak en ek is seker hy sal nie sukkel om tyd te vind in sy besige skedule om hierdie guns aan my en homself te bewys nie.” Juffrou Kruger se stemtoon laat geen ruimte vir heroorweging nie.
“Guns, Juffrou?” vra Deidre versigtig. Sy weet nie wat Louw met sy gesig doen agter haar rug nie, maar Kruger s’n breek vir die eerste keer vandag in ’n glimlag uit.
“Swanepoel gaan jou tutor, Anker,” sê sy. Sy staan op en gryp haar baadjie van haar stoel af. “Kom. Uit. Al twee van julle,” blaf sy.
Louw het klaar gang toe geglip, maar Deidre volg Kruger stadig tot hulle ook in die gang staan en die onderwyser die klas sluit. Sy draai vir oulaas na Deidre en Louw, lippe wat tergend in ’n amper-glimlag trek. “Ek wil gaan tee drink. Sort dit uit. En …” ’n Frons trek weer tussen haar wenkbroue toe haar oë vinnig begin knip. “Moet mekaar net nie vermoor nie.”
Louw
“WAG GOU!” LOUW ruk die meisiekind terug aan haar mou. Die trui is veels te groot vir haar, maar dit lyk nie of dit haar pla nie. Altans, hy weet dis nie wat haar pla nie, aangesien sy hom probeer doodkyk. Gewoonlik moet Louw eers ’n girl bat voor sy dit doen.
Sy kyk stip na sy hand op haar arm tot hy dit huiwerig los. Hy glimlag, maar dit lyk nie of dit werk nie. Jak sou haar ’n lost cause noem – een van daai meisies wat nooit gecharm kan word nie. Hy dink aan hoe Kruger amper-amper haar oë wou rol, maar tog aan die einde ingegee het met ’n glimlag. Hy ken al haar truuks, maar hy het nie dié een voorsien nie. Hiérdie match is nie voorgestel uit die goedheid van haar hart nie.
Die donkerkop vernou haar oë, sy kruis haar arms oor haar bors en haar lang vlegsel vee oor haar nek. Haar groen irisse blits met elke oomblik wat hulle in die gang staan – groen soos Stellenbosch se eikebome. Moes Kruger hom nou juis met die moeilikste graadelf opsaal? Sy’t die tipe kyk waarop Medusa jaloers sou wees. Louw trek sy foon uit sy broeksak.
“Oukei, kan ek jou nommer kry?”
“My nommer?”
Hy hou die foon uit. “Sodat ons oor die werk kan praat?”
“Ja, obviously, ah …” Sy tik haar nommer in, maar voor sy kan vlug, het Louw weer haar mou beet. Sy’s so jumpy. Wat is dit met haar weghardlopery? ’n Flight risk, dis wat Ellis sou sê. Soos een van daai diertjies in die veld wat Ellis altyd probeer “red” het – elkeen van hulle het weggeloop. Ellis se pa het altyd gesê: “Hulle’s wild, seun. Jy kan hulle in jou tuin hou, maar die veld roep hulle altyd terug.”
Weer kyk Deidre afwagtend na hom en Louw besef skielik hy hou nog steeds haar mou vas.
[Blocking, Swanepoel. Jy beweeg sodat jou mede-akteurs kan beweeg]
“Ons moet seker ’n tyd kry om te begin werk?”
“Môre?” antwoord sy dadelik.
“Vrydae is … nie goed nie, ek het iets aan ná skool.”
“Soos branders?” Haar blik rus op die sny teen sy wang. Skielik voel hy op ’n vreemde manier kwesbaar. Dit lyk of sy regdeur hom kyk.
Hy skud sy kop. “’n Buitemuurse … Dis nie belangrik nie.”
“Saterdag?”
Saterdae is altyd maklik, eksklusief uitgesit vir avonture: Ellis se bergklim-ekskursies, Malherbe se kransduik, Ben se grotte, Jak se … enigiets waaraan hy die dag dink. En Louw se branders. Hierdie Saterdag wag een van die pre-rondes van die Brandertoets – niks stresvols vir Louw nie, aangesien die meeste van die amateurs uitgeskakel gaan word. Wanneer hy daaraan dink, begin sy hart vinniger klop in afwagting. Hy sal maklik ná die tyd ’n wiskundeles kan doen.
“Daar’s eintlik ’n kompetisie Saterdag.” Hy glimlag toe haar kake verstyf, asof sy regmaak om te baklei. Dalk het sy ook ’n bietjie “maklik” nodig. “Hoekom kom jy nie? Ons kan ná die tyd werk?”
“Uh, oukei.” ’n Blos trek weer soos ’n veldbrand oor haar bleek vel, nes toe hy haar in Kruger se deur sien staan het, maar haar oë is vasgepen op hom, vasbeslote, intens. “Dis reg, uh, branderplankry, nè?”
“Ja, naby die promenade.”
“Cool. Groot branders